God se Woord is lewend
Twee vroue met ’n problem
DIT is Paulus wat hier besig is om te preek. En die twee vroue by hom is Euodia en Sintiche, lede van die eersteeeuse Christengemeente in die stad Filippi.
’n Aantal jare later het Paulus uit Rome aan die gemeente in Filippi geskryf: “Wees hierdie vroue behulpsaam wat met my saamgestry het in die evangelie” (Filippense 4:3). Waarom het Paulus dit oor Euodia en Sintiche geskryf?
Paulus het verneem dat ’n probleem tussen die twee vroue ontstaan het en dat hulle nie met mekaar oor die weg gekom het nie. Hy het dus geskryf: “Ek vermaan Euodia en ek vermaan Sintiche om eensgesind te wees in die Here” (Filippense 4:2). Die Bybel sê nie wat hulle probleem was nie, maar dit was ernstig genoeg sodat Paulus honderde kilometers daarvandaan in Rome daarvan te hore gekom het. Die twee was moontlik jaloers op mekaar. Of hulle het miskien ’n ernstige meningsverskil gehad, soos jy hier kan sien, en het nie meer met mekaar gepraat nie. Wat ook al die probleem was, Paulus het hulle vermaan in ’n brief wat aan die hele gemeente gerig was.—Filippense 1:1.
Wel, het Euodia en Sintiche na die raad geluister en hulle geskille uit die weg geruim? Die Bybel sê nie. Maar omdat hulle goeie vroue was wat tevore saam met Paulus in die bediening gearbei het, kan ons ons net voorstel dat hulle ná die vergadering na mekaar gegaan en hulle probleem op ’n liefdevolle wyse uitgestryk het. Hulle kon hulle andersyds verhard het oor die raad. Hulle kon die houding aangeneem het: ‘Watter reg het Paulus om ons probleem voor die hele gemeente te bespreek?’ Hulle geskille kon gevolglik voortgeduur en selfs vererger het. Gestel dit het gebeur.
Wel, hierdie brief aan die Filippense is omstreeks 60 G.J. geskryf. ’n Paar jaar later het groot vervolging teen Christene in Rome uitgebreek. Gestel hierdie vervolging het na Filippi uitgebrei en Euodia en Sintiche is in die tronk gegooi, soos Paulus en Silas jare tevore daar in die tronk gegooi is? (Handelinge 16:19-34). Gestel hulle is in dieselfde tronk en boonop in dieselfde sel opgesluit!
Wat kon gebeur het indien hulle nie eensgesind was nie en hulle geskille in haat vir mekaar verander het? Hulle kon mekaar geestelik afgebreek en moontlik mekaar se verhouding met Jehovah God vernietig het. Hoe jammer sou dit tog gewees het! En hoe jammer sou dit tog vandag wees as ons nie vurige liefde vir mekaar het wanneer die “groot verdrukking” oor hierdie stelsel losbars nie!—Mattheüs 24:21.