Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 8/15 bl. 21-26
  • ‘Gebruik elke vorm van gebed en smeking’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Gebruik elke vorm van gebed en smeking’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • LOOF GOD IN GEBED
  • NADER JEHOVAH MET DANKSEGGING
  • RIG VERSOEKE TOT JEHOVAH
  • MET SMEKING
  • ONS MOET DIENOOREENKOMSTIG OPTREE
  • KAN ONS DIE GEHALTE VAN ONS GEBEDE VERBETER?
  • REGSTREEKSE EN ONREGSTREEKSE BELONINGS
  • ‘Laat julle versoeke by God bekend word’
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Kom nader aan God deur gebed
    Wat leer die Bybel werklik?
  • Wat sê jou gebede oor jou?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Hoe jy na aan God kan kom
    Kennis wat tot die ewige lewe lei
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 8/15 bl. 21-26

‘Gebruik elke vorm van gebed en smeking’

“Julle [moet] met alle [elke vorm van] gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges.”—Ef. 6:18, vgl. NW.

1. (a) Hoe wil ons aan Jehovah God dink wanneer ons hom in gebed nader? (b) Watter vier basiese soorte gebede is daar?

DIE Skepper, Jehovah God, is nie bloot ’n onpersoonlike Eerste Oorsaak nie, maar ’n werklike persoon met gevoelens. Hy kan sien en hoor. Ons wil altyd so aan hom dink wanneer ons hom in gebed nader. God se Woord vermaan ons om dit “met elke vorm van gebed en smeking” te doen (Ef. 6:18, NW). Wat sluit dit in? Daar is vier basiese vorms van gebed—lofprysing, danksegging, versoeke en smeking.

LOOF GOD IN GEBED

2, 3. Wat is die edelste en mees verhewe vorm van gebed, en wat is enkele van die baie redes waarom Jehovah God dit verdien?

2 Lofprysing is voorwaar ’n edel, verhewe vorm van gebed. Die Skepper verdien dit weens sy eienskappe en werke. As die “Soewereine Heer Jehovah” besit hy ongeëwenaarde gesag (2 Sam. 7:28, NW). Omdat hy geen begin of einde het nie, is Jehovah God die weergalose “Koning van die eeue” (1 Tim. 1:17). Hy is so ’n heerlike persoon dat geen mens hom kan sien en bly lewe nie (Ex. 33:20). Die Allerhoogste het geen gelyke nie daar hy onbeperkte mag en wysheid besit, volkome regverdig is en die verpersoonliking van onselfsugtige liefde is (Deut. 32:4: Job 37:23; Rom. 11:33; 1 Joh. 4:8). Hy het alles gemaak en besit gevolglik die hele heelal (Gen. 1:1, 31; Ps. 50:10). Wat naam en roem betref, is hy ongeëwenaard. Net hy kan met reg sê: “EK SAL BLYK TE WEES.” Net hy besit die naam Jehovah, wat skynbaar beteken: “Hy laat word” (Ex. 3:14, NW; 6:3, NW). Net hy kan tereg sê: “By wie wil julle My vergelyk en My net so maak en My gelykstel, dat ons eenders kan wees?” “Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie.”—Jes. 46:5, 9.

3 So ’n onvergelyklike, weergalose, ongeëwenaarde God verdien by uitstek ons lof. Heel gepas word ons talle kere, van Exodus 15:11 tot Openbaring 19:6, aangespoor om Jehovah te loof. Mag ons dienooreenkomstig nie alleen aanhou om die Allerhoogste in ons gebede te loof nie, maar mag ons daaglikse gesprekke ook die aandag op hom vestig eerder as op onsself. Ons het immers niks wat ons nie ontvang het nie, en sonder hom kan ons werklik niks bereik nie.—Ps. 127:1; 1 Kor. 4:7.

NADER JEHOVAH MET DANKSEGGING

4, 5. Wat sê verskeie Bybelskrywers oor danksegging aan Jehovah, en wat is enkele van die talle redes waarom ons dit moet doen?

4 Lofbetuigings teenoor Jehovah en danksegging is nou verwant. Dit is net reg dat ons dank betuig vir alles wat Jehovah gedoen het, steeds doen en nog vir ons gaan doen. Dit wil voorkom asof die skrywers van die psalms veral bewus was van die gepastheid van dankbetuigings teenoor Jehovah. Ons lees herhaaldelik uitdrukkings soos: “Laat hulle die HERE loof [dank, NW] om sy goedertierenheid en om sy wonderdade aan die mensekinders” (Ps. 107:8, 15, 21, 31). Paulus vermaan ons eweneens om “smeking met danksegging” tot God te rig. Ja, ons moet “God die Vader altyd vir alles dank”.—Filip. 4:6; Ef. 5:20.

5 Hoe baie dinge is daar tog waarvoor ons ons hemelse Vader daagliks moet dank! Ons is hom dank verskuldig vir al die fisiese en materiële dinge wat ons ontvang en wat die lewe nie alleen moontlik nie, maar ook aangenaam maak (Jak. 1:17). Waardeer ons al die geestelike seëninge wat Jehovah op sy knegte uitstort—die voordele van Christus se offerande, God se Woord en sy gees, die Christengemeente en die gawe van gebed? Waardeer ons die seën van omgang met medegelowiges, die voorreg om in die behoeftes van ander te voorsien, en die wonderlike Koninkrykshoop? Laat ons dan dank in ons gebede betuig. Ons sal weliswaar nie altyd alles wat God vir ons gedoen het, onthou of opnoem nie. Maar ons behoort te voel soos die psalmis: “Loof die HERE, o my siel, en vergeet geeneen van sy weldade nie!”—Ps. 103:2.

RIG VERSOEKE TOT JEHOVAH

6. Watter drie algemene gebiede dek ons versoeke, en waarvoor het Jesus ons geleer om eerste te bid?

6 Dit is voorwaar ’n groot troos dat ons Jehovah met “vrymoedigheid” kan nader wanneer ons ons versoeke rig (Hebr. 4:16; 1 Joh. 3:21). Soos Jesus in sy Modelgebed getoon het, staan ons versoeke gewoonlik in verband met drie algemene gebiede—dat geregtigheid moet seëvier, ons geestelike behoeftes en ons fisiese behoeftes. Gepas het Jesus vir ons gesê om eerstens te bid vir die heiliging van Jehovah se naam, dat sy koninkryk moet kom en dat sy wil op aarde moet geskied. Jesus self het gebid: “Vader, verheerlik u Naam!” (Matt. 6:9, 10; Joh. 12:28). Sulke versoeke sal ook die bede insluit dat Jehovah die werk van sy knegte op aarde voorspoedig moet maak en dat hy diegene moet onderskraag wat om sy naams ontwil ontberings verduur en beproef word (Ps. 118:25). Ons moet ook nie vergeet van Paulus se vermaning om te bid vir almal wat hooggeplaas is nie “sodat ons ’n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid”.—1 Tim. 2:2.

7, 8. In verband met watter soort persoonlike sake moet ons vervolgens versoeke tot Jehovah rig?

7 Ons gebede moet ook groot besorgdheid oor ons geestelike toestand weerspieël. Dit sal versoeke tot ons hemelse Vader insluit dat hy ons sondes moet vergewe. “As iemand gesondig het, ons het ’n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige” (1 Joh. 1:8-2:1). Ons sal ook vir meer van God se gees wil vra en bid dat ons dit nie sal bedroef nie (Luk. 11:13; Ef. 4:30). Die Skrif spoor ons aan om te bid vir wysheid wanneer ons beproewing verduur (Jak. 1:5-8). Daarbenewens kan en behoort ons te bid vir Jehovah se seën op ons heilige diens, onder andere ons predikings- en onderrigtingswerk in die veld. Sulke gebede is ’n erkenning van die beginsel dat ons wel plant en natmaak, maar dat dit God is wat dinge laat groei, wat dinge voorspoedig maak.—1 Kor. 3:7.

8 Wanneer ons versoeke tot God rig, moet ons ook nie enige verskille wat ons met ’n Christenbroer, met ons huweliksmaat of met ’n ander lid van ons gesin het oor die hoof sien of nalaat om daaroor te bid nie. Op sulke tye is daar die neiging om op te hou kommunikeer—’n maklike en nogtans onverstandige en selfsugtige handelwyse. Ons moet eerder bid vir leiding en krag om die moeilikheid wat daar tussen ons en iemand anders bestaan uit die weg te ruim. Ons moet God ook vra om ons te help om te vergewe en griewe te vergeet sodat ons nie verbitterd word en ’n wrok koester nie.—Matt. 6:12.

9, 10. Watter Skriftuurlike grondslag het ons om versoeke in verband met materiële of fisiese sake tot Jehovah te rig?

9 Benewens geestelike sake het Jesus getoon dat dit in orde is om versoeke tot Jehovah God te rig vir ons daaglikse brood, ons materiële behoeftes (Matt. 6:11). Ja, ons kan Jehovah God oor enige en al ons behoeftes nader, en dit vir elke dag. Dit strook met wat Jesus verder in sy Bergpredikasie gesê het: “Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.”—Matt. 6:34.

10 Is ons werkloos? Dan kan ons Jehovah God versoek om ons pogings om werk te kry te seën en te rig. Is ons siek? Ons kan bid vir wysheid, krag en volharding om die beste ding moontlik in verband met ons beproewing te doen. Dit is inderdaad ’n troos dat ons al ons sorge voor Jehovah kan uitstort, soos ons dan ook lees: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God” (Filip. 4:6). In die geval van al sulke sake bid ons natuurlik met die voorbehoud—‘As dit God se wil is’, net soos Jesus in die tuin van Getsemane gebid het. —Matt. 26:39; 1 Kor. 4:19; Jak. 4:15.

MET SMEKING

11-13. (a) Wat beteken dit om Jehovah te smeek, en in verband met watter sake is dit uiters gepas? (b) Hoe lig die ondervinding van ’n seun dit toe?

11 Ons word aangesê om “met elke vorm van gebed en smeking” te bid (Ef. 6:18, NW). Waarom moet ons smeking by ons versoeke voeg? Omdat smeking ’n stap verder as versoeke gaan. Dit is ’n buitengewoon dringende, ernstige gebed, ’n hartgrondige versoek. Smeking word gedefinieer as ’n “ootmoedige en dringende versoek”. In die Christelike Griekse Skrifte word die woord in die oorspronklike taal altyd in verband met God gebruik. Dit beklemtoon dus die feit dat ’n mens nie alleen in gebed moet volhard nie, maar ook waarlik ernstig moet wees. Dit is te begrype dat nie al ons versoeke smeekbede is nie. Maar ons gebede moet dit insluit. Ons lees selfs dat Jesus Christus “smekinge geoffer [het] met harde geroep en met trane. En sy gebede is verhoor vanweë sy eerbiedige onderworpenheid aan God” (Hebr. 5:7. NAB). Wanneer ons hoor dat ons broers wreed vervolg word, sal dit eweneens gepas wees om nie alleen versoeke ten behoewe van hulle tot God te rig nie, maar Jehovah ook te smeek om hulle die krag te gee om te volhard en om die doel van die vervolging te verydel.—Vergelyk 2 Korinthiërs 1:8-11.

12 Wanneer ons ’n beroep op Jehovah doen om ons te help in ons stryd om ons liggame te kasty, nader ons hom tereg as smekelinge (Rom. 7:15-24; 1 Kor. 9:27). Het ’n persoon ’n probleem om sy gedagtes of humeur te beteuel? Benewens om om verskoning te vra vir enige leed wat hy iemand aangedoen het, moet hy Jehovah ook nederig om hulp smeek. Gestel die probleem staan in verband met sy eet- of drinkgewoontes. Dit sal weer eens gepas wees om Jehovah te smeek om hulp en ook om die hulp van gesinslede en/of van ouere manne van die gemeente te vra.

13 Wanneer hulle behoorlik geleer is, kan selfs kinders Jehovah smeek en verhoor word. ’n Tienjarige seun het byvoorbeeld die volgende aan die Wagtoringgenootskap geskryf: “Om 3 nm. op 20 November het twee seuns op die skoolterrein na my gekom en een van hulle het ’n mes teen my keel gehou en gedreig om my dood te maak. Ek het tot Jehovah gebid, en net toe het ’n polisiemotor verbygery en het die seuns weggehardloop.”

ONS MOET DIENOOREENKOMSTIG OPTREE

14, 15. Wat moet diegene wat bid, doen om konsekwent te wees, en wat is ’n paar Skriftuurlike voorbeelde wat hierdie beginsel toelig?

14 Wanneer ons tot Jehovah God bid, moet ons natuurlik altyd bereid wees om ons deel te doen. Koning Dawid het God nie alleen tydens groot benoudheid gesmeek nie, maar ook praktiese stappe gedoen (2 Sam. 15:31-17:14). Ander getroue knegte van Jehovah, soos Jakob, het dieselfde gedoen (Gen. 32:9-21). Ja, ons dade moet met ons versoeke strook.

15 Bid ons vir ons daaglikse brood? Dan moet ons bereid wees om daarvoor te werk, want “as iemand nie wil werk nie, moot hy ook nie eet nie” (Matt. 6:11; 2 Thess. 3:10). Bid ons om nie in versoeking te kom nie? Dan moet ons ons nie moedswillig in gevaarlike situasies plaas nie (Matt. 6:13). Bid ons vir onderlinge vrede? Dan moet ons vredemakers wees (Ps. 122:6-9; 1 Pet. 3:11). Dit beteken dat ons ander nie onnodig aanstoot moet gee of onnodig geskille moet maak nie. Ons moet nie fyngevoelig wees nie. Bid ons dat God se werk moet toeneem? Dan moet ons “altyd oorvloedig in die werk van die Here” wees (1 Kor. 15:58). Bid ons vir wysheid? Dan moet ons van al die middele gebruik maak wat God voorsien het om wysheid te verkry.—Jak. 1:5-8; Ps. 119:105; 2 Tim. 3:16: Hebr. 10:23-25.

KAN ONS DIE GEHALTE VAN ONS GEBEDE VERBETER?

16, 17. Hoe kan ons die gehalte van ons gebede verbeter sodat hulle gevoelvol en sinvol bly?

16 Ons gebede openbaar hoe geestelikgesind ons werklik is. Kan ons die gehalte van ons gebede verbeter en, indien wel, hoe? Ons moet eerstens ons gebede ernstig opneem en uit die hart praat. Deur meer te peins oor God se goedheid en sy goedertierenheid, deur aan hom te dink as ’n liefdevolle Vader wat ook vasstaan vir wat reg is, kan ons met meer innigheid en gevoel bid. Ons sal waarlik uit die hart, in nederigheid met God praat. Ons moet dus daarteen waak dat ons ons gebede aframmel. Al verwaarloos ons ander dinge, moet ons nooit ons gebede verwaarloos nie.

17 Ons kan ook die gehalte van ons gebede verbeter deur ’n groter poging aan te wend om nie dieselfde woorde en uitdrukkings te herhaal nie (Matt. 6:7). Sulke herhaling kan meebring dat gebede nie werklik gevoelvol en sinvol is nie. Woorde wat van buite geleer is, kom heel waarskynlik uit die hoof eerder as uit die hart. Veral Christene wat elke dag die gesin in gebed voorgaan, moet hiervoor oppas. As dieselfde woorde dag na dag gebruik word, kan dit die gedagtes van die hoorders laat dwaal. As ons daagliks oor Skriftuurlike dinge peins en groter waardering vir Jehovah se onverdiende goedheid teenoor ons verkry, sal dit ons help om ons gebede gevoelvol en sinvol te hou.

REGSTREEKSE EN ONREGSTREEKSE BELONINGS

18. Waarom kan party wat nie aan God se vereistes vir aanneemlike gebede voldoen nie tot die gevolgtrekking kom dat hulle gebede verhoor word?

18 Gebed is ’n vorm van aanbidding wat dwarsoor die wêreld beoefen word. Baie mense glo dat God hulle gebede verhoor, selfs al voldoen hulle versoeke nie aan die goddelike vereistes vir gebed nie. Hoe kan hierdie oënskynlike teenstrydigheid verklaar word? Om maar een ding te meld, dit kan bloot toegeskryf word aan die wet van groot getalle. Daar word byvoorbeeld gesê dat alle soldate in skuilgate bid. Aangesien die meeste van hulle gewoonlik die veldslag oorlewe, kan die wat dit oorlewe die gevolgtrekking maak dat God hulle gebede verhoor het. Of dit kon toeval gewees het. Of dit kan andersins verklaar word deur die psigosomatiese beginsel, die uitwerking van die gees op die liggaam.

19. Watter bewys is daar dat Jehovah God wel die gebede verhoor van diegene wat waarlik sy volk is en wat voldoen aan sy vereistes vir gebed?

19 Diegene wat aan die goddelike vereistes vir gebed voldoen, het egter onomstootlike bewys dat Jehovah God wel hulle gebede verhoor. Hulle het Jehovah se seën op hulle gesamentlike en indiwiduele pogings gesien. Gevolglik het ‘die kleinste ’n geslag geword en die geringste ’n magtige nasie’ (Jes. 60:22). In antwoord op hulle gebede het Jehovah sake so bestier dat ‘geen wapen wat teen hulle gesmee is, iets uitgerig het nie’.—Jes. 54:17.

20. Op watter maniere verhoor Jehovah opregte gebede tot hom?

20 Jehovah maak van sy hemelse sowel as sy aardse knegte gebruik om opregte gebede tot hom te verhoor. Soms is dit ’n engel wat sake so reël dat ’n indiwidu wat God biddend soek tuis deur een van Jehovah se knegte besoek word. (Vergelyk Handelinge 10:30-33; 17:26, 27.) Jehovah verhoor ook talle gebede deur sy aardse instrumente te gebruik. Hy kan ’n gedagte by ’n lid van sy volk laat opkom om liefde of goedheid te betoon aan ’n verdienstelike persoon wat in groot nood verkeer. Of ’n persoon kan die antwoord op sy gebed kry deur ’n studie van God se Woord, deur Bybelgebaseerde publikasies sorgvuldig te lees of deur die dinge wat deur die ouere manne in die gemeente onder sy aandag gebring word. Dit is die geval omdat Jehovah se knegte dikwels bid vir geestelike verligting of vir wysheid oor hoe om ’n bepaalde situasie te behartig.

21. Wat is party van die onregstreekse voordele van gebed?

21 Daarbenewens kan ons onregstreeks by gebed baat vind. Die blote feit dat ons ons hart voor Jehovah, ons hemelse Vader, uitgestort het, bring ons nader aan hom. Deur ons waardering in lof en danksegging aan hom te betuig, word ons gehelp om meer vergenoeg met ons lot te wees. Deur Jehovah opreg te smeek, word ons gehelp om nederig te wees en om op hom te steun eerder as op ons eie insig en krag (Spr. 3:5, 6; Filip. 4:13, NW). En wanneer ons bid, is ons gedagtes natuurlik besig met opbouende dinge (Filip. 4:4-8). Wanneer ons byvoorbeeld snags nie kan slaap nie, sal dit beslis beter wees om oor Koninkryksbelange en geestelike sake te bid as om ons te bekommer, griewe te koester, lugkastele te bou of aan vleeslike dinge te dink. Ja, ons wil ‘al ons bekommernis op Jehovah werp, want Hy sorg vir ons’. Indien ons niks vir ons hemelse Vader wegsteek nie, sal dit ons help om die hand in eie boesem te steek en om immer nader aan hom te kom en ’n intiemer verhouding met hom te hê.—1 Pet. 5:7; 2 Kor. 13:5.

22. Wat beteken dit om ons gebede ernstig op te neem, en watter vertroue gee dit ons?

22 Gebed, insluitende lofprysing, danksegging en smeking, is voorwaar ’n kosbare voorreg, en ons kan groot baat daarby vind as ons ons gebede ernstig opneem. As ons bid, toon dit dat ons waarlik geloof het. Ons wil beslis in ooreenstemming met ons gebede optree, hulle nooit aframmel nie, altyd probeer om hulle gehalte te verbeter en nooit in die gewoonte verval om gereeld dieselfde woorde te herhaal nie. As ons dit doen, sal ons onregstreeks baat vind. en kan ons daarvan seker wees dat Jehovah God ons sal beloon deur gebede te verhoor wat in ooreenstemming met sy wil is.

[Prent op bladsy 23]

Ons is God dank verskuldig vir sy Woord, die lewensbenodigdhede, die Christengemeente en die voorregte van gebed en diens

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel