God se Woord is lewend
Abigail ‘n buitengewoon verstandige vrou
IN ABIGAIL was fisiese skoonheid en goeie oordeel mooi gebalanseer. Hierdie verstandige vrou van Karmel het die vrou geword van ’n ryk man van naburige Maon. Haar man was ’n hardvogtige, onredelike persoon en was soos sy naam “Nabal”, wat “dwaas” beteken.—1 Sam. 25:2, 3.
Abigail se wysheid word geopenbaar deur haar besliste optrede in ’n situasie waarby Dawid betrokke was. Die omstandighede was so ernstig dat dit Dawid bloedskuldig voor God kon gemaak het en die dood van elke man in Nabal se huisgesin tot gevolg kon gehad het.
Gedurende die tydperk dat Dawid op bevel van koning Saul voëlvry was, het hy voortgegaan om die belange van sy mede-lsraeliete op die hart te dra. Hy en sy manne het byvoorbeeld Nabal se herders en kuddes teen roofbendes beskerm. In die lig hiervan het Dawid gemeen dat dit net reg was om Nabal ’n geleentheid te bied om sy waardering te betoon vir die dienste wat tot sy voorspoed bygedra het. Skeertyd sou die ideale geleentheid vir Nabal wees om sulke dank te betoon. Daardie geleentheid is baie soos ’n oes beskou en het gepaard gegaan met feesviering.—1 Sam. 25:4-8.
Uit die woestyn van Juda het Dawid dus ’n afvaardiging van 10 manne na Karmel, op die rand van die woestyn, gestuur. Dit was daar dat Nabal sy skape geskeer het. In plaas daarvan om die manne vriendelik te ontvang, het hy hulle uitgeskel. Toe Dawid van die onvriendelike ontvangs hoor, het hy en sowat 400 van sy gewapende manne hulle voorgeneem om Nabal en al die manne van sy huisgesin om die lewe te bring.—1 Sam. 25:9-13.
Nabal se herders het besef dat hulle heer se onbeskoftheid teenoor Dawid se manne slegs moeilikheid vir hulle kon beteken. Daarom het een van die diensknegte vir Abigail vertel wat presies gebeur het. Sy het dadelik besef in watter gevaar Nabal se handelwyse die huisgesin geplaas het. Omdat sy geweet het dat dit nutteloos was om met haar man te probeer redeneer, het Abigail die inisiatief geneem om sake reg te stel. Dit was vir haar belangriker om getrou aan regte beginsels te bly as om ’n man te behaag wat goddelike wet veronagsaam het deur goed met kwaad te vergeld. Uit die oorvloed kos vir haar man se fees het sy 200 brode, twee sakke wyn, vyf toebereide skape, omtrent ’n boesel gebraaide koring, 200 rosynekoeke en 200 vyekoeke geneem. Nadat dit op esels gelaai is, het haar diensknegte hierdie voedsel vir Dawid geneem. Abigail het gevolg.—1 Sam. 25:14-19.
Toe sy Dawid teëkom, het sy voor hom gebuig en by hom gepleit om nie wraak te neem nie. Haar pleidooi het die volgende basiese punte ingesluit: Nabal was ’n dwaas, ’n “deugniet”. Dit het te kenne gegee dat hy onder goddelike veroordeling verkeer het en dat Jehovah teen hom sou optree. Omdat die feite vir hom uiteengesit is, is Dawid deur Jehovah daarvan weerhou om “in bloedskuld te geraak”. Toe het sy hom versoek om die kos vir sy manne te aanvaar.—1 Sam. 25:23-27.
Met volle vertroue dat Jehovah Dawid sou gebruik, het Abigail vervolgens gesê: “Die HERE sal sekerlik vir my heer ’n bestendige huis stig, omdat my heer die oorloë van die HERE voer en in u hele lewe in u geen kwaad gevind is nie. As ’n mens opstaan om u te agtervolg en u lewe te soek, mag die siel van my heer dan saamgebind wees in die bondeltjie van die lewendes by die HERE u God; maar mag Hy die siel van u vyande uit die holte van die slinger wegslinger. En as die HERE aan my heer sal doen volgens al die goeie wat Hy aan u beloof het, en u aanstel as vors oor Israel, dan sal daar vir u geen struikelblok en vir my heer geen gewetenswroeging wees dat u sonder oorsaak bloed vergiet het en my heer homself hulp verskaf het nie; en as die HERE goed sal doen aan my heer, moet u aan u dienares dink.”—1 Sam. 25:28-31.
Op grond van Dawid se reputasie as ’n dapper kryger het Abigail dus besef dat hy Jehovah se gesalfde was. Haar woorde was profeties en het gewys op die tyd wanneer daar ’n koningshuis in Dawid se geslag sou bestaan. Abigail was seker dat Jehovah hom sou beskerm en sy lewe of siel sou bewaar asof in ’n “bondeltjie” waarin ’n persoon iets kosbaars sou toedraai. Dit sou egter slegs die geval wees indien Dawid nie probeer het om self, sonder goddelike hulp, verlossing of redding te verkry nie. Hy het gunstig gereageer.—1 Sam. 25:32-35.
Toe Abigail terugkeer huis toe, het sy Nabal dronk aangetref. Die volgende oggend, toe hy nugter was, het Abigail alles wat gebeur het vir haar man vertel. “Daarop het sy hart in sy binneste gesterwe”, omdat die betekenis van die hele situasie klaarblyklik aanleiding gegee het tot beroerte. Dit lyk of Nabal sowat 10 dae later nog ’n beroerteaanval gehad het, en hierdie keer was dit noodlottig.—1 Sam. 25:36-38.
Hierna het Dawid Abigail gevra om met hom te trou. Toe sy sy huweliksaanbod aanvaar, het Abigail in alle nederigheid gesê: “Hier is u dienares as slavin om die voete van my heer se dienaars te was.” Sy het dus haar bereidwilligheid uitgespreek om die nederigste take te verrig. Saam met vyf diensmeisies het sy begin om die ongerieflike lewe te deel van ’n man wat steeds soos ’n voëlvryverklaarde gelewe het as gevolg van koning Saul. Sy het ’n ruk lank in die Filistynse stad Gat en later in Siklag gewoon. Een van die ontberings wat sy verduur het, was om deur Amalekitiese plunderaars gevange geneem te word. Sy is gelukkig ongedeerd gered.—1 Sam. 25:39-42; 30:1-19.
Abigail se lewe lig duidelik toe wat ’n persoon in God se oë verstandig maak. Sy was nederig en het lojaliteit aan God belangriker geag as lojaliteit aan ’n man. Dit was haar erkenning van goddelike leiding wat haar verstandig gemaak het.
[Prente op bladsy 28]
ABIGAIL
NABAL
DAWID