Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 7/1 bl. 24-30
  • Liefde—die “uitnemender weg”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Liefde—die “uitnemender weg”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • SOOS JESUS SY DISSIPELS LIEFGEHAD HET
  • PAULUS WYS OP ’N “UITNEMENDER WEG”
  • VOORBEELDE OP DIE GEBIED VAN LIEFDE WAT ONS MOET NAVOLG
  • ONS MOET MEDEGELOWIGES “VURIG LIEFHÊ”
  • BETOON LIEFDE AAN GESINSLEDE EN BURE
  • BETOON BOWENAL LIEFDE AAN GOD
  • “Hou aan om liefde te betoon”
    Kom nader aan Jehovah
  • Jy moet die God liefhê wat jou liefhet
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Wat dit beteken om ons naaste lief te hê
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Word opgebou deur liefde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 7/1 bl. 24-30

Liefde—die “uitnemender weg”

“Ek wys julle ’n nog uitnemender weg.”—1 Kor. 12:31.

1. Met watter raad het ’n bejaarde geskiedkundige sy studie van mensegebeure opgesom?

“BEWYS liefde aan mekaar.” ’n 92-jarige geskiedkundige het sy lang studie van mensegebeure opgesom met daardie bietjie raad. “Die grootste les wat die geskiedenis my geleer het”, het Will Durant gesê, “is dieselfde as Jesus s’n . . . . stel dit op die proef. Liefde is die mees praktiese ding in die wêreld.”

2. Wat het Jesus Christus gesê toe hy “’n nuwe gebod” aan sy volgelinge gegee het?

2 Tydens die laaste nag van sy aardse lewe het Jesus Christus vir sy volgelinge gesê: “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Joh. 13:34, 35). Wat sou dus die vernaamste kenmerk van Jesus se ware volgelinge wees? Klaarblyklik dat hulle mekaar sou liefhê, besondere liefde onder mekaar sou hê. Maar in watter sin was dit “’n nuwe gebod”? Hoe moes hulle mekaar liefhê soos Jesus hulle liefgehad het?

SOOS JESUS SY DISSIPELS LIEFGEHAD HET

3. In watter opsig was Jesus se gebod oor liefde ’n “nuwe”?

3 Kort voordat hy die “nuwe gebod” gegee het, het Jesus nederig die voete van sy apostels gewas. Sy optrede by daardie geleentheid toon vir Christene dat hulle hulle medegelowiges liefdevol moet dien, selfs deur nederige take vir hulle te doen (Joh. 13:1-16). Maar dit was nie al wat die “nuwe gebod” behels het nie. Daardie gebod oor liefde was ‘nuut’ in die sin dat dit verder gegaan het as die wet wat deur middel van Moses aan die Israeliete gegee is en waaronder Jesus en sy dissipels destyds was. Daardie wet het bepaal: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Lev. 19:18; Matt. 22:39). Dit het naasteliefde geverg, maar nie selfopofferende liefde wat ’n mens selfs jou lewe vir ’n medemens sal laat aflê nie.

4. Hoe het Jesus die soort liefde getoon wat deur die “nuwe gebod” vereis word?

4 “Groter liefde het niemand as dit nie”, het Jesus gesê, “dat iemand sy lewe vir sy vriende gee” (Joh. 15:13). Dit is egter wat Jesus gedoen het deur sy lewe as ’n losprys vir die onvolmaakte, sondige en sterwende mensdom te gee (Matt. 20:28; Joh. 3:16; 10:14-18; Rom. 5:12; 6:23). Jesus se aardse lewe en sy dood het inderdaad albei die liefde toegelig wat deur hierdie “nuwe gebod” vereis word. Volgens Jesus se bevel moet die Christen nie net goed doen wanneer die geleentheid hom voordoen nie, maar moet hy die inisiatief neem om ander geestelik sowel as op ander maniere te help.

5. Wat is een van die grootste blyke van liefde?

5 Ja, die volgeling van Jesus Christus moet hom daadwerklik vir die welsyn van sy naaste bearbei. En wat is een van die grootste blyke van liefde? Dit is immers om die “goeie nuus” aan ander te verkondig en te leer, want dit kan daartoe lei dat hulle die ewige lewe verkry! Wat dit betref, moet die Christen ‘nie alleen die goeie nuus van God meedeel nie, maar ook sy eie lewe’ in die wyse waarop hy diegene wat hierdie boodskap aanvaar, behandel en help (1 Thess. 2:8). Hy moet inderdaad bereid wees om sy lewe om hulle ontwil af te lê.—1 Joh. 3:16.

6. Tot watter mate moet Jesus se volgelinge hom liefhê?

6 Omdat hy met liefde gehandel het, het Jesus nie die maklikste weg gevolg nie. ‘Die smaadhede van die wat God smaad, het eerder op hom geval’ en hy het onversetlik ’n weg bewandel waarop hy die grootste weerstand van Satan en sy agente ontvang het (Rom. 15:3). Die lewe sou dus nie vir Christus se ware volgelinge maklik wees nie. Wat dit betref, het Jesus getoon dat hulle hom liewer moet hê as hulle naaste bloedverwante en selfs liewer as hulle eie siele (Luk. 14:25-27). Jesus se dissipels sou beslis hulle metgeselle in Jehovah se diens moet liefhê en geestelike vrug moet dra, selfs onder intense vervolging.—Mark. 10:29, 30; Joh. 15:8

PAULUS WYS OP ’N “UITNEMENDER WEG”

7, 8. Wat was die “uitnemender weg” wat die apostel Paulus in 1 Korinthiërs 12:31 gemeld het, en wat het dit oortref?

7 Die Christenapostel Paulus het die belangrikheid van liefde beklemtoon toe hy aan medegelowiges in Korinthe geskryf het. In daardie dae was daar min afskrifte van die Skrif, en kennis daarvan is hoofsaaklik mondelings oorgedra. Wonderdadige gawes van die gees (spesiale kennis, talespraak, ensovoorts) was dus onontbeerlik vir die gemeente. Paulus het nogtans geskryf: “Ek wys julle ’n nog uitnemender weg” (1 Kor. 12:4-11, 27-31). Wat was hierdie “uitnemender weg”?

8 Dit was die weg van liefde, en die belangrikheid daarvan is met hierdie woorde beklemtoon: “Al sou ek die tale van mense en engele spreek [geeste het hulle eie taal], en ek het nie die liefde nie, dan het ek ’n klinkende metaal of ’n luidende simbaal geword [weens oppervlakkigheid]. En al sou ek die gawe van profesie hê en al die geheimenisse weet en al die kennis, en al sou ek al die geloof hê, sodat ek berge kon versit [hetsy bergagtige hindernisse of letterlike berge, indien dit God se wil is], en ek het nie die liefde nie, dan sou ek niks wees nie. En al sou ek al my goed uitdeel, en al sou ek my liggaam oorgee om verbrand te word, en ek het nie die liefde nie, dan sou dit my niks baat nie.”—1 Kor. 13:1-3; Mark. 11:23.

9. Wat is waar van ons pogings in God se diens indien ons nie volgens die “uitnemender weg” van liefde lewe nie?

9 Ja, selfs dade wat andersins nuttig kan wees, word “dooie werke” indien die beweegrede daarvoor nie liefde vir God en naaste is nie (Matt. 22:37-39; Hebr. 6:1). ‘Die arbeid van liefde’ is noodsaaklik (1 Thess. 1:2, 3). Al ons pogings en opofferings in God se diens beteken niks indien ons nie volgens die “uitnemender weg” van liefde lewe nie. Nie alle vroeë Christene kon onder die invloed van God se gees kragtige werke verrig, mense genees, in tale spreek en dit uitlê nie (1 Kor. 12:29, 30). Maar almal kon liefde betoon, ’n vrug van Jehovah se heilige gees wat alle Christene moet aankweek.—Gal. 5:22; 1 Joh. 4:16.

VOORBEELDE OP DIE GEBIED VAN LIEFDE WAT ONS MOET NAVOLG

10. Hoe het Jehovah vir ons ’n voorbeeld gestel waar dit kom by die betoning van liefde?

10 Jehovah God en sy Seun Jesus Christus het vir ons voorbeelde gestel in die wyse waarop hulle liefde betoon. Dink hieraan: Die fisiese skepping is ’n blyk van God se liefde, want dit lewer oorvloedige bewys dat hy in die gesondheid, genot en voorspoed van die mensdom belangstel. Mense is nie gemaak bloot om te bestaan nie. Hulle kan gewoonlik voedsel proe, welriekende blomme ruik, die talle kleure en mooi dinge in die skepping waarneem, die geselskap van hulle medemens geniet en lag oor die kaperjolle van speelse diere, om nie eens van die talle ander lewensgenietinge te praat nie (Ps. 139:14). Blyke van Jehovah se onselfsugtige mededeelsaamheid in liefde sluit die feit in dat hy die mens na Sy beeld en gelykenis gemaak het met die vermoë om lief te hê en geestelike dinge te waardeer (Gen. 1:26, 27). Die voorsiening van ’n paradystuiste en die gewisse belofte van ’n herstelde aardse paradys toon ook God se liefde, en so ook die feit dat hy homself aan die mensdom deur sy geïnspireerde Woord en heilige gees geopenbaar het (Luk. 23:43, NW; 1 Kor. 2:10-13). En Jehovah se liefde word natuurlik ook getoon deur die voorsiening wat hy gemaak het dat die mensdom van sonde en die gevolglike dood vrygekoop word.—Rom. 5:7, 8.

11, 12. Op watter maniere het God se Seun liefde aan die mensdom betoon?

11 God se Seun was selfs gedurende sy voormenslike bestaan lief vir die mensdom. Onder die beeld van verpersoonlikte wysheid word hy geïdentifiseer as God se “meester-werker” wat met blydskap gedien het en gesê het: “My verlustiginge was met die mensekinders” (Spr. 8:30, 31, vgl. NW; Joh. 1:1, 14). Met die mensdom se behoefte aan verlossing in gedagte, het Jehovah dus iemand gekies wat besonder lief was vir die mensdom—Sy eniggebore Seun, wat ‘homself ontledig het deur die gestalte van ’n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk te word’ (Filip. 2:5-7). Ja, God se Seun het selfopofferende liefde aan die dag gelê deur ’n mens te word.

12 Liefde was ook te sien in Jesus Christus se onderrigting van en tere agting vir ander. Toe hy ’n groot skare gesien het, het hy “innig jammer vir hulle gevoel, en Hy het hulle siekes gesond gemaak”. “Omdat hulle soos skape sonder herder was” het Jesus innig jammer vir hulle gevoel en “Hy het hulle baie dinge begin leer” (Matt. 14:14; Mark. 6:34). Jesus Christus het natuurlik voortreflike liefde betoon deur aan ’n paal te sterf om “’n losprys vir baie” te voorsien (Matt. 20:28; Filip. 2:8). Op hierdie en talle ander maniere stel Jehovah sowel as Jesus voorbeelde op die gebied van liefde wat Christene moet navolg.—Joh. 13:34; 1 Joh. 4:10.

ONS MOET MEDEGELOWIGES “VURIG LIEFHÊ”

13. (a) Watter soort liefde het Petrus medegelowiges aangespoor om vir mekaar te hê, en is daar getuienis dat sulke liefde onder hulle bestaan het? (b) Watter uitwerking het liefde op hedendaagse Christene?

13 Liefde word weerspieël deur bereidwilligheid om ’n mensself te bestee en dit is die grondslag van ’n godvrugtige lewe (Ps. 110:3). Die apostel Petrus het medegelowiges van Jehovah aangespoor om ‘mekaar vurig lief te hê’ (1 Pet. 4:8). Dat sulke liefde onder vroeë Christene bestaan het, blyk uit hulle betuigings, want hulle het liefkosende woorde gebruik om na mekaar te verwys of om mekaar aan te spreek—“my geliefde kinders”, “die geliefde Gajus wat ek in waarheid liefhet”, ensovoorts (1 Kor. 4:14; 3 Joh. 1). Soortgelyke liefde onder hedendaagse Christene is bemoedigend en onderskraag ’n mens tydens beproewings. Dit “bou op” (1 Kor. 8:1, NAB). Ondanks teëspoed en vervolging is ons nie sonder vriende in ’n liefdelose wêreld nie. Christene weet dat hulle geestelike broers en susters hulle werklik liefhet, en hierdie “volmaakte band van eenheid” help hulle om die toekoms met vertroue tegemoet te gaan.—Kol. 3:14, NW.

14. (a) Hoe som Paulus liefde in 1 Korinthiërs 13:4-8 op? (b) Watter vrae kan ’n Christen help om liefde in ooreenstemming met Paulus se woorde te betoon?

14 Maar die vraag is: Tot watter mate betoon ons persoonlik liefde aan medegelowiges? Die apostel Paulus se goddelik geïnspireerde opsomming van liefde help ons om die gehalte van ons liefde vir mekaar te toets. Lees asseblief 1 Korinthiërs 13:4-8. Staan dan tyd daaraan af om in die lig van die volgende vrae oor daardie woorde na te dink:

Is ek “lankmoedig en vriendelik” en is ek verdraagsaam in ongunstige omstandighede?

Vermy ek jaloesie, soos wanneer ek oor die hoof gesien word en ’n ander broer sekere voorregte in die gemeente ontvang?

Is ek nederig in plaas daarvan om te spog oor wat Jehovah my toegelaat het om in sy diens uit te rig?

Handel ek “onwelvoeglik” hetsy wat maniere betref of in die wyse waarop ek sekere medechristene behandel?

‘Soek ek my eie belang’, soos in die betreklik klein sakie om by Christenbyeenkomste voor ander in te druk?

Word ek, indien ek ’n ouere man is, “verbitterd” net omdat ander nie gou Skriftuurlike raad toepas nie?

‘Reken ek die kwaad toe’ en hou ek boek van oortredinge wat jare gelede begaan is, of vergewe ek my broers en susters in die geloof, net soos ek vergewe wil word?

Toon ek deur my gesprekke dat ek wêreldlike ongeregtigheid vermy en eerder saam met die waarheid bly is?

‘Bedek ek alles’ deur nie volmaaktheid van onvolmaakte Christene te verwag nie?

Is ek ’n persoon ‘wat alles glo’ en nie verkeerdelik slegte beweegredes aan medegelowiges toeskryf nie?

‘Hoop ek alles’ deur werklik op alles in God se Woord te hoop en is my verwagtings waarlik daarop gegrond?

Het ek die soort liefde vir God wat my in staat sal stel om ‘alles te verdra’, onder andere vervolging as ’n Christen?

Sulke vrae kan die Christen heel moontlik help in sy pogings om liefde te betoon.

15. Wat het liefde Jehovah se volk aangespoor om vir behoeftige medeaanbidders te doen?

15 Daar is voorwaar talle maniere om liefde aan medegelowiges te betoon. Liefde spoor ons byvoorbeeld aan om hulle materieel te help wanneer daar so ’n behoefte bestaan (Jak. 2:14-17). Gevolglik het Jehovah se volk na die Tweede Wêreldoorlog hulp verleen aan behoeftige medegelowiges in lande wat deur die oorlog verniel is. Tydens ’n wêreldwye bystandsveldtog van twee en ’n half jaar is liefde betoon toe Getuies van Jehovah in die Verenigde State, Kanada, Switserland, Swede en ander lande klere geskenk het sowel as geld gegee het vir die aankoop van kos vir Christene in Oostenryk, België, Bulgarye, China, Tsjeggo-Slowakye, Denemarke, Engeland, Finland, Frankryk, Duitsland, Griekeland, Hongarye, Italië, Holland, Noorweë, die Filippynse Republiek, Pole en Roemenië. Daarbenewens het Jehovah se Getuies deur die jare heen met graagte die nodige materiële hulp verleen wanneer hulle medegelowiges die slagoffers van natuurrampe was.

16. Watter uitwerking moet Christelike liefde op aangestelde ouere manne in die gemeente hê?

16 Christelike liefde maak ook aangestelde gemeentelike ouere manne genaakbaar en simpatiek. Dit behoort die geval te wees indien hulle die weë van Jehovah navolg, van wie daar gesê word: “So hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees” (Ps. 103:10-14). ’n Nederige, liefdevolle gesindheid beweeg Christenopsieners om ywerige pogings aan te wend om medegelowiges geestelik te help.

17. Op watter maniere kan liefde aan bejaarde of siek Christene betoon word?

17 Christelike liefde sal egter alle godvresende persone, nie net aangestelde ouere manne nie, aanspoor om medeaanbidders van Jehovah behulpsaam te wees. Liefde sal ons byvoorbeeld beweeg om inkopies vir bejaarde of siek Christene te doen. Dit kan ons beweeg om die Bybel en Christenpublikasies vir hulle te lees, indien nodig. Ja, en daar is dalk geleenthede om hulle met huiswerk te help, om hulle in God se diens te vergesel en om aangename omgang op ander tye met hulle te geniet. Liefde sal ons aanspoor om op verskeie maniere aan ander—jonk of oud—goed te doen sonder dat ons gevra word om dit te doen.

BETOON LIEFDE AAN GESINSLEDE EN BURE

18. Het ons reëls nodig wat elke aspek van die lewe dek om liefde te betoon?

18 Die apostel Paulus het geskryf: “Wees aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê” (Rom. 13:8). Christene skuld mekaar voorwaar liefde. Maar ons het nie reëls vir elke aspek van die lewe nodig om hierdie eienskap te betoon nie. Die menslike gewete en goddelike wysheid wat op die Skrif gebaseer is, sê vir ons wanneer liefdevolle woorde gespreek en liefdevolle dade verrig kan word (Rom. 2:14, 15). As Christene weet ons dus oor die algemeen wanneer ons liefdevol in ’n sekere situasie opgetree het. Dit is natuurlik een ding om te weet dat ons liefde moet betoon en heeltemal ’n ander saak om dit te beoefen.

19. Wat sal ons help om liefde in die gesin te betoon, en op watter maniere kan dit betoon word?

19 In die gesin is ons miskien geneig om kort van draad te wees en liefdeloos op te tree. Waarom? Omdat ons die lede van ons gesin goed ken en dalk minder geduld met hulle as met ander het. Dieselfde basiese Bybelbeginsels wat geld vir ons omgang met ander indiwidue, soos die in die plaaslike Christengemeente, geld egter ook in die gesin. Ons kan en moet beslis biddend Jehovah se hulp vra om liefde teenoor die lede van ons gesin te betoon. Ons sal hiertoe aangespoor word indien ons onthou dat dit Jehovah God behaag wanneer mans hulle vroue “soos hul eie liggame” liefhet, wanneer vrouens hulle mans en kinders liefhet, en wanneer kinders liefde aan hulle ouers betoon en hulle gehoorsaam (Ef. 5:28; 6:1-3; Tit. 2:4). Selfs volwasse kinders kan liefde aan hulle bejaarde ouers betoon, nie deur hulle te ignoreer nie, maar deur geestelik en materieel na hulle om te sien soos die behoefte bestaan. Godvrugtige toewyding behels die nakoming van hierdie verantwoordelikheid. En dit is natuurlik ’n betoning van liefde wanneer Christenmans sorg dat hulle gesinne op geestelike en materiële gebied versorg is.—Vergelyk Spreuke 19:26; 1 Timotheüs 5:4, 8.

20. Hoe kan veral Christene naasteliefde betoon?

20 Naasteliefde kan in verskeie omstandighede deur dade van mensliewendheid betoon word. Die bewoners van Melite het die apostel Paulus en ander skipbreukelinge met “buitengewone mensliewendheid” behandel (Hand. 28:1, 2). Die gewetens van daardie heidense eilandbewoners het hulle beweeg om so op te tree. Hoeveel te meer moet die Skriftuurlik opgeleide gewetens van Christene hulle beweeg om naasteliefde te betoon! Dit is daardie naasteliefde wat ons veral beweeg om die “goeie nuus” aan hulle te verkondig. Ons kan niks beters of liefdevollers doen as om hulle te help om ’n goeie naam by Jehovah te kry nie.—1 Tim. 1:8-11.

BETOON BOWENAL LIEFDE AAN GOD

21, 22. (a) Wat is ’n vername manier om ons liefde vir Jehovah te betoon? (b) Watter vrae kan ons ons dus afvra en wat moet ons voorneme as “liefhebbers van die HERE” wees?

21 Een van die grootste blyke van naasteliefde is voorwaar om die “goeie nuus” aan hulle te leer en hulle aldus te help om ’n goeie naam by Jehovah God te kry. En vir die Christen is hierdie werk ’n vername manier om liefde te betoon aan die Een wat dit die meeste verdien—ons liefdevolle God, Jehovah. Sy Seun het gesê: “Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand.”—Luk. 10:27.

22 Hou ons vol ‘soos mense wat die Onsienlike sien’? (Hebr. 11:27). Dra ons sy weergalose naam, Jehovah, as sy getroue getuies? Verskaf dit ons innige genot om oor hom en sy voornemens te praat? Trouens, is dit nie ’n basiese rede waarom ons as die gemeente van sy volk bestaan nie? Dit is voorwaar! Onder die invloed van sy heilige gees kan ons voortgaan om die “uitnemender weg” van liefde saam met ander te bewandel. Maar mag ons, bowenal, die lof van ons God onverskrokke verkondig, die goeie liefhê en ons in hom verheug as “liefhebbers van die HERE” wat onkreukbaarheid bewaar.—Ps. 97:10-12.

[Prent op bladsy 25]

Jesus se nederige daad toon dat ons ander liefdevol moet dien

[Prent op bladsy 26]

Die fisiese skepping is ’n blyk van God se liefde

[Prent op bladsy 29]

Vra Jehovah se hulp om liefde in die gesin te betoon

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel