Die regte roete moet nou gekies word
1, 2. (a) Watter soort wêreld, wat aanbidding betref, voorspel die Bybel vir die nabye toekoms? (b) Waarom is dit nou die dringende tyd om ’n besluit oor ’n mens se weg te neem?
VOLGENS die gepubliseerde feite aanbid die oorgrote meerderheid van die mensdom nie die God van die Heilige Bybel nie. Dwarsdeur die geskiedenis het die oorgrote meerderheid van die aarde se bewoners dit nooit gedoen nie. Die deel van Georganiseerde Godsdiens wat die Christendom heet, beweer dat sy dit doen. ’n Paar ander godsdiensstelsels beweer ook dat hulle dit doen deur minstens ’n deel van die Bybel te aanvaar. Maar sal dit ’n groot verskil maak wanneer almal wat ’n geloof bely vernietig word of gedwing word om hulle vorm van aanbidding prys te gee? Of watter soort wêreld sal dit wees? Dit sal die soort wêreld wees wat die Bybel voorspel binnekort hier gaan wees, ’n kortstondige ongodsdienstige wêreld.
2 Dit sal egter openliker as ooit tevore “die god van hierdie wêreld” aanbid, en die Bybel wat hierdie “god” identifiseer, sê dat hy Jehovah se grootste teenstander, Satan die Duiwel, is (2 Kor. 4:4). Jesus Christus het hom die “owerste van hierdie wêreld” genoem (Joh. 12:31; 16:11). Wat sal ’n persoon wat nou deur so ’n gedagte ontstel word, doen wanneer die hele wêreld eerlank gedwing word om hierdie valse “god” te aanbid? Wat sal sy godsdienskrag hom in staat stel om te doen? Dit is voorwaar nou die dringende tyd om ’n besluit te neem!
3. Hoe lank voor die tyd het Jehovah sy besluit geneem voordat hy dit aan die nasies voltrek het?
3 Joël 3:14 voorspel: “Menigtes, menigtes in die dal van beslissing, want naby is die dag van die HERE in die dal van beslissing!” The Living Bible het ’n voller lesing van Joël 3:14 en sê: “Menigtes, menigtes wag in die dal op hulle doemvonnis! Want die Dag van die Here is naby, in die Oordeelsdal.” The Bible in Living English deur Byington noem dit die “Beslissingsdal”. Die profeet Joël het sy boek omstreeks 820 v.G.J. voltooi. Dit was meer as 20 jaar voordat Jehovah sy tipiese “beslissing” aan die nasies van daardie antieke tyd voltrek het.
4. (a) Hoe het Jehovah in hierdie verband vir ons ’n goeie voorbeeld gestel? (b) Hoe het Barug, die seun van Neria, vir ons ’n goeie voorbeeld gestel?
4 Jehovah het vir ons ’n goeie voorbeeld gestel. Hy het sy besluit vroegtydig geneem en dit in die openbaar bekend gemaak. In ’n tyd wat geensins minder kritiek is nie, moet ons vandag elkeen vóór die komende wêreldramp ’n persoonlike besluit neem. Dit is gevaarlike selfbedrog om te dink dat ’n persoon dan skielik sy volgehoue handelwyse kan verander, die regte besluit kan neem en aldus aan die ramp kan ontkom. Barug die seun van Neria, was ’n voorbeeldige man wat 18 jaar voor die internasionale ramp waaromtrent hy in 625 v.G.J. ingelig is, reg opgetree het. 625 v.G.J. was die vierde jaar van die bewind van die derde laaste koning van gedoemde Jerusalem. Sy naam was Jojakim die seun van Josia. Hy het die troon in 628 v.G.J. bestyg nadat sy jonger broer, Joahas, deur Farao Nego van Egipte onttroon en na Egipte weggevoer is.
5, 6. (a) Waarom was dit ’n kritieke jaar toe Jehovah se woord deur Jeremia na Barug gekom het? (b) Hoe het Barug destyds gevoel, volgens Jeremia 45:1-3?
5 Nadat Jojakim drie jaar as ’n onderdaan van Egipte geregeer het, het die profeet-priester Jeremia ’n boodskap van Jehovah af vir sy sekretaris, Barug, die seun van Neria, ontvang. Dit was nou die vierde jaar van koning Jojakim. Dit was ‘n kritieke jaar, want in daardie jaar (625 v.G.J.) het Nebukadnesar, die seun van Nabopolassar, koning van Babilon geword. Die koning van Jerusalem sou nou rekening moes hou met die heerser van die Derde Wêreldmoondheid, Babilon, die veroweraar van die Assiriese Ryk. Laat ons nou Jeremia 45:1-3 lees:
6 “Die woord wat die profeet Jeremia aan Barug, die seun van Neria, meegedeel het toe hy hierdie woorde uit die mond van Jeremia in ’n boek geskrywe het, in die vierde jaar van Jojakim, die seun van Josia, die koning van Juda: So spreek die HERE, die God van Israel, aangaande jou, o Barug! Jy sê: Wee my tog, want die HERE het kommer aan my smart toegevoeg; ek is moeg van my gesug en vind geen rus nie!”
7. Hoe het Barug dalk gevoel toe hy die verslegtende toestand van Jerusalem gadeslaan, en watter uitwerking kon Jeremia se herhaalde doemboodskappe op Barug gehad het?
7 Ons weet nie hoe lank Barug toe reeds Jeremia se sekretaris was nie, maar daar het ten minste nog 18 jaar voorgelê om die profeet se metgesel te wees. Watter “smart” hy ervaar het toe hy die verslegtende toestand van die koninkryk van Juda gadegeslaan het, kan ons nie uitvind nie. Maar daarbenewens moes hy nou die pynlike doemboodskap neerskryf wat Jeremia gedikteer het. Hy sou gevoel het soos Jeremia toe hierdie profeet die boek “Klaagliedere” geskryf het nadat Jerusalem in 607 v.G.J. deur die koning van Babilon vernietig is. Jeremia se volgehoue, herhaalde doemprofesieë het Barug uitgeput.
8. Wat het Jehovah nou vir Barug gesê dat Hy gaan doen, maar wat het Barug vir homself gesoek?
8 Barug het geen vooruitsig op ’n ‘rusplek’ vir homself gehad nie. Jehovah het kennis geneem van die neiging van Barug en vir Jeremia gesê om hom mee te deel: “So spreek die HERE: Kyk, wat Ek gebou het, breek Ek self af; en wat Ek geplant het, ruk Ek self uit; en dit betref die hele aarde. En sou jý vir jou groot dinge soek? Soek dit nie.”—Jer. 45:4, 5.
9, 10. Waarom het Jehovah rede gehad om Barug se soeke na “groot dinge” vir homself op daardie tyd af te keur?
9 Barug het geweet watter “groot dinge” hy vir homself gesoek het, alhoewel Jehovah hulle nie vir hom gemeld het nie. Jehovah het dit klaarblyklik nie goedgekeur nie, en dus moes hy ophou om dit te soek. Waarom?
10 Dit was weens Jehovah se voorneme vir die onmiddellike toekoms. In daardie einste jaar het hy Nebukadnesar as koning van Babilon verwek, en dit was die een wat hy hom voorgeneem het om as skerpregter teen Barug se volk te gebruik. Dit was veral sedert die dae van koning Dawid (1077-1037 v.G.J.) dat Jehovah die koninkryk van Israel gebou het, maar deur middel van Nebukadnesar sou hy binnekort daardie koninklike regering afbreek, en dit sou 2 520 jaar, of tot 1914 van ons eie eeu, buite aksie bly. In 1473 v.G.J. het Jehovah die nasie Israel in die Beloofde Land geplant, maar nou, meer as 800 jaar later, het hy op die punt gestaan om dit uit te ruk. Sewentig jaar lank sou die land van die koninkryk van Juda leeg lê sonder Jood en dier terwyl die volk daarvan in die land van Nebukadnesar in ballingskap was. Was dit, in die lig van sulke gebeure in die nabye toekoms, die gepaste tyd vir ’n man wat bekend was met Jehovah se voorneme soos dit deur Jeremia verkondig is, om “groot dinge” van ’n persoonlike aard vir homself te soek? Glad nie!
11. Wat sou Barug se regte besluit, wat onmiddellik geneem moes word, vir hom beteken?
11 Dit is waarom Jehovah hom aangesê het om nie meer sulke dinge te soek nie. Gestel Barug het aangehou om selfsugtige dinge te soek. Kon hy dan die boodskap wat hy gebruik is om neer te skryf en te verkondig in sy hart onderskryf? Nee! Sy verhouding met Jehovah se profeet Jeremia sou beslis skade ly. Indien Barug ’n geesgenoot van Jeremia wou bly en steeds sy boodskap in sy hart wou onderskryf, sou hy selfsugtige ambisie moes onderdruk. Nog 18 jaar sou verloop voordat die voorspelde ramp kom, en tog was dit nou vir Barug nodig om ’n besluit te neem. Sy lewe, sy “siel”, het daarvan afgehang dat hy die regte besluit neem en daarby bly. Hy moes dit doen indien hy nie sy bande wou verbreek nie.
12. Waarom is dit nou, net soos in Barug se geval, raadsaam dat ons ophou om “groot dinge” vir onsself in hierdie wêreld te soek?
12 Hoe baie kom die situasie van ons ingeligte persone van vandag tog met Barug se kritieke situasie ooreen! Dit is veral so sedert 1914, want dit is van toe af dat Jehovah se Getuies verkondig dat die valse Christendom, die hedendaagse teenbeeld van ontroue Jerusalem, vernietig gaan word deur iemand wat groter as Nebukadnesar is, naamlik die tans heersende hemelse Koning, Jesus Christus. Dit sou uiters onraadsaam vir iemand in ’n verbondsverhouding met God wees om op so ’n kritieke tyd soos nou vir homself “groot dinge” in hierdie verbrokkelende stelsel van dinge te soek. Dit sou daarvan getuig dat hy nie besef dat ons in die “tyd van die einde” lewe nie. Dit sou getuig van ’n gebrek aan geloof en vertroue in die korrektheid en tydigheid van die boodskap wat deur die Jeremia-klas aangaande die ondergang van hierdie ou stelsel van dinge verkondig word. ’n Persoon se lewe, se “siel”, is nou in die weegskaal! Jehovah staan nou op die punt om af te breek en uit te ruk deur middel van ’n agent wat magtiger as Nebukadnesar is, naamlik Jesus Christus. Wil ons saam met die hedendaagse teenbeeld van afvallige Jerusalem, naamlik die valse Christendom, tereggestel word? Indien nie, moet ons ons besluit neem terwyl daar nog tyd is om te doen wat Jehovah Jeremia se sekretaris Barug aangesê het om te doen, naamlik om op te hou om “groot dinge” in hierdie wêreld te soek.
13. Wat moet ons nou saam met die Jeremia-klas doen?
13 Laat ons indiwidueel lewe ooreenkomstig die boodskap wat deur die Jeremia-klas verkondig word. Laat ons ontslae raak van selfsugtige ambisie en nie lief word vir die verganklike dinge van hierdie gedoemde stelsel van dinge nie. Dit vereis dat ons moedig saam met die Jeremia-klas die waarskuwing oor Jehovah se komende ‘dag van wraak’ moet rig. Ons moet nie nou ’n verdeelde hart hê nie.—Jes. 61:1, 2.
14, 15. (a) Wat sou Barug as “buit” vir homself ontvang as beloning vir gehoorsaamheid? (b) Het sake so verloop?
14 Wat is die beloning hiervoor? Dit word gemeld in wat Jeremia aangesê is om vir Barug te sê: “Want kyk. Ek bring onheil oor alle vlees. spreek die HERE; maar Ek sal jou siel vir jou as buit gee in al die plekke waarheen jy sal gaan.”—Jer. 45:5b.
15 Sake het werklik so vir Barug verloop. Dit bewys dat hy sonder versuim die regte besluit geneem het. Dit word gestaaf in ’n vroeëre hoofstuk, in Jeremia 43:5-7, wat vir ons vertel wat gebeur het nadat Jerusalem in 607 v.G.J. vernietig is. Ons lees: Toe die vreesbevange oorlewende Jode uit die land van Juda na Egipte gevlug het, het hulle “die profeet Jeremia en Barug, die seun van Neria, [saamgeneem] en hulle het na Egipteland getrek; want hulle het nie geluister na die stem van die HERE nie. En hulle het tot by Tagpanhes” in noordelike Egipte gekom. Maar selfs daarna het Jeremia aangehou om vir daardie ongehoorsame Jode te profeteer.—Jer. 43:8-44:30.
16. Wat kon Barug van die veroweraar verwag indien hy geleef het totdat die koning van Babilon Egipte omvergewerp het?
16 Daardie koppige Jode het nie die oorheersing van die Babiloniese Wêreldmoondheid lank ontwyk nie, want mettertyd het Nebukadnesar Egipte by die gebied van sy ryk gevoeg. Indien Jeremia en Barug geleef het om hierdie oorname deur Babilon te aanskou, sou hulle nie slagoffers van Nebukadnesar se toorn geword het nie. Hy het rede gehad om hulle goed te behandel. Barug sou steeds sy “siel” as buit gehad het ter regverdiging van Jehovah se belofte in Jeremia 45:5. Hy sou toe terdeë besef het hoe wys en verstandig hy was om sy ontydige handelwyse om na “groot dinge” vir homself te soek, te staak.
17. Hoe kan ons baat vind by Barug se gehoorsame optrede as ’n voorbeeld van wat gedoen moet word?
17 Kan ons werklik vandag baat vind by Barug se gehoorsame onderdanigheid aan Jehovah se korrektiewe raad? Ja! Ongeag hoe nou ons aan die Jeremia-klas verbonde is, ons doen die goddelik goedgekeurde ding deur nie gedurende hierdie laaste dae van die valse Christendom na “groot dinge” vir onsself te streef nie. Ons “siel”, ons lewe as ’n persoon, is baie meer werd as “groot dinge” wat bestem is om saam met hierdie goddelose wêreld verby te gaan, wanneer elkeen met net sy “siel” sal ontkom. Om dan as ’n “siel” met goddelike goedkeuring te lewe, sal verreweg kosbaarder wees as om nou ’n ruk lank enige verganklike dinge van die valse Christendom en Georganiseerde Godsdiens in sy geheel te geniet.
HOE OM DIE VLOEK OOR DIEGENE WAT DIE “SWAARD” NIE GEBRUIK NIE VRY TE SPRING
18, 19. Waarom was Jehovah se ‘dag van wraak’ nie verby na die ramp wat Juda en Jerusalem getref het nie?
18 Barug en Jeremia was bedroef oor die vernietiging van Jerusalem en die ontvolking van haar land. Maar heidense nasies daar naby of rondomheen was verheug oor die ramp wat Jehovah se verbondsvolk getref het (Ps. 83:7-9; 137:7). Egipte was natuurlik nie alte ingenome nie, want hy was bly om Juda en Jerusalem aan hom onderworpe en as bondgenote te hê. Daarbenewens het die koninkryk van Juda as ’n buffergebied tussen hom en die dreigende wêreldmoondheid, Babilon, gedien. Egipte het nietemin vir homself ’n skandelike reputasie verkry ten opsigte van Juda en sy hoofstad, Jerusalem, waar konings van Dawid se dinastie op “die troon van die HERE” gesit het. Die wrewelrige haat van die nasies teenoor Jehovah se verbondsvolk het hom nie ontgaan nie, want sy aanbidding was daarby betrokke.
19 Jehovah se ‘dag van wraak’ was dus nie verby nadat hy die koning van Babilon as sy instrument gebruik het om die koninkryk van Juda omver te werp nie. Die beker van nasionale rampspoed wat teen die lippe van Juda en Jerusalem gehou is, moes tereg aan daardie vyandige nasies gegee word sodat hulle as haters van Jehovah omver gewerp kon word.
20. (a) Wat het Jehovah Jeremia geïnspireer om aangaande daardie vyandige nasies te sê? (b) Aangaande wie is Jeremia 48:10 uitgespreek, en het hulle die vloek verdien?
20 Jehovah het Jeremia dus geïnspireer om sy profesieë af te rond deur die gewelddadige omverwerping van bose nasies soos Egipte, Filistea, Moab, Ammon, Edom, Kedar en selfs Elam te voorspel (Jer. 46:1-49:39; 25:15-33). Jehovah het hom voorgeneem om die Babiloniërs onder Nebukadnesar te gebruik om die teregstelling-“swaard” te swaai teen daardie nasies wat die ware God trotseer het. Dit was dus aangaande daardie teregstellingsmagte dat Jehovah Jeremia geïnspireer het om te sê: “Vervloek is hy wat nalatig is om die werk van die HERE te doen; ja, vervloek is hy wat sy swaard van bloed terughou!” (Jer. 48:10). Nòg die Babiloniërs nòg hulle koning Nebukadnesar het hulle daardie vloek op die hals gehaal omdat hulle versuim het om die “werk” van God deeglik te doen.
21. (a) Is Jeremia en Barug “vervloek” omdat hulle nie die metaal-“swaard” gebruik het nie? (b) Sal Jehovah se Getuies van die valse Christendom ontslae raak, of wie sal?
21 Maar wat van ons wat vandag lewe? Kan ons ons ’n soortgelyke vloek op die hals haal omdat ons ons werk verwaarloos, omdat ons terughou met betrekking tot die “swaard”? Ons weet wel dat nòg Jeremia nòg Barug ’n metaalswaard teen daardie vyandelike nasies geswaai het. Dit was nie hulle werk nie. Daardie werk is aan die Babiloniërs onder hulle pasgekroonde keiser, Nebukadnesar, gegee. As Jehovah se Getuies sal die Jeremia-klas van vandag nie ’n hand teen die valse Christendom, die teenbeeld van afvallige Jerusalem en haar ryk, oplig nie. Die valse Christendom se eertydse politieke metgeselle en ander godlose elemente sal sonder enige teerheid van haar ontslae raak, net soos die oorlewende nasies wat bly was om van Jerusalem en haar koninkryk as hulle bure ontslae te wees.—Openb. 17:12-18.
22. Wie sal nie die hoë verwagtinge van die omverwerpers van Georganiseerde Godsdiens in sy geheel deel nie, en wat sal hulle gesindheid teenoor die nuwe heersende magte wees?
22 Maar wat sal op die aarde oorbly nadat die valse Christendom en alle ander dele van die wêreldryk van valse godsdiens uitgewis is? Ongodsdienstige politieke magte, wat beheer oor alle menseaangeleenthede sal oorneem. Hulle sal dit doen met hoë verwagtinge op sukses en verlig dat Georganiseerde Godsdiens nie meer vir hulle voorskryf nie. (Vergelyk Esegiël, hoofstuk 23.) Maar die Jeremia-klas en sy godvresende metgeselle sal nie sulke God-uittartende verwagtinge deel nie, selfs al betoon hulle betreklike onderdanigheid aan die nuwe heersende magte as die nuwe “hoëre owerhede”.—Rom. 13:1, 2, NW.
23. Wat sal dan meebring dat die res van Jehovah se ‘dag van wraak’ vervul word?
23 Jehovah se ‘dag van wraak’ sou dan reeds begin het, maar dit sal nie verby wees na die vernietiging van Georganiseerde Godsdiens, die wêreldryk van valse godsdiens nie. Dit moet voortduur totdat goddelike “wraak” op alle teenstanders van Jehovah se universele soewereiniteit uitgegiet is. Maar eers sal hulle probeer om die Jeremia-klas en hulle lojale metgeselle te dwing om hulle onvoorwaardelik te skik na die godlose stelsel van dinge, net soos Johanan en sy volgelinge Jeremia en Barug in hegtenis geneem en gedwing het om hulle na Egipte te vergesel. Wanneer hulle nie daarin slaag om dit te doen nie, sal hulle ’n volskaalse aanval teen daardie beginselvaste aanbidders van Jehovah rig. Net soos die internasionale hordes onder Gog van die land Magog sal hulle probeer om die geestelike paradys van Jehovah se oorblyfsel en hulle onafskeidbare metgeselle binne te val. Deur aldus absolute wêreldbeheer te probeer verkry, sal hulle toon dat hulle dit verdien dat Jehovah se wraak teen hulle ontvlam.—Eseg. 38:1-39:20.
24. Wie sal dan ’n teenaanval doen, en sal hulle tereg “vervloek” word weens nalatigheid of omdat hulle teruggehou het?
24 Wat dan? Openbaring 19:11-21 toon dat Jesus Christus, ’n veroweraar groter as koning Nebukadnesar, met engeleleërs ’n teenaanval sal doen. Hulle sal nie vervloek word omdat hulle die werk van Jehovah op ’n nalatige wyse verrig het nie. Hulle sal geen vloek verdien omdat hulle die teregstelling-“swaard” van die vyand se bloed teruggehou het nie (Jer. 48:10). Hulle sal Jehovah se wraak aan die aggressiewe nasies voltrek. Hiervoor sal hulle met ’n heerlike oorwinning geseën word, tot Jehovah se ewige regverdiging.
25. Hoe moet Jehovah se Getuies Jeremia dan navolg nadat hy na die land geneem is waarteen hy geprofeteer het?
25 Ons is sedert die jaar 1914 in “die tyd van die einde” (Dan. 12:4). Die Jeremiaklas en hulle toegewyde metgeselle moet dus nou die wêreld se aandag vestig op die dreigende “swaard”, die teregstellingsinstrument wat Jehovah gedurende die komende “groot verdrukking” gaan gebruik (Matt. 24:21). Hulle moet Jeremia se voorbeeld volg. Nadat hy met geweld van die land Juda af weggeneem is, het hy vertel van die dreigende “swaard” van koning Nebukadnesar teen die land waarheen hy geneem is. naamlik Egipte, asook teen Filistea, Moab, Ammon, Edom en ander vyandelike lande. Selfs nou, voor die uitbreek van die “groot verdrukking”, staan hulle onder goddelike bevel om die “dag van die wraak van onse God” teen Georganiseerde Godsdiens en alle wêreldlike nasies “uit te roep” (Jer. 46:1-49:39). Hulle “werk” is om die waarskuwingsboodskap te rig: “Die HERE hou ’n dag van wraak, ’n jaar van vergelding in die regsaak van Sion.”—Jes. 34:8.
26, 27. Watter woorde van Jehovah aan Esegiël as ’n wag moet die Jeremia-klas nou ter harte neem?
26 Jesus se profetiese woorde in Lukas 21:22 is nou van toepassing: “Dit sal dae van wraak wees, sodat alles wat geskrywe is, vervul kan word.” Dit is veral nou die tyd vir die Jeremia-klas om Jehovah se woorde aan Esegiël, wat in 613 v.G.J. in Babilon begin profeteer het, sewe jaar voordat Jeremia teen sy sin na Egipte geneem is, ter harte te neem:
27 “As . . . die wag die swaard sien kom en met die basuin nie blaas nie, sodat die mense nie gewaarsku is nie, en die swaard kom en neem ’n siel uit hulle weg—dan is hy deur sy ongeregtigheid weggeneem, maar sy bloed sal Ek van die hand van die wag eis. En jy, o mensekind, Ek het jou as wag oor die huis van Israel aangestel; en as jy ’n woord uit my mond hoor, moet jy hulle van my kant waarsku. As Ek aan die goddelose sê: o Goddelose, jy sal sekerlik sterwe, en jy spreek nie om die goddelose vir sy weg te waarsku nie, dan sal hy, die goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis. Maar as jy die goddelose waarsku vir sy weg, dat hy hom daarvan moet bekeer, en hy hom nie bekeer van sy weg nie, dan sal hy deur sy ongeregtigheid sterwe; maar jy het jou siel gered.”—Eseg. 33:6-9; vergelyk Esegiël 9:2-10.
28. Wat is die begeerte van die Jeremia-klas en hulle metgeselle in hierdie verband, maar wat kan gebeur, en wat sal dit vir hulle beteken?
28 Die Jeremia-klas van vandag en hulle meewerkende metgeselle het geen begeerte om op so ’n wyse bloedskuldig te word nie. Maar dit is wel moontlik. Indien hulle, weens mensevrees, nie alle volke oor die “swaard” van Jehovah se “dag van wraak” waarsku nie en aldus versuim om hulle “werk” te doen, sal hulle hulle sy vloek op die hals haal. Dit sal beteken dat hulle die lewe verloor weens hulle pligsversuim.
29. Wat moet soekers na die lewe nou kies om te voorkom dat hulle die weg van agtelose mense inslaan nadat Georganiseerde Godsdiens vernietig is?
29 Wanneer die “swaard” van goddelike wraak Georganiseerde Godsdiens in sy geheel tydens die vinnig naderende “groot verdrukking” neervel, sal die mense wat nie na Jehovah se “wag”, die Jeremia-klas, geluister het nie hulle toevlug tot die gedoemde politieke elemente neem—tot hulle gewisse vernietiging tydens die “oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” te Armageddon (Openb. 16:14, 16). Om nie daardie weg saam met hulle te bewandel nie, moet die regte roete nou gekies word terwyl die regte roete nog oop is. Soekers na die lewe sal nooit hulle koers daarop hoef te verander nie.
(Die laaste artikel in hierdie reeks oor Jeremia se profesie sal later verskyn.)
“Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.”—Matt. 7:13, 14.
[Prent op bladsy 21]
God se “dag van wraak” is nie die tyd om “groot dinge” vir ’n mensself te soek nie
[Prent op bladsy 22]
Laat ons nooit nalatig wees ten opsigte van “die werk van die HERE” nie