Hoe kan ons ons “eerste liefde” behou?
1. Het God se volk as geheel hulle “eerste liefde” in hierdie laaste dae verloor?
“U VOLK sal baie gewillig wees op die dag van u krygsmag” (Psalm 110:3). Soos hierdie profesie voorspel het, doen God se hedendaagse knegte sy wil op kragtige wyse en behou hulle hul eerste liefde vir Jehovah. As ’n georganiseerde volk het Jehovah se Getuies hulle geesdrif en ywer vir sy diens reg deur hierdie moeilike “voleinding van die wêreld” behou.—Mattheüs 24:3, 14.
2, 3. (a) Waarom kan ’n individu sy “eerste liefde” verloor? (b) Wat moet ons doen as ons vind dat so ’n gesindheid in ons ontwikkel?
2 Dit is nietemin moontlik vir ’n individuele Christen om sy eerste liefde te verloor. Daaglikse probleme kan hom die groot dinge wat Jehovah vir hom gedoen het, laat vergeet. Hy kan moeg word om te wag dat Jehovah se voornemens verwesenlik moet word en kan aangetrek word deur die materiële voordele wat die wêreld bied of dink dat dit nodig is om meer tyd aan ontspanning te wy as tevore. Christelike verantwoordelikhede, soos die bywoning van vergaderinge of byeenkomste, die voorbereiding van toesprake en deelname aan velddiens kan ’n las word.
3 As ons vind dat sulke gesindhede in ons ontwikkel, moet ons Jesus se raad aan die gemeente in Efese volg en weer ons “eerste liefde” aankweek en probeer om “die eerste werke” te doen (Openbaring 2:4, 5). Ons moet besef dat ons ons voormalige, vurige liefde vir Jehovah en ons ywer en geesdrif vir sy diens moet herwin. Hoe kan ons dit doen?
Kweek liefde vir Jehovah aan
4. Hoe kan ons die psalmis se goeie gesindheid navolg? (Psalm 119:97).
4 Die geïnspireerde psalmis het gesê: “Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag” (Psalm 119:97). Watter wonderlike gesindheid teenoor God se wet! Dit is baie lonender om Jehovah met so ’n gesindheid te dien as om onsself voortdurend te dwing om te doen wat ons weet reg is. Ons moet ’n begeerte ontwikkel om te doen wat reg is sodat ons dit doen omdat ons dit wil doen.—Psalm 25:4, 5.
5. (a) Wat het Paulus aanbeveel om ons geestelikheid te beskerm? (b) Hoe kan ons seker maak dat dit doeltreffend bly?
5 Satan sou graag druk op ons wil uitoefen sodat ons ons “eerste liefde” verloor, want hy is die grootste vyand van ons geestelikheid. Om hom teë te staan, het die apostel Paulus die Efesiërs aangespoor om “die volle wapenrusting van God” op te neem (Efesiërs 6:13). Daardie wapenrusting sluit vier noodsaaklike Christenkenmerke in: waarheid, geregtigheid, geloof en die hoop op verlossing (Efesiërs 6:14-17; 1 Thessalonicense 5:8, NTP). Ons leer natuurlik van hierdie kenmerke wanneer ons die eerste keer in die gemeente inkom. Maar ’n wapenrusting van metaal kan verroes as dit nie in stand gehou word nie. As ons nie hierdie noodsaaklike dinge handhaaf nie, sal ons geestelike wapenrusting eweneens agteruitgaan en ons nie voldoende beskerm nie. Ons moet tot elke prys verhoed dat dit gebeur.
Studeer en peins
6. Hoe het een sendeling die probleem om sy geestelikheid in die tronk te behou, opgelos?
6 In 1958 het die sendeling Stanley Jones ’n vonnis van sewe jaar in eensame opsluiting in ’n tronk in China begin uitdien. Hoe het hy sy liefde vir Jehovah sterk gehou terwyl hy van sy Christenbroers afgeskei en selfs sonder ’n Bybel was? Hy vertel dat hy al die tekste wat hy kon onthou, neergeskryf het en enige Bybelaanhaling wat hy gevind het in die godsdiensrubrieke van koerante wat soms aan hom gestuur is, daarby gevoeg het. So het hy ’n versameling Bybeltekste opgebou wat die grondslag vir ’n program van persoonlike studie en bepeinsing gevorm het. Omdat hy omring was deur mense wat gekant was teen sy opvattings, het hy geweet dat sy geloof gou sou kwyn as hy nie sy hart en verstand met God se gedagtes gevul het nie.
7. Met watter druk het ons te kampe, en hoe moet ons ons daarteen beskerm?
7 Die meeste van ons is weliswaar nie in die tronk nie. Ons word nietemin ’n groot deel van die tyd blootgestel aan die denke van hierdie wêreld. Hoewel die vermaak wat die wêreld aanbied nie altyd regstreeks teen Christelike beginsels indruis nie, bevorder dit beslis nie dinge soos waarheid, geregtigheid, geloof en die hoop op verlossing nie. As ons dus nie tyd daaraan wy om ons harte en verstande te versterk nie, sal ons waarskynlik geestelik swak word en sal ons liefde verkoel.
8. Watter seën ontvang die persoon wat God se Woord bestudeer en daaroor peins?
8 As ons ons wel versterk deur middel van persoonlike studie en bepeinsing, sal ons wees soos die man wie se ‘behae in die wet van Jehovah is’ en wat dag en nag met gedempte stem in daardie wet lees. Die psalmis sê van so ’n man: “Hy sal wees soos ’n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit.”—Psalm 1:2, 3.
9. Hoe kan ons ’n liefde vir Bybelstudie en bepeinsing ontwikkel? (Psalm 77:12, 13).
9 As ons realisties wil wees, moet ons egter erken dat baie van ons nie van nature daarvan hou om te studeer nie. Maar as ons wil, kan ons onsself leer om studie te geniet. Dink aan iemand wat begin draf vir tydverdryf. Aanvanklik sal sy spiere waarskynlik seer wees. Maar sy liggaam sal hom geleidelik aanpas, en as die drawwer daarin volhard, sal hy gou sy oefening geniet. Paulus het vir Timotheüs gesê: “Oefen jou in die godsaligheid” (1 Timotheüs 4:7). Bybelstudie is deel van die godsaligheid (Spreuke 2:1-6). Aanvanklik sal dit dissipline verg om dit te doen. Maar ons sal dit weldra baie interessant vind om nuwe gedagtes te leer of groter insig te verkry in dinge wat ons reeds ken. Dan sal ons studie vir ons ware genot verskaf.—Psalm 119:103, 104.
10. Waarom word studiemateriaal meer as een keer in studiehulpe gedek?
10 Sommige meen dalk dat hulle nie meer persoonlike studie hoef te doen nie omdat hulle die basiese leerstellings van die Bybel ken. Hulle kla dalk selfs wanneer soortgelyke materiaal meer as een keer in Bybelstudiepublikasies behandel word. Die Bybel sê egter dat mense aan sekere dinge herinner moet word (Psalm 119:95, 99, NW; 2 Petrus 3:1; Judas 5). As ons onsself nie voortdurend aan die waarheid, aan God se regverdige standaarde, aan ons geloof en ons hoop op verlossing herinner nie, sal ons hart deur ander dinge beïnvloed word.
11. Wat is sommige van die dinge wat Paulus in sy brief aan die Efesiërs bespreek het?
11 Beskou Paulus se brief aan die Efesiërs. Hy het hulle herinner aan hulle situasie voordat hulle Christene geword het, en hy het gepraat van die organisasie waarvan hulle nou deel was (Efesiërs 2:12; 4:4-6, 17, 18). Hy het Jehovah se wonderlike voorneme met die mensdom gemeld asook die mens se rol in daardie voorneme (Efesiërs 1:8-12; 2:4-6). En hy het hulle herinner aan Christelike beginsels wat hulle sou help om welslae in die gesin en in die gemeente te behaal.—Efesiërs 4:1, 2; 5:21-6:4.
12. Waarom het Paulus dinge vir die Efesiërs vertel wat hulle reeds geweet het?
12 Party van die dinge wat Paulus geskryf het, was dalk nuut vir die Christene in Efese, maar hulle het sekerlik al ’n groot deel daarvan tevore gehoor. Paulus wou hulle nietemin aan hierdie dinge herinner en moontlik nuwe insig bied. Sodoende het hy die Efesiërs gehelp om hulle geestelike wapenrusting op te knap en om “saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is”.—Efesiërs 1:15-17; 3:14-19.
13, 14. (a) Hoe sal studie en bepeinsing ons help? (b) Watter verdere dinge is deel van die “wapenrusting van God”?
13 Ons persoonlike studie sal ons ook verkwik, ons begrip van talle basiese waarhede verbreed en ons help om die dieper dinge van God se Woord te snap (1 Korinthiërs 2:10). So sal ons “wapenrusting van God” voorkom dat Satan ons vurige liefde vir Jehovah en sy Seun blus.
14 Die apostel Paulus het onder meer nog twee dele van ons geestelike wapenrusting gemeld wat ons nog nie bespreek het nie. Hy het gesê dat Christene geskoei moet wees met “die bereidheid vir die evangelie van vrede” en dat hulle “die swaard van die Gees—dit is die woord van God” moet aanneem (Efesiërs 6:11-17). Hoe help hierdie dinge ons om ons “eerste liefde” te behou?
Bly bedrywig in Koninkryksprediking
15. Watter ongewone metode het een sendeling in die tronk gebruik om “oorvloedig in die werk van die Here” te wees? (1 Korinthiërs 15:58).
15 Toe die sendeling Harold King in 1958 begin het om ’n vonnis van vier en ’n half jaar in die tronk in China uit te dien, het hy dieselfde probleem as Stanley Jones gehad: hoe om sy “eerste liefde”, sy innige toegewydheid aan Jehovah, lewend te hou. Hy sê: “Om my waardering vir geestelike dinge lewendig te hou, het ek ’n program van ‘predikingswerk’ opgestel.” Hy het Bybelpreke saamgestel uit die tekste wat hy onthou het en vir denkbeeldige karakters gepreek. Eindelik het hy ’n denkbeeldige Bybelstudie gehou. Die gevolg? Toe hy vrygelaat is, was hy gereed en gretig om weer vir regte mense te preek!
16. Wat is een belangrike rede waarom ons besig moet bly in Jehovah se diens?
16 Sy metode was ’n ongewone toepassing van ’n belangrike waarheid: Om geestelik gesond te bly, moet ons besig bly in God se diens. Die apostel Petrus het gesê: “Omgord die lendene van julle verstand [vir aktiwiteit]” (1 Petrus 1:13, vgl. NW). En die apostel Paulus het vermaan: “Wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.”—1 Korinthiërs 15:58.
17. Wat was opmerklik omtrent getroue Christene in die gemeente in Filadelfia?
17 Dit is opmerklik dat terwyl die Christene in Efese toegelaat het dat hulle “eerste liefde” verkoel, die lede van ’n ander gemeente daar naby besig gebly het en dat hulle liefde nog steeds sterk was. Jesus het vir die getroue gemeente in Filadelfia gesê: “Ek ken jou werke. Kyk, Ek het voor jou ’n geopende deur gegee, en niemand kan dit sluit nie.”—Openbaring 3:8.
18. Watter bedrywigheid sal help om ons “eerste liefde” lewend te hou?
18 Watter werke sal ’n hedendaagse getuie van Jehovah help om sy “eerste liefde” te behou? Onder meer dade wat strook met Jesus se bevel: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies” (Mattheüs 28:19). Harold King het die belangrikheid hiervan besef. So ook die apostel Paulus. Dit is waarom Paulus die Efesiërs aangeraai het om geskoei te wees met “die bereidheid vir die evangelie van vrede” en om toegerus te wees met “die swaard van die Gees—dit is die woord van God”.
19. Hoe versterk die predikingswerk ons ywer, ofskoon dit ook bewys van ons ywer is?
19 Ywer en die werk om te preek en dissipels te maak is nou verwant. Ywer wek weliswaar die begeerte by ons om hierdie werk te doen. Maar die predikingswerk sal weer ons ywer vergroot. Nadat Jesus vir ‘n Samaritaanse vrou gepreek het, het hy vir sy volgelinge gesê: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het” (Johannes 4:34). Wanneer hy die waarheid aan ander geleer het, het dit hom gevoed, hom versterk. Wanneer ons met ander oor God se Koninkryk praat, skerp dit eweneens lewensbelangrike feite by ons verstand en hart in en maak dit ons bekwamer om die waarheid te verdedig (1 Petrus 3:15). Namate God se gees ons in hierdie werk onderskraag, word ons daarbenewens “vurig van gees” en sien ons hoe dit op ander inwerk.—Romeine 12:11.
20. Hoe werk die predikingswerk en persoonlike studie saam om ons sterk te hou?
20 Is die predikingswerk ’n plaasvervanger vir persoonlike studie? Nee. Balans is nodig tussen hierdie twee bedrywighede. As ons baie stoflike kos eet maar geen oefening kry nie, sal ons liggaam eindelik daaronder ly. As ons andersyds baie oefening kry maar nie genoeg eet nie, sal ons eindelik fisies ‘uitbrand’. As ons eweneens baie persoonlike studie doen sonder om vir ander te preek, sal ons waarskynlik ongebalanseerd word. Die apostel Petrus het “aktiwiteit” met ‘nugterheid van verstand’ geassosieer (1 Petrus 1:13, vgl. NW). As ons vir ander preek sonder om persoonlike studie te doen—veral as die mense vir wie ons preek nie juis gehoor gee nie—kan ons ‘uitbrand’. As ons egter persoonlike studie doen en dan vir ander gaan vertel wat ons geleer het, sal ons geestelik gesond bly.
Koop die tyd uit
21, 22. (a) Watter groot hindernis het Satan opgewerp om dit vir ons moeilik te maak om ons “eerste liefde” te behou? (b) Hoe het Paulus aanbeveel dat die Efesiërs hierdie hindernis te bowe kom, en waarom moet ons sy raad volg?
21 Stanley Jones het een van die grootste probleme waarmee hy in die tronk te kampe gehad het, beskryf en gesê: “Ek het soveel tyd tot my beskikking gehad.” Sy probleem was net mooi die teenoorgestelde van wat baie van Jehovah se Getuies vandag ondervind. Die meeste van ons het gedurig te min tyd. Waarom? Die apostel Johannes het gesê: “Die hele wêreld [lê] in die mag van die Bose” (1 Johannes 5:19). Satan se wêreld hou mense voortdurend so besig dat hulle min geleentheid het om te dink, wat nog te sê studeer. Ons is nie deel van die wêreld nie, maar ons ondervind beslis die uitwerking van sy lewenswyse. Deur sy invloed te gebruik, probeer “die Bose” om ons so besig te hou dat ons diens aan God verdring word.
22 Paulus het hierdie probleem herken en die volgende waardevolle raad aan die Efesiërs gegee: “Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse; en koop die tyd uit, omdat die dae boos is. Daarom moet julle nie onverstandig wees nie, maar verstaan wat die wil van die Here is” (Efesiërs 5:15-17). As ons versuim om die tyd uit te koop om “die wil van die Here” te doen, sal die druk van die lewe in hierdie ‘bose dae’ waarskynlik ons liefde laat verkoel.
23. Watter soort persoonlike studie en predikingswerk sal help om ons “eerste liefde” lewend te hou?
23 Sommige Christene het weliswaar swaar verantwoordelikhede of is siek en kan gevolglik nie veel in God se diens verrig nie (Lukas 21:1-4). Maar in ooreenstemming met Paulus se raad aan Christendiensknegte moet ons wat ons ook al kan doen “van harte” doen (Efesiërs 6:5, 6). Persoonlike studie sal nooit aangenaam wees as ons net ’n paar minute tussen televisieprogramme daarvoor afknyp nie. En ons veldbediening sal nouliks ons “eerste liefde” en ywer lewend hou as ons elke maand net een of twee uur vormdiens tussen tydperke van ontspanning verrig.—Vergelyk 1 Timotheus 4:8.
Bid om hulp
24. Watter verdere, lewensbelangrike hulp om ons geestelikheid te bewaar het Paulus vir die Efesiërs gemeld?
24 Paulus het sy bespreking van “die volle wapenrusting van God” afgesluit deur medegelowiges aan te spoor om “die swaard van die Gees—dit is die woord van God—[aan te neem] terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees” (Efesiërs 6:17, 18). As ons deur gebed in noue aanraking met Jehovah bly, sal ons nie ons “eerste liefde” verloor nie, al moet ons dan ook baie druk verduur of al het ons, soos Johannes, al baie jare in hierdie stelsel gedien. Paulus het in ’n ander brief gesê: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.”—Filippense 4:13, NTP.
25. Ter opsomming, watter voorsienings het Jehovah gemaak om ons te help om nie ons “eerste liefde” te verloor nie?
25 Die meeste van ons word van tyd tot tyd moeg. Maar Jesus se boodskap aan die gemeente in Efese toon dat ons kan en moet sorg dat ons nie ons “eerste liefde” verloor nie. Net soos Jehovah die Efesiërs deur middel van Paulus, Timotheüs en ander gehelp het, help hy ons vandag deur sy organisasie. As ons op ons beurt leer om studie en bepeinsing te geniet en ‘die lendene van ons verstand omgord’ vir die voortreflike werk om vir ander te vertel wat ons leer terwyl ons tot Jehovah bid om hulp om voort te gaan om sy wil te doen, dan doen ons ’n goeie werk. Laat ons, in ooreenstemming met wat die apostel Paulus vir die Galasiërs gesê het. “nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie”.—Galasiërs 6:9.
Hoe sou jy die volgende beantwoord?
◻ Wat kan met ons liefde vir Jehovah gebeur as ons nie tyd opsysit om God se Woord te bestudeer en daaroor te peins nie?
◻ Waarom is dit vir ons belangrik om nie net nuwe waarhede te bestudeer nie, maar ook waarhede en beginsels wat ons tevore gehoor het?
◻ Waarom is dit noodsaaklik om vir ander te preek as ons ons “eerste liefde” wil behou?
◻ Hoe werk studie en die predikingswerk saam om ons geestelik gesond te hou?
◻ Waarom moet ons nooit gebed verwaarloos in ons strewe om ons “eerste liefde” te behou nie?
[Prent op bladsy 19]
Studie kan aangenaam wees, en dit hou ons liefde vir God sterk
[Prent op bladsy 21]
Dit versterk ons liefde vir Jehovah as ons met ander oor die waarheid praat