Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w80 11/15 bl. 14-21
  • Toon besorgdheid oor die “kudde van God”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Toon besorgdheid oor die “kudde van God”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Sorg liefdevol vir die “kudde van God”
  • Waardevolle lesse vir ons
  • Herderswerk tydens vervolging
  • Waak teen afvallige “wolwe”
  • Arbeid ten behoewe van “die kudde”
  • “Die sorg vir al die gemeentes”
  • “Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle sorg is”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Ouere manne, neem julle herdersverantwoordelikhede ernstig op
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Opsieners—wees goeie voorbeelde vir “die kudde”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Herders, volg die grootste Herders na
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
w80 11/15 bl. 14-21

Toon besorgdheid oor die “kudde van God”

“Pas julle self op en die hele kudde wat die Heilige Gees onder julle sorg gestel het. Soos wagters ’n kudde versorg, so moet julle die gemeente van God versorg wat Hy vir Hom verkry het deur die bloed van sy eie Seun.”—Hand. 20:28, NAB.

1. Hoe het Jesus Christus groot besorgdheid getoon oor diegene wat hy met skape vergelyk het?

NIEMAND op aarde het ooit groter besorgdheid oor lede van die mensdom aan die dag gelê as Jesus Christus, die Groot Voorbeeld nie. Hy het na diegene wat na sy stem luister, verwys as sy “skape”. En as die Goeie Herder het hy sy siel of lewe vir hulle afgelê (Joh. 10:11, 27). Na sy opstanding uit die dood het Jesus die nodigheid om spesiale aandag aan hierdie “skape” te skenk by sy apostel Simon Petrus ingeskerp. Hoe het Jesus dit gedoen? Op ’n manier wat Petrus die res van sy aardse lewe waarlik aangedryf het.

2. (a) Hoe het Petrus volgens Johannes 21:15-17 gereageer op die vrae wat sy Meester gestel het? (b) Wat het Jesus daar beklemtoon? Hoe?

2 Jesus het drie keer amper dieselfde vraag aan Petrus gestel. Hy het twee keer gevra: ‘Simon, het jy My waarlik lief?’ Eindelik het Jesus gevra: “Simon, seun van Jona, het jy My lief?” Nadat so te sê dieselfde vraag die derde keer aan hom gestel is, het Petrus bedroef geword en sy Heer nadruklik verseker: “U weet alles, U weet dat ek U liefhet.” Ja, Jesus was terdeë bewus van Petrus se liefde vir hom. Maar die punt was dat die apostel dit oor ’n lang tydperk sou moes bewys. Hoe? Deur besorgdheid oor die “skape” te toon. Elke keer nadat Petrus bevestigend geantwoord het op die vraag wat aan hom gestel is, het Jesus die punt sterker gestel en gesê: (1) “Laat my lammers wei”; (2) “Pas my skape op”; (3) “Laat my skape wei (Joh. 21:15-17). Jesus het dus nie alleen sy persoonlike besorgdheid oor die “skape” uiters doeltreffend beklemtoon nie, maar ook Petrus se swaar toekomstige verantwoordelikheid om vir hulle te sorg, net soos sy Heer so nadruklik getoon het.

3. (a) Hoe het Petrus bewys gelewer van sy liefde vir die “goeie herder”? (b) Wat toon dat Petrus nie al een was wat oor “die kudde” besorg was nie?

3 Dit was ’n onvergeetlike ervaring vir Petrus. Jesus het ongetwyfeld sy apostel se hart bereik. As bewys van sy liefde vir die Goeie Herder, Jesus Christus, sou Petrus nooit nalaat om die “skape” te voed nie. Hy sou liefdevol en pligsgetrou probeer om “die kudde” soos ’n herder te versorg. Omtrent 30 jaar later het Petrus geskryf “aan die vreemdelinge van die verstrooiing”, dit wil sê, aan diegene wat dissipels van Jesus Christus geword het. As deel van die “kudde van God” is hulle herinner aan hulle verlossing uit hulle ydele lewenswandel van vroeër. Hoe is dit gedoen? Nie deur ’n transaksie met gewone dinge soos silwer of goud nie, maar “deur die kosbare bloed van Christus, soos van ’n lam sonder gebrek en vlekkeloos” (1 Pet. 1:18, 19). Petrus het besef dat dit ’n hoë prys was om te betaal. Om dit te betaal moes Jehovah God sy eniggebore Seun opoffer wat hy na hierdie aarde gestuur het om ’n losprys vir baie te gee (Matt. 20:28; Joh. 3:16). Teen die tyd dat Petrus sy eerste brief geskryf het, het die gekoopte lede van “die kudde” toegeneem tot baie duisende. Daar was dus toe meer “skape” as wat Petrus op sy eie kon versorg. Saam met Petrus is daar egter ander bekwame manne verwek wat besorgdheid oor “die kudde” getoon het deur dit te voed, te lei en te beskerm. Hulle het ook besef dat “die kudde” aan Jehovah behoort. En in ons dag besef die tienduisende geestelike onderherders wat die verantwoordelikheid ontvang het om die “kudde van God” wat aan hulle sorg toevertrou is soos herders op te pas, hierdie feit terdeë.

4. Watter gepaste raad oor herderswerk het Petrus gegee toe hy aan ouere manne in die Christengemeente geskryf het?

4 Toe Petrus geïnspireer is om sy eerste brief te skryf, kon hy ongetwyfeld herroep wat Jesus op sy verstand en hart ingeprent het in verband met die versorging van die “skape”. Dit blyk uit die apostel se vermaning wat nie alleen gerig is aan daardie eerste-eeuse onderherders nie, maar ook aan geestelike ouere manne onder God se volk van vandag. Petrus het geskryf: “Ek vermaan die ouderlinge onder julle, ek wat ’n mede-ouderling en getuie van die lyde van Christus is, wat ook ’n deelgenoot is van die heerlikheid wat geopenbaar sal word: Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle is, nie uit dwang nie, maar gewilliglik; nie om vuil gewin nie, maar met bereidwilligheid: ook nie as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde. En wanneer die Opperherder verskyn, sal julle die onverwelklike kroon van heerlikheid ontvang.”—1 Pet. 5:1-4.

Sorg liefdevol vir die “kudde van God”

5. (a) Watter gesindheid moet ’n Christenopsiener hê om sy verantwoordelikheid teenoor “die kudde” goed na te kom? (b) Waarom kan ’n opsiener sake vandag beskou soos Petrus dit beskou het?

5 Omdat Petrus ’n ooggetuie van die lyde van Christus was, het hy beklemtoon hoe belangrik dit is om besorgdheid oor die “kudde van God” te betoon. Net soos die Opperherder, Jesus Christus, sulke besorgdheid getoon het, moet almal wat as herders oor “die kudde” toesig hou dit ook doen. Maar ’n Christenopsiener kan dit beslis nie doen indien hy meen dat hy uit dwang dien nie. Geen aangestelde ouere man moet vandag dink dat hy verplig is om te dien omdat druk op hom uitgeoefen word nie. Wanneer die nakoming van hierdie bevoorregte verantwoordelikheid baie werk vereis, sal die liefdevolle onderherder ’n begeerte toon om te help en van diens te wees. Maar hy sal daardie gees aan die dag lê slegs as hy dieselfde gesindheid het as wat Christus Jesus gehad het, wat nederig was en bereid was om lyding te verduur (Filip. 2:5-8; 1 Pet. 4:1). Indien ’n ouere man besef dat hy self deel is van “die kudde” onder die sorg van die Groot Herder, Jehovah God, en aan Hom en aan die Goeie Herder, Jesus Christus, rekenskap moet gee en nie aan ’n mens nie, sal hy gewilliglik dien sonder om te kla (1 Pet. 2:25). Selfs al was opsieners van vandag nie ooggetuies van Jesus se lyde soos Petrus was nie, is hulle begunstig met die breedvoerige Bybelverslae oor Christus se lewe en bediening. Hulle kan sake dus soos Petrus beskou en dieselfde gees as die apostel hê waar dit by die herderlike versorging van “die kudde” kom.

6. Wat moet opsieners in gedagte hou wanneer hulle met “die kudde” werk?

6 Om ’n behoorlike voorbeeld te stel, moet ’n Christen-onderherder nie belangstel in vuil of selfsugtige gewin of in die verkryging van oormatige vernaamheid nie. Enige ‘grootheid’ wat hy verkry, kom deur homself tot die beskikking van sy broers te stel, deur genaakbaar te wees en deur hulle geestelike belange te bevorder. Omdat hulle weet dat “die kudde” aan Jehovah behoort, wat dit met die bloed van sy Seun gekoop het, ‘heers’ voorbeeldige ouere manne nie ‘oor die erfdeel van God’ nie. Hierdie onderherders behandel “die kudde” eerder teer en beskermend, en volg sodoende die raad en voorbeeld van die Goeie Herder na.—Matt. 20:25-27; Tit. 1:7; vergelyk Esegiël 34:2-4; Judas 16.

7. Hoe toon baie opsieners ware besorgdheid oor “die kudde”?

7 Ons moet waarlik erken dat die oorgrote meerderheid Christen-opsieners vandag op ’n verskeidenheid maniere behoorlike besorgdheid oor “die kudde” toon. Die tyd en aandag wat daaraan gewy word om die “skape” te voed, om persoonlike aandag aan indiwidue te skenk en tydens gemeentelike vergaderinge te presideer, bied goeie voorbeelde vir medegelowiges (1 Tim. 5:17). Beskou ook die goeie leiding wat pligsgetroue onderherders in die veldbedrywigheid gee terwyl hulle na ander ‘skape’ soek en dissipels maak (Matt. 28:19, 20; 2 Tim. 4:5). En wat van die besorgdheid wat getoon word deur “die kudde” te beskerm teen wêreldlike elemente en teen diegene wat “die kudde” wil plunder? (Ef. 4:11-14; Kol. 2:8; Jud. 22, 23). Op hierdie en op talle ander maniere vind die “kudde van God” baat by diegene wat uit liefdevolle besorgdheid oor hulle geestelike welsyn as herders toesig oor hulle hou.

Waardevolle lesse vir ons

8. Wat het die apostel Paulus ten behoewe van die ouere manne van Efese belê om hulle geestelik te bemoedig?

8 Wanneer ons Bybelse verslae lees oor wat eerste-eeuse opsieners ten behoewe van “die kudde” gedoen het, word ons getref deur die goeie voorbeeld van die apostel Paulus. Net soos Petrus het hy ouere manne ook bemoedig. Op reis na Jerusalem het Paulus ’n vergadering met die ouere manne van Efese belê. Hulle het ongetwyfeld die geleentheid om saam met Paulus te verkeer baie waardeer, net soos opsieners vandag van tyd tot tyd vergader om nuttige ondervindings met mekaar te deel, om wedersyds in die geloof versterk te word en om Skriftuurlike vermaning te ontvang.

9. Hoe toon die verslag in Handelinge 20:18-21 dat Paulus ‘n selfopofferende man van God was?

9 Ons kan ’n paar waardevolle lesse leer uit Paulus se bespreking met daardie opsieners van Efese. Die verslag in Handelinge 20:17-38 bied ons ’n dieper insig in die soort voorbeeld wat die apostel vir sy broers, onder andere daardie ouere manne van Efese, gestel het. Was Paulus ’n gemaksugtige prediker wat daarvan gehou het om net deur verskillende dele van Asië te reis? Glad nie. Hy was ’n selfopofferende man van God wat “die Here gedien het met alle nederigheid en baie trane en beproewinge” gedurende die hele tyd dat hy daar was (Hand. 20:18, 19). Hy het nie nagelaat om mense “in die openbaar en van huis tot huis te onderrig” nie, en dit ondanks gevare. Hy was ook nie bang vir wat party lede van die gemeenskap van hom gedink het of vir die dreigemente van teenstanders nie. Paulus het ’n kragtige getuienis in die gebied gelewer.—Hand. 20:20, 21, NW; vergelyk Handelinge 19:1-20:1; 2 Korinthiërs 1:8-11.

Herderswerk tydens vervolging

10. Hoe het talle hedendaagse opsieners Paulus nagevolg in hulle pogings om “die kudde” te help ondanks persoonlike lyding?

10 Die apostel was nou op pad na Jerusalem en was glad nie afgeskrik deur die feit dat “boeie en verdrukkinge’’ daar op hom gewag het nie. Hy was bereid om sy lewe af te lê indien nodig, sodat hy sy loopbaan in getrouheid kon volbring, asook die bediening wat hy van die Here Jesus ontvang het (Hand. 20:22-24). Wat ’n goeie voorbeeld was dit tog vir daardie opsieners in Efese! Paulus was nie net besorg oor diegene wat die “goeie nuus” moes hoor nie, maar ook oor die persone wat die verantwoordelikheid gehad het om die boodskap na ander uit te dra. Is dit nie die soort besorgdheid wat alle aangestelde Christelike ouere manne vandag behoort te toon nie? Ons is bly om te kan sê dat ons wel manne het wat Paulus navolg daar hulle bereid is om hulle lewens te waag ter wille van die “goeie nuus” en om hulle broers te beskerm. In lande waar Christene hewig vervolg word, het talle getroue onderherders lojaal by “die kudde” gebly, selfs al het hierdie verantwoordelike manne die geleentheid gehad om na lande te gaan waar hulle sulke lyding kon vermy. Ter toeligting: Onlangs het ’n ouere man wat reeds baie jare in die tronk was en wreed geslaan is die Verenigde State besoek om opleiding te ontvang wat voorsien is aan die Wagtoringgenootskap se takpersoneel. Hy is die geleentheid gebied om na ’n land te gaan waar daar op die oomblik geen vervolging is nie. Maar hy het verkies om terug te keer na die land waar hy gedien het hoewel dit amper seker is dat hy weer in die tronk sal beland en wreed vervolg sal word. Soos so baie ander Christelike onderherders ag hy die versorging van “die kudde” as ’n kosbaarder voorreg as sy eie vryheid. Sulke opsieners moet waarlik geprys word. Hoe goed tog dat hulle voortgaan om te sorg vir skape wat in benoudheid verkeer’!—Vergelyk Jesaja 32:1, 2.

11. (a) Wat was Paulus se posisie ten opsigte van bloedskuld In die lig van Handelinge 20:25-27, en hoe kan opsieners vandag ’n soortgelyke posisie handhaaf? (b) Hoe voel opsieners begryplikerwyse teenoor persone wat hulle aanvanklik gehelp het om dissipels te word?

11 Dit was onder diegene wat toe opsieners in Efese was dat Paulus “die koninkryk . . . verkondig het”. Hulle het die boodskap uit sy eie mond gehoor. Hy het sy hart voor hulle en ander uitgestort toe hy “die hele raad van God” en nie sy eie idees nie verkondig het. Sy gewete was dus skoon. Geen bloedskuld kon op sy rekening geskryf word omdat hy versuim het om te getuig nie (Hand. 20:25-27). Dit behoort ook die geval te wees met opsieners in hierdie tyd van beproewing, moeilikheid en ontbering wanneer hulle besig is om die algemene predikingswerk oor die Koninkryk te voltooi. Opsieners van vandag weet dat baie afhang van hulle ywerige voorbeeld wanneer hulle leiding in die werk gee. Daarom probeer hulle om so ’n groot aandeel moontlik aan die verkondiging van die “goeie nuus” te hê. So bly hulle ook rein en vry van enige bloedskuld. Ander in die gemeente sien dat hierdie ouere manne die leiding gee in die werk om die goddelose te waarsku en na regskapenes te soek. Gevolglik word sulke medegelowiges aangespoor om hulle goeie voorbeeld na te volg. Net soos in die geval van diegene wat deur Paulus gehelp is, is baie lede van “die kudde” vandag persone wat die boodskap die eerste keer by opsieners gehoor het terwyl dié in hulle gebied getuig het. Noudat sulke persone in die gemeente is, toon opsieners selfs groter besorgdheid oor hulle.—1 Thess. 1:5, 6; 2:7, 8.

12. Hoe moet ons Paulus se verklaring in Handelinge 20:28 verstaan?

12 Paulus se groot besorgdheid oor daardie ouere manne van Efese, asook oor “die kudde” in hulle sorg, word getoon deur sy woorde: “Pas julle self op en die hele kudde wat die Heilige Gees onder julle sorg gestel het. Soos wagters ’n kudde versorg, so moet julle die gemeente van God versorg wat Hy vir Hom verkry het deur die bloed van sy eie Seun” (Hand. 20:28, NAB). Elkeen van daardie manne het sekerlik die nodigheid besef om homself te ondersoek in die lig van die ernstige verantwoordelikheid om “die kudde” soos herders te versorg. Daardie opsieners moes ook Paulus se raad op hulself as ’n liggaam van ouere manne toepas. Hulle moes saamwerk wanneer hulle “die kudde” versorg het. Om die beste resultate te behaal, moes hulle eensgesind wees en soos een man optree. Dit op sigself sou toon dat hulle diep besorg oor “die kudde” was.

13. Wat kan gesê word omtrent die toepassing van Handelinge 20:28 in ons dag?

13 Hoe gepas is dit tog om Paulus se vermaning tot die voordeel van Christelike ouere manne van vandag te gebruik! Dikwels, wanneer reisende opsieners saam met gemeentelike ouere manne vergader het, het hierdie woorde in Handelinge 20:28 al as ’n grondslag vir gesonde raad gedien. Let daarop dat wat daar gesê word nie beteken dat ’n mens net op jouself moet ag gee nie. Die hele liggaam van ouere manne in elke gemeente het eerder die verantwoordelikheid om in die spesifieke behoeftes van “die kudde” te voorsien. Dit is waar selfs al het elke ouere man ’n bepaalde toewysing wat help om hierdie algemene doelwit te bereik. Opsieners moet hulle herderlike verantwoordelikhede pligsgetrou en met liefdevolle besorgdheid nakom in die besef dat “die kudde” vir Jehovah kosbaar is weens die prys waarmee hy dit gekoop het.—Ef. 1:7.

Waak teen afvallige “wolwe”

14. (a) Watter waarskuwing word in Handelinge 20:29, 30 gevind? (b) Waarom was dit tydig vir Paulus om die opsieners van Efese te waarsku?

14 Omdat Paulus geweet het wat na sy dood en die dood van die ander apostels sou gebeur, het hy hierdie waarskuwing gerig: “Ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan” (Hand. 20:29, 30). Later het die apostel Petrus gewaarsku dat daar opportuniste en voorstanders van sektes sou wees wat onbehoedsame, ongeleerde en onvaste mense hulle prooi sal maak (2 Pet. 2:1-3; 3:15, 16). Terwyl die apostels nog gelewe het, het hulle neigings in daardie rigting teëgehou. Maar die Skrif het duidelik ’n groot afval voorspel, en dit het inderdaad gekom. Dit bestaan voort in die vorm van die valse Christendom.—2 Thess. 2:6-10.

15. (a) Waarom moet diegene wat nou as herders oor “die kudde” toesig hou, waaksaam wees? (b) Waarom is dit soms vir ouere manne nodig om volgens die voorskrif in Romeine 16:17-19 op te tree?

15 In hierdie “tyd van die einde” word die Christengetuies van Jehovah onomwonde gewaarsku teen afvalligheid (Dan. 12:4; Matt. 24:9-13). Getroue Christelike onderherders moet gevolglik besorgdheid oor “die kudde” toon deur waaksaam te wees. Hulle moet wakker wees om lede van “die kudde” teen slegte omgang te beskerm (1 Kor. 15:33). Dit is nie maklik om ’n gesonde geestelike beskouing en gesindheid te behou in die lig van die voortdurende druk van die onrein wêreld nie. Dit is waarom elke persoon in die gemeente ag moet slaan op die vermaning: “Gedenk julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het; aanskou die uiteinde van hulle lewenswandel en volg hulle geloof na” (Hebr. 13:7). Soms sal ouere manne dit nodig vind om Skriftuurlike raad te gee en medegelowiges te waarsku teen die invloed van diegene wat hulle eie selfsugtige belange en genot eerder as die geestelike welsyn van “die kudde” as geheel nastreef. Die sterk bewoorde voorskrif wat Paulus in Romeine 16:17-19 gegee het, geld in sulke gevalle. Hy het gesê: “Ek vermaan julle, broeders, hou hulle in die oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer wat julle geleer het, en vermy hulle. Want sulke mense dien nie onse Here Jesus nie, maar hulle eie buik: en hulle verlei deur hul vriendelike en mooi woorde die harte van die eenvoudiges. Want julle gehoorsaamheid het algemeen bekend geword. Daarom verbly ek my oor julle, en ek wens dat julle wys mag wees teenoor wat goed is, maar onskuldig teenoor wat sleg is.”

Arbeid ten behoewe van “die kudde”

16. (a) Wat word getoon deur die feit dat Paulus soms met trane vermaan het? (b) Wat probeer opsieners vandag ywerig vir “die kudde” doen om hulle besorgdheid te toon?

16 Omdat Paulus uitgebreide reise onderneem het, het hy ’n duidelike beeld gehad van wat in die gemeentes van sy tyd plaasgevind het. Hy het geweet dat daar verskeie probleme en gevare bestaan het. Dit is dus te begrype dat hy die ouere manne van Efese aangespoor het om geestelik wakker te bly. Oor ’n tydperk van drie jaar het Paulus sy liefde en besorgdheid getoon deur hulle voortdurend te vermaan, selfs met trane (Hand. 20:31). Sulke herderswerk het klaarblyklik emosionele spanning meegebring. Daardie waaksame en liefdevolle aandag het Paulus uitgeput. Dit is dus nie verbasend dat opsieners vandag soms ’n soortgelyke ervaring het, veral wanneer ernstige probleme hanteer moet word nie. (Vergelyk 2 Korinthiërs 2:4.) In sulke situasies is hulle allereers oor “die kudde” besorg. Hulle werk hard om dit geestelik rein en gesond, vry van suurdeeg, te hou.—1 Kor. 5:6: Gal. 5:7-10; Tit. 2:1.

17. (a) Watter belangrike les moet geleer word uit Paulus se woorde in Handelinge 20:32? (b) Watter uitslag word moontlik gemaak wanneer persone en hulle belange aan Jehovah opgedra word?

17 Deur die opsieners van Efese “aan God en aan die woord van sy genade” op te dra, kon Paulus seker wees dat hulle die beste sorg sou ontvang (Hand. 20:32). Net so kan opsieners vandag, wanneer hulle alles in hulle vermoë gedoen het om raad te gee en hulp te verleen, of ander tugmaatreëls toegepas het wat Skriftuurlik raadsaam was, sake aan God oorlaat. In situasies waar ons dierbare broers en susters in die geloof met ernstige probleme te kampe het, is dit altyd vertroostend om te weet dat as ons hulle en hulle belange in die gebed aan Jehovah opdra en ons op sy Woord, gees en organisasie vir die nodige leiding verlaat, sake altyd volgens sy wil sal verloop. Wat ook al onder daardie omstandighede gebeur, dit sal met God se toestemming wees. (Vergelyk 1 Petrus 2:23.) Dit toon weer eens besorgdheid oor “die kudde”, want dit vestig die aandag op die Een wat die meeste goed in elke situasie kan vermag.

18. (a) Wat was Paulus se beskouing van sy materiële voorsienings? (b) Hoe toon opsieners besorgdheid oor “die kudde” wanneer hulle Paulus se voorbeeld hierin navolg?

18 Met ’n skoon gewete kon Paulus wys op die getuienis dat hy nie probeer het om homself ten koste van sy broers te verryk nie. Hy het met sy eie hande gewerk en dus die genoegdoening gehad om sy eie benodigdhede te voorsien (Hand. 20:33, 34). Toe hy behoeftig was, het hy weliswaar iets van die Christene in Filippi aanvaar. Hy het egter nie sulke gawes gesoek nie, maar eerder die vrug waarmee sulke mededeelsaamheid gepaard gaan (Filip. 4:14-17). Net soos Paulus arbeidsaam was en nie vir vuil gewin gedien het nie, kan opsieners van ons dag ook ’n goeie voorbeeld stel deur te toon dat hulle nie lui is of dat hulle nie probeer om lyf weg te steek nie. Hulle besorgdheid oor “die kudde” verhoed dat hulle ’n las vir die gemeente word.—2 Thess. 3:6-10.

19. Watter uitwerking het dit op opsieners en die gemeente as geheel wanneer daar ooreenkomstig die beginsel in Handelinge 20:35 opgetree word?

19 Omdat hulle gesien het watter eienskappe Paulus in sy lewe en diens aan die dag gelê het, het daardie opsieners van Efese iets gehad om hulle te lei terwyl hulle probeer het om die swakkes te help en hulself bestee het om die gemeente op te bou. Wanneer hulle optree in ooreenstemming met die beginsel dat ‘dit saliger is om te gee as om te ontvang’, stel hedendaagse Christelike opsieners ’n goeie voorbeeld vir ander (Hand. 20:35). Hulle gee inderdaad nie alleen baie nie, maar hulle gee ook rojaal. Wanneer hulle voortgaan om dit te doen, dra dit tot die geluk van almal in die gemeente van Jehovah se Getuies by.

“Die sorg vir al die gemeentes”

20. Tot watter mate was Petrus en Paulus besorg oor “die kudde”?

20 Dit is duidelik dat die goeie voorbeelde wat getroue apostels soos Petrus en Paulus gestel het, buitengewoon was. Hulle het hulle ten behoewe van mede-Christene bestee en nie net oor een gemeente nie, maar oor die hele broederskap diepe besorgdheid getoon (1 Pet. 2:17). Ondanks baie ongerief, probleme en beproewings het die apostels eerstens aan die geestelike welsyn van “die kudde” gedink.

21. (a) Wat was volgens 2 Korinthiërs 11:23-28 party van daardie “dinge van ’n uitwendige aard” wat Paulus ondervind het? (b) Hoe het Paulus sy diepe besorgdheid oor ander getoon?

21 Toe hy aan medegelowiges in Korinthe geskryf het, het Paulus melding gemaak van slae, gevangenisstraf, beproewende ervarings en verskeie gevare waarmee hy te kampe gehad het tydens sy diens as ’n prediker. Toe het die apostel bygevoeg: “Behalwe dit alles [dinge van ’n uitwendige aard] my daaglikse bekommernis, die sorg vir al die gemeentes” (2 Kor. 11:23-28, vgl. NW). Ons kan ons slegs voorstel hoeveel druk Paulus ondervind het en hoe besorg hy oor “al die gemeentes” was, want hy het met ’n aantal Christenmetgeselle in verbinding gebly (2 Tim. 4:9-13). Hy het uitgebreide sendingreise onderneem en ’n aantal van die gemeentes weer besoek (Hand. 15:36). Sy bedrywighede ten behoewe van ander was voorwaar veeleisend. Hy het oor lang tydperke toesprake gehou en gereeld in sinagoges, openbare plekke en van huis tot huis getuig (Hand. 17:2; 19:9, 10; 20:20). Om in sy materiële behoeftes te voorsien en nie ’n las vir die gemeente te wees nie, was dit vir Paulus nodig om sekulêre werk te doen (Hand. 18:1-3; 2 Thess. 3:8, 9). Die apostel het klaarblyklik ook baie tyd gewy aan ’n studie van God se Woord, en die kennis wat hy aldus verkry het, het hom ongetwyfeld goed te staan gekom toe hy deur God geïnspireer is om sowat 14 van die 27 boeke wat die Christelike Griekse Skrifte uitmaak te skryf. Paulus was voorwaar ’n baie besige man, maar hy het voortgegaan en altyd groot besorgdheid oor “die kudde” aan die dag gelê.

22, 23. (a) Wat is party van die maniere waarop daar in ons dag vir die “kudde van God” voorsiening gemaak word? (b) Waarvan getuig al hierdie voorsienings, en watter uitwerking moet dit op ons hê?

22 Daar word vandag ’n ontsaglike hoeveelheid werk ten behoewe van die “kudde van God” gedoen. Daar is nou meer as 42 000 gemeentes van Jehovah se volk. Dink net aan al die aandag wat aan hulle behoeftes geskenk moet word. Die “getroue en verstandige dienskneg” voorsien gereeld geestelike voedsel (Matt. 24:45-47). Programme vir gemeentelike vergaderinge en kring- en streekbyeenkomste word gereeld voorsien sodat Christene vir geestelik opbouende studie, aanbidding en assosiasie byeen kan kom (Hebr. 10:23-25). Reisende opsieners word gestuur om al die gemeentes te besoek en in hulle spesiale behoeftes te voorsien. (Vergelyk Handelinge 16:4, 5.) Briewe wat raad en bemoediging bevat, word aan gemeentes en liggame van ouere manne gestuur. (Vergelyk Filippense 1:1; 1 Petrus 5:12; Judas 3.) Ander reëlings, te veel om op te noem, word getref om die “kudde van God” geestelik en andersins te help.

23 Hierdie werk verg ’n ontsaglike hoeveelheid tyd, inspanning en geld. Maar waarvan getuig dit? Dit toon dat Jehovah vir sy volk sorg. Deur sy Seun, die Goeie Herder, openbaar God voortreflike herdersvermoë (Jes. 40:10, 11). Tienduisende onderherders is aangestel deur die heilige gees en help om as herders toesig te hou oor die “kudde van God”. Al hierdie dinge getuig van ’n liefdevolle besorgdheid oor “die kudde” as geheel en oor die indiwidue wat “die kudde” uitmaak. Mag ons persoonlik hartgrondige waardering toon vir die liefde wat die Groot Herder, Jehovah God, en sy Seun, Jesus Christus, deur al hulle tere sorg vir ons bewys het.

[Prent op bladsy 14]

“Laat my skape wei”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel