Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 2/1 bl. 15-20
  • Wees oorvloedig in die hoop!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wees oorvloedig in die hoop!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Verkry ’n langtermynbeskouing
  • Jehovah se “dag van wraak”
  • Beskerming in die “Paradys”
  • Die aarde glorieryk gemaak
  • “Sien julle in die Paradys!”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) — 2018
  • Paradys—Vir Jou?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Beloof die Bybel ’n aardse paradys?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 2/1 bl. 15-20

Wees oorvloedig in die hoop!

“Mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees!”—ROMEINE 15:13.

1, 2. (a) Watter rede het Paulus verstrek waarom ons ‘oorvloedig in die hoop’ kan wees? (b) Hoe wys Jesaja se profesie op hierdie hoop?

OORVLOEDIG in die hoop? Watter rede het ons om ‘oorvloedig in die hoop’ te wees in ’n wêreld wat so duister soos hierdie een is, waar misdadigheid en onsedelikheid op die strate loer, waar hongersnood en ondervoeding meer as ’n miljard mense verswelg het en waar kernwapens soos ’n swaard van Damokles oor die hele mensdom hang? Net voordat die apostel Paulus die voorgaande bede geuiter het, het hy ’n rede verstrek deur die profeet Jesaja soos volg aan te haal: “Hy wat opstaan om oor die nasies te heers, op Hom sal die nasies hoop.”—Romeine 15:12.

2 Paulus het hier uit Jesaja 11:1-10 aangehaal. Dit is ’n voorspelling oor die heidene of nasies wat hoop op Jesus, afgebeeld deur koning Dawid, die seun van Isai. Waar die Evangelieskrywer Mattheús Hom beskryf het, het hy ook Jesaja aangehaal: “Kyk, my Kneg wat Ek uitverkies het, my Geliefde in wie my siel ’n welbehae het! Ek sal my Gees op Hom lê, en Hy sal aan die nasies die reg aankondig. . . . En op sy Naam sal die heidene hoop.”—Mattheüs 12:18-21; Jesaja 42:1, 4.

3, 4. (a) Watter “naam” het Jesus nou, en waarom? (b) Hoe moet ons Openbaring 19:10, 11 verstaan?

3 Waarom sou die nasies op Jesus se naam hoop? Dit is as gevolg van alles wat sy naam verteenwoordig. Terwyl Jesus ’n mens hier op aarde was, het hy ’n “naam” gemaak as ’n onberispelike handhawer van onkreukbaarheid. Vervolging, smaad, foltering—niks kon keer dat hy tot die dood toe lojaal God se wil doen nie. “Daarom”, verduidelik die apostel Paulus, “het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ’n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.”—Filippense 2:9-11.

4 Jesus se naam verteenwoordig nou die hoë amp waartoe Jehovah hom verhef het as Hoëpriester en Koning “aan die regterhand van die troon van die Majesteit in die hemele”. Hy is die Een wat genoem word “Getrou en Waaragtig” en op wie se koms die ganse profetiese woord die aandag vestig, “want die getuienis van Jesus is die gees van die profesie”.—Hebreërs 8:1; Openbaring 19:10, 11.

5. Waarom moet ons veral vandag ‘oorvloedig wees in die hoop’?

5 Waarom moet ons vandag ‘oorvloedig wees in die hoop’? Dit is omdat die profetiese woord toon dat hierdie Jesus op die punt staan om al die skade wat die sondaar Adam die mensdom aangedoen het, ongedaan te maak. “Want soos deur die ongehoorsaamheid van die een mens baie tot sondaars gestel is, so sal ook deur die gehoorsaamheid van die Één baie tot regverdiges gestel word” (Romeine 5:19). As God se Hoëpriester in die hemele sal Jesus die verdienste van sy volmaakte menseoffer aanwend om die hele gehoorsame mensdom, duisendmiljoene verrese dode inkluis, tot menslike volmaaktheid te herstel, met die vooruitsig om vir ewig in geluk op ’n paradysaarde te lewe. Jesus “moet as koning heers totdat [God] al sy vyande onder sy voete gestel het. Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.” Dan sal alle mense volmaakte lewe in daardie vreedsame paradys geniet.—1 Korinthiërs 15:25, 26; Psalm 72:3, 7; Jesaja 33:24.

Verkry ’n langtermynbeskouing

6. (a) Slegs hoe kan ons ’n langtermynbeskouing van God se voornemens verkry? (b) Hoe kan dit ons tot voordeel strek?

6 Dit is slegs deur die Bybel dat ons kan leer wat die ware doel van die lewe is. Slegs God, deur sy Woord, kan verduidelik waar ons vandaan kom, waarom ons hier is en wat die toekoms vir ons inhou (Jesaja 46:9, 10; 2 Timotheüs 3:16). Die Bybel gee vir ons ’n langtermynbeskouing van die ontplooiing van die Soewereine Heer Jehovah se voornemens. Dit deel ons mee hoe ons tot in alle ewigheid ’n verfrissende aandeel in die doen van sy wil kan hê!—Psalm 37:31, 34.

7. Hoe is Jesus se profetiese “teken” vervul?

7 Die profetiese “teken” waarvan Jesus teen die einde van sy aardse bediening gepraat het, is nou op merkwaardige wyse vervul. Jesus sit nou op sy heerlike, hemelse troon, vanwaar hy die nasies van die aarde oordeel en die mense van mekaar skei “soos die herder die skape van die bokke afskei”. Dit word gedoen op grond van hulle reaksie op die Koninkryksboodskap soos verkondig deur Christus se “broeders”, die gesalfde getuies van Jehovah wat God nog steeds hier op aarde dien (Mattheüs 24:3-14; 25:31-40, 46). Maar maak dit Jesus Jehovah God se gelyke, of selfs sy meerdere?

8. (a) Waarom het Jehovah Jesus sy mede-Koning gemaak? (b) Hoe gaan Jesus sy onderworpenheid aan die Vader toon?

8 Nee, want “God [is] die hoof van Christus”, en God is immers “die Koning van die ewigheid” en Soewerein oor sy ganse skepping (1 Korinthiërs 11:3; 1 Timotheüs 1:17, NW; Openbaring 4:11). Dit was slegs nadat opstand sy lelike kop in die Paradys van Eden uitgesteek het dat Jehovah gesê het hy ’n mede-Koning gaan verwek—die “saad” van die belofte—“om die werke van die duiwel te verbreek” (Genesis 3:15; 1 Johannes 3:8). Maar nadat Christus Jehovah se naam en soewereiniteit geregverdig en die mensdom tot volmaaktheid in die herstelde paradys op aarde verhef het, sal hy “die koninkryk aan God die Vader oorgee” en sal die Seun homself ook aan God onderwerp.—1 Korinthiërs 15:24-28.

9. (a) Hoe beskryf Jesaja Jehovah se majesteit? (b) Wat toon die Skrif is die kanaal vir redding?

9 Waar die profeet Jesaja van “die Majestueuse, Jehovah” praat, erken hy: “Jehovah is ons Regter, Jehovah is ons Wetgewer, Jehovah is ons Koning; hý sal ons red.” Redding kom van Jehovah, deur Christus Jesus, ’n waarheid wat alle persone wat die lewe nastreef, moet aanneem (Jesaja 33:21, 22, NW; 12:2; Handelinge 2:21; 4:12; Romeine 10:13; Openbaring 7:10). Nadat die profeet Jesaja van Jehovah gepraat het as die Majestueuse wat oor almal is, toon hy hoe Hy diegene red wat Hom liefhet, en met watter doel Hy dit doen.

Jehovah se “dag van wraak”

10. Watter oordeel word in Jesaja 34:1-4 uitgespreek, en waarom?

10 Die wêreldlike nasies het ’n skokkende reputasie van wanbestuur, en hulle het God se regverdige Koninkryk in die hande van sy Christus verwerp. Daarom rig die profeet Jesaja die volgende woorde tot hulle: “Kom nader, o  volke, om te hoor; en nasies, luister! Laat die aarde hoor, en die volheid daarvan, die wêreld en alles wat daaruit voortkom. Want die toorn van die Here is oor al die nasies, en grimmigheid oor al hulle leërskare; Hy het hulle met die banvloek getref. Hy het hulle oorgegee om geslag te word. En hulle gesneuweldes sal weggewerp word, en die stank van hulle lyke gaan op, en die berge smelt van hulle bloed. En al die leërskare van die hemel vergaan, en die hemel [onbekwame menseregering] word inmekaar gerol soos ’n boek en al sy leërskare val af soos ’n blad van die wingerdstok afval en soos vye afval van die vyeboom.”—Jesaja 34:1-4.a

11. (a) Wat sê Jehovah in Jesaja 34:5-7 oor Edom? (b) Wat was Edom, en wat is sy hedendaagse teenbeeld?

11 Dit is sterk woorde daardie! En die oordeel wat Jehovah self vervolgens teen die volk van Edom uitspreek, is ook ontsagwekkend: “Want my swaard het dronk geword in die hemel; kyk, dit kom af op Edom en op die volk van my banvloek, om geoordeel te word” (Jesaja 34:5-7). Edom, die afstammelinge van Jakob se broer Esau (bygenaamd Edom), was ’n ou vyand van die nasie Israel, die afstammelinge van Jakob. En hy het sy hedendaagse teenbeeld. Wat is dit? Wel, wie het die voortou geneem om die 20ste-eeuse geestelike Israel uit te skel en te vervolg? Is dit nie die afvallige Christendom onder leiding van sy trotse geestelikeklas nie? Die geestelikes aan albei kante het nie alleen die twee wêreldoorloë van ons eeu van harte gesteun nie, maar hulle het hulle bloedskuld vergroot deur wêreldlike regerings te oorreed om Jehovah se Getuies, wat die aardse verteenwoordigers van die hemelse Jerusalem, of Sion, is, in die ban te doen en selfs om die lewe te bring.

12. (a) Hoe vergeld Jehovah “Edom”? (b) Op watter maniere het Jehovah se Getuies hulle van die Christendom se kerke afgeskei?

12 God se profeet sê dus: “Die HERE hou ’n dag van wraak, ’n jaar van vergelding in die regsaak van Sion” (Jesaja 34:8). Hoe raak dit die hedendaagse “Edom”? Dit word verwoes, soos die volgende verse in Jesaja 34:9-17 toon. Sedert die naoorlogse jaar 1919 het die Christendom se kerke inderdaad in ’n geestelike sin ’n dooie ding, ’n verwoesting, geword uit die standpunt van die Soewereine Heer Jehovah. Dit is die oorheersende deel van “Babilon die Grote”, die bloedskuldige wêreldryk van valse godsdiens, wat in ’n geestelike sin na die Eerste Wêreldoorlog ’n groot val ondervind het omdat dit deur Jehovah veroordeel is. Jehovah se Getuies het hulle afgeskei van die geestelik dooie, hedendaagse “Edom”. Hulle het geen deel aan die interkerklike bewegings, die politieke agitasie of sektariese windmakery daarvan nie. Hierdie afvallige stelsel sal binnekort geheel en al vernietig word wanneer Jehovah se “dag van wraak” vir die ganse aarde aanbreek.—Openbaring 14:8; 18:2, 4, 24; 19:11-21.

Beskerming in die “Paradys”

13. Hoe beskryf Jesaja die terugkeer uit hedendaagse “Babilon”?

13 In pragtige, digterlike taal beskryf Jesaja hoofstuk 35 vervolgens die terugkeer van ‘n oorblyfsel van geestelike Israel uit gevangenskap in ‘Babilon die Grote’. Die beskrywing word tot ’n hoogtepunt gevoer met hierdie woorde: “Die losgekooptes van die Here sal teruggaan en na Sion kom met gejubel, en ewige vreugde sal op hulle hoof wees; vreugde en blydskap sal hulle verkry, maar kommer en gesug vlug weg.” Dit is waarlik ’n geestelike paradys wat ons herinner aan die woorde van Jesaja 51:3: “Die HERE vertroos Sion; Hy vertroos al sy puinhope en maak sy woestyn soos Eden en sy wildernis soos die tuin [paradeison (paradys), Septuaginta] van die HERE.”

14. (a) Watter paradys het Paulus beskryf? (b) Hoe word hierdie paradys in Jesaja 35:1-7 uitgebeeld, en wie kan dit geniet?

14 Jehovah se gesalfde volk het inderdaad vandag ’n geestelike paradys binnegegaan! Hoe goed word dit tog in Jesaja 35:1-7 beskryf! Dit kan vergelyk word met wat die apostel Paulus in 2 Korinthiërs 12:3, 4 beskryf waar hy klaarblyklik na sy eie ondervinding verwys: “Ek weet van so ’n man—of dit in die liggaam of buite die liggaam was, weet ek nie, God weet dit—dat hy weggeruk is in die Paradys en onuitspreeklike woorde gehoor het wat ’n mens nie mag uitspreek nie.” Maar vandag mag ’n mens praat van die geestelike paradys wat nou onder God se gesalfde oorblyfsel bestaan en wat ’n ‘groot menigte uit alle nasies’ nou ook geniet! Onder hulle gedy daar ’n verruklik voorspoedige organisasie, die aardwye gemeenskap van Jehovah se Getuies, wat in die band van liefde verenig is, wat dieselfde doel het en eendragtig optree. Voorwaar ’n geestelike paradys!

15. (a) Wat toon Psalm 91 oor die geestelike paradys? (b) Watter vraag word oor die “groot menigte” gestel, en waarom?

15 Solank hulle voortgaan om hierdie geestelike paradys te bewerk, sal die wapens wat Satan na Jehovah se Getuies werp hulle geen kwaad aandoen nie (Psalm 91:1-11). Die wonderlike herstellingsprofesieë van Jesaja word nou op ’n heerlike wyse vir die gesalfde oorblyfsel van geestelike Israel vervul. Maar die getal van hierdie gesalfdes op aarde het afgeneem tot minder as 10 000—minder as 0,4 persent van al die Getuies. Die oorgrote meerderheid van die 45 000 gemeentes van Jehovah se Getuies het vandag geen gesalfdes in hulle midde nie. Wat dan van die miljoene lede van die “groot menigte”? Hulle smaak weliswaar die vreugdes van die geestelike paradys saam met die gesalfde oorblyfsel. Maar sien ons nie dat hulle wonderlike hoop op ’n paradysaarde deur daardie selfde profesieë opgehelder word nie?

Die aarde glorieryk gemaak

16. (a) Waar en hoe moet God se voorneme geregverdig word? (b) Slegs hoe kan die mens aan die vereistes vir die lewe in ’n paradys voldoen? (c) Hoe is dit weer moontlik gemaak?

16 Onthou, dit was hier op aarde, in Eden, dat die mens daardie paradys verloor het. Dit is dus hier dat Jehovah se voorneme met die aarde en die mens geregverdig moet word. Die aarde moet in ’n globale paradys omgeskep word vir die mensdom, in ooreenstemming met Jehovah se oorspronklike voorneme (Genesis 1:27, 28). Die Paradys in Eden het meer behels as net vrede tussen mens en dier, en die tuin se natuurskoon. Die mens, wat na God se beeld geskape is, was sedelik rein, en hy moes so bly om deel van God se grootse organisasie te bly. Hy moes sy Skepper gehoorsaam as hy volmaak, vry van siekte, die dood en enige verkeerde neiging wou bly. Adam het in gebreke gebly om dit te doen. Vir die aardse paradys om herstel te word, moet die sondige mens dus weer tot volmaaktheid verhef word, iets wat moontlik gemaak is deur Jesus se losprysoffer.—Romeine 5:12, 18.

17. (a) Hoe kom die “groot menigte” in die geestelike paradys? (b) Hoe word hulle volgens die Skrif voorberei op die ewige lewe—waar?

17 Die aarde is vandag geensins ’n paradys nie. Die “groot menigte” “ander skape” het nietemin ’n geestelike paradys binnegegaan (Openbaring 7:9; Johannes 10:16). Hoe? Deur hulle lewens aan Jehovah toe te wy, hulle na sy vereistes te skik en om te gaan met die gesalfde oorblyfsel wat vanaf 1919 in die geestelike paradys ingebring is. (Vergelyk Esegiël 38:8-16.) Daar word hulle voorberei en toegerus vir die lewe in die aardse paradys wat op die verdrukking by Armageddon gaan volg. Die herstelde paradys sal vir ewig op die aarde voortbestaan tot God se heerlikheid. Koning Dawid het daaromtrent geprofeteer en gesê: “Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede.” Ja, Jesus het gesê: “Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe.”—Psalm 37:11; Mattheüs 5:5.

18. Hoe sal “die heerlikheid van die HERE” in die aardse paradys gesien word?

18 In daardie aardse paradys sal alle mense (die verresenes op aarde inkluis) wat gehoorsaam van Jesus se losprysoffer gebruik maak, seëninge geniet soos die wat deur Jesaja en ander profete vir geestelike Israel beskryf word. Dan sal Jesus se belofte aan die simpatieke rower aan die boom op Kalvarie sy wonderlike vervulling ondergaan (Lukas 23:43, NW). “Die heerlikheid van die here, die sieraad van onse God” sal letterlik gesien word in die bloei van die wildernis en die woestyn en in die genesing van blindes, dowes, lammes en stommes. Wanneer daardie vreedsame paradys aardwyd strek, sal selfs ‘die leeu strooi eet soos die bul’, soos dit ongetwyfeld in Eden en in die ark van Noag se dag die geval was. Niemand sal enige “kwaad doen of verderf aanrig” in die Paradys nie.—Genesis 1:29, 30; Jesaja 11:6-9; 35:1-7; 65:25.

19. (a) Hoe ondergaan Jesaja 25:6-8 ’n vroeëre vervulling? (b) Hoe sal dit ook vervul word vir diegene wat op die aarde gaan lewe?

19 Jesaja 25:6-8 toon dat die geestelike paradys voor die letterlike sal kom. Hierdie profesie word vandag op ’n geestelike wyse in die geestelike paradys vervul waar Jehovah se volk opgewek is om ’n ryk “maaltyd” te geniet. (Vergelyk Esegiël 37:1-6.) Omdat hulle glo, is hulle met blydskap en vrede vervul, en is hulle oorvloedig in die hoop op Koninkrykseëninge (Romeine 15:13). Jesaja het geprofeteer: “Die Here HERE sal die trane van alle aangesigte afvee.” Dit is op merkwaardige wyse voor Armageddon vervul vir die gesalfde oorblyfsel wat uit “Babilon die Grote” herstel is. En Openbaring 7:17 pas hierdie selfde woorde toe op die geseënde toestand van die hedendaagse “groot menigte”. Jesaja se woorde word daarbenewens in Openbaring 21:3, 4 in verband met die “nuwe aarde” aangehaal. Ons lees daar: “Kyk, die tabernakel van God is by die mense . . . En God sal al die trane van hulle oë afvee.” In die “nuwe aarde” sal hierdie wonderlike belofte in die herstelde paradys op die gereinigde aarde vervul word.

20. Waarom het al God se knegte nou alle rede om ‘oorvloedig te wees in die hoop’?

20 Die gesalfde oorblyfsel en die “groot menigte” het inderdaad alle rede om ‘oorvloedig te wees in die hoop’ namate heerlike vervullings van God se profetiese woord voor hulle oë ontvou. Die hoop sal nie teleurstel nie, want al Jehovah se wonderlike beloftes sal uiteindelik ’n werklikheid word. Laat dit dan vir ons “’n kragtige aansporing [wees] om vas te hou aan die hoop op wat vir ons weggelê is”.—Romeine 15:13; Hebreërs 6:18, NTP.

[Voetnoot]

a Kyk bladsye 205-241 van dle boek Mans Salvation out of World Distress at Hand! (wat deur die Wagtoringgenootskap uitgegee word) vir ’n breedvoeriger bespreking van hierdie profesie

Onthou jy?

◻ As gevolg waarvan in verband met Jesus se naam kan ons ‘oorvloedig in die hoop wees’?

◻ Hoe vergelyk Jesus se verhewe posisie met dié van Jehovah?

◻ Wat toon Jesaja hoofstuk 34 oor Jehovah se “dag van wraak”?

◻ Wat leer ons uit Jesaja hoofstuk 35 en 25:6-8 oor “paradys”?

[Prent op bladsy 17]

“Die HERE hou ’n dag van wraak”

[Prent op bladsy 19]

Die geestelike paradys beskerm ons teen die ‘peste’ wat nou onder die mensdom woed

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel