Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 5/1 bl. 25-29
  • Die boek Spreuke—Baie wysheid in min woorde

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die boek Spreuke—Baie wysheid in min woorde
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’N VERHEWE DOEL
  • DINGE WAT GOD HAAT
  • HOE OM WOEDE DIE HOOF TE BIED
  • VERMY LUIHEID
  • DIE BEHOEFTE AAN DISSIPLINE
  • VERMY GESLAGSONSEDELIKHEID
  • PAS OP VIR DIE ‘LEKKER LEWE’
  • Verkry wysheid en aanvaar dissipline
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Bybelboek nommer 20—Spreuke
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • “Iemand wat op teregwysing ag gee, is skerpsinnig”
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Behou jou goeie naam
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 5/1 bl. 25-29

Die boek Spreuke—Baie wysheid in min woorde

IS JOU lewe vry van probleme en frustrasies? Min persone sal ja sê. En pogings om probleme op te los, slaan dikwels terug en laat mense met probleme wat selfs erger is as hulle vorige omstandighede. Is daar ’n bron van raad waarop mense kan vertrou om sake te verbeter?

Die Bybelboek Spreuke is ’n besonder goeie bron van sulke voorligting. Hoewel dit meer as 2 500 jaar gelede in die Midde-Ooste geskryf is, is die kort spreekwoorde van Spreuke op alle mense van toepassing en glad nie verouderd nie.

Die Bybel toon dat die meeste spreuke by koning Salomo ontstaan het (Spr. 1:1; 10:1; 25:1). Hoewel die Skriftuurlike verslag nie regstreeks sê dat Salomo hulle geskryf het nie, laat dit dit baie sterk deurskemer. Dit sê dat hy duisende spreuke uitgespreek het en voeg by: “[Hy] het oorweeg en ondersoek; hy het baie spreuke opgestel.”—1 Kon. 4:32; Pred. 12:9.

Die styl waarin hierdie Bybelboek geskryf is, is Hebreeuse poësie wat nie uit rymende verse bestaan nie, maar uit parallelle gedagtes. Heel dikwels vorm die parallelle gedagtes ’n teenstelling, soos in die geval van Spreuke 10:28, wat lui: “Die verwagting van die regverdiges is vreugde, maar die hoop van die goddelose vergaan.” In ander gevalle is die parallelle uitdrukkings sinoniem, soos gesien kan word in hierdie woorde van Spreuke 18:15: “Die hart van die verstandige verwerf kennis, en die oor van wyse soek na kennis.”

’N VERHEWE DOEL

Die doel van die boek Spreuke word reg aan die begin verduidelik, waar ons lees: “Die spreuke van Salomo, die seun van Dawid, die koning van Israel, om wysheid en tug te ken, om woorde van insig te verstaan, om aan te neem tug wat verstandig maak, geregtigheid en reg en regverdigheid; om aan die eenvoudiges skranderheid te gee, aan die jongeling kennis en oorleg.”—Spr. 1:1-4.

Die boek Spreuke gee baie raad aan jong, onervare persone wie se harte ontvanklik is vir allerhande invloede en wat maklik verlei word. Hulle moet waardering verkry vir “wysheid”, wat behels dat ’n mens dinge sien soos hulle werklik is en weet hoe om daardie kennis prakties toe te pas. “Tug” is ook nodig, hetsy in die vorm van selfbeheersing of van straf deur ander.—Spr. 1:1-4; 2:7, 10-13; 4:1, 5-7, 13.

Die spreuke bied spesiale hulp om geestesvermoëns in ’n regte rigting te laat ontwikkel. Dit bevat baie aansporing om insig en “skranderheid” te verkry, dit wil sê, vaardigheid en goeie oordeel op alle terreine van die lewe (Spr. 1:4; 8:5). Hierdie opvoeding word nooit voltooi nie. “Laat die wyse luister, dan sal hy insig vermeerder, en die verstandige sal verstandige gedagtes verkry, om ’n spreuk en beeldspraak te verstaan, die woorde van die wyse manne en hulle raaisels” (Spr. 1:5, 6). Bybelse spreuke het dikwels die vorm van beeldspraak en “raaisels”, verwarrende, ingewikkelde verklarings wat ’n mens moet ontknoop. Tyd en bepeinsing is nodig om dit te verstaan. Die oorvloedige wysheid van Spreuke is slegs toeganklik vir diegene wat bereid is om daarvoor te grawe. Dit word duidelik uit hierdie woorde in Spreuke 2:1-5:

“My seun, as jy my woorde aanneem en my gebooie by jou bewaar, sodat jy jou oor laat luister na wysheid, jou hart neig tot verstand; ja, as jy na die insig roep, na die verstand jou stem verhef, as jy daarna soek soos na silwer en dit naspeur soos verborge skatte, dan sal jy die vrees van die HERE verstaan en die kennis van God vind.”

Kom ons beskou ’n paar voorbeelde van die wyse raad wat in die boek Spreuke beskikbaar is.

DINGE WAT GOD HAAT

Mense wat graag wil weet wat reg en verkeerd is, kom te staan voor ’n verbysterende menigte uiteenlopende menings. Spreuke kan help om ’n einde aan die verwarring te maak. In net die vier kort verse hieronder leer ons byvoorbeeld van sekere gesindhede en ooreenstemmende dade wat God haat:

“Hierdie ses dinge haat die HERE, en sewe is vir sy siel ’n gruwel: trotse oë, ’n leuenagtige tong en hande wat onskuldige bloed vergiet, ’n hart wat onheilsplanne beraam, voete wat haastig na die kwaad toe loop, een wat as valse getuie leuens uitstrooi en tussen broers tweedrag saai.”—Spr. 6:16-19.

Die versterking van ’n getal deur die daaropvolgende getal by te voeg, is ’n metode wat Bybelskrywers dikwels gebruik het (Job 5:19; 33:29; Spr. 30:15, 16, 18, 19, 21-31; Jes. 17:6; Amos 1:3, 6, 9, 11, 13; 2:1, 4, 6). In Spreuke 6:16-19 moet ons nie die syfers letterlik opneem asof God slegs ses of sewe dinge haat nie. Die sewe klasse is basiese klasse en dek allerhande soorte verkeerde dade. Die eerste ses lê die klem op drie klasse oortredings—in gedagte (“trotse oë”, “’n hart wat onheilsplanne beraam”), in woord (“’n leuenagtige tong”, “een wat as valse getuie leuens uitstrooi”) en in daad (“hande wat onskuldige bloed vergiet”, “voete wat haastig na die kwaad toe loop”). Die sewende soort indiwidu wat gemeld word, is veral haatlik. Hy skep groot behae daarin om tweedrag te wek onder persone wat andersyds vreedsaam sou saamwoon. Die vermeerdering van ses na sewe dui daarop dat mense voortdurend hulle bose dade vermeerder.

Wanneer ’n persoon besef dat die Skepper trots, ’n knoeiery en leuens op een vlak stel saam met bloedvergieting en ander geweld, behoort dit hom te beweeg om lewensbelangrike persoonlikheidsveranderinge aan te bring. Die gevolg sal beter verhoudinge met ander en groter vreugde in die daaglikse lewe wees.

HOE OM WOEDE DIE HOOF TE BIED

Een van die algemeenste oorsake van benoudheid onder mense is onbeheerste woede. Party meen dat ’n woede-uitbarsting ’n blyk van krag is. Maar die Woord van God sê net die teenoorgestelde, naamlik: “Die lankmoedige is beter as ’n held; en hy wat sy gees beheers, as een wat ’n stad inneem” (Spr. 16:32). Hoewel krygers wat ’n stad inneem baie moed aan die dag lê, verg die beheersing van ’n mens se humeur selfs groter krag en moed.

Hoe kan ’n indiwidu beter daarin slaag om sy humeur te beteuel? Spreuke bied hierdie puik rigsnoere:

“Verkeer nie met ’n driftige man nie, en met ’n opvlieënde man moet jy nie omgaan nie, sodat jy nie gewend raak aan sy paaie en ’n strik vir jouself span nie.”—Spr. 22:24, 25.

“’n Sagte antwoord keer die grimmigheid af, maar ’n krenkende woord laat die toorn opkom.”—Spr. 15:1.

“Die begin van ’n onenigheid is soos water wat jy laat deurbreek; daarom, laat die twis vaar voordat dit losbreek.”—Spr. 17:14.

Al hierdie verklarings spoor ’n mens aan om uit die staanspoor weg te kom van situasies wat woede wek. Die rede word goed uitgedruk in hierdie volgende woorde: “As jy dwaas gewees het deur jou te verhef, of as jy vooraf nagedink het [“as jy ’n plan gesmee het”, An American Translation]—die hand op die mond! Want drukking van melk bring botter voort, en drukking van die neus bring bloed voort, en drukking van die toorn bring twis voort.”—Spr. 30:32, 33.

Almal is geneig om hulself nou en dan dwaaslik te verhoog. Hulle stel dalk onredelike eise aan ander of sê of doen moontlik iets wat beledigend is. Op sulke tye moet ’n persoon “die hand op die mond” sit en enige verdere woorde of dade keer wat die een wat te na gekom is verder sal uitlok. Net soos ’n mens eers botter kry nadat jy melk gekarring het en ’n neus gewoonlik bloei nadat dit gedruk of geslaan is, volg ’n volwaardige twis alleenlik wanneer mense kwade gevoelens botvier en aanhou om mekaar tot toorn aan te hits.

VERMY LUIHEID

Die boek Spreuke staan harde werk voor en raai mense af om lui te wees. Die geïnspireerde skrywer sê: “Die luiaard sê: Daar is ’n leeu buitekant; ek kan in die middel van die strate gedood word!” (Spr. 22:13). Die luiaard sal ongelooflike verskonings uitdink om werk te vermy, soos om te beweer dat ’n leeu in die stad ingekom het en hom kan doodmaak indien hy die huis verlaat. Drie bykomende spreuke beklemtoon hoe iemand wat nie wil werk nie homself en ander raak:

“Die siel van die luiaard begeer, en daar is niks nie, maar die siel van die vlytiges word versadig.”—Spr. 13:4.

“ln die herfs ploeg die luiaard nie; en verlang hy iets in die oestyd, dan is daar niks nie.”—Spr. 20:4.

“Soos asyn vir die tande en soos rook vir die oë, so is die luiaard vir die wat hom stuur.”—Spr. 10:26.

DIE BEHOEFTE AAN DISSIPLINE

Aangesien mense onvolmaak is en geneig is om die maklikste weg te volg, hou die meeste mense nie van dissipline nie. Die boek Spreuke staan ’n ander gesindheid voor en sê: “Bring jou hart na die tug en jou oor na woorde van kennis” (Spr. 23:12). Die tug waarna hier verwys word, beteken selfbeheersing sowel as teregwysing deur ander. Dit word dikwels gedoen deur “woorde van kennis”, dit wil sê, verklarings wat kom van ’n kundige persoon en wat vir ander leersaam is. Soms moet dissipline egter fermer as net woorde wees. “Bloedige wonde suiwer die kwaad uit en slae die kamers van die binneste” (Spr. 20:30). Wanneer dit in die regte gees aanvaar word, weerhou ferme dissipline mense nie alleen van verkeerde dade nie, maar spoor dit hulle ook aan om persoonlikheidsveranderinge ten goede aan te bring.

In verband met die tugtiging van kinders deur ouers lees ons: “Hou die tug nie terug van die seun nie; as jy hom met die roede slaan, sal hy nie sterwe nie. Jy sal hom wel met die roede slaan, maar sy lewe van die doderyk red” (Spr. 23:13, 14). “Wie sy roede terughou, haat sy seun; maar hy wat hom liefhet, besoek hom met tugtiging.”—Spr. 13:24.

Daar moet natuurlik altyd met selfbeheersing getugtig word en nie tydens ’n woede-uitbarsting nie. En dit sal nie altyd nodig wees om lyfstraf toe te dien nie. In talle gevalle is net ’n paar woorde van wyse raad voldoende. “’n Berisping gaan by ’n verstandige dieper in as om ’n dwaas honderd maal te slaan.”—Spr. 17:10.

VERMY GESLAGSONSEDELIKHEID

Die boek Spreuke veroordeel geslagsonsedelikheid. Beskou byvoorbeeld hierdie waarskuwingswoorde:

“Die gebod is ’n lamp en die onderwysing ’n lig en die teregwysinge van die tug ’n weg tot die lewe, om jou te bewaar vir ’n slegte vrou, vir die gevlei van ’n vreemde tong. Begeer haar skoonheid nie in jou hart nie, en laat sy jou nie vang met haar ooglede nie; want vir ’n hoer verval ’n mens tot ’n stuk brood, en ’n ander se vrou maak jag op ’n kosbare lewe” (Spr. 6:23-26).

Diegene wat hulle aan onsedelike geslagsdade skuldig maak, word dikwels arm. Persone wat na geslagsgenot saam met “’n hoer” soek of wat op ander maniere hoereer, kan ook met verlies van gesondheid betaal wanneer hulle die slagoffers van pynlike en vernietigende veneriese siektes word. Die gevaar is selfs groter wanneer ’n indiwidu intiem met iemand anders se huweliksmaat verkeer. ’n Egbreekster stel die “kosbare lewe” van haar ongeoorloofde maat in die gevaar. Hieroor voeg die geïnspireerde Bybelskrywer by:

“Kan iemand vuur in sy skoot dra sonder dat sy klere verbrand? Of kan iemand op gloeiende kole loop sonder dat sy voete brandwonde kry? So is dit met hom wat by die vrou van sy naaste ingaan; elkeen wat haar aanraak, sal nie ongestraf bly nie. . . . Hy wat owerspel pleeg, is sonder verstand; hy wat sy eie lewe wil verwoes, hý doen so iets; slae en skande sal hy kry, en sy smaad sal nie uitgewis word nie; want jaloersheid is ’n toorngloed in ’n man, en op die dag van wraak [teen die een wat met sy vrou owerspel gepleeg het] verskoon hy nie; hy neem glad geen losprys in aanmerking nie, en hy willig nie in nie al maak jy die omkoopgeskenk nog so groot” (Spr. 6:27-35).

Huweliksontrou kan die betrokke indiwidue en gesinne onherstelbare skade berokken.

PAS OP VIR DIE ‘LEKKER LEWE’

Dwarsdeur die geskiedenis was talle indiwidue se hoofstrewe in die lewe die soeke na genot. Hoewel die Bybel ’n mens nie afraai om pret te hê nie, beklemtoon dit die noodsaaklikheid daarvan om ’n meer gebalanseerde beskouing van genot te verkry. “Het jy heuning gevind, eet tot jy genoeg het, sodat jy daar nie sat van word en dit uitspuug nie” (Spr. 25:16). Net soos te veel letterlike heuning ’n persoon liggaamlik siek kan maak, kan onmatigheid in die plesiergeoriënteerde ‘lekker lewe’ tot liggaamlike asook geestelike siekte lei. Daarbenewens lei te veel klem op genot dikwels tot groot armoede. “Wie van vrolikheid hou, is ’n man van gebrek; hy wat van wyn en olie hou, sal nie ryk word nie.”—Spr. 21:17.

Wat van die vaste voorneme om ryk te word? Die boek Spreuke waarsku dat rykdom nie betroubaar is nie en skielik kan verdwyn. Ons lees: “Vermoei jou nie om ryk te word nie, laat staan jou slimheid. Sou jy jou oë daarop [rykdom] laat afvlieg? Maar weg is dit! want skielik maak dit vir hom vlerke en vlieg soos die arend na die hemel toe!” (Spr. 23:4, 5). Omdat mense ontsaglike fortuine vinnig kan verloor weens swak bestuur of onvoorsiene omstandighede, vermaan die Skrif hulle om hulle krag te wy aan iets wat betroubaarder is as die najaging van rykdom. Let goed op na hierdie raad:

“Gee noukeurig ag op die voorkoms van jou skape, rig jou aandag op die troppe vee; want ’n skat is nie vir ewig nie—of sal ’n kroon wees van geslag tot geslag? As die gras verdwyn en die jong gras verskyn en die bossies van die berge bymekaargemaak word, dan is daar lammers vir jou kleding en bokke as ’n koopprys vir grond, en genoeg bokmelk as voeding vir jou, as voeding vir jou huis en as lewensonderhoud vir jou diensmeisies.”—Spr. 27:23-27.

Nòg materiële rykdom (“’n skat”) nòg ’n vername posisie (“’n kroon”) waarborg ware sekuriteit. Tyd, krag en geld wat aan ’n onderneming bestee is, gaan dikwels verlore omdat die onderneming misluk. Onverwagte wendings kan meebring dat rykdom sowel as ’n posisie van aansien skielik verdwyn. Pogings om vir vee te sorg, laat die eienaar andersyds nie met minder nie, maar gewoonlik met meer. God voorsien mildelik “bossies” om vee mee te voer. Dwarsdeur die mensegeskiedenis was die vlytige versorging van vee deurgaans betroubaarder as ’n manier om voedsel, klere en ’n inkomste te verkry as wat rykdom of vernaamheid was. Vandaar die wyse raad: “Gee noukeurig ag op die voorkoms van jou skape.” Die beginsel in hierdie woorde kan toegepas word op vlyt in enige hedendaagse betroubare werk.

Al is die boek Spreuke duisende jare gelede geskryf, bevat dit weergalose voorligting vir mense wat vandag lewe. Lees gereeld hierdie geïnspireerde woorde. Peins oor die lesse daarin. Alhoewel elke spreuk slegs uit ’n paar woorde bestaan, kan die oorvloedige wysheid daarvan jou lewe vir ewig veilig en gelukkig maak.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel