Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 6/15 bl. 16-22
  • Die skepping se hoop—ons wag op die verwesenliking daarvan

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die skepping se hoop—ons wag op die verwesenliking daarvan
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’N GODGEGEWE HOOP VOORGEHOU
  • DIE MENSESKEPPING “AAN DIE NIETIGHEID ONDERWORPE” MET DIE HOOP OP VRYHEID
  • Die vooruitsig op ’n paradys is ondanks die mens se ongehoorsaamheid geldig
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Die laaste vyand, die dood, word tot niet gemaak
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • Ons kan by die eerste mensepaar leer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Waarom Eden vir jou van belang is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 6/15 bl. 16-22

Die skepping se hoop—ons wag op die verwesenliking daarvan

“Die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God”—Rom. 8:21.

1, 2. Hoe verskil ons van wêreldse mense wat “’n wanhopige hoop” vir die menseskepping koester?

DAAR is geen hoop vir die mensdom nie! Dit is wat baie mense dink.

2 Maar daar is ander wat “’n wanhopige hoop koester”. Dit wil sê, hulle bly hoop sonder dat hulle enige grondslag het om te verwag dat hulle hoop vervul sal word. Maar ons koester ’n hoop met ’n vaste grondslag om die verwesenliking van ons glorieryke hoop te verwag. In hierdie opsig is ons soos ’n man van die ou tyd.

3. Met wie kom ons in hierdie opsig ooreen, en hoe is daardie eertydse aartsvader se deeglik gegronde hoop verwesenlik?

3 Daardie man was ’n Oosterling met die naam Abraham, wat aanvanklik gewoon het in die landstreek wat nou Irak genoem word. Omdat hy geglo het in ’n besondere hoop wat aan hom voorgehou is, het hy verhuis na die omgewing van die dorp Berseba, wat ten noorde van die Sinai-skiereiland geleë is. In Abraham se geval het die hoop van sekere volke afhanklik geword van die geboorte van ’n seun by sy vrou Sara. Nege-en-negentig lewensjare het hulle merk op hom gelaat, en 89 op sy vrou. Onder gewone omstandighede sou so ’n hoë ouderdom hulle hoop op die geboorte van ’n seun die nek ingeslaan het. Maar Abraham het hierdie belofte ontvang van ’n Persoon wat nooit sy belofte verbreek nie, naamlik van sy God, Jehovah. Wat het Abraham dan gedoen? Hy het aan sy Godgegewe hoop vasgekleef. Die geskiedenisverhaal in die Bybel sê: “Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo, en so die vader van baie nasies geword volgens die belofte [van God]: ‘So sal jou nageslag wees’” (Rom. 4:18, NAB). Abraham se hoop is nie verydel nie, want deur ’n wonderwerk het hy sy seun Isak by sy vrou Sara gehad. Volke het hulle ontstaan aan hierdie geboorte te danke gehad!

4. (a) Wat het die ganse menseskepping, nie net die wat nou lewe nie. maar tot hoe ver terug in die verlede? (b) Watter vrae ontstaan in verband met die eerste man toe hy alleen in sy aardse tuiste was?

4 Vir die ganse menseskepping is daar vandag ’n Godgegewe hoop! Dit word nie net uitgehou aan die aarde se huidige bevolking nie, maar dit is vir die ganse menseskepping reg tot by die kinders van die eerste mens op aarde, Adam. Hierdie eerste mens is heeltemal volmaak na liggaam en verstand geskape, iets wat sy Skepper tot eer gestrek het. Hy is in ’n volmaakte aardse tuiste, die tuin van Eden, geplaas, met al die voorsienings om volmaakte menselewe in geluk te onderhou. Sy Skepper, sy hemelse Vader, het sy kameraad geword en het gereeld met hom uit die onsigbare ryk gepraat. Daarbenewens sou al die landdiere, voëls en visse om Adam in die tuin van Eden hom goed besig hou sodat hy nie eensaam sou voel nie. Maar waarom het Adam se hemelse Vader hom in hierdie verruklike Paradys geplaas? Om ’n alleenlopende bosbouer of tuinier te wees? Hoe lank was hy bestem om te lewe en al hierdie goeie dinge uit die hand van sy Lewegewer te geniet?

5. Van watter indiwidu het die antwoorde op daardie vrae afgehang, en watter pertinente vermaning kon volmaakte Adam in gedagte hou?

5 God het Adam laat verstaan dat dit alles van hom afgehang het! Met sy volmaakte geheue kon Adam nooit die vermaning wat sy hemelse Vader aan hom gegee het, vergeet nie: “Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.”—Gen. 2:16, 17.

6. Wat het daardie goddelike gebod vir die mensdom geopen, en hoe sou Adam se afstammelinge in aansyn kom?

6 Daardie goddelike gebod het die weg vir Adam geopen om vir ewig te lewe, indien dit God se wil vir hom was. Soos die verhaal later toon, het Adam 930 jaar lank gelewe, maar hy kon oneindig langer gelewe het. Dit is sy skuld dat ons vandag sterf. lets wat ons almal moet besef, is dat daardie eerste mens op aarde ’n nageslag gehad het; anders sou ons nie hier gewees het nie. Maar dit was nie op die onmenslike manier van voortplanting wat hedendaagse wetenskaplike proefnemers geslaglose kloonvorming noem en wat by party plante voorkom nie. Soos in die geval van die voëls en die landdiere het God vir hom ’n maat wat by hom pas, ’n vrou, geskep deur ’n ribbebeen uit Adam se sy te neem en haar daaruit te bou. Toe God die eerste man en die eerste vrou op aarde in die eg verbind het, het Hy die hoop van eindelose lewe op die paradysaarde aan hulle voorgehou. Hy het hulle geseën en aan hulle gesê om hulle eie soort voort te bring om sodoende die hele aarde, waaroor hulle paradys mettertyd sou uitbrei, te vul.—Gen. 2:18-24; 1:26-28.

7. Watter toedrag van sake het Adam en Eva nooit verwag nie, en waarom moet die skuld vir die verloop van menslike aangeleenthede nie op die slang gepak word nie?

7 Die vooruitsig vir die hele mensdom was destyds baie rooskleurig. Adam en Eva het nooit verwag om te sien dat hulle nageslag “sug en tesame in barensnood” verkeer vanweë die fisiese, sedelike en maatskaplike toestand waarin ons ons vandag bevind nie. Die feit dat hulle ongehoorsaam van die vrug van die boom van die kennis van goed en kwaad geëet het, het op sigself miskien na ’n nietigheid gelyk, maar dit is daardie oortreding wat vir die huidige toestand verantwoordelik is. Deurdat eers Eva en toe Adam gesondig en van die vrug geëet het, het hulle, terwyl hulle nog kinderloos was, hulle Godgegewe hoop verpletter. Tensy God op die een of ander manier sou ingryp, sou ons vandag aan volslae hopeloosheid onderworpe gewees het. ’n Slang in Eden het weliswaar by die saak betrokke geraak, maar ons moenie daardie reptiel al die skuld gee nie. Die Bybel vestig ons aandag eerder op die onsigbare geesbedrieër wat agter die slang was. Wie was hy? ’n Hemelse engel, wat vasbeslote was om Adam en Eva so ver te kry dat hulle nie langer hulle hoop op Jehovah God sou stel nie.

8. Wat is Eva mislei om te doen, en waarom bevind ons onsself vandag nie in die oorspronklike tuin van Eden nie?

8 Daardie opstandige konkelaar wat deur die slang gepraat het, het Eva mislei sodat sy probeer het om self soos God te word. So sou sy haar selfgekose hoop opbou. Tot op daardie tydstip was haar man Adam God se profeet vir haar. Adam het as God se mondstuk gedien en haar ingelig oor God se gebod om nie van die verbode vrug te eet nie. Maar nadat sy van haarself ’n godin probeer maak het deur van die verbode vrug te eet, het sy as ’n profetes vir die slang opgetree deur haar mooi stem te gebruik om Adam te oorreed om saam met haar wetteloos te wees. Adam het uiteindelik, om Godonterende redes, ‘geluister na die stem van sy vrou’, die valse profetes (Gen. 3:17). Jehovah God het gevolglik sy ontroue profeet, Adam, ’n regverdige doodvonnis opgelê. Eva, Adam se vrou, is dieselfde vonnis opgelê. Nou was hulle so goed as dood, en is hulle uit die tuin van Eden verdryf om die res van hulle dae in die onbewerkte aarde deur te bring. Ons almal, wat toe nog ongebore in Adam en Eva se voortplantingsorgane was, is saam met hulle uitgedryf.

9. Is enige ander hoop as dié wat in God se gebod aan Adam gemeld is aan die twee opsetlike mensesondaars voorgehou, en hoe is die situasie vir hulle nageslag gelaat?

9 Aan daardie eerste opsetlike wetsoortreders, Adam en Eva, is geen ander vooruitsig voorgehou as dié wat in God se gebod aan Adam gemeld is nie. Daar is tereg geen hoop aan hulle voorgehou nie, omdat hulle hulle oorspronklike Godgegewe hoop oorboord gegooi het. Maar is die saak hopeloos gelaat vir ons almal, hulle nageslag wat nie vir hulle sonde aanspreeklik is nie? Gelukkig nie!

’N GODGEGEWE HOOP VOORGEHOU

10. Wie is eerste in Eden gevonnis, wat is hy genoem, en hoe sou hy in die voorspelde botsing vaar?

10 Daar is nie woorde van hoop aan Adam en Eva persoonlik gerig nie; hulle het dit maar net aangehoor. God se woorde wat ’n grondslag vir ons hoop bied, is gerig aan die opstandige gees wat die slang op listige wyse gebruik het om Eva te oorreed om ’n suksesvolle profetes vir hom te word. Hy is gebrandmerk met die naam Satan die Duiwel. Daar hy die eerste een was wat sluheid en bedrog gebruik het om ander te mislei, selfs met behulp van ’n slang in Eden, is hy ook “die oorspronklike slang” genoem (Openb. 12:9; 20:2, NW). Hierdie selfvererende geesskepsel, wat die eerste een was wat oor God en vir die vrou gelieg het, is die eerste deur God in Eden gevonnis. God het hom vervloek en toe ’n stryd voorspel waarin “die oorspronklike slang” en diegene wat hulle in die botsing aan sy kant skaar, die onderspit sou delf.

11. Hoe het die bewoording van die vonnis van “die oorspronklike slang” hoop vir Adam en Eva se nageslag ingehou?

11 Aan “die oorspronklike slang” het God gesê: “En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt” (Gen. 3:14, 15). Dit het vir “die oorspronklike slang” en sy saad vernietiging voorspel. Maar het hierdie geregtelike beslissing van God enige grond vir hoop ten behoewe van die toekomstige nageslag van Adam en Eva verskaf? Nee, nie regstreeks nie, maar slegs deur afleiding of implikasie.

12. Watter soort “vrou” het God se woorde aan Satan by die saak betrek, en waarom kon Maria, die moeder van Jesus Christus, nie daardie “vrou” wees nie?

12 Aha! ’n vrou word by die saak betrek. Wie sou sy wees? Sy moes iemand wees wat vyandigheid, haat, teenoor “die oorspronklike slang” en sy saad sou betoon. Eva, wat haarself ’n valse profetes vir “die oorspronklike slang” gemaak het, was nie geskik vir hierdie rol nie. Sy is oorreed om te glo dat Jehovah God ’n leuenaar was. Selfs Maria, die moeder van Jesus Christus, sou nie geskik wees nie. Vierduisend jaar sou verloop voordat hierdie Joodse meisie as ’n afstammeling van Abraham en onder die Joodse Wet gebore sou word. Haar eersgebore seun Jesus het slegs 33 1/2 jaar op aarde gelewe. Toe sy aardse moeder aanskou het wat “die oorspronklike slang” op Kalvarie laat doen het aan hierdie seun wat sy op so ’n wonderdadige wyse ontvang het, was die grootste deel van haar lewe reeds verby. Sy kon “die oorspronklike slang” dus slegs enkele dekades lank vyandiggesind wees.

13. Slegs wie of wat kon die gemelde “vrou” wees, en sy was bly om in watter posisie ten opsigte van die simboliese slang en sy nageslag geplaas te word?

13 Dit is logies dat die “vrou” van God se profesie iemand moes wees wat destyds gelewe het en wat geluister het toe God met “die oorspronklike slang” in Eden gepraat het. Die simboliese “vrou” sou lank na die dood van Eva voortlewe, ja, tot God se bestemde tyd vir die “vrou” om die beloofde “saad” voort te bring, iets wat meer as 3 000 jaar na Eva se dood gebeur het. Wie anders kon hierdie simboliese “vrou” dus wees as God se eie “vrou”, dit wil sê, sy hemelse organisasie van heilige geesskepsele wat geweier het om hulle by “die oorspronklike slang” in sy opstand te skaar? Hulle het God se egband met sy getroue universele organisasie eerbiedig en het nie van Hom geskei om by die organisasie aan te sluit wat met “die oorspronklike slang” ’n egverbintenis sou aangaan nie. Hulle het groot behae daarin geskep dat God vyandskap tussen hulle en die georganiseerde “saad” van “die oorspronklike slang” gestel het.

14. (a) Watter hoop is aan God se “vrou” voorgehou, tesame met watter latere ervaring van die vroulike geslag? (b) Is ons as kinders van God gebore, en watter hoop word nogtans aan die mensdom voorgehou?

14 In Eden het God dus die vooruitsig van moederskap aan sy hemelse gemalinorganisasie voorgehou. Van toe af kon sy die hoop koester om die moeder te word van die “saad” waarvan haar Eggenoot, Jehovah God, die Vader sou word. Vir sy “vrou” was dit die moeite werd om 4 000 jaar lank op die verwesenliking van hierdie hoop te wag. Sy was bereid om enige barensweë te verduur wat dit sou meebring, net soos in die geval van die simboliese vrou in die gesig wat die Christenapostel Johannes in Openbaring 12:1-5 beskryf het. Moederskap is die normale begeerte van alle volwasse vroue. Waarom dan nie moederskap aan God se “vrou”, sy hemelse organisasie, voorhou nie? Die hoop op moederskap is gepas aan God se “vrou” voorgehou voordat God genadiglik toegelaat het dat Eva, die vrou van die nou sondige Adam, moederskap buitekant Eden ervaar het. Maar dit was nie as ’n seën bedoel toe God aan die sondige Eva gesê het nie: “Ek sal grootliks vermeerder jou moeite en jou swangerskap; met smart sal jy kinders baar” (Genesis 3:16 in teenstelling met 1:28). Toe hulle aan hulle kinders inligting oor God se profesie aangaande die “saad” van die “vrou” oorgedra het, het Adam nie as ’n profeet van God gedien nie; en sy vrou, Eva, het nie as ’n profetes van God gedien nie. God wou, afgesien daarvan of Adam en Eva sy belofte wat in Genesis 3:15 opgeteken is, geglo het of nie, hê dat hulle nageslag ’n hoop moes koester wat op daardie belofte gegrond is. Hoewel Adam as ’n “seun van God” geskape is, is ons, sy onvolmaakte, sondebesmette nageslag, nie as kinders van Jehovah God gebore nie (Luk. 3:38). Daarom het ons nie natuurlikerwyse getuienis van God se heilige gees, wat met ons eie menslike gees getuig, dat ons kinders van God is nie. Maar bestaan daar enige hoop dat ons weer eendag in God se gesin van kinders opgeneem sal word? Ja, daar bestaan!

15. Wat toon die feit dat daar vandag nog meer as 4 000 miljoen mense op aarde lewe omtrent die mensdom se situasie?

15 Indien daar geen hoop vir ons bestaan het nie, waarom het God dan toegelaat dat so baie van ons vir Adam en Eva gebore word—ja, ver oor 100 geslagte van hulle afstammelinge tot op hede? Vandag is daar, ten spyte van al die oorloë en ander rampe benewens siekte en natuurlike dood, meer as 4 200 miljoen van ons wat lewe, en daar word voorspel dat daar teen die jaar 2000 G.J. 6 000 miljoen mense op aarde sal wees. Was dit alles tevergeefs? Klaarblyklik nie!

16. (a) Van wie se vermoë om iets te doen hang die verwesenliking van die skepping se hoop af, aangesien die mens hulpeloos is? (b) Watter geboorte en lewe op aarde was die keerpunt in mensegeskiedenis?

16 Die mens kan natuurlik nie uit eie krag uit sy gevalle toestand kom nie. Maar die saak vir die menseskepping is nie hopeloos nie, al lyk dinge ook so somber. Hierdie hoop berus nie op enigiets wat die mens self kan doen nie, maar is stewig gegrond op wat God reeds ooreenkomstig sy onverbreeklike belofte gedoen het en nog sal doen. Omdat God toegelaat het dat sowat 70 geslagte na Adam gebore word, kon sy Seun uit die hemel as die mens Jesus Christus gebore word. Op aarde het hierdie Seun van God God se wil ten behoewe van die hele mensdom volbring. Dit was ’n keerpunt in die geskiedenis vir ons mense!

DIE MENSESKEPPING “AAN DIE NIETIGHEID ONDERWORPE” MET DIE HOOP OP VRYHEID

17. Wat het die apostel Paulus in Romeine 8:19-24 geskryf oor die onderwerping van die mensdom aan tevergeefse eie inspanning en oor die skepping se sugtende verwagting waarvan?

17 Sowat 23 jaar nadat Jesus Christus sy aardse loopbaan voltooi het en weer na die hemel toe opgevaar het, het die Christenapostel Paulus aan die gemeente in Rome, Italië, geskryf en gesê: “Die [mense]skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God. Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe—nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het—in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God. Want ons weet dat die hele skepping tesame sug en tesame in barensnood is tot nou toe. En nie alleen dit nie, maar ons self ook wat die eerstelinge van die Gees het, ons sug ook in onsself in afwagting van die aanneming tot kinders, naamlik die verlossing van ons liggaam. Want ons is gered in hoop.”—Rom. 8:19-24.

18. (a) Wie het die hele menseskepping aan die nietigheid onderwerp, en hoe? (b) Waar het menslike instellings ons vandag gebring, en is die dinge wat voorlê die “vurige verwagting” van die sugtende skepping”?

18 God is die Een wat die menseskepping aan nietigheid of frustrasie onderwerp het. Ons is nie uit eie wil daaraan onderwerp nie, omdat ons nie uit ons eie wil gebore is nie. Dit was God se wil dat ons in aansyn moes kom, ondanks die doodvonnis wat hy oor Adam en Eva uitgespreek het (Gen. 3:16-24; 5:1-4). Ons is egter nie gebore met die “vryheid van die heerlikheid”, of “glorieryke vryheid” (NW), wat Adam en Eva aanvanklik in die tuin van Eden as “kinders van God” geniet het nie. Ons is gebore in “slawerny van die verganklikheid”, onder veroordeling van die dood wat op al Adam se nakomelinge rus (Rom. 5:12). Gevolglik kan ons onsself nie red nie. Al ons pogings om onsself te red is tevergeefs en tot frustrasie gedoem. Waar het al die strewes van mensgemaakte regerings ons gebring? Waar het al die maatskaplike, ekonomiese, finansiële, mediese en wetenskaplike reëlings van die ambisieuse mensdom ons tot op hede gebring? Ons almal is nog aan verstandelike, liggaamlike en sedelike verderflikheid onderworpe. En dit lyk nou of ’n kernoorlog met interkontinentale ballistiese missiele wat van onder uit die see afgevuur kan word of wat uit die lug op ons kan neerreën skielik ’n einde aan ons almal kan maak. Kan dit beskryf word as die “reikhalsende verlange”, of die “vurige verwagting” (NW), van die sugtende skepping?

19. Met watter doel het God die gevalle mensdom aan nietigheid of frustrasie onderwerp, maar op grond van watter hoop het hy dit gedoen?

19 Die mens se Skepper is egter nie self aan nietigheid, ydelheid of frustrasie onderworpe nie. Die verdorwe mensdom kan nie die Skepper se voorneme dwarsboom nie. Daarom is Hy ons hoop. Hy wil dus hê dat ons op hom, en nie op onsself nie, moet vertrou. Hy het ons almal aan menslike onvermoë onderwerp, sodat ons geen grondslag sou hê om ons hoop op onsself te stel nie. As die enigste Bron van hoop het hy die mensdom aan nietigheid onderwerp, maar hy het dit nie sonder ’n grondslag vir hoop gedoen nie. Hy het dit eerder gedoen “in die hoop [of, op die grondslag van hoop, NW] dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God”, soos Romeine 8:20, 21 sê.

20. (a) Geniet die sogenaamde “vrye wêreld” die glorieryke “vryheid . . . van die kinders van God”? (b) Op die openbaarmaking waarvan wag die skepping “met reikhalsende verlange”?

20 Vandag beskou heersers van ’n sekere ideologie hulle ryk as “die vrye wêreld” in teenstelling met mense onder ander heerskappye. Maar afgesien van die aansprake wat botsende politieke groepe maak, geniet geeneen van hulle die glorieryke “vryheid . . . van die kinders van God” nie. Dit is net die God en Vader van die Here Jesus Christus wat die hoop aan die mensdom voorhou om herstel te word tot die verhouding wat Adam en Eva oorspronklik geniet het toe hy hulle in Eden geskep het. Maar hierdie herstelling moes wag op iets wat God in die toekoms sou doen. Wat dit is, verneem ons uit die apostel se woorde: “Die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God” (Rom. 8:19). Die apostel Paulus, wat daardie woorde in Romeine 8:15-17 geskryf het, het homself as een van daardie “kinders van God” beskou.

21. Wie is die vernaamste een onder daardie “kinders van God”, hoe is sy ‘hakskeenwond’ genees, en met watter doel is dit volgens Hebreërs 2:14, 15 genees?

21 Daardie spesiale “kinders van God” is die saad van God se “vrou”, waarvan daar in God se Edense profesie, in Genesis 3:15, melding gemaak is. Die vernaamste een van daardie “saad” van God se hemelse organisasie is Jesus Christus. God het toegelaat dat “die oorspronklike slang” hom ten tye van sy dood aan die folterpaal in die jaar 33 G.J. die hakskeenwond toedien. Maar God het daardie wond genees deur sy getroue Seun op die derde dag van sy dood op te wek. Deurdat hy as ’n hemelse Geesseun van God, nie as ’n menslike Seun nie, opgewek is, kon hy deur God se hemelse “vrou” terugontvang word. Hý sal, soos Hebreërs 2:14, 15 sê, “deur die dood hom tot niet . . . maak wat mag oor die dood het—dit is die duiwel—en almal . . . bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was”.

22. Wie is die bykomende lede van die “saad” van God se “vrou”?

22 Die bykomende lede van die “saad” van God se samegestelde “vrou” is die dissipels van Jesus Christus, diegene wat deur God se gees verwek word om geestelike “kinders van God” en mede-erfgename van hulle oudste broer, Jesus Christus, in die hemel te word.

23. Tot watter soort hoop het God die bykomende lede van die “saad” volgens 1 Petrus 1:3, 4 verwek, en is daardie hoop vandag nog lewend?

23 Die apostel Petrus praat van hulle hemelse verwagting as ’n “lewende hoop” waar hy aan hulle skryf: “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ’n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode, sodat ons ’n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons” (1 Pet. 1:3, 4). Hierdie hoop van hulle is vandag nog steeds ’n “lewende”. Dit het nie gesterf omdat die verwesenliking daarvan vir die oorblyfsel van hulle wat nog op aarde is oënskynlik vertraag word nie. Hulle verwag om hierdie hoop binnekort op die vasgestelde tyd van hulle God en Vader, Jehovah, verwesenlik te sien. Die apostel Paulus herinner ons aan Genesis 3:15 waar hy aan die geesverwekte gemeente in Rome skryf en sê: “Die God van vrede sal die Satan spoedig onder julle voete verbrysel.”—Rom. 16:20.

24. Wie wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van sulke “kinders van God”, en ná watter gebeurtenis vind hierdie openbaarmaking plaas?

24 Dit is op die “openbaarmaking” van hierdie “kinders van God” saam met die vernaamste Seun van God. Jesus Christus, in die nabye toekoms, wat ‘die [mense]skepping met reikhalsende verlange’ wag. Maar kort voor hierdie gebeurtenis verwag ons die “groot verdrukking” wat die hemelse Vader, Jehovah God, sal laat losbars oor die teenstanders en vervolgers wat vir sy geestelike kinders en hulle lojale metgeselle verdrukking veroorsaak.—Openb. 7:14, 15; 2 Thess. 1:6-10.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel