Doop—’n blyk van geloof
“Met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.”—Rom. 10:10.
1. Hoe toon ’n persoon volgens Mattheüs 28:19 dat hy ’n dissipel van Jesus Christus geword het?
DIT was die Here Jesus Christus wat die voorbeeld vir ons gestel het deur hom te laat doop. Almal wat sy dissipels wil wees, moet eweneens ondergedompel word. Dit blyk duidelik uit die bevel wat die Seun van God aan sy volgelinge gegee het nadat hy uit die dode opgewek is. Ons lees: “Maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.”—Matt. 28:19.
2. (a) Wat is die betekenis van waterdoop? (b) Wat word van die indiwidu vereis sodat doop ware betekenis kan hê?
2 Wat dui waterdoop nou eintlik aan? Dit beteken dat ’n persoon in die openbaar toon dat hy homself verloën het om hom as ’n dissipel van Jesus Christus ten volle aan Jehovah God toe te wy. Om werklik waarde in die oë van ons hemelse Vader te hê, moet hierdie stap vrywilliglik en onvoorwaardelik gedoen word. Nie net die onderdompeling nie, maar alles wat met die doopreëling verband hou, is onontbeerlik vir redding. Die indiwidu moet berou hê oor sy sondes, hom bekeer, of sy verkeerde weg heeltemal verlaat, homself heeltemal verloën in volle toewyding aan Jehovah God en ’n dienskneg van die Allerhoogste en van sy Seun word (Matt. 16:24; Hand. 2:38; 3:19; 1 Thess. 1:9, 10). Ooreenkomstig Romeine 10:9 word daar van die doopkandidaat verwag om in die openbaar te erken dat hy ’n behoorlike begrip van hierdie belangrike sake het voordat hy hom aanbied om in water gedoop te word. Daardie Skrifgedeelte lui: “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word.”
3. Wat bevestig die woorde in 1 Petrus 3:21 in verband met doop?
3 Die woorde van 1 Petrus 3:21 bevestig dat die hele doopreëling, die openbare belydenis van geloof inkluis, noodsaaklik is vir redding. Die apostel het geskryf: “Waarvan die teëbeeld, die doop, ons nou ook red, nie as ’n aflegging van die vuilheid van die vlees nie, maar as ’n bede tot God om ’n goeie gewete—deur die opstanding van Jesus Christus.”
4. Hoe betekenisvol is die uitdrukking “deur die opstanding van Jesus Christus”?
4 Dit is duidelik dat dit nie die blote daad om ondergedompel te word, is wat red nie. Hoewel water vuilheid of vullis kan afwas, spruit redding nie voort uit “’n aflegging van die vuilheid van die vlees” deur ’n plegtige uitwendige gewas nie. Petrus het getoon dat redding “deur die opstanding van Jesus Christus” kom. Dit beteken dat die dopeling moet glo dat redding slegs moontlik is omdat die Seun van God ’n offerdood gesterf het en toe op die derde dag opgewek is. Dit is ook noodsaaklik dat hy Jesus aanneem as sy Here of Meester met volle gesag om die lewendes en die dooies te oordeel, want Petrus het voorts gesê: “Wat heengegaan het na die hemel en aan die regterhand van God is, terwyl engele en magte en kragte aan Hom onderwerp is.”—1 Pet. 3:22.
5. Hoe verkry ’n persoon ’n “goeie gewete”?
5 Dit is dan ook met die doop dat Petrus “die bede tot God om ’n goeie gewete” assosieer. Om ’n goeie gewete te verkry, moet almal wat ondergedompel word berou oor hulle sondes hê, hulle van hulle verkeerde weg bekeer en hulleself ten volle deur Christus aan God toewy. Doop is die openbare simbool van die hartgrondige toewyding wat nou deur die indiwidu gemaak word en die belydenis van geloof wat hy met sy mond gemaak het. Nadat hy gedoen het wat Jehovah God vereis, verkry die gedoopte dissipel ’n goeie gewete. Solank as wat hy daardie goeie gewete behou, is hy gered. Hy sal hom nie God se toorn op die hals haal nie.
6. (a) Waarmee kom die doopreëling ooreen? (b) Hoe is geloof daarby betrokke?
6 Maar wat het die apostel bedoel toe hy gesê het: “waarvan die teëbeeld”? Volgens die vorige vers is die agt mensesiele, Noag inkluis, “deur water heen gered” (1 Pet. 3:20). Die einste water wat diegene buitekant die ark vernietig het, het Noag en sewe lede van sy gesin uit ’n goddelose geslag gered of verlos. Maar sonder geloof sou Noag nie hierdie wonderlike verlossing beleef het nie. Hebreërs 11:7 deel ons mee: “Deur die geloof het Noag, toe hy ’n goddelike waarskuwing ontvang het aangaande wat nog nie gesien was nie [dit wil sê, daar was geen sigbare aanduidings van die koms van ’n globale vloed en die vernietiging van mense- en dierelewe nie], met eerbiedige vrees die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin, waardeur hy die wêreld veroordeel het en ’n erfgenaam geword het van die geregtigheid wat volgens die geloof is.” Net soos Noag geloof nodig gehad het om die ark te bou, moet almal wat gedoopte dissipels van Jesus Christus word, geloof hê om die druk te weerstaan wat ’n wêreld sonder geloof en die god daarvan op hulle gaan uitoefen.—Joh. 12:31; 2 Kor. 4:4.
Waarom geloof nodig is
7. Watter raad het Jesus Christus in Lukas 14:26-33 gegee, en waarom?
7 Almal wat toegewyde, gedoopte dissipels van Jesus Christus word, kan moeilikheid te wagte wees. Dit is waarom die Seun van God die volgende raad gegee het:
“As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie. En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie. Want wie van julle wat ’n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste bereken, of hy die middele het om dit uit te voer nie?—sodat as hy die fondament gelê het en nie in staat is om dit te voltooi nie, almal wat dit sien, nie miskien met hom sal begin spot en sê: Hierdie man het begin bou en kon nie klaarkry nie. Of watter koning wat optrek om teen ’n ander koning slag te lewer, gaan nie eers sit en beraadslaag of hy in staat is om met tienduisend die een te ontmoet wat met twintigduisend teen hom kom nie? Anders stuur hy ’n gesantskap as die ander een nog ver is, en vra vredesvoorwaardes. So kan dan ook niemand van julle wat nie afsien van al sy besittings, my dissipel wees nie.”—Luk. 14:26-33.
Volgens hierdie woorde moet almal wat gedoop word vooraf nugter nadink oor wat dit alles behels.
8. Wat moet ons gesindheid teenoor ongelowige familielede wees, en waarom?
8 Jesus het natuurlik nie gesê dat sy dissipels hulle familielede moet verafsku nie. In die Bergpredikasie het hy ons immers vermaan om ‘selfs ons vyande lief te hê en te bid vir die wat ons vervolg’ (Matt. 5:44). Ons behoort dus in werklikheid groter liefde aan ons ongelowige familielede te betoon en gretig en gewillig wees om alles in ons vermoë te doen om hulle te help om die ewige lewe te verkry. (Vergelyk Romeine 9:1-3.) ’n Persoon wat ’n gedoopte dissipel word, moet hulle egter “haat” in die sin dat hy hulle minder liefhet as wat hy Jesus Christus liefhet. Waarom is dit noodsaaklik? Sy familielede is dalk nie ingenome met sy handelwyse nie. Hulle laat hom dalk verstaan dat hulle hom sal verstoot indien hy gedoop word. Dit verg dus geloof om te glo dat sy toewyding aan Jehovah en sy doop nie op ’n verlies sal uitloop nie, maar op wins.
9. Watter wins geniet toegewyde, gedoopte dissipels van Jesus Christus?
9 Hoe is dit vir ’n persoon wins as hy ’n toegewyde, gedoopte dissipel van Jesus Christus is? Daar is die tevredenheid wat verskaf word deur die wete dat ons dade Jehovah God en sy Seun se goedkeuring wegdra. Hulle guns is meer werd as enigiets anders. Nòg ons vriende nòg ons familielede kan vir ons onfeilbare hulp, foutlose leiding en die ewige lewe gee. Maar Jehovah God stel hierdie dinge deur sy Seun aan ons beskikbaar. Ons verkry ook broers, susters, moeders en kinders in ’n geestelike sin. Jesus Christus het hierdie versekering gebied: “Voorwaar Ek sê vir julle, daar is niemand wat huis of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van My en van die evangelie verlaat het nie, of hy ontvang nou in hierdie tyd honderd maal soveel: huise en broers en susters en moeders en kinders en grond, saam met vervolginge, en in die eeu wat kom, die ewige lewe” (Mark. 10:29, 30). Vergeleke met wat ons verkry, is die dinge wat ons in die oë van wêreldse mense verloor blote drek.—Filip. 3:8.
10. Waarom is dit noodsaaklik om Jesus Christus liewer as ons eie lewens te hê as ons sy getroue dissipels wil wees, en waarom verg dit geloof?
10 Waarom het die Seun van God ook daarop gewys dat ons hom liewer moet hê as ons eie lewens? Dit is weens die dinge wat ons van ongelowiges kan verwag. Tweede Timotheüs 3:12 sê: “Almal wat ook godvrugtig wil lewe in Christus Jesus, sal vervolg word.” Indien ons onsself liewer gehad het as God se Seun, sou ons nie bereid wees om skeltaal en liggaamlike mishandeling te verduur of om, indien nodig, te sterf omdat ons sy dissipels is nie. Dit verg beslis geloof om voort te gaan en ’n mens te laat doop, wetende dat dit eendag in die toekoms ons lewens kan kos. Hierdie geloof sluit onwankelbare vertroue in die opstandingshoop in (Hand. 24:15). Ja, mense kan ons doodmaak, maar hulle kan ons nie ons reg om ’n lewende siel te wees ontneem nie. Slegs Jehovah God kan dit doen en ons titel van die lewe vir ewig vernietig. Om hierdie rede het Jesus die volgende bemoediging gegee: “Moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel [Gehenna, NW].”—Matt. 10:28.
11. Waarom is geloof nodig wanneer ons ekonomiese ontberings verduur omdat ons dissipels van Jesus Christus is?
11 Wanneer ons ons lewe nie te dierbaar ag nie, kan ons ook vasstaan ten tye van ekonomiese ontberings. In hedendaagse tye het party van God se knegte hulle werk verloor omdat hulle lojaal by goddelike vereistes gehou het. Dit is veral wanneer ons te kampe het met probleme om ’n bestaan te maak dat ons geloof nodig het om te glo dat ons hemelse Vader die gebed sal verhoor: “Gee ons vandag ons daaglikse brood” (Matt. 6:11). Almal wat gedoop word, moet vol vertroue wees dat Jehovah God sy volk in tye van nood kan en sal onderskraag.
’n Lewensweg wat geloof verg
12. Watter vordering moet ’n persoon maak nadat hy gedoop is?
12 Hoewel geloof nodig is om ’n toegewyde, gedoopte dissipel van Jesus Christus te word, is dit net die begin van ’n persoon se lewe as ’n Christen. Nadat ons gedoop is, sal ons wil voortgaan om meer geloof te verkry en om die ander vrugte van God se gees—liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, sagmoedigheid en selfbeheersing—steeds beter aan die dag te lê. Ons sal graag ons geloof ywerig aan ander wil betuig (Gal. 5:22; 2 Pet. 1:5-8). Nuwe dissipels moet in gedagte hou dat hulle nog geestelike babatjies is en moet die apostel Petrus se raad ter harte neem: “Verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei, as julle ten minste gesmaak het dat die Here goedertieren is.”—1 Pet. 2:2, 3.
13. Hoe kan ’n persoon ’n aptyt vir geestelike voedsel aankweek?
13 Om ’n groot aptyt vir geestelike voedsel aan te kweek, moet ’n persoon tyd daaraan afstaan om met waardering na te dink oor wat Jehovah God en Jesus Christus om sy ontwil gedoen het en sy hart dan toelaat om hom aan te spoor om homself gereeld uit die Skrif te voed. Dit is nie genoeg om bloot die Bybel te lees nie. ’n Mens moet biddend nadink oor wat daarin gesê word en die geïnspireerde raad persoonlik toepas. ’n Studie van die Skrif met behulp van een of twee basiese Bybelstudiehulpe is nie genoeg vir ’n persoon om God se Woord ten volle te ken nie. Die Skrif bevat veel, veel meer vir ons geestelike opheffing en versterking.
14. Met wie moet nuwe gelowiges probeer assosieer, en waarom?
14 Goeie omgang in die Christengemeente is ook belangrik as ons geestelike vordering wil maak. Die wenslikste metgeselle is geestelikgesinde medegelowiges, persone wat dit geniet om God se Woord te bespreek en intens daarin belangstel om hul medemens te help. Dit was aan Timotheüs, ’n ouere man in die Christengemeente, dat die apostel Paulus geskryf het: “In ’n groot huis is daar nie alleen voorwerpe van goud en silwer nie, maar ook van hout en erdewerk; en sommige tot eer, maar ander tot oneer. As iemand hom dus hiervan deeglik reinig, sal hy ’n voorwerp tot eer wees, geheilig en bruikbaar vir die Here, toeberei vir elke goeie werk. Maar vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid en jaag ná geregtigheid, geloof, liefde, vrede, saam met die wat die Here uit ’n rein hart aanroep” (2 Tim. 2:20-22). Die apostel het dus die gemeente, soos dit in sy dag ontwikkel het, vergelyk met ’n huis wat allerhande voorwerpe bevat. Indien ’n ouere man ‘voorwerpe tot oneer’ moes vermy en hulle nie sy intieme metgeselle moes maak nie, is dit beslis selfs belangriker vir geestelike babatjies wie se ‘geestesvermoëns nog nie deur die gewoonte geoefen is om goed van kwaad te onderskei nie’ (Hebr. 5:14). Hulle is baie vatbaarder vir verderflike invloede.—Vergelyk 1 Petrus 2:18.
15. Hoe kan goeie metgeselle uitgeken word?
15 Dit beteken nie dat ons die lede van die gemeente met agterdog moet bejeën nie. Dit is nie moeilik om goeie metgeselle uit te ken nie. Jesus Christus het gesê: ‘Uit die oorvloed van die hart spreek die mond’ (Luk. 6:45). Diegene wie se woorde ons waarlik “tot liefde en goeie werke” aanspoor, is klaarblyklik lojale vriende (Hebr. 10:24). Omgang met hulle kan ’n persoon vinniger tot Christelike rypheid laat groei.
16. Hoe toon ons Christelike geloof?
16 Aangesien die begin van ons lewensweg as Christene ’n blyk van geloof is, behoort ons hele lewenswyse in werklikheid een te wees wat onwrikbare geloof in Jehovah en in sy Seun weerspieël. Daardie geloof word getoon deur werke wat daarmee strook. Die dissipel Jakobus het geskryf: “Word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie’’ (Jak. 1:22). Daar word meer van ons verwag as om eerbiedig by gemeentelike vergaderinge te luister en om waardering uit te spreek vir die dinge wat ons gehoor het. Ons moet die hele raad van God toepas, en dit verg werke, bedrywigheid, ’n bereidwilligheid om in die geestelike, emosionele en fisiese behoeftes van ander te voorsien. Dit verg ook deelname aan die groot predikingswerk wat gedoen moet voordat die “einde” kom.—Jak. 1:27; 1 Joh. 3:16, 17; Matt. 24:14, 21, 22.
17. Watter vrae kan ons onsself afvra met die oog op Jesus se gelykenis van die saaier?
17 In ooreenstemming met Jesus se gelykenis van die saaier sal ons gedoopte dissipels van Jesus Christus graag wil bewys dat ons “goeie grond” is. Die “woord van die koninkryk” wat in ons harte gesaai is, behoort vrug te dra. Gryp ons elke geleentheid aan om ’n getuienis te lewer en dra ons sodoende vrug in die vorm van betuigings oor God se koninkryk? (Matt. 13:3-9, 18-23). Wend ons, in harmonie met Openbaring 22:1, 2, waar ’n deel van Jehovah se lewegewende voorsiening vergelyk word met bome wat elke maand vrug dra, ’n vasberade poging aan om nie ’n maand te laat verbygaan sonder om vir ander van ons geloof te vertel nie? Dit is ook belangrik om ons daarop toe te lê om die harte van ongelowige familielede en kennisse te bereik deur getuieniswerk wat gerugsteun word deur ’n goeie voorbeeld wat die Christelike lewe betref. Hoewel ons nie ’n kompromis aangaan waar dit kom by dinge wat ons weet reg is nie, sal dit mos goed wees om nie onnodig groot geskille oor verjaarsdae, vakansiedae en dies meer te maak nie, nie waar nie? Dit is baie beter om ons daarop toe te lê om positiewe, opbouende gedagtes uit die Skrif met hulle te deel wanneer die omstandighede dit toelaat. Ons vriendelikheid, opregte besorgdheid en behulpsaamheid kan dikwels ’n sterker getuienis lewer as baie woorde.—Vergelyk Romeine 12:17-21.
18. Waarom is Christelike dissipelskap lonend?
18 Christelike dissipelskap gaan beslis met ernstige verantwoordelikhede gepaard. Maar hoe lonend is ons lewe tog! Ons geniet selfs nou gemoedsrus daar ons weet dat ons die goedkeuring van ons hemelse Vader en sy Seun wegdra. Ons lewe word doelgerig gebruik om die ewige welsyn van ons medemens te bevorder. Ons sien met vertroue uit na “die toekomende lewe”, ’n ewige, aangename lewe in God se regverdige nuwe orde (1 Tim. 4:8). Ons geloof, wat so noodsaaklik is om ’n toegewyde, gedoopte dissipel van Jesus Christus te word, kan ons daardie wonderlike toekoms laat beërf.