Die dryfkrag van Christus se vrygewigheid
MENSE word dikwels aangespoor om soortgelyke vrygewigheid te betoon wanneer hulle sien hoedat ander in die behoeftes van hul medemens voorsien. Toe Christene in Macedonië in die eerste eeu gehoor het van die ywerige pogings van medegelowiges in Achaje om arm Christene in Jerusalem te help, is hulle beweeg om aan die bystandswerk deel te neem.—2 Kor. 9:1, 2.
Maar vir Christene het die vrygewigheid van hulle Meester, Jesus Christus, selfs groter dryfkrag gehad. Die apostel Paulus het die aandag hierop gevestig toe hy aan die Korinthiërs geskryf en gesê het: “Julle ken die genade van onse Here Jesus Christus, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word” (2 Kor. 8:9). Omdat hy saam met sy Vader aan die skepping van die hele heelal deelgeneem het, was Jesus tydens sy voormenslike bestaan die mede-eienaar van alle dinge, sigbaar en onsigbaar. Hy het ook die heerlikheid van ’n eniggebore seun besit. Hy was die vernaamste onder al God se engeleseuns.—Joh. 1:14; Kol. 1:15-18.
Die Seun het al hierdie dinge vrywillig prysgegee om ’n mens te word (Filip. 2:5-8). Sy eerste bed was ’n eenvoudige krip. Sy moeder, Maria, en sy pleegvader, Josef, was arm. Dwarsdeur sy lewe op aarde het hy op stoflike gebied min gehad. Hy het eenkeer vir ’n man wat sy dissipel wou word, gesê: “Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie” (Luk. 9:57, 58). Jesus het nietemin persoonlik belanggestel in diegene wat hulpbehoewend was. Hy en sy apostels het ’n gemeenskaplike fonds gehad om arm Israeliete te help.—Matt. 26:9-11; Mark. 14:5-7; Joh. 12:5-8; 13:29.
Jesus Christus se koms na die aarde het dit vir sy dissipels moontlik gemaak om groot rykdom te verkry. Hulle het seuns van God, erfgename van ’n hemelse koninkryk en ontvangers van goddelike seëninge geword tydens hulle lewe op aarde en tot in alle ewigheid na hulle opstanding uit die dode (Rom. 8:17). As dit nie vir die vrygewigheid van Jesus Christus was nie, sou ons vandag nog steeds onder die veroordeling van sonde en die dood gewees het, sonder enige vooruitsig op die lewe.—Rom. 6:23.
Waardering vir Jesus Christus se vrygewigheid het ’n goeie gees van mededeelsaamheid onder die vroeë Christene bevorder. Kort nadat die Christengemeente gestig is, word ons meegedeel: “Niemand onder hulle was behoeftig nie; want almal wat besitters van gronde of huise was, het dit verkoop en die prys van wat verkoop is, gebring en aan die voete van die apostels neergelê. En aan elkeen is uitgedeel volgens wat hy nodig gehad het.”—Hand. 4:34, 35.
Hierdie reëling was veral gepas met die oog op die toestande wat destyds bestaan het. Baie Jode en proseliete het die Pinksterfees in die jaar 33 G.J. bygewoon. Hulle was nie van plan om lank in die stad te bly nie. Maar nadat Petrus, en later ander, ’n kragtige getuienis gelewer het, het duisende in Jesus Christus begin glo. Hierdie nuwe dissipels moes nog baie leer en het die bemoediging en versterking nodig gehad wat die apostels hulle kon gee. Die vrygewigheid van hulle medegelowiges het dit dus vir hulle moontlik gemaak om langer in Jerusalem te bly om geestelik opgebou te word.
So ’n voortreflike gees van vrygewigheid is ook deur die Christene te Filippi aan die dag gelê. Toe Lidia ’n dissipelin van Jesus Christus geword het, het sy vir Paulus en sy metgeselle gesê: “As u oordeel dat ek in die Here glo, kom dan in my huis en bly daar.” Paulus se reisgesel Lukas voeg by: “En sy het ons gedwing.”—Hand. 16:15.
Later, terwyl Paulus elders gearbei het, het Christene in Filippi bydraes aan hom gestuur om te help om die “goeie nuus” te verkondig. In sy brief aan die Filippense lees ons: “Toe ek van Macedonië vertrek het, [het] geen gemeente deel gehad . . . in my rekening van uitgawe en inkomste nie, behalwe julle alleen. Want ook in Thessalonika het julle vir my behoefte meer as een maal iets gestuur” (Filip. 4:15, 16). Toe hy hierdie woorde geskryf het, was Paulus in gevangenskap in Rome. Weer het die Filippense hom te hulp gekom. Hulle het nie alleen ’n bydrae aan hom gestuur nie, maar ook ’n getroue broer, Epafroditus, gestuur om die apostel te dien. Dit het beteken dat Epafroditus ’n reis van meer as 1 600 kilometer oor see en land moes onderneem. Hy het met soveel opoffering ten behoewe van sy geliefde broer Paulus gearbei dat hy ernstig siek geword het. Gelukkig het hy herstel.—Filip. 2:25-27; 4:18.
Seëninge weens vrygewigheid
Net soos die Filippense het ander Christene in die eerste eeu die oortreffende geluk gesmaak wat ’n mens kry wanneer jy aan ander gee (Hand. 20:35). Hulle het die innerlike vreugde gesmaak wat ’n mens kry wanneer jy ander help. En geestelike en materiële hulp wat uit die hart verleen word, het groot waarde in die oë van Jehovah God. Die Allerhoogste beskou dit as ’n aanneemlike offer. Let op die woorde van Hebreërs 13:15, 16: “Laat ons dan gedurig deur Hom aan God ’n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely. Vergeet die weldadigheid en mededeelsaamheid nie, want God het ’n welbehae aan sulke offers.”
Jesus Christus het die versekering gebied dat vrygewigheid nie deur sy hemelse Vader oor die hoof gesien sal word nie. Hy het gesê: “As jy liefdadigheid bewys, laat jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, sodat jou liefdadigheid in die verborgene kan wees; en jou Vader wat in die verborgene sien, Hy sal jou in die openbaar vergelde” (Matt. 6:3, 4). Die Seun van God is ryklik geseën omdat hy al sy rykdom afgelê het en arm geword het ter wille van die mensdom. Die apostel Paulus het gevolglik geskryf: “Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ’n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie . . . en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader” (Filip. 2:9-11). God se Seun het nie aan die kortste end getrek weens sy voortreflike vrygewigheid nie. Sy dissipels sal ook nie. Daar is der duisende wat selfs nou kan getuig dat hulle mededeelsaamheid grootliks geseën is.
Christelike vrygewigheid vandag
’n Opregte begeerte om die vrygewigheid van Jesus Christus na te volg, kan vandag onder Jehovah se knegte waargeneem word. Baie gee onselfsugtig van hulle tyd, energie en bates om mense by hulle huise te besoek om die vertroostende “goeie nuus” wat in die Skrif uiteengesit word, na hulle te bring. Uitgawes vir die instandhouding van hulle vergaderplekke word deur vrywillige bydraes gedek. As indiwidue en as ’n gemeente verleen hulle mildelik hulp aan hulpbehoewendes (Jak. 1:27). Ten tye van groot rampe was waarnemers verbaas om te sien hoe gou Jehovah se Getuies onderstandsmaatreëls getref het.
Persone vra dikwels hoe hulle kan bydra tot die bevordering van die werk wat Jehovah se Getuies dwarsoor die aarde doen. Benewens hulp aan die plaaslike gemeente met sy pogings om die “goeie nuus” te verkondig, kan indiwidue bydraes regstreeks aan die Wagtoringgenootskap, Privaatsak 2, Elandsfontein, 1406, of enige van sy ander takke stuur.
In ’n aantal lande is daar op die oomblik nog ’n ander manier waarop ’n mens ‘die HERE uit jou goed kan vereer’, met geestelike voordeel vir die gewer (Spr. 3:9, 10). Dwarsoor die aarde is die Wagtoringgenootskap besig om sy fasiliteite en toerusting vir die druk en verkondiging van die “goeie nuus” deur middel van Bybels en Bybellektuur, onder andere tydskrifte, te moderniseer. Daar is reeds vordering op hierdie gebied gemaak, soos ons lesers ongetwyfeld opgemerk het. Maar moderne drukperse, soos byvoorbeeld vir vlakdruk, is baie duur, en die mate waartoe ons ons fasiliteite sal kan verbeter, sal afhang van die geld wat gedurende die volgende jaar of twee beskikbaar is.
Om daardie rede is ’n spesiale leningreëling getref in die lande wat nuwe fabriekprojekte het. Dit bied diegene wat daarin belangstel die geleentheid om enige geld wat hulle tot hulle beskikking het by die Wagtoringgenootskap te deponeer sodat die Genootskap sulke geld kan gebruik om vir hierdie uitbreidingsprogram te betaal. Na ’n paar jaar sal die Genootskap die hele lening terugbetaal. Indien daar so ’n fabriekprojek in julle land is, kan julle volledige besonderhede by die plaaslike tak van die Wagtoringgenootskap kry. Die heelhartige ondersteuning van sulke bouprojekte het nog altyd groot vreugde aan God se volk verskaf, in Bybeltye sowel as vandag.—Ex. 36:4, 5, 7; 1 Kron. 29:9.
Net soos in die verlede het Christus se voorbeeld van vrygewigheid waarlik dryfkrag. Omdat honderdduisende die dinge wat die almagtige God deur sy Seun vir hulle gedoen het hoog op prys stel, gaan hulle ywerig voort om die “goeie nuus” wyd en syd te verkondig. Smaak jy persoonlik die vreugde wat deelname aan hierdie lewensbelangrike bedrywigheid verskaf? Mag die woorde van die apostel Paulus aan die Filippense vir jou vervul word: “God sal elke behoefte van julle vervul na sy rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus.”—Filip. 4:19.