Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 7/15 bl. 29-30
  • Die seën van eenheid onder broers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die seën van eenheid onder broers
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Soortgelyke materiaal
  • Jehovah se gesin geniet kosbare eenheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Vergader in eenheid
    Sing lofliedere voor Jehovah
  • Werk in eenheid saam
    Sing lofliedere voor Jehovah
  • Is jy verkwikkend vir ander?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 7/15 bl. 29-30

Die seën van eenheid onder broers

EENHEID is voorwaar ’n seën. Deur die gesamentlike poging van baie kan veel meer bereik word as net deur een persoon alleen. Wanneer mense goed met mekaar klaarkom, is dit vir hulle baie aangenaam om saam te werk.

Dawid het onder inspirasie oor die seën van eenheid onder broers geskryf. Aangesien al die Israeliete van die een man Jakob afgestam het, was Dawid se woorde in Psalm 133 in werklikheid op die hele nasie van toepassing. Toegewyde Christene is vandag lede van ’n wêreldwye broederskap en behoort hulle dus daarop toe te lê om die aangename eenheid te bewaar wat deur die psalmis beskryf is. “Kyk, hoe goed en hoe lieflik is dit dat broers ook saamwoon! Dit is soos die kosbare olie op die hoof, wat afloop op die baard, die baard van Aaron, wat afloop op die soom van sy klere. Dit is soos die dou van Hermon wat neerdaal op die berge van Sion; want daar gebied die HERE die seën, die lewe tot in ewigheid”—Ps. 133:1-3.

Wanneer al die stamme van Israel vir die drie jaarlikse feeste in Jerusalem vergader het, het hulle die geleentheid gehad om in eenheid saam te woon. Hoewel hulle aan verskeie stamme behoort het, was hulle maar net een broederskap. Hulle samesyn het ’n aangename en heilsame uitwerking gehad. Die uitwerking van hierdie saamwonery in eenheid was soos goeie salwingsolie—iets verkwikkends met ’n langdurige en aangename aroma. Die olie wat op Aäron se hoof uitgegiet is, het op sy lang baard afgeloop en op die kraag van sy kledingstuk gedrup. Die heilsame uitwerking van die Israeliete se samesyn het eweneens ’n deurdringende invloed gehad en dwarsdeur die vergaderde volk getrek. Die gevolg was dat misverstande opgeklaar en vooroordele uit die weg geruim is. Dit was asof die goeie olie alles deurtrek het. Jehovah God, van wie alle seëninge kom, sou natuurlik die eer hiervoor kry.

Wanneer sulke broederlike eenheid soos die psalmis beskryf onder Christene bestaan, is daar eweneens geen stryery, vittery en voortdurende klaery nie. Maar hulle omgang is goed, heilsaam en voordelig. Omdat hulle in die band van liefde verenig is, is hulle daadwerklik oor mekaar besorg en gen iet hulle dit om saam te verkeer. Hulle eenheid verskaf hulle genot of plesier weens die wedersydse bemoediging en versterking wat dit tot gevolg het. Enige misverstande of probleme kan uit die weg geruim word wanneer almal Jehovah God saam in nederigheid nader en sy leiding, hulp en vergifnis vir hulle oortredings vra.

Israel se saamwonery in eenheid was ook soos die dou van die berg Hermon. Daardie berg, wat meer as 2 700 meter bo seespieël is, is amper die hele jaar met sneeu bedek. Hermon se sneeubedekte piek laat die nagdampe kondenseer en vorm so die volop dou wat die plantegroei gedurende die lang droë seisoen bewaar. Koue lugstrome vanaf die Hermonreeks kan ook die dampe so ver suid soos die berg Sion dra sodat dit daar as dou kondenseer. Die psalmis het dus tereg gepraat van die ‘dou van Hermon wat op die berge van Sion neerdaal’. Die beeld is dié van ’n invloed wat neerdaal, ’n invloed wat verkwik, wat tot die behoud van plantegroei bydra.

Die eenheid van Christenbroers is net so aangenaam. Dit het ook die potensiaal om lewe te bewaar. Dit is so, want wanneer baie persone die liefde sien wat vandag onder God se ware knegte bestaan, begin hulle wonder oor die bron van hierdie eenheid. Hulle ondersoek plaas hulle dan op die weg wat na die lewe lei.

Voor die totstandkoming van die Christengemeente was Sion of Jerusalem die sentrum van ware aanbidding. Aangesien dit die plek was wat Jehovah God gekies het, was dit dus daar dat die Allerhoogste die seën gebied het. Hy, die Bron van alle seëninge, het op ’n verteenwoordigende wyse by die heiligdom in Jerusalem gewoon; daar kon dus gesê word dat seëninge daarvandaan kom. In hierdie sin het die hele lewe van die nasie Israel verband gehou met Jerusalem of Sion.

Omdat ware aanbidding nie langer van enige geografiese plek afhang nie, moet die liefde onder God se knegte oral te sien wees (Joh. 4:21, 23, 24). Dit is hierdie liefde wat waarlik die ware dissipels van Jesus Christus onderskei. Die Seun van God het gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Joh. 13:35). Ons behoort gewis hard te werk om hierdie liefde aan die dag te lê sodat ons eenheid met medegelowiges vergelyk kan word met geurige salwingsolie en die verkwikkende dou van die berg Hermon.

“Ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening.”—1 Kor. 1:10.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel