Leer uit ’n proefneming wat misluk het
DWARSDEUR die geskiedenis was daar talle pogings om mense te beïnvloed om ’n regverdiger lewe te lei. Een sodanige proefneming is gedoen deur die Fariseërs, ’n groep wat baie aandag in die geïnspireerde Christelike Griekse Skrifte kry. Hulle proefneming het misluk.
Die woord “Fariseër” kom van ’n wortelvorm wat “afgeskeie” en “onderskeie” beteken. Die groep maak hulle verskyning in geskiedkundige geskrifte wat handel oor gebeure tydens die tweede eeu v.G.J. Hoewel die Fariseërs op dieselfde plekke as ander Jode gewoon het, het hulle hulle afgeskei of onderskei deur buitengewone pogings om die Mosaïese wet ten volle te onderhou.
Die Fariseërs het veral daarvoor bekend geraak dat hulle tiendes betaal en die reëls vir seremoniële reinheid gehoorsaam. God se wet deur Moses het vereis dat die Israeliete ’n tiende van die opbrengs van hulle land, troppe en kuddes gee. Daardie tiende is gebruik om die Levitiese priesterdom te onderhou en vir ander noodsaaklike dinge in verband met God se aanbidding (Deut. 14:22, 23). Die Fariseërs het selfs tiendes van die kleinste ou dingetjies gegee, soos van peulvrugte (boontjies, ertjies, ensovoorts), blare en kruie. Hulle het nie alleen ’n tiende van die opbrengs van hulle eie landerye gegee nie, maar ook van items wat hulle deur aankope, handel en ander saketransaksies verkry het (Luk. 11:42; 18:11, 12). Dit is gedoen uit vrees dat die oorspronklike eienaars nie die volle tiende van die items gegee het nie.
Onder die Mosaïese wet moes persone hulle soms ritueel was om seremonieel rein te wees. Dit het veral gegeld vir priesters, wat liggaamlik en seremonieel rein moes wees wanneer hulle by Jehovah se heiligdom gedien het (Ex. 30:17-21; Lev. 21:1-7; 22:2-8). Voordat hulle hulle deel van offermaaltye geëet het, moes priesters hulle hande en voete in water was.
Die meeste Fariseërs was nie priesters nie. Hulle het hulself nietemin vrywillig verplig om priesterlike wette oor seremoniële reinheid te onderhou selfs in alledaagse sake wat niks met aanbidding te doen gehad het nie. Hulle het hulle hande seremonieel voor en na elke maaltyd gewas. Indien die maaltyd uit verskeie gange bestaan het, het hulle ook hulle hande tussen die gange gewas. Die Evangelieskrywer Markus sê: “Die Fariseërs en al die Jode eet nie as hulle nie deeglik die hande gewas het nie, omdat hulle vashou aan die oorlewering van die ou mense. En wanneer hulle van die mark kom, eet hulle nie as hulle nie gewas het nie; en baie ander dinge is daar wat hulle aangeneem het om te onderhou: die wassery van bekers en kanne en kopergoed.”—Mark. 7:3, 4.
Hoewel sulke omslagtige pogings om tiendes te gee en seremoniële reinheid te behou nie die geskrewe wet van God oortree het nie, het hulle verder gegaan as wat die wet vereis het. Dit is interessant dat die gemeente van Israel volgens ’n sekere rabbynse legende sê: “Here van die heelal, ek het meer beperkings op myself geplaas as wat U op my geplaas het, en ek het hulle onderhou.”
“’n Heining” om oortreding te voorkom
Vasbeslotenheid om nie God se wet te oortree nie, selfs nie eers op die geringste wyse nie, het die Fariseërs nog verder laat gaan. Joodse geskiedskrywer Flavius Josefus skryf: “Die Fariseërs het sekere bepalings aan die volk oorgedra wat deur vorige geslagte oorgelewer is en nie in die Wette van Moses opgeteken is nie.” Daardie bepalings het ’n magdom voorskrifte ingesluit oor hoe om die Sabbat reg te hou. In verband met sulke nie-Bybelse “bepalings” sê die Joodse stel tradisionele wette bekend as Die Misjna: “Die reëls oor die Sabbat, Feesoffers en Heiligskennis is soos berge wat aan ’n haar hang, want [die leer van] die Skrif [daaroor] is skraps en die reëls baie.”
Wat is die doel van soveel gedragsreëls? ’n Mate van insig in hierdie saak kan verkry word uit ’n verklaring van die Joodse godsdiensleiers voor die Gewone Jaartelling: “Vel weloorwoë oordele, maak baie dissipels en bou ’n heining rondom die Wet.”a Die “heining” is tradisies wat mense dan glo daarvan sou weerhou om die geskrewe wet van God te oortree. Teoreties sou ’n persoon nooit ’n werklike Bybelse gebod oortree indien hy nooit oor die heining gegaan het nie.
Het daardie proefneming geslaag? Het die ontsaglike versameling mondelinge tradisies beter mense van die Israeliete en van die Fariseërs in die besonder gemaak?
Hulle het God se guns met dade probeer verwerf
Te veel aandag aan bepalings oor nietighede het ’n nadelige uitwerking gehad. Dit het die opvatting laat posvat dat regverdigheid in God se oë verkry kan word bloot deur voorgeskrewe godsdienstige en mensliewende dade te verrig. Daar is geglo dat elke goeie daad “verdienste” by God verkry, terwyl elke slegte daad “skuld” sou meebring. Vermoedelik sou God dan eendag die verslag van verdienste en skuld raadpleeg om te bepaal of ’n persoon regverdig of goddeloos is.
Rabbynse geskrifte toon hoe diep hierdie gedagte ingewortel geraak het waar dit praat van die “Fariseër wat berekend optree, d.w.s., hy verrig ’n goeie daad en dan ’n slegte daad sodat die een vir die ander kan vergoed”. Daar word ook melding gemaak van “die Fariseër [wat voortdurend sê] ‘Wat is my plig sodat ek dit kan doen?’” Maar is dit nie ’n deug nie? Die rabbynse verslag antwoord: “Nee, wat hy eintlik sê, is: ‘Watter verdere plig het ek sodat ek dit kan doen?’” Sulke selfversekerde persone het geglo dat hulle alles gedoen het om God se guns te verkry. ’n Ryk jong man het daardie gesindheid aan die dag gelê toe hy vir Jesus gevra het: “Watter goeie ding moet ek doen, dat ek die ewige lewe kan hê?” Nadat Jesus beklemtoon het hoe belangrik dit is om die gebooie van God se geskrewe wet te gehoorsaam, het die man geantwoord: “Al hierdie dinge het ek onderhou van my jeug af. Wat kom ek nog kort?”—Matt. 19:16-20.
Die leerstelling dat verdienste en God se guns met goeie dade verdien kan word, het baie van die Fariseërs eiegeregtig laat word en ander laat veroordeel. ’n Gelykenis van Jesus oor “sommige wat op hulleself vertrou dat hulle regverdig is en die ander verag”, sê: “Twee manne het na die tempel opgegaan om te bid, die een ’n Fariseër en die ander ’n tollenaar. En die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie—rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry” (Luk. 18:9-12). ’n Voorbeeld van die uiterstes waartoe so ’n gesindheid gevoer kan word, blyk uit hierdie aanhaling uit antieke Joodse geskrifte:
“R[abbi] Hiskia het in R[abbi] Jeremia se naam gesê: So het R[abbi] Simeon b[en] Yohai gesê: Die wêreld bevat nie minder as dertig manne so regverdig soos Abraham nie. Indien daar dertig is, is ek en my seun twee van hulle; indien tien, is ek en my seun twee van hulle; indien vyf, is ek en my seun twee van hulle; indien twee, is dit ek en my seun; indien daar slegs een is, is dit ek.”
Omdat die Fariseërs die gewone mense as ritueel onrein beskou het, het hulle noue omgang met hulle vermy. In The Life and Times of Jesus the Messiah, wys Alfred Edersheim daarop dat ’n Fariseër “hom dit voorgeneem het om geen vloeistof of droë stof (voedingstof of kos) aan [’n gewone man] te verkoop nie, om geen sodanige vloeistof by hom te koop nie, om nie sy gas te wees nie, of om hom as ’n gas in sy eie klere te onthaal nie (omdat hulle moontlik onrein kan wees)”. Dit is waarom die Fariseërs beswaar gemaak het omdat Jesus “saam met die tollenaars en sondaars eet” (Mark. 2:16). Hulle het geglo dat iemand wat omgaan met persone wat onrein is, self ook onrein sal word.
Jesus en die Fariseërs
Toe die Seun van God met sy aardse bediening begin het, het die Fariseërs al sowat twee eeue lank bestaan. Dit was oorgenoeg tyd om te sien of hulle proefneming om geregtigheid deur goeie werke te bevorder, sou slaag. Dit het nie. In sy Bergpredikasie het Jesus gesê: “As julle geregtigheid nie oorvloediger is as die van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, [sal] julle nooit die koninkryk van die hemele . . . ingaan nie.”—Matt. 5:20.
In sy handelinge met die Fariseërs en kommentare oor hulle, het die Seun van God duidelik getoon wat met hulle teorie geskort het. Let op sy woorde in verband met hulle noulettende pogings om tiendes te gee: “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle gee tiendes van kruisement en anys en koljander, en die swaarste van die wet laat julle ná: die reg en die barmhartigheid en die trou” (Matt. 23:23). Rabbynse geskrifte praat van “ligte” gebooie (wat min persoonlike opoffering verg) en “swaar” gebooie (wat groot inspanning verg). Jesus het getoon dat die “swaarste” vereistes van God die betoning van opregte besorgdheid oor ’n mens se medemens is, om hom met geregtigheid, barmhartigheid en getrouheid te behandel.
Met verwysing na rituele handewassery en ander aspekte van seremoniële reinheid, het Jesus gesê: “Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binnekant is dit vol roof en onmatigheid. Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker en die skottel skoon, sodat ook die buitekant daarvan skoon kan word” (Matt. 23:25, 26). Die Fariseërs het verkeerdelik begin dink dat ’n mens onrein word as jy met ’n uitwendige bron van onreinheid in aanraking kom. Jesus het gesê dat die ware bron van onreinheid inwendig is. By ’n ander geleentheid het hy daardie gedagte tuisgebring deur te sê:
“Begryp julle nie dat alles wat van buite af in die mens ingaan, hom nie onrein kan maak nie, omdat dit nie ingaan in sy hart nie, maar in die maag, en dit gaan in die heimlikheid uit, . . . ? En hy sê: Wat uit die mens uitgaan, dit maak die mens onrein. Want van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery, moord, diewery, hebsug, boosheid, bedrog, losbandigheid, afguns, lastering, hoogmoed, dwaasheid. Al hierdie booshede kom van binne uit en maak die mens onrein.”—Mark. 7:18-23.
Die ware bron van onreinheid in God se oë is die mens se oorgeërfde sonde (Job 14:4; Ps. 51:7; Rom. 5:12). Dit maak nie saak hoeveel keer ’n persoon hom ritueel was of hoeveel ander vroom dade hy verrig nie, dit kan nie die onreinheid weens sonde wegneem nie. Slegs deur berou en geloof in God se reëling vir die uitwissing van sondes deur Jesus Christus kan vergifnis en redding verkry word (Hand. 4:12). Dit is waarom Sagaria, die vader van Johannes die Doper, geprofeteer het dat God op die punt gestaan het “om kennis van verlossing aan sy volk mee te deel”, nie deur hulle van ’n vyandelike nasie te bevry nie, maar “deur vergifnis van hulle sondes”.—Luk. 1:77, NAB.
Die Fariseërs het nie van daardie boodskap gehou nie, aangesien ‘hulle op hulself vertrou het dat hulle regverdig is en die ander verag het’ (Luk. 18:9, 10). Maar hulle vroomheid was bloot ’n uiterlike, oppervlakkige vroomheid. Dit het nie ontslae geraak van innerlike vuilheid wat geopenbaar is in ondeugde soos “hebsug”, “afguns” en “hoogmoed” nie (Mark. 7:22). Joodse geskrifte getuig hiervan. Ons lees byvoorbeeld van “die sjikmi-Fariseër”, wat “sy godsdienspligte op sy skouer (sjekem) dra, d.w.s. opsigtelik”. Daar word ook melding gemaak van “die nikpi-Fariseër—hy wat sy voete teen mekaar stamp” omdat hy met oordrewe nederigheid loop. Dan is daar ook “die kizai-Fariseër” wat opsetlik teen ’n muur stamp om homself te beseer en “sy bloed teen mure te laat vloei” om sodoende nie na ’n vrou te kyk nie. Jesus het alle rede gehad om van die skrifgeleerdes en Fariseërs te sê:
“Hulle doen al hul werke om deur die mense gesien te word, en hulle maak hul gedenkseëls breed en die some van hul klere groot. En hulle hou van die voorste plekke by die maaltye en die voorste banke in die sinagoges en die begroetinge op die markte en om deur die mense genoem te word: Rabbi, Rabbi!”—Matt. 23:5-7.
Daar is oorgenoeg geskiedkundige feite om te toon dat die Fariseërs se proefneming om geregtigheid deur hulle nakoming van godsdiensvoorskrifte en mensliewende dade te bevorder ’n mislukking was. Dit het nòg die meerderheid beïnvloed om godvresend te word nòg die Fariseërs gehelp om beter mense te word. Dit het hulle eerder beweeg om die ergste misdaad in die hele geskiedenis te pleeg—die moord op die Seun van God.
Die proefneming was egter nie heeltemal nutteloos nie. Dit het die agtergrond geskep sodat Jesus voor sy dood die kragtige boodskap kon verkondig oor menslike sondigheid en die nodigheid om redding na streef, nie deur werke nie, maar as ’n gawe op grond van berou en geloof in die soenoffer van Jesus Christus (Jes. 53:5, 10-12; Matt. 20:28; Rom. 10:5-9). Dit is ’n les wat ook geleer moet word deur almal wat vandag lewe!
[Voetnoot]
a Ons kursiveer.
[Prent op bladsy 7]
‘Indien daar slegs een regverdige is, is dit ek’