Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 11/15 bl. 5-7
  • Veiligheid nou en vir ewig

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Veiligheid nou en vir ewig
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ware veiligheid geïdentifiseer
  • Hoe kan ons ons van beskerming verseker?
  • ’n Veilige toekoms—Hoe jy dit kan vind
    ‘n Veilige toekoms—Hoe jy dit kan vind
  • Ware veiligheid—nou en vir ewig
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderwerp vir Gesprekke
    Ons Koninkryksbediening—1985
  • Onderwerp vir Gesprekke
    Ons Koninkryksbediening—1985
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 11/15 bl. 5-7

Veiligheid nou en vir ewig

ONS Skepper, wat die waarde van alles ken, het manne geïnspireer om hierdie raad te gee: “Wie op sy rykdom vertrou, dié sal val.” “’n Koning word nie verlos deur ’n groot leër, ’n held nie gered deur groot krag nie.” “Dit is nie waar dat die perd die oorwinning gee en dat sy groot krag redding bring nie” (Spr. 11:28; Ps. 33:16, 17, NAB). Jesus Christus het die waarheid gepraat toe hy gesê het: “’n Mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.”—Luk. 12:15, NAB.

In ’n milieu waarin misdadigheid toeneem, sal dit natuurlik vir ons nodig wees om sekere praktiese stappe te doen om ons lewe en ons besittings te beveilig. Maar ons moet besef dat hierdie maatreëls hoogstens tydelik is en glad nie ons veiligheid kan waarborg nie. Wat ons eintlik wil hê, is die versekering dat geen omstandighede buite ons beheer ons blywend kan benadeel nie. Is dit moontlik om sulke vertroue te hê? Is daar ’n bron van krag en gesag wat ons lewe nou en vir ewig veilig kan maak? Kan ons veilig lewe selfs wanneer ons deur gewelddadigheid, voedselskaarste en ekonomiese ineenstorting bedreig word?

Ware veiligheid geïdentifiseer

Hier is stof tot nadenke: Waarom was dit in eertydse Israel vir gesinne moontlik om hulle huise en dorpe net so te los en vir hulle godsdiensfeeste na Jerusalem te reis alhoewel hulle deur vyandige nasies omring was? Hoe was dit moontlik dat nie ’n enkele druppel Israelitiese bloed verspil is nie maar 185 000 vyandelike soldate in een nag gedood is toe Jerusalem deur die magtige Assiriese leër bedreig is? (2 Kon. 19:32-35). Hoe kon ’n nasie van sowat driemiljoen manne, vroue en kinders 40 jaar lank aan die lewe bly in ’n “groot en vreeslike woestyn . . . [vol] giftige slange en skerpioene en ’n dorsland sonder water”?—Deut. 8:15.

Jehovah hulle God, die Skepper van alle dinge, was die een wat hulle lewe veilig gemaak het. Dit was net soos die geïnspireerde psalmis Dawid gesê het: “Ek wil in vrede gaan lê en meteens aan die slaap raak: want U, o HERE, alleen laat my in veiligheid woon.”—Ps. 4:9.

Twyfel jy of Jehovah God, ons hemelse Vader, vir ons in die 20ste eeu sal sorg net soos hy destyds vir die Israeliete gesorg het? Gestel jou plaaslike bankbestuurder sê vir jou: “Jy moet jou oor niks bekommer nie. Stel my in kennis wanneer jy iets nodig het en ek sal daarna omsien.” Sal so ’n belofte jou nie veiliger laat voel nie? Dit is natuurlik onwaarskynlik dat ’n bankbestuurder so ’n waarborg sal gee. Jehovah God het egter al sy getroue knegte verseker dat hy in al hulle behoeftes sal voorsien (Matt. 6:31-33). Ons kan ons volle vertroue hierin stel, want die Allerhoogste doen altyd sy woord gestand, soos getoon word deur voorbeelde in die verlede en die hede.—Jos. 21:45.

Wyse koning Salomo het besef dat materiële dinge net beperkte waarde het en het terselfdertyd die intieme verhouding met Jehovah God geniet wat hom in staat gestel het om in veiligheid te woon. Salomo het geskryf: “Die goed van die ryke is sy sterk stad en soos ’n steil muur in sy verbeelding” (Spr. 18:11). Hoe waar tog—“in sy verbeelding”! Die ryk man verbeel hom dat hierdie waardevolle dinge hom in die geval van ’n ramp sal beskerm. Maar hoe dikwels het die ondervinding al getoon dat so ’n “steil muur” nie bestaan nie en geen beskerming bied tydens ekonomiese ineenstorting, voortgaloppende inflasie, politieke omwenteling of dodelike siekte nie!

In Spreuke 18:10 tref Salomo hierdie teenstelling: “Die Naam van die HERE is ’n sterk toring; die regverdige hardloop daarin en word beskut.” Daar is geen krisis wat so groot is of enige omstandighede wat ’n kneg van God in ’n posisie kan plaas waar God hom nie kan help nie. Hier is dan die bron van ware veiligheid—ons persoonlike verhouding met ons liefdevolle Vader.—Ps. 59:17, 18; 62:6-9.

Hoe kan ons ons van beskerming verseker?

Hierdie vertroue kom nie oornag nie. Net soos ’n boom wat elke jaar sterker word en vaster staan na elke storm wat dit oorleef het, word ons geloof in Jehovah versterk wanneer ons sien hoedat sy regverdige weë goeie vrugte in ons lewens afwerp. Ons daaglikse studie van sy Woord, die tyd wat ons aan die verkondiging van die “goeie nuus” wy, ons gereelde gebede tot hom—al hierdie dinge dra tot hierdie persoonlike band by.

Jesaja het die soort veiligheid wat ons begeer met hierdie woorde beskryf: “Hy sal op hoogtes woon, rotsvestings is sy burg; sy brood word hom gegee, sy water is gewis” (Jes. 33:16). Hierdie veiligheid is egter slegs vir diegene wat graag ’n lewe wil lei wat ander tot voordeel strek. Jesaja het ook gesê: “Hy wat in [voortdurende] geregtigheid wandel en spreek wat reg is, wat [onregverdige] gewin deur afpersinge versmaad, wat sy hande uitskud om geen omkoopgeskenk aan te gryp nie, wat sy oor toestop om van geen bloedskuld te hoor nie, en sy oë sluit om wat sleg is, nie te sien nie” (Jes. 33:15, vgl. NW). Hoe is hierdie vereistes vir God se beskerming in ons dag van toepassing?

“Voortdurende geregtigheid” dui op ’n daaglikse strewe om Jehovah se standaarde van geregtigheid en eerlikheid te handhaaf. Die woorde “onregverdige gewin . . . versmaad” herinner ons daaraan dat ons nie die opportunistiese weë van die wêreld moet navolg nie. Iemand wat Jehovah se goedkeuring wil wegdra, sal nie alleen omkoopgeskenke verwerp en sorg dat ’n guns of materiële wins hom nie partydig maak nie, maar hy moet ook ’n persoon wees “wat sy oor toestop om van geen bloedskuld te hoor nie, en sy oë sluit om wat sleg is, nie te sien nie”. Twintigste-eeuse rolprente, boeke en tydskrifte was nie vir die profeet beskikbaar nie, maar ’n persoon wat ’n intieme vriendskap met Jehovah begeer, sal vandag gewelddadige en onsedelike vermaak vermy.

As ons regte beginsels naleef, dra dit tot ons veiligheid by. Wyse koning Salomo het die saak met min woorde opgesom: “Hy wat in opregtheid wandel, wandel veilig.”—Spr. 10:9.

Soms het party Getuies van Jehovah ook ervarings gehad wat hulle as goddelike beskerming beskou het. Beskou byvoorbeeld die geval van broer Z——. Hy het eendag Die Wagtoring in sy motor gesit en lees toe iemand hom skielik van agter om die nek vasgegryp het. Hy het vurig tot Jehovah gebid. Die aanvaller het skielik roerloos bly staan en sy greep verslap. Broer Z—— het die motor aangeskakel, tot siens gesê en weggery terwyl die man soos ’n standbeeld in die middel van die pad bly staan het.

Dan was daar die geval van ’n sendelinge in Kenia. Haar ouers het haar bitterlik teëgestaan toe sy Jehovah begin dien het. Haar vader het gedreig om haar dood te maak indien sy nie ophou om met daardie “wit ape”, soos hy die Getuies genoem het, te assosieer nie. Hy het boewe gehuur om haar leed aan te doen. Sy vertel: “Weens Jehovah se beskerming het hulle my nie een keer in die hande gekry nie.”

Hierdie ervarings lig toe dat Christene wel in moeilike situasies beland. Maar met volle vertroue in Jehovah kan ons daarvan seker wees dat daar absoluut niks is wat ons blywende skade kan berokken nie. Ons hemelse Vader het beloof: “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.” Ons kan dus met vertroue op enige bedreiging vir ons veiligheid reageer deur te sê: “Die Here is vir my ’n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal ’n mens aan my doen?”—Hebr. 13:5, 6.

Eersdaags gaan die hele mensdom ’n krisis beleef wat die oënskynlik beskermende mure van rykdom, militêre mag of politieke mag gaan vernietig. Slegs diegene wat vertrou op die onsigbare dog kragtige hand van Jehovah sal behoue bly en vir ewig veiligheid onder die regverdige bewind van God se koninkryk geniet (Openb. 21:1, 4). Dit kan jou gelukkige lot wees indien jy ’n intieme persoonlike verhouding met die Allerhoogste opgebou het.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel