Herken jy die teken?
TOE Jesus se dissipels hom gevra het om ’n “teken” van sy “koms en van die voleinding van die wêreld” het hulle die Griekse woord semeíon gebruik. Dieselfde woord is ook deur die Grieke vir die simptome van ’n kwaal gebruik. Aangesien Jesus se teken sou toon wanneer die laaste of sterwensdae van Satan se wêreldstelsel aangebreek het, was die terminologie in hierdie opsig heel gepas. Dit is vir mense van die uiterste belang om die simptome van die wêreld se dodelike siekte te herken as hulle nie daarmee saam wil sterf nie.—Mattheüs 24:3; 1 Johannes 2:16, 17.
Waaruit bestaan die teken?
Hoe meer simptome ’n pasiënt het, des te makliker is dit vir ’n goedopgeleide dokter om die kwaal akkuraat te diagnoseer. Om ons te help om die wêreld se dodelike siekte sonder enige twyfel te diagnoseer, het Jesus vir ons ’n samegestelde teken gegee, een wat uit baie “simptome” bestaan.
As jy wil vasstel wat al die aspekte van die teken is, sal jy Mattheüs 24 en 25, Markus 13 en Lukas 21 moet lees. Ons spoor jou aan om dit te doen. Maar ons gaan nou na net ’n paar van die talle simptome kyk wat Jesus gemeld het.
GLOBALE OORLOG: “Die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander.”—Lukas 21:10.
HONGERSNOOD: “Daar sal hongersnode wees.”—Mattheüs 24:7.
AARDBEWINGS: “Daar sal aardbewings wees op verskillende plekke.”—Markus 13:8.
VREES: “Op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid . . . en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom.”—Lukas 21:25, 26.
SIEKTE: “Op verskillende plekke . . . pessiektes.”—Lukas 21:11.
MISDADIGHEID: “Omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.”—Mattheüs 24:12.
Hoe verskil dit?
Nie een van hierdie dinge is eie aan ons eeu nie. As hulle “die voleinding van die wêreld” moes kenmerk, sou hulle op die een of ander manier moes verskil van soortgelyke toestande in vroeëre tye. Op watter maniere?
Eerstens, een geslag sou elke aspek van die teken moes sien. Jesus het gesê: “Hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat alles gebeur het nie.”—Lukas 21:32.
Tweedens, die uitwerking van die teken sou wêreldwyd waargeneem moes word. Jesus het gepraat van “die hele wêreld” en van “al die nasies”.—Mattheüs 24:9, 14, 30, 31; 25:32.
Derdens, die gekombineerde toestande of simptome sou gedurende hierdie tydperk progressief vererger. “Al hierdie dinge is ’n begin van die smarte”, het Jesus gesê.—Mattheüs 24:8.
Vierdens, al hierdie dinge sou gepaard gaan met ’n verandering in mense se gesindhede en optrede. Jesus het gewaarsku: “Die liefde van die meeste [sal] verkoel.” Die apostel Paulus het ook hierdie agteruitgang in gesindhede voorspel.—Mattheüs 24:12; 2 Timotheüs 3:1-5.
Hoe ernstig is die simptome?
Moenie die erns van vandag se toestande geringskat nie deur te sê: “O, maar dit kon veel erger gewees het!” Sal iemand met die simptome van ’n kwaal—sê nou maar ’n baie hoë koors—dit sommer ignoreer omdat dit immers “veel erger kon gewees het”? Vra jouself liewer af: As vandag se simptome nie aandui dat ons lewe in “die laaste dae” waarin daar “swaar tye” sou wees nie, hoeveel erger moet die simptome dan word voordat dit dit wel sal aandui?
GLOBALE OORLOG: ’n Europese geskiedskrywer het van Augustus 1914 gesê: “Gedurende die eerste dae van hierdie noodlottige maand het een van die vreedsaamste tydperke wat ons vasteland ooit ondervind het, geëindig.” Selfs die Tweede Wêreldoorlog het nie vrede verseker nie. Die Duitse tydskrif Der Spiegel sê: “Sedert 1945 was daar nie ’n enkele dag lank enige werklike vrede in die wêreld nie . . . Vredesdeskundiges het 130 oorloë, burgeroorloë, opstande, pogings tot rassemoord en terroristekampanjes sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog getel. Feitlik eenhonderd lande was daarby betrokke en nagenoeg 35 miljoen mense het hulle lewens verloor, veel meer as in die Eerste Wêreldoorlog.”
VOEDSELTEKORTE: Die Eerste Wêreldoorlog is deur ernstige voedseltekorte gevolg. Maar teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog was hongersnood so ernstig dat die eerste permanente, gespesialiseerde agentskap wat deur die Verenigde Volke in die lewe geroep is die Voedsel-en-Landbou-organisasie was, wat gestig is met die doel om die probleem te verlig.
Wat van vandag? Die volgende verslag is gepubliseer oor die bevindinge van ’n Kommissie op Wêreldhonger wat uit 20 lede bestaan het: “Die huidige hongerprobleem verskil hemelsbreed van dié van die verlede. . . . In soveel dele van die wêreld is daar nou so min voedsel dat ’n volle 25% van die aarde se bevolking òf honger òf ondervoed is, en dat een uit elke agt persone aan verswakkende ondervoeding ly.”
AARDBEWINGS: Aardbewings vind so gereeld “op verskillende plekke” plaas dat baie mense min aandag daaraan skenk. Maar in 1973 het die publikasie Earthquakes gewaarsku: “’n Mens kry die baie ongemaklike gevoel dat ons weer afstuur op ’n tydperk van groter aardskuddingbedrywigheid. Hierdie gevoel is ongelukkig korrek.” Drie jaar later is Tangsjan, China, getref deur wat ’n Amerikaanse deskundige “die grootse aardbewingramp in die geskiedenis van die mensdom” genoem het. En hoeveel van die groot skuddings sedertdien kan jy onthou? Moontlik dié in Algerië, Italië, Noord-Jemen, Colombia en Iran?
VREES: In die noordelike somer van 1983 het die Duitse joernalis Wolfgang Wagner geskryf: “Vertroue in die toekoms het skynbaar afgeneem soos bome wat as gevolg van suurreën verwelk het . . . Daar bestaan oorgenoeg rede vir die vrees wat so baie teister. Dwarsdeur die geskiedenis was daar moord en doodslag, maar die mens was nog nooit soos nou in staat om homself uit te wis nie. Diere- en plantspesies word nog altyd uitgeroei, maar nog nooit tevore is soveel spesies so vinnig uitgewis nie.”
Waar dit van hierdie eeu as “die eeu van vrees” praat, het die Hamburgse koerant Die Welt gesê: “Nog nooit tevore was daar soveel leesstof oor vrees as nou nie.”
SIEKTE: Die Eerste Wêreldoorlog is gevolg deur ’n verskriklike griepepidemie wat die lewens van ten minste 20 miljoen mense geëis het, dubbel soveel as wat op die slagveld gesneuwel het. Nou sê dr. William Foege, direkteur van Atlanta se Sentrums vir Siektebeheer: “Ek verwag dat ons moontlik in ons lewe nog ’n griepvirus sal sien wat net so dodelik is as die een van 1918.” Hy voeg by: “Sodra jy van een siekte ontslae raak, steek ’n nuwe een kop uit.”
In die laaste jare het ’n aantal geheimsinnige “nuwe” kwale opgeduik—legioensiekte, gifskoksindroom en die gevreesde VIGS, om slegs drie te noem.
MISDADIGHEID: Die meeste mense het nie statistiek nodig om oortuig te word dat misdadigheid toeneem nie—selfs op onverwagte plekke. ’n Nuusberig het in 1979 gesê: “China skep al jare lank die indruk dat dit ’n vredeliewende gemeenskap is wat baie van die gewelddadige misdade wat die verdorwe kapitalistiese Weste teister, uitgewis het. Nie meer nie . . . [Vandag] lyk dit of die land deur ’n landswye misdaadgolf oorstroom word.”
Hedendaagse misdadigheid is waarlik misdadigheid met ’n verskil. Volgens een verslag is ‘die vloek van gewelddadige misdade nie net in ghetto’s van arm stede aan die orde van die dag nie, maar oral. Wat nog betekenisvoller is, is dat die misdade onmensliker, meer irrasioneel, onwillekeuriger—en gevolglik des te skrikwekkender—word’.
Goeie nuus te midde van die slegte
Maar nog ’n betekenisvolle deel van Jesus se teken was die volgende: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mattheüs 24:14). Die evangelie of goeie nuus is dat God se Koninkryk sedert 1914 uit die hemele regeer! Dit sal binnekort Satan se stelsel vernietig en begin om die probleme as gevolg van globale oorloë, voedseltekorte, aardbewings, vrees, siekte en misdadigheid op te los. Dink net daaraan! Hierdie en alle ander onaangename simptome van ’n sterwende gemeenskap sal binnekort tot die verlede behoort. Kan daar beter nuus as dit wees?—Vergelyk Psalm 46:10; 72:16; Jesaja 33:24; Daniël 2:44; Miga 4:3, 4; Openbaring 21:3-5.
Daarom het Jesus, nadat hy in sy teken die aandag op die verskillende simptome van Satan se sterwende gemeenskap gevestig het, gesê: “En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is.”—Lukas 21:28.
Hierdie dinge het inderdaad in 1914 begin plaasvind. Die vervulling van Jesus se teken sedert 1914 wys terug na daardie jaartal as die korrekte een waarna Bybelchronologie vooruitgewys het. Ja, 1914 is inderdaad ’n brandpunt van Bybelprofesie!