God se Woord is lewend
’n Meisie se onwankelbare liefde
DAAR is iets wonderlik moois omtrent ’n onwankelbare liefde tussen ’n man en ’n vrou. Wanneer daardie liefde voortduur ondanks ontsaglike druk uit ander oorde om sulke innige liefde te blus, word selfs waarnemers se harte geroer.
Beskou die geval van ’n Oosterse meisie van Sunem of Sulam. Sy raak verlief op ’n aantreklike herder. Om die Sulammitiese meisie teen versoeking te beskerm, verhinder haar broers haar om haar beminde se uitnodiging te aanvaar om op ’n heerlike lentedag saam met hom te gaan wandel. Hulle stel haar aan om die wingerde teen die klein jakkalse te beskerm.—Hoogl. 1:6; 2:8-15.
Gedurende hierdie tyd kom koning Salomo in sy koninklike prag en praal en slaan kamp op naby die huis van die Sulammiet. Dit bring mee dat hy haar sien terwyl sy haar take verrig. Weens haar skoonheid word sy in die kamp van die koning gebring en maak hy haar die hof.—Hoogl. 6:11, 12; 1:2-4.
Is die Sulammiet beïndruk? Is sy onvas in haar liefde? Nee. Onbeskroomd spreek sy haar verlange uit na die herder wat sy bemin. Maar Salomo wil haar nie laat gaan nie en hou aan om sy liefde vir haar te betuig en belowe om keurige ornamente vir haar te laat maak. Die Sulammiet vertel egter van haar onsterflike liefde vir haar herder. Later tree haar herder met haar in verbinding en betuig hulle hulle liefde vir mekaar.—Hoogl. 1:7-17; 2:1, 2.
Wanneer koning Salomo na Jerusalem terugkeer, neem hy die Sulammitiese meisie saam. Hier in die stad vind die herder ’n manier om haar te sien (Hoogl. 3:6-11; 4:1-5). Nadat al koning Salomo se pogings om die Sulammiet te verower gefaal het, laat hy haar eindelik toe om terug te keer huis toe (Hoogl. 8:5a). Wat ’n triomf vir die Sulammitiese meisie!
Hierdie boeremeisie was voorwaar ’n goeie voorbeeld van standvastigheid op die gebied van liefde, ’n liefde wat nie geblus kon word nie. Dit is die soort liefde wat opregte lede van Christus se geestelike bruid, asook sy “ander skape” vir hulle “goeie herder” het.—Vergelyk Johannes 10:14, 16; 2 Korinthiërs 11:2; Efesiërs 5:25-32.