Wat gee hulle moed?
DIT was 1909. Vier vroue was besig om per motor dwarsoor die Verenigde State te ry—die eerste transkontinentale reis van die aard met ’n vrou agter die stuurwiel. Hulle was besig om deur Nevada te ry toe iets gebeur het wat die bestuurderes groot laat skrik het. Agt-en-sestig jaar later het sy gesê:
“Skielik het ons gesien hoedat ’n dosyn berede Indiane op ons afstorm . . . . almal met gespanne boë. Hulle het die gewone oorlogkrete geskreeu.”
Het die lewens van daardie vroue in gevaar verkeer? Hulle het klaarblyklik so gedink. Maar toe was daar verligting. Alice Huyler Ramsey het vertel: “Skielik het ’n groot prêriehaas oor die pad gehardloop in ’n poging om weg te kom . . . Die Indiane het nie stadiger gery of die minste aandag aan ons geskenk nie. Wat ’n dag!’’
Daardie vroue het nie tyd gehad om moed bymekaar te skraap nie. En hulle vrese was ongegrond. Ons het waarskynlik al almal by tye ongegronde vrese gekoester. By ander geleenthede het ons miskien wel te kampe gehad met situasies wat ware en blywende moed geverg het. Dit was inderdaad dikwels die geval met Christene. Hulle het al herhaaldelik voor beproewinge van hulle geloof te staan gekom, en party was so kwaai dat dit vrees of angs by die meeste mense sou wek.
Hoe was dit vir ware Christene moontlik om sulke groot beproewings van geloof te verduur? Wat gee hulle die moed?
WANDEL MET GOD
’n Gewisse bron van moed is om ‘met God te wandel’, dit wil sê, om ’n weg van geregtigheid te bewandel wat ooreenkom met Jehovah God se geopenbaarde waarheid. Dit beteken dat ’n mens jou lewe skik na die wil en voorneme van God, ongeag wat alle ander mense doen. Vroeg in die mens se geskiedenis het godvresende Henog “met God gewandel”. Die beroemde Noag het ook.—Gen. 5:24; 6:9.
Die meeste Bybellesers sal onthou dat Noag deur God beveel is om ’n yslike ark te bou vir die behoud van mense- en dierelewe. Baie jare lank het hierdie vroom man en sy gesin daardie bouwerk ten aanskoue van spotters verrig. Maar die getroue aartsvader en sy gesin het die nodige moed gehad om daardie Godgegewe taak te voltooi.—Gen. 6:13-22.
Daar het egter iets anders gebeur wat baie moed van hulle geverg het. Voordat Noag die ark begin bou het, ‘het die seuns van God gesien dat die dogters van die mense mooi was, en hulle het vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het’ (Gen. 6:2). Die “seuns van God” wat hier gemeld word, was klaarblyklik nie mansmense nie, want dié het beslis al lank tevore ‘gesien dat die dogters van die mense mooi was’, met hulle getrou en op natuurlike wyse tot die voortbestaan van die mensdom bygedra. Hierdie “seuns van God” was ongehoorsame engele wat hulle behoorlike hemelse plek verlaat het, vleeslike liggame aangeneem het en nou saam met vroue gelewe het. Die Griekse Septuaginta wat in die Alexandrynse Manuskrip aangetref word, sê inderdaad “engele van God” in plaas van “seuns van God” in Genesis 6:4. Dit stem ooreen met die apostel Petrus se woorde oor “die engele wat gesondig het” en Judas se verklaring oor “die engele wat hul eie beginsel nie bewaar het nie, maar hul eie woning verlaat het”.—2 Pet. 2:4; Jud. 6.
Die feit dat die verbintenis van ongehoorsame engele met vroue ’n geslag Nefilim voortgebring het, het dit vir Noag nodig gemaak om nog meer moed aan die dag te lê. Daar word gemeen dat hierdie uitdrukking in Hebreeus “vellers” of “diegene wat ander neervel”, beteken. Hierdie Nefilim, wat ook “geweldiges’’ genoem word, was ’n bastergeslag en tiranne of bullebakke wat bygedra het tot die geweld wat in daardie wêreld voor die Vloed hoogty gevier het.—Gen. 6:4.
Onder sulke omstandighede het Noag homself nie alleen as die arkbouer onderskei nie, maar ook as ’n “prediker van geregtigheid” (2 Pet. 2:5). Ja, hy het die moed gehad om reguit te praat en vir sy tydgenote te vertel dat dit God se voorneme was om die goddelose tydens ’n globale vloed te vernietig. Noag se prediking van geregtigheid het klaarblyklik ’n oproep tot berou en ’n waarskuwing van komende vernietiging ingesluit, want Jesus Christus het na daardie dae verwys en gesê dat die mense “daar geen ag op geslaan het nie totdat die sondvloed gekom en almal weggevoer het”.—Matt. 24:37-39, Die Katolieke Nuwe Testament.
Maar dink ’n oomblik na oor die omstandighede van Noag en sy gesin in daardie tydperk voor die Vloed. Hulle moes ongetwyfeld die spot van manne, vroue en kinders verduur. Voeg daarby die moontlike hoon van die Nefilim, klaarblyklik reuse wat bekend was vir hulle gewelddadigheid. En wat van die verstoflikte, ongehoorsame engele? Sou dit nie moed verg om hulle te trotseer nie?
DIE BRON VAN MOED
Sy gewoonte om ‘met God te wandel’ het ongetwyfeld Noag se moed ten grondslag gelê. Trouens, die enigste manier waarop Noag en sy gesin moedig onder sulke omstandighede kon voortgaan, was deur volkome vertroue in die ware God te stel. En hulle moes glo dat Jehovah ’n einde aan daardie goddelose wêreld sou maak soos hy voorspel het (Gen. 6:3). Daardie aartsvader en sy gesin kon daarbenewens ook die versekering hê dat hulle nie tevergeefs aan die ark gebou het nie. Dit sou mettertyd gebruik word. Hulle moed sou ook verder vergroot word deur ’n intieme persoonlike verhouding met Jehovah, veral met behulp van gebed. En Noag en sy gesin kon sekerlik die vertroue hê dat niks toegelaat sou word om met hulle te gebeur as dit nie God se wil was nie.
Op God se bestemde tyd het die Vloed gekom en is al die spotters en teëstanders weggeneem. Goddelose mense en die Nefilim het in die vloedwaters vergaan. Die ongehoorsame engele was verplig om te dematerialiseer om hulle lewens te red. Maar voortaan sou hulle ingeperk word en slegs in God se onguns verkeer totdat hy in die toekoms sy veroordeling aan hulle voltrek (2 Pet. 2:4). Slegs moedige Noag en sy gesin is op die aarde bewaar en het destyds God se guns geniet.
GODVRUGTIGE MOED VANDAG
Net soos Noag is Jehovah se Getuies vandag ‘predikers van geregtigheid’. Hulle boodskap bestaan uit ’n waarskuwing sowel as ’n oproep tot bekering en versoening met Jehovah God. Terwyl Noag en sy gesin van aangesig tot aangesig met ongehoorsame engele gekom het, het godvresende persone vandag onsigbare vyande. Maar hierdie ware Christene het beskermende geestelike wapenrusting van God ontvang en kan dus moedig met die Godgegewe predikingswerk voortgaan.—Ef. 6:10-18; Matt. 24:14.
God se hedendaagse knegte word deur baie mense bespot en teëgestaan, en hierdie mense maak soms selfs van wrede vervolging gebruik om die lowers van Jehovah die swye op te lê. Maar Jehovah se Getuies word nie afgeskrik nie. Net soos Noag ‘wandel hulle met God’ en is hulle seker dat Jehovah binnekort gaan doen wat hy belowe het—dat hy ’n einde aan hierdie goddelose wêreld gaan maak terwyl hy liefhebbers van geregtigheid sal bewaar (2 Pet. 3:5-13). Die moed van ware Christene word daarbenewens versterk omdat hulle ’n intieme persoonlike verhouding met Jehovah deur gebed het. Hulle besef ook dat niks met hulle sal gebeur indien God dit nie toelaat nie.—Vergelyk Romeine 8:28.
Die wete dat ‘Jehovah sy volk nie sal verwerp nie’ is ’n groot troos (Ps. 94:14). Blote mense kan nie God se voornemens dwarsboom of diegene wat hom liefhet, uitroei nie. Vertroue in Jehovah se beloftes, volkome vertroue op hom en die behoud van ’n intieme persoonlike verhouding met die Allerhoogste is die basiese faktore wat godvresende persone hulle moed gee. En daardie moed onderskraag hulle in tye van groot ontbering en vervolging, soos blyk uit die volgende verhaal.