God se Woord is lewend
’n Gewillige gees
WANNEER ’n taak verrig moet word, is dit aangenaam om met persone te werk wat gretig en gewillig is, nie waar nie? Ons Skepper, Jehovah God, waardeer ook ’n gees van gewilligheid aan die kant van sy knegte. In sy Woord het hy die vertroue uitgespreek dat sy volk ‘baie gewillig sou wees’ om hom te dien.—Ps. 110:3.
Hierdie mooi gees is deur God se profeet Jesaja aan die dag gelê. Hy het ’n heerlike gesig van God se glorie in die pragtige tempel te Jerusalem gehad. Die heerlike voorstelling het op ’n verhewe troon verskyn, en die some van die een wat daarop gesit het, het die tempel gevul terwyl serafs daarbo gesweef het. Hierdie engelagtige wesens het ses vlerke gehad, waarvan hulle twee gebruik het om te vlieg of te sweef. In die heilige teenwoordigheid het die serafs nederig hulle aangesigte en hulle voete bedek. Die een seraf het tot die ander geroep en gesê: “Heilig, heilig, heilig is die HERE van die leërskare. Die hele aarde is van sy heerlikheid vol!”—Jes. 6:1-3.
Jesaja het onrein gevoel. “Wee my”, het hy uitgeroep, “ek is verlore! Want ek is ’n man onrein van lippe en woon onder ’n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, die HERE van die leërskare, gesien!”—Jes. 6:5.
Een van die serafs het Jesaja te hulp gesnel. Hierdie seraf het Jesaja se lippe aangeraak met ’n gloeiende kool wat hy van die brandofferaltaar afgeneem het en hulle aldus gereinig.—Jes. 6:6, 7.
Toe het Jesaja die kragtige stem van Jehovah hoor sê: “Wie sal Ek stuur? En wie sal vir ons gaan?” Sonder om te aarsel het Jesaja geantwoord: “Hier is ek, stuur my.” Hy het nie gevra wat dit van hom sou vereis of wat hy kon verkry deur die toewysing te aanvaar nie. Daar het geen twyfel oor sy gewilligheid bestaan nie. Jesaja is dus die opdrag gegee om ’n profeet vir sy eie volk te wees. Dit was nie ’n maklike taak nie. Jesaja sou te kampe hê met uiterste hardkoppigheid, ’n situasie wat sou voortduur totdat die land verwoes is en sy bevolking in ballingskap weggevoer is.—Jes. 6:8-12.
Net soos Jesaja ’n boodskap gehad het wat hy moes verkondig, so ook dissipels van Jesus Christus. God se Seun het gesê dat ‘hierdie goeie nuus van die koninkryk in die hele wêreld verkondig sou word’ (Matt. 24:14). Het jy gewillig aangebied om hierdie werk te doen? Volhard jy net soos Jesaja getrou daarmee ondanks die feit dat baie mense nie gunstig reageer nie?