Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 9/1 bl. 11-16
  • Saai met God se koninkryk voor oë

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Saai met God se koninkryk voor oë
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE GELYKENIS VAN ’N MAN WAT DIE SAAD IN DIE GROND GOOI
  • ASPEKTE WAT ONS HELP OM DIE GELYKENIS TE VERSTAAN
  • Dit is “God wat dit laat groei”!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Onderrigting met illustrasies
    Die grootste mens wat nog geleef het
  • Illustrasies oor die Koninkryk
    Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
  • Maai vrug wat geskik is vir God se koninkryk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 9/1 bl. 11-16

Saai met God se koninkryk voor oë

1. Aan watter koninkryk het ’n skooldogter gesê, dat die keiser behoort, en was haar antwoord noodwendig reg?

DIE keiser van ’n land in Sentraal-Europa was op ’n inspeksietoer van ’n openbare skool vir sy onderdane. Hy het ’n paar vrae aan die klas gestel. Hy het glo ’n meisietjie uitgevra na “die planteryk” en “die diereryk” en was ingenome met haar antwoorde. Toe het hy vir haar gevra: “En aan watter koninkryk behoort ek?” Omdat hy verwag het dat sy sou sê, “Die diereryk”, het sy oë vol trane geskiet toe die meisietjie antwoord: “Die koninkryk van God.” Die kerk waaraan die keiser behoort het, het gemeen dat die meisietjie se antwoord reg sowel as eerbiedig was. Maar het hy aan die koninkryk van God behoort? Is hierdie politieke heerser van ’n wêreldse regering werklik tot “die koninkryk van God” toegelaat? Hier is vir ons stof tot nadenke!

2. (a) Hoe verhewe is die regering waartoe persone toegelaat word wat tot God se koninkryk toegelaat word? (b) Hoe het die Jode van Jesus se dag getoon dat hulle nie met daardie koninkryk voor oë gesaai het nie?

2 Toegang tot die koninkryk van God is die grootste eer wat ’n mens op aarde te beurt kan val. Die koninkryk van God is die grootste van alle regerings. Dit was die regering waaroor die Stigter van die Christelike godsdiens in die Midde-Ooste gepreek het. Die geskiedenis sê van Jesus Christus: “Nadat Johannes [die Doper] oorgelewer was [in 30 G.J.], het Jesus in Galilea gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom: bekeer julle en glo die evangelie” (Markus se verslag, hfst. een. ve. 14, 15). Die oorgrote meerderheid Jode het hulle egter nie bekeer en geglo nie. ’n Mens sidder by die gedagte daaraan dat hulle Jesus as ’n vyand van die Romeinse keiser, Caesar, om die lewe gebring het. Hulle het figuurlik gesproke nie met God se koninkryk voor oë gesaai nie. Maar wie van ons doen dit vandag? Hoe kan ons weet? Ons sal sien.

3. Oor watter gelykenis wat Jesus vir ’n gehoor op ’n strand vertel het, het sy dissipels navraag gedoen, en wat het hy oor die oor gesê?

3 Die meeste van ons hou van gelykenisse. Jesus Christus het beroemd geword vir sy gelykenisse of illustrasies. As ’n reisende prediker het hy groot gehore gelok. Eenkeer het hy ’n gehoor op die strand vanuit ’n skuit op die see van Galilea geleer. Hy het ’n gelykenis vertel van vier soorte plaasgrond. Sy intieme dissipels het hom privaat oor die betekenis daarvan uitgevra. Nadat hy dit verduidelik en bykomende kommentare gelewer het, het hy selfs vir hierdie intieme metgeselle gesê: “As iemand ore het om te hoor, laat hom hoor” (Mark. 4:1-23). Ons weet nie hoeveel van die gehoor op die strand sulke ore gehad het nie. Maar Jesus het verwag dat sy dissipels, vir wie hy die verduideliking verstrek het, horende ore moes hê. Deur middel van sulke ore sou die dinge wat hulle by hom gehoor het hulle altyd bybly en vir hulle verligting verskaf. Wie van ons het vandag sulke horende ore? Dit sal ons help om reg te saai met die koninkryk van God voor oë.

4. Hoe belangrik is dit om ’n ‘horende oor’ te hê, en waarom wil ons nie soos die grond langs die pad wees nie?

4 Indien ons nie “ore het om te hoor” nie, sal ons nie aandag skenk aan wat Jesus geleer het nie. Aandag is belangrik, want die Bybelskrywer Markus het voorts geskryf: “Hy het ook vir hulle gesê: ‘Gee aandag aan wat julle hoor!’” (Mark. 4:24, NAB). Ons moet nooit soos die eerste soort grond in Jesus se gelykenis wees nie. Dit was die grond langs die pad. Dit was so vasgetrap dat, dit nie die sade toegelaat het om in te sink nie, maar dit oop en bloot laat lê het sodat voëls daarop kon neerskiet en dit kon opeet (Mark. 4:4, 15). Ons wil nie hê dat Satan die Duiwel deur middel van sy werktuie Christelike waarheid van ons moet wegraap weens ons onoplettendheid nie. Dit sal ’n gebrek aan eerbied verraai vir wat die Onderrigter, Jesus Christus, was en nou in God se reëling is.

5. Wat het Jesus, na sy vermaning om aandag te skenk, gesê oor die maat waarmee mense meet en waarmee daar vir hulle gemeet sal word?

5 ’n Reël wat dikwels gemeld word, is dat ons net soveel uit iets kry as wat ons daarin steek. Jesus het gewys op die voordeel wat ons sal ontvang indien ons die nodige aandag skenk aan wat hy sê. Hy het dit gedoen deur hierdie woorde te voeg by sy vermaning om aandag te skenk: “Met die maat waarmee julle meet, sal vir julle gemeet word, en daar sal bygevoeg word vir julle wat hoor. Want wie het, vir hom sal gegee word; en wie nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het.”—Mark. 4:24, 25.

6. Het Jesus beloof dat mense, wanneer hulle belangstelling toon en aandag skenk, bloot met dieselfde maat vergeld sal word?

6 Indien ons gevolglik weinig belangstelling in Jesus toon en min aandag aan hom skenk, kan ons nie verwag om veel van hom te ontvang, ten minste van wat hy vir ons voorligting en voordeel sê nie. Maar as ons toon dat ons hom wel as ons Onderrigter waardeer en hy ons volle aandag geniet, sal hy reageer deur ’n ooreenstemmende hoeveelheid informasie en verligting aan ons te gee. Hy stel egter nie net daarin belang om met dieselfde maat te meet nie. Maar weens sy vrygewigheid en na sy vermoë sal hy ons seën met meer as wat ons verwag het. Sodoende word ons verryk en is ons beter in staat om ons oorvloed met ander te deel en hulle te help om dinge te begryp.

7, 8. Hoe was Jesus se voorafgaande woorde waar in die geval van sy intieme dissipels, en waarom?

7 ’n Begunstigde dissipel moet die nederigheid en bereidwilligheid om te leer, ja, opregte agting vir sy Onderrigter hê, asook waardering vir wat hy leer. Met so ’n gesindheid sal hy meer ontvang. Na Jesus se toespraak vanaf die skuit het sy intieme dissipels byvoorbeeld nie dadelik die saak as iets van slegs weinig belang uit hulle gedagtes gestel nie. Hulle het sy gelykenis in gedagte gehou. Later het hulle hom privaat versoek om dit te verduidelik. Weens hulle groter pogings om uit te vind wat sy leer beteken, het hulle meer ontvang as die gehoor op die strand. Hulle is nie ontmoedig deur Jesus se vroeër opmerking nie: “Begryp julle nie hierdie gelykenis nie? En hoe sal julle al die gelykenisse verstaan?” (Mark. 4:13). Dit was die toestand waarin die grootste deel van die gehoor op die strand gebly het. Maar Jesus se apostels het die begeerte gehad om te leer en te verstaan. Hulle het hulle dit dus ten doel gestel om vir meer as net die breë trekke te vra. Hulle het gevolglik meer ontvang as wat hulle verwag het. Jesus se volgende woorde was in hulle geval waar:

8 “Aan julle is dit gegee om die verborgenheid van die koninkryk van God te ken, maar vir hulle wat buite is, kom alles deur gelykenisse.”—Mark. 4:11.

9, 10. Hoe het sake vir die buitestaanders verloop, en waarom?

9 Die buitestaanders was tevrede met bloot die breë trekke van die gelykenisse. Hulle het geen brandende begeerte gehad om die feite agter die gelykenisse te wete te kom nie. Hulle het dus geen begrip van die gelykenisse verkry nie. Hulle wou nie die lesse van die gelykenisse toepas nie. Hulle het dus die groter verantwoordelikheid wat met begrip gepaard gaan, ontduik. Omdat hulle nie God se koninkryk eerste wou soek nie, het hulle materiële dinge meer waardeer as geestelike dinge, “die verborgenheid van die koninkryk van God”.

10 Omdat hulle nie die geleentheid aangegryp het wat Jesus se gelykenisse hulle gebied het nie, het die buitestaanders in werklikheid alles verloor. Die kennis wat hulle wel van Jesus se gelykenisse gehad het, is van hulle weggeneem. Deur middel van menslike werktuie of deur middel van okkulte kunste, het Satan die Duiwel dit van hulle weggeraap. Die lig wat hulle wel gehad het omdat hulle Jesus se gelykenisse gehoor het, is deur duisternis gedoof. Die lig van waarheid, wat helderder geword het as die begrip wat hulle as gevolg van Jesus se gelykenisse gehad het, het hulle in betreklike duisternis gelaat, met slegs ’n elementêre kennis van Bybelse dinge. Hulle het dus soos blindes rondgetas.

DIE GELYKENIS VAN ’N MAN WAT DIE SAAD IN DIE GROND GOOI

11. Watter gelykenis het Jesus volgens Markus 4:26-29 toe vertel?

11 Om voorgaande toe te lig, berig Markus 4:26-29: “En Hy [Jesus] het gesê: So is die koninkryk van God, soos wanneer ’n mens die saad in die grond gooi; en hy gaan slaap en staan op, nag en dag, en die saad spruit uit en word groot—hoe, weet hy self nie. Want vanself bring die aarde vrug voort, eers ’n halm, dan ’n aar, dan die volle koring in die aar. En wanneer die vrug dit toelaat, steek hy die sekel dadelik in, omdat die oes daar is.”a

12. Wat meen party Bybelstudente dat hierdie gelykenis omtrent God se koninkryk leer?

12 In Jesus se vroeëre gelykenis wat vanuit ’n skuit gegee is, het hy ’n saaier beskryf wie se saad op vier soorte grond geval het (Mark. 4:1-9). Het daardie saaier dieselfde afgebeeld as die saadgooier in hierdie latere gelykenis? Baie Bybelstudente dink so. Hulle meen dat die man wat die saad uitstrooi ook die vernaamste verkondiger van God se koninkryk, naamlik Jesus Christus, afbeeld. Op grond hiervan redeneer hulle dat die “saad” die lede van die hemelse Koninkryksklas afbeeld. Volgens hulle beeld die hele gelykenis dus die aanwas van die Koninkryksklas af vanaf die 3 000 op Pinksterdag van 33 G.J. tot die volle getal, naamlik 144 000 (Openb. 14:1). In daardie geval moet ons nou in “die oes” van die laaste lede van die erfgename van God se koninkryk wees. Maar so ’n verduideliking van Jesus se gelykenis skep ’n paar onoorkoomlike probleme. Wat kan dit wees?

13. Wanneer het Jesus begin om sy geesverwekte gemeente te bou, en in watter toestand het hy hom destyds bevind?

13 Wel, die gelykenis sê van die man wat die saad gooi: “Hy gaan slaap en staan op, nag en dag.” Hoe pas so ’n beskrywing die verheerlikte Jesus Christus sedert hy sy geesverwekte gemeente op Pinksterdag begin bou het? Dit pas glad nie! Eerste Petrus 3:18 (NW) sê dat Jesus “doodgemaak is in die vlees, maar lewend gemaak is in die gees”, sodat hy nie meer die volmaakte man is wat hy op aarde was nie. Sedert die almagtige God Jesus op Sondag, 16 Nisan 33 G.J., uit die dode opgewek het, is die verhewe Seun van God ‘die afskynsel van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese’.—Hebr. 1:3.

14. Waarom kon die man wat die saad in die grond gegooi het nie die verheerlikte Jesus Christus afbeeld nie bloot weens die feit dat die man snags slaap?

14 Watter gevolgtrekking kan ons hieruit maak? Wel, Psalm 121:1-4 sê: “My hulp is van die HERE wat hemel en aarde gemaak het. Hy kan jou voet nie laat wankel nie; jou Bewaarder kan nie sluimer nie. Kyk, die Bewaarder van Israel sluimer of slaap nie.” (Kyk ook Jeremia 1:12.) Hoe kon die verheerlikte Jesus Christus aan God se regterhand dan moontlik net soos ’n mens op aarde gereeld gaan slaap wanneer die son in die Midde-Ooste ondergaan? Hy het nie meer ’n aardse nag se slaap nodig om gedurende die dag te kan werk nie. ’n Duisend jaar vir ’n man is dan soos ’n blote dag vir Jesus Christus wat soos God is! (Ps. 90:4; 2 Pet. 3:8). Om hierdie rede alleen kan die man wat saad in die grond gooi nooit die verheerlikte, onsterflike Jesus Christus afbeeld nie.b

15. Wat toon of die voormenslike Seun van God geweet het hoe saad groei en hoe die grond vanself vrug voortbring?

15 Nog iets waarop ons moet ag slaan, is dat Jesus se gelykenis voorts sê: “Die saad spruit uit en word groot—hoe, weet hy nie. Want vanself bring die aarde vrug voort” (Mark. 4:27, 28). Indien die saad wat uitspruit en groot word die Christengemeente afbeeld terwyl dit van ’n klein ledetal tot ’n grote groei, beteken dit dat die saaier nie weet hoe die gemeente groei totdat dit uit 144 000 lede bestaan nie. Maar die voormenslike Jesus Christus was ’n medewerker van Jehovah God op die derde skeppingsdag toe “die aarde . . . voortgebring [het] grasspruitjies, plante wat saad gee volgens hulle soorte en bome wat vrugte dra, waarin hulle saad is, volgens hulle soorte” (Gen. 1:12). Die voormenslike Seun van God het dus deeglike kennis gehad van hoe plante groei en hoe die grond vanself geleidelik vrug voortbring.

16. Watter gesig in die laaste boek van die Bybel toon of die verheerlikte Jesus Christus lomerig of aan die slaap is ten opsigte van die groei van die Christengemeentes?

16 Maar wat die gemeente se groei betref, beeld die Bybel se laaste boek, Openbaring—wat geskryf is ongeveer 63 jaar nadat Jesus op Donderdag, 25 Iyyar 33 G.J. (12 Mei 33 G.J.) opgevaar het hemel toe—Jesus Christus af waar hy tussen die sewe kandelare loop wat die sewe gemeentes in Klein-Asië afbeeld. Met sy oë soos ’n “vuurvlam” behoort hy wawyd wakker te wees terwyl hy die geestelike toestand van hierdie sewe vername gemeentes ondersoek. Hy word dus nie afgebeeld as een wat lomerig of aan die slaap is ten opsigte van die groei van die gemeentes nie. Hy moes geweet het hoe daardie gemeentes die geestelike toestand bereik het wat hy beskryf het.—Openb. 1:14; 2:18.

17. Watter gesig wat in Openbaring 5:6 beskryf word, toon of die verheerlikte Jesus Christus afgebeeld kon word deur die man wat saad in die grond gooi en snags slaap?

17 Met verwysing na Jesus se hemelvaart en verskyning in God se hemelse teenwoordigheid, word hy afgebeeld as ’n lam wat pas tevore geslag is, maar wat weer lewe met “sewe oë, wat die sewe Geeste van God is wat uitgestuur is oor die hele aarde” (Openb. 5:6). Sulke sewevoudige gesig van die Lam van God gee glad nie lomerigheid of vaakheid te kenne nie, maar dui eerder aan dat hy voortdurend wawyd wakker is en alles waarneem. Dit is dus duidelik dat die verheerlikte Jesus Christus nie afgebeeld kon word deur die man wat die saad op die grond gooi en wat snags slaap en wat nie weet hoe die saad wat hy gesaai het, groei nie.

18. Wie beeld die man in die gelykenis dus logies af?

18 Wie beeld die man in die gelykenis dan af? Die Evangelieskrywer Markus vestig ons aandag op hierdie boer onmiddellik nadat Jesus vir sy intieme dissipels gesê het dat hulle aandag moet skenk aan wat hulle hoor. ’n Sekere mate van aandag sou beloon word met ’n ooreenstemmende opbrengs, en daar sou selfs meer daarby gevoeg word. Dit is dus redelik dat die man in die gelykenis elke indiwidu afbeeld wat bely dat hy ’n dissipel of leerling van Jesus Christus, die vernaamste Verkondiger van die koninkryk van God is.

ASPEKTE WAT ONS HELP OM DIE GELYKENIS TE VERSTAAN

19, 20. Watter twee hoofsake behels die hele gelykenis, en wat is dus die les van die gelykenis, en wat word beklemtoon, hoeveelheid of gehalte?

19 Jesus het die gelykenis ingelei deur te sê: “So is die koninkryk van God, soos wanneer ’n mens die saad in die grond gooi.”—Mark. 4:26.

20 Ons merk op dat die hele gelykenis twee hoofsake behels. Eerstens, saad word in verband met God se koninkryk gesaai, en tweedens, daar is ’n insameling van die oes wat ontstaan het as gevolg van die saad wat gesaai is. Die gedagte is dus dat net so seker as wat saad gesaai of geplant is, daar ook ’n oes of insameling verwag kan word. Die een volg onvermydelik op die ander. Die gewigtige waarheid is dat dit wat ’n persoon ten opsigte van God se koninkryk saai, aanleiding gee tot wat hy sal oes of maai. Dit is nie soseer die hoeveelheid nie, maar die gehalte van dit wat hy oes wat belangrik is!

21. Het Jesus ingegaan op die soort saad of die soort grond waarop dit gegooi is, en watter vraag ontstaan nogtans oor die saad?

21 Jesus het nie ingegaan op die soort saad of die soort grond wat betrokke was by die plantery nie. Hy het gesê: “Wanneer die vrug dit toelaat, steek hy die sekel [’n klein handinstrument] dadelik in omdat die oes daar is” (Mark. 4:29). Die Jode vir wie Jesus die gelykenis vertel het, het drie oeste gedurende die landboujaar gehad. Die eerste het plaasgevind reg na die Pasga in die noordelike lente waartydens ’n gerf van die garsoes op 16 Nisan deur die hoëpriester by Jerusalem se tempel aangebied is. Vyftig dae daarna het die hoëpriester die eerstelinge van die koringoes by die tempel aangebied, en daarna is hierdie oes ingesamel. Die derde oes was aan die einde van die noordelike somer en is gevier deur die fees van die insameling of die Huttefees wat begin het op die 15de dag van die sewende maanmaand, Tisjri (Ex. 23:14-17). Daar word nie gesê watter een van hierdie drie oeste die oes in die gelykenis is nie. Maar wat beeld die saad wat gesaai is af, ongeag watter soort saad dit was?

22. Wat beeld die saad af indien dit nie lede van die Christengemeente afbeeld nie, en kan die groei van sulke “saad” beheer word?

22 Jesus se gelykenis sê dat die saad uitgespruit en groot en ryp geword het sodat die volle koring in die aar was. Ons het gesê dat die saad wat gesaai is, nie die lede van die Christengemeente afbeeld nie. Soos die volgende artikel sal toon, beeld die saad wat oor die grond gestrooi is die sade van die saaier se persoonlike eienskappe, gesindhede en diensvermoëns ten opsigte van God se koninkryk af. Hy moet hulle asof uit die grond probeer voed. Hierdie karaktereienskappe groei geleidelik totdat hulle ryp is en geoes kan word. Dit is iets wat ons moet dophou, want dit kan beheer word.

[Voetnote]

a Vergelyk die volgende met Die Wagtoring van 15 April 1951, bladsy 124, paragrawe 34 en 35.

b Kyk All the Parables of the Bible deur Lockyer, bladsy 252, paragraaf 8; ook The Pulpit Commentary oor Markus deur Spence en Excell. Deel I, bladsye 159 en 205.

[Prent op bladsy 13]

“So is die koninkryk van God, soos wanneer ’n mens die saad in die grond gooi; en hy gaan slaap en staan op, nag en dag, en die saad spruit uit en word groot.”—Mark. 4:26, 27.

[Prent op bladsy 15]

Elke indiwidu wat bely dat hy ’n dissipel van Jesus Christus is, saai sade van persoonlike eienskappe, gesindhede en diensvermoëns ten opsigte van God se koninkryk

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel