Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 1/15 bl. 23-26
  • Plig of plesier−Wat stel jy eerste?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Plig of plesier−Wat stel jy eerste?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ons pligte
  • Verbode plesier
  • Beginsels in verband met plesier
  • Die nakoming van pligte verskaf plesier
  • Ons moet ons pligsbesef verskerp
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Watter soort liefde maak ons werklik gelukkig?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • Verbied die Bybel seksuele genot?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Waarom uiterstes vermy?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 1/15 bl. 23-26

Plig of plesier−Wat stel jy eerste?

DIE Skepper, Jehovah God, het ons kiesende wesens gemaak. Dit wil sê, hy het ons die vermoë en die vryheid gegee om te kies wat ons wil doen. Soms beteken dit dat ons tussen plig en plesier moet kies.

Die gewilde Engelse rympie sê: “When duty and pleasure clash, let pleasure go to smash.” Hoewel plig en plesier dikwels bots, hoef dit nie noodwendig die geval te wees nie. Maar wat stel ons eerste wanneer hulle wel bots? Plig word gedefinieer as ‘dit wat ’n persoon onder morele verpligting staan om te doen of nie te doen nie’. Plesier is die ‘gevoel van bevrediging; genot’, behaaglikheid.

Ons pligte

Soos Jesus Christus getoon het, is ons vernaamste pligte en verpligtinge dié teenoor ons Maker, Jehovah God (Markus 12:29, 30). Een van God se vernaamste take vir sy hedendaagse knegte is om vir sy naam en Koninkryk te getuig en dissipels te maak (Jesaja 43:10-12, NW; Mattheüs 10:7; 24:14; 28:19, 20). Om hierdie pligte behoorlik te vervul, moet Christene voortdurend Bybelkennis inneem, gereeld met medeaanbidders assosieer en in die gebed volhard, ’n Christen se vernaamste pligte behels dus hierdie ander pligte.—1 Timotheüs 4:16; Hebreërs 10:23-25; Romeine 12:12; Prediker 12:13.

Ons het ook verpligtinge teenoor ons medemens. Dit is hoofsaaklik van ’n wêreldlike of sekulêre aard. Ons moet ‘werk as ons wil eet’, want ons kan nie verwag dat ander ons moet onderhou nie. Dit is net reg dat ons ons gesinne van die nodige voorsien. Ons moet die landswette, soos verkeersreëls, gehoorsaam en ons moet ons belastings betaal.—Romeine 12:17; 13:1-7; 2 Thessalonicense 3:10; 1 Timotheüs 5:8.

Ons het pligte teenoor God, pligte teenoor ons gesin, pligte teenoor ons naaste, en, ja, pligte teenoor onsself. Pligte, pligte, pligte! Beteken dit dat daar geen tyd of geleentheid vir persoonlike plesier is nie? Nee, dit beteken net dat ons plesier op sy plek moet hou. Ons moet nie word soos baie mense in hierdie “laaste dae”, mense by wie ‘plesier meer tel as God’ nie.—2 Timotheüs 3:1, 4, Die Lewende Bybel.

Verbode plesier

Om plesier op sy plek te hou, moet ons besef dat sekere soorte plesier nie met ons pligte versoen kan word nie, want dit het geen plek in ons Christelike lewens nie. Daar is vandag mense wat “net vir die pret” verkeersreëls veronagsaam, winkeldiefstal pleeg of hulle aan ander vorme van wetsoortreding skuldig maak. Al sulke dade is klaarblyklik verbode “plesier”.

Ander persone jaag plesier na deur middel van dwelms en word dwelmslawe. Ander put weer genot uit die gebruik van een of ander vorm van tabak. Sulke gewoontes bots ook met ons pligte teenoor God en ons naaste. Christene moet ’n vry volk wees, moet naasteliefde bewys en word vermaan om hulle ‘van alle besoedeling van die vlees en die gees te reinig’.—2 Korinthiërs 7:1; Mattheüs 22:39; Romeine 6:6, 16; 13:10.

Die algemeenste vorm van verbode plesier waaraan mense hulle vandag oorgee, is ongetwyfeld ongeoorloofde seks. Al sulke “welluste” druis in teen ons pligte teenoor God en naaste (Jakobus 4:3; Spreuke 6:20-35). Ons moet nie net geslagsomgang self vermy nie, maar ons moet ook nie daarmee speel nie. Die blote feit dat sulke onsedelike genietinge verbode is, maak hulle skynbaar selfs begeerliker en aangenamer, net soos die hoer dan ook roep: “Gesteelde waters is soet, en brood in die geheim geëet, is lekker”—Spreuke 9:17.

Waarom is sulke genietinge aanloklik vir die sondige vlees? Want “die versinsels van die mens se hart is sleg van sy jeug af”, ’n Christen moet dus ‘sy liggaam kasty en dit diensbaar maak’, net soos die apostel Paulus gedoen het (Genesis 8:21; 1 Korinthiërs 9:27). Ons moet nie voor hierdie ongeoorloofde genietinge swig as ons God se goedkeuring wil wegdra nie.—1 Korinthiërs 6:9-11.

Beginsels in verband met plesier

Daar is baie vorme van plesier wat Christene mag geniet. Maar om dit op sy plek te hou, moet ons genieting daarvan bepaal word deur die leidende beginsels van gehalte, hoeveelheid, tyd en koste. Ter toeligting: Die algemeenste plesier wat mense die meeste geniet, is ongetwyfeld om te eet. Dit was ongetwyfeld goedertierenheid aan God se kant om dit ’n plesier te maak. Ons kan sê dat hierdie plesier afgebaken word deur die beginsel dat ‘ons eet om te lewe, nie lewe om te eet nie’.

Omdat beginsels beheer wat ons eet, sal ons kosse wil kies wat nie net lekker is nie, maar ook voedsaam is. Ons sal ook versigtig wil wees om nie meer te eet as wat vir ons goed is nie. Ons moet ook ag slaan op wanneer ons eet. Dit is bekend dat groot maaltye konsentrasie belemmer en nie goed is vir aktiwiteit wat groot vaardigheid verg nie. Net soos ’n professionele sanger nie ’n yslike biefstuk of ’n kalkoen sal eet net voordat hy ’n konsert hou nie, moet ons dit ook nie doen net voordat ons ’n moeilike toewysing behartig of ’n Bybellesing hou nie. Trouens, ’n groot maaltyd kan ’n mens selfs verhinder om iemand anders se Bybeltoespraak te geniet. Mense met allergieë of suikersiekte of wat baie geset is, het natuurlik des te meer rede om ag te slaan op die beginsels van gehalte, hoeveelheid en tyd wanneer hulle die plesier om te eet geniet. Ons wil ook nie onverskillig staan teenoor die koste daarvan sodat ons buitensporige bedrae vir hierdie plesier betaal nie.

Nog iets wat baie mense geniet, is om na televisieprogramme te kyk. As Christene wil ons sorg dat die programme waarna ons kyk aangenaam sowel as heilsaam, indien nie ook leersaam, is nie. Dan wil ons ook versigtig wees wat die hoeveelheid betref deur nie te veel tyd voor die TV deur te bring nie sodat ons dalk te min slaap kry of nie ons pligte nakom nie. Tyd moet ook in aanmerking geneem word, want ons wil nooit hê dat TV-programme inbreuk moet maak op ons rus of Christelike bedrywighede soos die bywoning van gemeentelike vergaderinge nie.

Die dinge wat geld vir TV-kykery as vorm van plesier, geld ewe veel vir rolprente of sportbyeenkomste. Dit is werklik nie gepas om by ’n stadion na ’n balwedstryd te kyk wanneer ons saam met medeChristene na ’n Bybeltoespraak moet luister nie, nie waar nie? Ons moet ook nie toelaat dat ons liefde vir musiek ons dieselfde fout laat begaan nie.

’n Stokperdjie kan ook baie genot verskaf. Maar ook hier moet ons selfbeheersing beoefen en eerste dinge eerste stel. Gestel ons stokperdjie bring ons in aanraking met mense wat rook en vuil taal gebruik. Of gestel ons stokperdjie is te duur, benadeel ons gesondheid of veroorsaak ontbering vir ons gesin. Sal dit dan nie gepas wees om liewer ’n ander stokperdjie te kry nie?

Maar selfs al is daar niks afkeurenswaardig omtrent ons stokperdjie of tydverdryf nie, moet ons sorg dat ons dit op sy plek hou. ’n Getroude man is dalk lief vir rolbal. Maar as sy gesin nie saam met hom rolbal kan speel nie, sal dit verstandig en liefdevol van hom wees as hy hierdie bedrywigheid beperk. Hy sal ook nie ’n rolbaltoernooi wil bywoon as dit sou beteken dat hy ’n Christelike byeenkoms moet misloop nie. Wat vir rolbal geld, geld natuurlik net soveel vir ander ontspanningsbedrywighede soos staptogte, swem of die seilsport.

Vakansies word as tye vir plesier beskou. Maar as Christene wil ons hier ook nie ons waaksaamheid ten opsigte van ons gedrag verslap net omdat ons onder vreemdelinge is of baie tyd tot ons beskikking het nie. Ons sal ook nie besigtigingsreise onderneem of plesieroorde besoek wanneer ons byeenkomste van Jehovah se Getuies moet bywoon nie.

Die nakoming van pligte verskaf plesier

Ja, die nakoming van pligte kan groot plesier verskaf. Hoewel baie mense meen dat pligte en plesier teenoorgesteldes van mekaar is, hoef dit nie die geval te wees nie. Die feit is dat ons baie plesier kan put uit die nakoming van ons pligte—as ons die regte gesindheid het. Dit was ongetwyfeld baie aangenaam vir die eerste man. Adam, om sy tuiste, die pragtige, parkagtige tuin in Eden te versorg. Dit moes hom ook baie plesier verskaf het om al die diere in daardie tuin te leer ken en aan hulle name te gee. En toe Jehovah God die vrou Eva na Adam gebring het, het sy plesier en geluk geen perke geken nie, soos blyk uit Genesis 2:15, 18-23.

’n Getroude man kan genot put uit nuttige werk, ongeag die aard daarvan, as hy dit beskou as ’n middel tot ’n doel—’n manier om op eerbare wyse vir homself en sy gesin te sorg. Dit geld ook vir ’n vrou met die regte gesindheid. Die taak om haar huis silwerskoon te hou, die voorbereiding van smaaklike, voedsame maaltye vir haar gesin, ensovoorts, kan haar groot plesier verskaf.

Jehovah se Getuies is ’n uitstekende voorbeeld van mense wat genot put uit die nakoming van pligte. Hulle put groot vreugde uit Bybelstudie en nuwe waarhede. In hierdie opsigte voel hulle soos die psalmis wat gesê het: “Oor u woord is ek so bly soos iemand wat ’n groot skat in die hande gekry het.”—Psalm 119:162, NTP.

Jehovah se Getuies geniet dit ook om by hulle gemeentelike vergaderinge en gereelde byeenkomste bymekaar te kom. Daarbenewens vind hierdie Christene dat Jesus se woorde waar is: “Dit is saliger om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Deur die evangelie van God se Koninkryk van huis tot huis te verkondig, vervul hulle in die besonder ’n plig teenoor God en die mens. Wanneer hulle iemand vind wat gewillig is om te luister en die Bybel met hulle te bespreek, en veral wanneer hierdie persoon ‘bewus is van sy geestelike behoefte’ verskaf hulle werk vir hulle vreugde en tevredenheid.—Mattheüs 5:3, NW.

Ons moet ons pligsbesef verskerp

Wat sal ons help om ons pligsbesef te verskerp en plesier op sy plek te hou? Regverdigheid en redelikheid sal help. Ons moet byvoorbeeld regverdig wees om waarlik vrygewig te wees. Dit sou beslis onregverdig wees om ander dermate te help dat ons ons gesin van die lewensbenodigdhede beroof. En redelikheid laat ons besef dat die mate waarin ons ons plig versuim, ons onsself en ander dermate veronreg en benadeel. Aangesien ons nie wil hê dat ander mense ons moet benadeel nie, moet ons hulle nie benadeel nie.—Lukas 6:31.

Liefde in die besonder sal ons help om plig voor plesier te stel. Die liefde vir God beteken dat ons sy gebooie bewaar en ons pligte teenoor God nakom (1 Johannes 5:3). Liefde vir ons naaste sal ons besorg maak oor sy welsyn, nie net oor ons eie nie.—1 Korinthiërs 10:24.

Daar is dus ongetwyfeld plek vir plesier in ons lewe. Die nakoming van ons pligte kan ons groot plesier verskaf. En ons kan ook ander plesier geniet as ons dit beheer en die soorte vermy wat met ons pligte bots. Laat ons dus let op die gehalte, hoeveelheid en koste van ons plesier, asook die tyd wat ons daaraan wy. Dit kom natuurlik daarop neer dat ons plig voor plesier stel.

[Prent op bladsy25]

Dit is vir Jehovah se Getuies ’n groot plesier om hulle plig na te kom deur die goeie nuus te verkondig

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel