Vol vertroue in ’n wêreld waar twyfel heers
“Geseënd is die man wat op die HERE vertrou, en wie se vertroue die HERE is.”—Bybel
‘Daar word van ’n geleerde volwassene verwag om ’n spontane en ’n elegante skeptisisme te openbaar.’—Wêreldlike filosofie
1, 2. Wat was die gesindheid van sekere Grieke, en wat het hierdie wêreld se hoë geleerdheid voortgebring?
WAT is waarheid?” Daardie antwoord wat Pontius Pilatus Jesus Christus gegee het, is tipies van die skeptiese houding van baie mense (Joh. 18:38). Daar word van die eertydse Griekse skeptici gesê dat hulle “’n onversteurde gemoedsrus nagestreef het, wat verkry kon word deur strydige argumente voortdurend teen mekaar op te weeg en alles aldus tot ’n staat van onsekerheid en twyfel te bring”.
2 Variante van hierdie skeptisisme is nader aan ons dag ontwikkel deur filosowe soos die Fransman René Descartes, die Hollander Spinoza, die Skot David Hume en die Duitse filosoof Kant. Weens die invloed van hierdie manne en baie ander het sistematiese twyfel ’n geloofsartikel van hoë geleerdheid geword. Universiteite in alle lande het dus ’n geslag twyfelaars voortgebring vir wie “alles relatief is”.
3. (a) Wat is een van die slegte gevolge van sistematiese twyfel? (b) Watter beter gesindheid word in die Bybel voorgestaan?
3 Waar dit oor die slegte gevolge van sulke sistematiese onsekerheid praat, het een gesaghebbende bron gesê dat ’n “gevolg van die relativisme en skeptisisme in ons dag eenvoudig ’n gebrek aan eerbied vir die waarheid as sodanig is”. Hy sê voorts:
Eerbied vir die waarheid is nie bloot die pseudosinisme van ons dag wat probeer om alles te “ontmasker” omdat dit die mening toegedaan is dat niemand en niks waarlik op die waarheid aanspraak kan maak nie. Dit is die gesindheid wat vreugdevol vertrou dat die waarheid wel gevind kan word en wat dan nederig aan die waarheid onderdanig is wanneer en waar dit ook al te voorskyn kom. Sulke vatbaarheid vir die waarheid word vereis van diegene wat die God van waarheid aanbid. . . . Dit is die gesindheid . . . waarvan die [Ou Testament] sowel as die [Nuwe Testament] getuig.—”New International Dictionary of New Testament Theology”, 1978, Deel 3, bladsye 900, 901.
Vreugdevolle vertroue in die waarheid
4, 5. (a) Hoe besiel die Skrif ons met vertroue, nie met twyfel nie? (b) Wat is die goeie gevolge van vatbaarheid vir die “gesonde woorde” van die Bybel?
4 Ja, die hele Bybel besiel sy lesers met vertroue, nie twyfel nie. Die Hebreeuse Skrifte sê: “Geseënd is die man wat op die HERE vertrou, en wie se vertroue die HERE is” (Jer. 17:7). En in die Christelike Griekse Skrifte skryf Paulus: “Ek skaam my nie, want ek weet wie ek geglo het, en ek is oortuig dat Hy mag het om my pand te bewaar tot dié dag toe.” Geen twyfelsug hier nie!—2 Tim. 1:12.
5 Nadat hy aldus sy volkome vertroue in God uitgespreek het, voeg Paulus by: “Hou as voorbeeld van gesonde woorde dié wat jy van my gehoor het, in die geloof en liefde wat in Christus Jesus is” (2 Tim. 1:13). Vatbaarheid vir die “gesonde woorde” wat in die Bybel aangetref word, gee ons meer geloof en liefde asook vreugdevolle vertroue in die waaragtigheid van al die kosbare beloftes wat Jehovah ons gegee het. Dit gee ons weer hoop, “’n anker van die siel wat veilig en vas is”.—Hebr. 6:17-19.
6. Wat het ons self nodig om die “goeie nuus” aan ander te kan verkondig?
6 Dit is sulke vreugdevolle vertroue in die waarheid wat ons in staat stel om uit te gaan en die goeie nuus van God se koninkryk as die enigste hoop vir die mensdom te verkondig. ’n Mens moet deeglik oortuig wees van die waaragtigheid van die boodskap van hoop om dit vir ander te vertel. Ons kan dus vir diegene wat na ons luister, sê: “Ons evangelie het tot julle nie gekom in woord alleen nie, maar ook in krag en in die Heilige Gees en in volle versekerdheid.” “Daarom dank ons God ook sonder ophou dat, toe julle die woord van God ontvang het wat deur ons verkondig is, julle dit aangeneem het nie as die woord van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die woord van God.”—1 Thess. 1:5; 2:13.
7, 8. Wie het die broers in die vroeë Christengemeente gehelp om van twyfelgedagtes ontslae te raak?
7 In die vroeë Christengemeente het getroue opsieners hulle mede-Christene gehelp om van twyfelgedagtes ontslae te raak en om vas te staan in die geloof. Met behulp van die heilige gees het die eerste-eeuse bestuursliggaam, wat bestaan het uit die apostels en ouere manne van die gemeente in Jerusalem, besluite geneem, instruksies gegee en getroue manne uitgestuur om die broers te versterk. In die Bybelboek Handelinge lees ons: “Op hulle [Paulus, Silas en hulle reisgeselle se] reis deur die stede het hulle die verordeninge wat deur die apostels en die ouderlinge in Jerusalem vasgestel was, aan hulle oorgegee om te onderhou. En die gemeentes is versterk in die geloof en het elke dag vermeerder in getal.”—Hand. 16:4, 5; 15:23-29.
8 In sy brief aan die Kolossense het Paulus gesê dat die getroue Christen Epafras hom “altyd ten behoewe van julle inspan in sy gebede, sodat julle eindelik volkome en met vaste oortuiging kan staan in die hele wil van God” (Kol. 4:12, NW). Selfs in daardie dae was daar geen plek vir skeptisisme en twyfel nie. Daardie vroeë Christene het ‘sterk geloof’ en “vaste oortuiging” nodig gehad.
Hoe om twyfelgedagtes af te skud
9. Waarom is Christelike vertroue veral vandag belangrik?
9 Is Christelike vertroue enigsins minder belangrik in ons dag, in ’n wêreld waar daar, om Britse filosoof Bertrand Russell aan te haal, ‘van ’n geleerde volwassene verwag word om ’n spontane en elegante skeptisisme te openbaar’? Nee, vaste oortuiging is in werklikheid selfs belangriker, want “die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk”, is besig om meer as ooit tevore wantroue en twyfel te wek (Ef. 2:2). Die Christen wat twyfelgedagtes koester, moet dus besef hoe gevaarlik dit is en die nodige stappe doen om “eindelik volkome en met vaste oortuiging [te] kan staan”.
10, 11. (a) Watter vrae moet ons onsself afvra wanneer twyfelgedagtes by ons begin posvat? (b) Hoe sal meer as 2 000 000 mense daardie vrae beantwoord?
10 Indien verraderlike twyfelgedagtes ooit by die Christen begin opkom, kan hy gerus eers die situasie goed oordink en homself ’n paar reguit vrae afvra:
Waar het ek geleer dat God se naam Jehovah is, wat daardie naam beteken, wat God se liefdevolle voorneme vir die mensdom is en waarom hy toegelaat het dat lyding so lank op die aarde voortduur?—Ps. 83:18, NW; Openb. 21:3, 4; 2 Pet. 3:9, 13.
Wie het vir my geleer dat Jesus Christus nie die derde lid van ’n drie-enige god is nie, maar Jehovah se eniggebore Seun, en wie het my gehelp om die volle betekenis van verlossing van sonde deur Christus se losprysoffer te verstaan?—Joh. 3:16; 14:28; 1 Kor. 15:27, 28.
Watter geloof het vir my duidelikheid gegee oor die heilige gees, naamlik dat dit nie ’n persoon is nie, maar Jehovah se werkende krag, en waar het ek ’n groep mense gevind wat opreg probeer om die vrug van die gees aan die dag te lê?—Hand. 2:33; Gal. 5:22; Kol. 3:12-14.
Watter godsdiensorganisasie het vir my gewys dat die ou heidense idee van die onsterflikheid van die mensesiel ’n leuen is deur uit die Bybel te bewys dat die siel sterflik is en so ware sin aan die Bybelleerstelling van die opstanding gegee en my bevry van die godonterende leerstelling oor die helse vuur?—Eseg. 18:4; Hand. 24:15; Rom. 6:23.
Wie verkondig God se koninkryk as die mensdom se enigste hoop, en wie het my gehelp om te besef dat ons in die “laaste dae” lewe en dat ons moet “waak” vir die koms van die Seun van die mens?—Mark. 13:10, 33-37; Luk. 21:34-36; 2 Pet. 3:3-7.
By wie het ek ’n ware doel in die lewe, “die vrede van God”, beskerming teen die versoekings en valstrikke van hierdie wêreld en praktiese wysheid om lewensprobleme op te los, gevind?—Matt. 24:45-47; 1 Tim. 3:15; Filip. 4:6-9.
Laastens, watter groep Christene het opreg ‘liefde onder mekaar’ (Joh. 13:34, 35), respekteer waarlik die beginsels in Johannes 17:14, 16 en Jesaja 2:4, en word vervolg, nie omdat hulle hulle met die politiek bemoei nie, maar bloot ‘ter wille van Jesus se naam’, dit wil sê, omdat hulle ware Christene is?—Matt. 24:9; Joh. 15:18, 19.
11 Vir meer as 2 000 000 persone wat in meer as 200 lande woon, is die eerlike antwoord op daardie vrae: Jehovah se Getuies, wat geestelik deur die “getroue en verstandige dienskneg”-klas en sy bestuursliggaam gevoed word.—Vergelyk Lukas 12:42-44.
Behou ’n positiewe gesindheid
12. Waar ontstaan twyfelgedagtes?
12 As ons nie die gees van die wêreld, ’n gees van agterdog, wantroue en skeptisisme wil kry nie, moet ons ons dieper beweegredes dophou. Vir die 11 getroue apostels en ander dissipels wat dit moeilik gevind het om te glo dat hy werklik opgewek is, het Christus gesê: “Waarom is julle ontsteld en waarom kom daar twyfel in julle hart op?” (Luk. 24:38). Ja, dit is waar twyfelgedagtes ontstaan—in die hart.
13, 14. (a) Waarvan kan twyfelgedagtes ’n teken wees? (b) Watter les kan ons by ontroue Israel leer”?
13 Indien ontstellende twyfelgedagtes ons ooit begin kwel, moet ons dus begin deur ons beweegredes te ondersoek. Is ons twyfelgedagtes gegrond, of is hulle ’n verskoning om minder te doen? Verraai hulle ’n gebrek aan volharding? Toon hulle ’n gebrek aan geloof in God se krag om te vergewe? Het die een of ander indiwidu saadjies van twyfel gesaai? (1 Joh. 1:9; Hand. 20:30). Paulus skryf: “Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ’n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie. . . . verhard julle harte nie.”—Hebr. 3:12-15.
14 Indien ons ’n positiewe gesindheid behou en alles onthou wat Jehovah vir ons deur sy Seun Christus Jesus gedoen het en alles wat ons omtrent sy voornemens en beloftes geleer het deur die geestelike voedsel wat deur die “getroue en verstandige dienskneg” voorsien is, sal dit verhoed dat ons ondankbaar word soos Israel, van wie Jehovah gesê het: “’n Os ken sy besitter en ’n esel die krip van sy eienaar, maar Israel het geen kennis nie, my volk verstaan nie.”—Jes. 1:3.
Hulle het hulle vertroue herwin
15. Hoe is een ouere man gehelp om sy twyfelgedagtes af te skud?
15 Een ouere man in die weste van Frankryk het begin twyfel of hy aan God se ware gemeente verbonde is, want volgens hom was die geestelike voedsel wat voorgesit word oënskynlik altyd dieselfde. Hy het dus gevra om onthef te word van sy Christelike pligte as ’n ouere man. Sy gesin en die ander ouere manne het hom egter nie as ’n afvallige bejeën nie. Hulle het hom liefdevol deur middel van gebed en opbouende gesprekke gehelp. Geleidelik is hierdie broer gehelp om te besef dat daar nie voortdurend nuwe verduidelikings kan wees nie, net soos ’n moeder nie drie keer per dag en 365 dae per jaar heeltemal verskillende maaltye kan voorsit nie. Dieselfde basiese bestanddele word op verskillende maniere voorgesit, maar ’n waarderende tong help ’n mens om die voedsel te geniet, dit te verteer en krag daaruit te put. Hierdie broer is ook gehelp om na te dink oor die gebrek aan geestelike voedsel elders. Hy het geleidelik sy vertroue herwin, groter waardering verkry vir die goeie dinge wat hy in die Wagtoring-publikasies geleer het, sy geestelike krag teruggekry en nuwe vreugde in Jehovah se diens gesmaak. Hy dien nou weer as ’n Christelike ouere man.
16. Wat het twyfelgedagtes by ’n jong Franse Getuie laat ontstaan, en hoe is hy reggehelp?
16 ’n Jong Getuie in die suide van Frankryk wat vryheidsgesind was voordat hy die waarheid aanvaar het, het afgekom op ’n boek oor anargisme (“die teorie dat alle regeringsvorms hulle op onregverdige wyse met die vryheid van die indiwidu bemoei en vervang behoort te word deur die vrywillige vereniging van samewerkende groepe”). Hy het dit gelees, dit interessant gevind en meer boeke oor dieselfde onderwerp gekoop. Terwyl hy hulle gelees het, het hy begin om sy geloof te verloor en twyfelgedagtes te koester. Maar hy sê: “Ek het skielik besef dat ek toegelaat het dat slegte geestelike voedsel karaktertrekke van my ou persoonlikheid na vore bring, onder andere ’n gees van opstandigheid.” Twee Wagtoring-artikels het hom reggehelp: “Die weg tot die lewe—nou maar vry” in die nommer van 1 Januarie 1978, en “Hoe God se koninkryk jou tot voordeel kan strek”, in die nommer van 1 April 1978. Hy het sy vertroue herwin, ’n voltydse prediker geword en dien nou as ’n spesiale pionier.
Vertroue bring geluk
17, 18. Wat sê Jakobus oor twyfelaars, en watter raad gee hy aan hulle?
17 Dit is net twee voorbeelde van Christene wat twyfelgedagtes gekoester het maar wat hulle afgeskud het en hulle geluk in God se diens teruggekry het. Indien hulle voor hulle twyfelgedagtes geswig het, sou hulle vandag ongelukkig en sonder hoop gewees het. Die Bybel sê: “Hy wat twyfel, is soos ’n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word” (Jak. 1:6). Ja, twyfelgedagtes maak ons kwesbaar. Jakobus voeg by dat die twyfelaar “’n dubbelhartige man, onbestendig in al sy weë” is.—Jak. 1:8.
18 Sterk vertroue in Jehovah, in sy Woord en in sy organisasie skakel verlammende twyfelgedagtes uit en verskaf ware geluk. Dit is die weg van ware wysheid. Jakobus sê: “As iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word. Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel.”—Jak. 1:5, 6.
19. Waarom moet ons “die gees van die wêreld” vermy, en wat sal ons help om te “volhard in die vertroue waarmee ons begin het”?
19 Indien ons die “gees van die wêreld” verkry, sal twyfel ’n deel van ons denke word. Maar Paulus skryf: “Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het” (1 Kor. 2:12). Indien ons terdeë bewus is van alles “wat God ons uit genade geskenk het”, en indien ons eerlik erken dat ons hierdie dinge geleer het deur die Bybel saam met Jehovah se Getuies te bestudeer, sal ons innige dank aan Jehovah ons beweeg om twyfelgedagtes te verban en om “ent-uit [te] volhard in die vertroue waarmee ons begin het”.—Hebr. 3:14, NAB.
20. Wat is twee belonings van vertroue?
20 Indien ons ‘volhard in ons vertroue’ in God, sy onfeilbare Woord en sy aardse organisasie onder die leiding van Christus, sal ons nou sowel as in die toekoms ryk belonings maai. Een van die, wat nie versmaai moet word nie, is gemoedsrus. Die psalmis het geskryf: “Die wat u wet liefhet, het groot vrede, en vir hulle is daar geen struikelblok nie.” (Ps. 119:165; kyk ook Kolossense 3:15.) Ons heilsame omgang met getroue Christene wat waardering het vir die dinge “wat God ons uit genade” deur sy gees, sy Woord en sy sigbare gemeente “geskenk het”, is ook uiters lonend.—Ps. 1:1-3; 2 Thess. 3:6, 14; Hebr. 10:24, 25.
21, 22. (a) Watter ander voordele hou vertroue in? (b) Wat gaan in die volgende artikel bespreek word?
21 As ons “volhard in die vertroue waarmee ons begin het”, stel dit ons in staat om ywerig in God se diens te wees en sodoende aan Jehovah sowel as onsself vreugde te verskaf (Spr. 27:11). Die vreugde wat ons smaak, is op sigself ’n beloning (Matt. 25:23), maar daarbenewens is dit ’n beskerming, ’n “beskutting” vir ons (Neh. 8:11). Sulke vreugde in Jehovah se diens gee ons ’n positiewe lewensbeskouing, een wat al hoe helderder word namate ons sien hoedat profesieë vervul word. Ons het ’n doel in die lewe. Ons weet waarheen ons gaan. Ons het ’n heerlike hoop wat gevestig is op die “stad” of Messiaanse koninkryk waarna Abraham uitgesien het.—Hebr. 11:10, 16.
22 Maar “die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word” (1 Tim. 4:1). Waarom is dit die geval, en waarom moet ons ons nie te veel daaroor bekommer nie? Ons sal dit in die volgende artikel bespreek.