Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 7/1 bl. 20-23
  • Op soek na ’n rede om te lewe

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Op soek na ’n rede om te lewe
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • My jeugjare
  • Die afgryse van oorlog
  • Godsdienshuigelary
  • Steeds soekende
  • Ek vind ’n rede om te lewe
  • Hoe mense in vrede kan saamwoon
    Ontwaak!—1994
  • Die Bybel verander lewens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Van oorlogsheld tot soldaat van Christus
    Ontwaak!—1998
  • Jehovah het my krag gegee
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 7/1 bl. 20-23

Op soek na ’n rede om te lewe

Soos vertel deur Gerhard Pluntke

EK WAS op pad terug na ons kamp aan die Russiese front toe ’n hewige bombardement begin het. Twee granate het reg bokant my in die bome ontplof. Die eerste het my tussen twee bome neergegooi en etlike groot splinters in my liggaam ingedryf. Die tweede het ’n gat reg deur my linkerbeen gemaak. Die pyn was ondraaglik.

Ek kon nie beweeg nie. Eers nadat die bombardering geëindig het, kon ek uit my folterende posisie bevry word. Nadat noodhulp toegedien is, het die reis na die hospitaal begin. Twee mense moes my ure lank deur ’n gevaarlike gebied op ’n draagbaar dra. Hulle het verdwaal. Hulle het voortdurend geval. Hulle moes teen vyandelike aanvalle skuiling soek—’n reis wat moeilik is om te beskryf.

Ek het eindelik in ’n hospitaal in suidelike Duitsland beland. Daar was vier van ons in die kamer en dit het gelyk of ons almal na sulke verskriklike wedervaringe geestelik honger was. Ons het baie boeke oor godsdiens, okkultisme, filosofie en dinge van daardie aard gelees. Ons het hierdie dinge ure lank bespreek. Maar niemand kon ’n kwellende vraag vir my beantwoord nie: Wat is die doel van die lewe?

Dit het baie jare gelede plaasgevind toe ek ’n Duitse soldaat in die Tweede Wêreldoorlog was. Nou het ek egter ’n kragtige rede om te lewe. Hoe het ek dit gevind?

My jeugjare

Godsdiens was in ons gesin van geen belang nie, hoewel ons in naam aan die Lutherse Kerk behoort het, die vernaamste godsdiens in noordelike Duitsland, waar ek gebore is. Ek het eerder belanggestel in sport en pret, en die stad Hamburg het my meer as genoeg geleenthede gebied om hierdie dinge na te jaag.

Die groot verandering in my lewe het plaasgevind in 1939 met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog. Omdat my beroep as werktuigkundige hoogs gespesialiseerd was, is ek die eerste twee jaar van militêre diens vrygestel. Maar toe die oorlog hewiger geword het, is ek vir militêre opleiding in ’n infanterieregiment opgeroep. Tot op daardie stadium was die jongmense in Duitsland baie geesdriftig. Vir my was die opleiding soos sport. Maar my oë sou eerlank geopen word vir die ware betekenis van oorlog!

Daardie tyd het aangebreek toe ons opleiding geëindig het en ons na die Russiese front vervoer is. Ek sien nou nog my moeder met trane in haar oë toe ons trein vertrek het. Sy het geweet wat by die saak betrokke was. Sy het die Eerste Wêreldoorlog, waarin my vader geveg het, beleef.

Die afgryse van oorlog

Dit het vier dae geduur om Rusland te bereik, en toe het die moeilikste tyd van my lewe aangebreek, asook die tyd waartydens my persoonlikheid sy grootste veranderinge ondergaan het.

Ons het in noordelike Rusland aangekom in ’n gebied wat ’n moerasagtige wildernis was. Die trein het ons slegs ’n gedeelte van die afstand vervoer, en toe is ons per vragmotor nader aan die gevegsfront gebring. Eindelik moes ons voetslaan. Een nag het ons 51 kilometer met swaar toerusting geloop.

Ons klomp nuwelinge is verdeel onder verskeie leërafdelings wat groot verliese gely het. Ek is toegewys na ’n telekommunikasiekompanie reg aan die gevegsfront. Hoe anders was dit tog om van aangesig tot aangesig met oorlog te kom!

Ons moes een strook oorsteek wat vir die Russe duidelik sigbaar was, en dit was hier dat ek my “vuurdoop” ontvang het. Die Russiese artillerie het ons so ’n “warm” verwelkoming gegee dat ons aanvanklike geesdrif baie gou afgeneem het! Dit was heeltemal anders as ons opleiding in die regiment. Nou was dit ’n saak van lewe en dood!

Ek sal nooit daardie eerste lyke vergeet nie. Dit was klaarblyklik Russiese soldate wie se lyke nie begrawe is nie. Hoewel die dood van toe af soos ’n intieme kennis was, kon ek nooit gewoond raak aan die afgryslike tonele van die verminkte oorskot van die gesneuweldes nie. Dit het vir my na so ’n jammerte gelyk dat hierdie jongmanne dood was. Dit het my bedroef gemaak wanneer ek gedink het aan die ouers wat hulle nooit weer sou sien nie en aan die gesinne wat mans en vaders verloor het.

Ek kon nie anders nie as om te wonder: Waarom lewe ons? En waarom word sulke gruweldade in oorlogstyd gepleeg? Dit het vir my so onsinnig gelyk dat ek mense moes doodmaak wat ek nog nooit in my lewe gesien het nie, wat my nog nooit enige kwaad aangedoen het nie en wat gesinne gehad het wat vir hulle lief was en angstig op hulle terugkeer gewag het. Dit was net mooi die teenoorgestelde van die morele standaarde wat tevore by ons ingeskerp is!

Indien ’n persoon iemand anders in vredestyd om die lewe gebring het, het daar ’n swaar straf op die moordenaar gewag, moontlik die doodstraf. Maar in oorlogstyd het dieselfde owerheid wat moord veroordeel het ons nou verplig om onbekende en onskuldige persone uit te wis. En in plaas van straf het ons eremedaljes ontvang; hoe meer mense jy doodgemaak het, des te meer eer het jy gekry! Oorlog is heeltemal irrasioneel!

Godsdienshuigelary

Op die front het ons telefoonkommunikasie met die verskillende gevegseenhede behou, en dit was my taak om te sorg dat niks die kommunikasie onderbreek nie. Dit was ’n eindelose taak omdat die granate gereeld die kabels gebreek het. Op my rondtes om die kabels te herstel, het ek op talle grafte van Duitse soldate afgekom. Hulle kon uitgeken word aan ’n eenvoudige kruis wat van takke gemaak is en waaraan die gesneuwelde soldaat se staalhelm—of wat daarvan oorgebly het—gehang is. Ek het nooit tevore in my lewe tot God gebid nie. Ek het nie eens geweet tot wie ek moes bid nie. Maar ek het talle kere langs daardie grafte gestaan en stil tot ’n onbekende God gebid en hom gevra wat die doel van die lewe is.

Nog iets het nie met my denkwyse gestrook nie. Volgens die Lutherse pastore en die Katolieke priesters het God die Duitse troepe in die oorlog begunstig; hy sou ons die finale oorwinning oor ons vyande gee. Trouens, op die gordelgespe wat elke Duitse soldaat gedra het, was daar die woorde Gott mit uns, wat beteken “God is met ons”.

Maar ons het geweet dat ons “vyande” aan dieselfde kerk as ons behoort het. En die pastore en priesters aan hulle kant het dieselfde woorde gepreek, met dié verskil dat hulle ons as die vyand beskou het wat God se straf verdien het. Die bedrog van hierdie geestelikes was so duidelik. ‘Watter huigelaars tog!’ het ek gedink. Ek het myself nietemin herhaaldelik afgevra: “Waarom gebeur dit? Wat is die doel van die lewe?” Niemand kon vir my ’n bevredigende antwoord gee nie.

Steeds soekende

Die verlies aan menselewens was baie groot. Van die nagenoeg 180 persone waaruit ons kompanie oorspronklik bestaan het, het slegs 5 oorgebly. Die res? Dood of gewond. Ons het etlike maande lank in die woude gelewe. Wanneer ons ’n gat gegrawe het, het dit dadelik vol water geloop. Om te kon slaap, moes ons takke van bome afkap en dit hoog genoeg opstapel om ons teen die water te beskerm. Ek weet nie hoe ons fisies gesond gebly het nie. Daar was ook geweldige geestesspanning. Ons het geweet dat elke minuut die laaste kon wees.

Eindelik het my beurt ook aangebreek—die granaataanval wat my in die hospitaal in suidelike Duitsland laat beland het. Toe ek na baie maande in die hospitaal eindelik kon terugkeer Hamburg toe, was ek ongeskik vir verdere deelname aan die oorlog.

Die oorlog het geëindig, en ek het my voorgeneem om nooit weer in my lewe ’n wapen te gebruik nie. Ek het yweriger as ooit na die doel van die lewe bly soek. Ek het ’n lid van ’n kosmologiese vereniging geword. Ons het okkultisme, astrologie en talle ander onderwerpe bestudeer. Maar niks kon my basiese vraag: Waarom lewe ons? beantwoord nie.

In 1947 is ek getroud met Dolly, die meisie met wie ek uitgegaan het. Maar ons geluk is onderbreek omdat ek besluit het om oorsee na beter horisonne te soek. My doel was Suid-Amerika—Chili, om presies te wees.

In Februarie 1949 het ek dus in Valparaiso aangekom en begin om ’n nuwe lewe te bou. My vrou het ’n jaar later gekom toe ek ekonomies gevestig was. Maar iets het nog ontbreek, iets belangriks—’n rede om te lewe. Ek het baie nagte, voordat ons bed toe gegaan het, deur ons kamervenster gekyk, my oë na die sterbesaaide hemele opgehef en tot ’n God gebid wat nog vir my onbekend was. Min het ek besef dat ek binnekort ’n rede sou vind om te lewe.

Ek vind ’n rede om te lewe

In 1953 het ek ’n Bybelstudie saam met een van Jehovah se Getuies aanvaar. Daar was ’n gemeentetjie in Valparaiso, en ’n Duitse Getuie het in my taal met my gestudeer. Hoe verheug was ek tog toe hy my die eerste keer meegedeel het dat Jehovah se Getuies neutraal bly in wêreldaangeleenthede! Dit het baie met my denkwyse ooreengekom.—Johannes 15:19; 17:14, 16.

Maar ek moes nog baie leer. Ek het nog nooit die Bybel gelees nie. Dit was vir my baie moeilik om dit as God se Woord te aanvaar en veranderinge in my lewe aan te bring. By elke studie het ek tot twee- of drie-uur in die oggend gestry. Ek het ’n Duitse Bybel bekom en dit in ’n paar maande deurgelees. Ek het die Getuie gekonfronteer met die “weersprekings” waarop ek afgekom het. Maar ek was geleidelik verplig om te erken dat die “weersprekings” wat ek gesien het in werklikheid toe te skryf was aan ’n gebrek aan kennis en begrip aan my kant.

Ek het dit beslis vir die Getuie baie moeilik gemaak. Maar hy was baie geduldig, en eindelik het Bybelwaarheid tot my begin deurdring.

Dit was die vervulling van die Bybel se talle profesieë wat my werklik oortuig het dat dit die Woord van God is. Ek het geredeneer: Watter mens kan ’n gebeurtenis honderde, selfs duisende, jare vooruit voorspel? Een profesie wat my byvoorbeeld beïndruk het, was Daniël 9:24-27, waar die tyd vir die Messias se verskyning meer as 500 jaar voor die tyd voorspel is. Ter vervulling hiervan het Jesus in 29 G.J. verskyn, presies op tyd! (Lukas 3:1, 2). Nog ’n oortuigende profesie was Miga 5:1, waar die geboorteplek van die Messias, naamlik Betlehem, meer as 700 jaar tevore voorspel is. En sowaar, Jesus is in Betlehem gebore! (Lukas 2:1-7). Dit het vir my duidelik geword dat ’n bomenslike Outeur Bybelskrywers gerig het.

My studie van die werktuigkunde was vir my ’n groot hulp. Ek het soveel onweerlegbare bewyse van die bestaan van ’n alwetende Skepper gevind. Ek het byvoorbeeld eenkeer ’n krap se klou op die strand gevind en dit ondersoek. Dit was verbasend saamgestel. Die senings wat beweging moontlik gemaak het, was, meganies gesproke, op die beste plek moontlik vasgeheg om die meeste krag en beweging te verseker. Wie het die berekeninge gedoen? Die krap? Hoe meer ek ondersoek ingestel het na die natuur en my oë geopen het vir die wondere om my, des te meer het ek besef dat ’n Opperintelligensie bestaan, een wat oor almal is.

En ’n rede om te lewe? Bestaan daar een? Beslis! En hoe eenvoudig en logies is dit tog! Wat is dit? Dit: Dit is ons liefdevolle Skepper se voorneme dat die mens vir ewig met volmaakte gesondheid in vrede en geluk in ’n aardse paradys onder ’n volmaakte, hemelse regering moet lewe. En dit is God se voorneme dat ons lewenswyse blywende liefde vir hom en ons naaste moet weerspieël. Ek was verheug om te verneem dat die tyd vir die verwesenliking van hierdie voorneme ophande is! Watter wonderlike rede om te lewe!—Psalm 37:10, 11, 29; Lukas 23:43, NW; Openbaring 21:1-4; Markus 12:29-31.

Toe ek dit besef het, het niks my meer teruggehou nie. In 1957 het ek dus begin om hierdie “goeie nuus” aan ander te verkondig. In Februarie 1959 het ek my lewe toegewy om Jehovah se wil te doen en is ek gedoop. My vrou het aangehou studeer, en dit was ’n heuglike geleentheid toe ons in 1961 na Hamburg kon reis om ’n internasionale byeenkoms van Jehovah se Getuies by te woon, waar sy dan ook gedoop is.

Ek is bly om te kan sê dat ons twee dogters nou al baie jare lank bedrywige Getuies is en dat die een ses jaar lank ’n gewone pionier (’n voltydse prediker) was. Bybelkennis was so ’n groot hulp in ons gesinslewe. Ons is ’n verenigde en harmoniese gesin omdat ons almal dieselfde hoop en doelwit het.

Oor die jare heen het ek die voorreg gehad om ander te help om Jehovah te leer ken. Hoe aangenaam was dit tog om vir hulle van die doel van die lewe te vertel! Ek het dit veral geniet om vir ander te wys hoe om die ware Christelike godsdiens uit te ken. Ek het ’n gunstelingteks daarvoor, een wat baie na aan my hart lê as gevolg van my ondervindinge in die lewe. Jesus het in Johannes 13:34, 35 gesê: “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.” Dit is een ding om hierdie gebod in vredestyd toe te pas. Maar watter geloof leef dit te alle tye na, selfs in oorlogstyd?

Hoe aangenaam is dit tog om saam met ware Christene te dien en uit te sien na ’n nuwe orde waar daar nie meer siekte, trane en die dood sal wees nie en waar die liefdeloosheid van oorlog nie meer die mens se geluk sal bederf nie! Ja, ons het ’n kragtige rede om te lewe.

[Prent op bladsy 22]

Dit het my bedroef gemaak wanneer ek gedink het aan die ouers wat nooit weer hulle seuns sou sien nie en aan die gesinne wat mans en vaders verloor het

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel