Die ewige lewe—Is dit net ’n droom?
DIE toneel is ’n pragtige plaas in Suid-Afrika. ’n Trop tarentale wei in die heuwels. Skielik is hulle paniekbevange. Twee witkruis-arende vlieg oor en duik neer terwyl die tarentale, wat histeries kekkel, hardloop om skuiling te soek. Een van die arende vang sy prooi en begin om ’n maal te geniet. Party van die tarentale bedaar en begin weer daar naby na kos soek—die dood van hulle maat laat hulle koud.
Alle diere probeer instinktief om die dood te vermy, maar dit lyk gewoonlik of dit hulle min pla wanneer ander doodgaan. Wanneer ’n leeu of ’n ander roofdier ’n wildsbok vang, lok dit nie veel reaksie by die res van die kudde uit nie. Dit is ’n alledaagse gebeurtenis in die huidige lewenskringloop.
Maar hoe anders is dit tog met die meeste mense gesteld! Dit is ’n traumatiese ondervinding om ’n medemens te sien sterf—behalwe vir die paar wat verhard geraak het vir die dood. Die dood van ’n dierbare is gewoonlik een van die ontstellendste dinge wat ’n mens kan ondervind. Dit kan selfs daartoe lei dat die bedroefdes selfmoord pleeg.
Ons lewe in ’n veelbewoë tydperk wanneer selfmoorde toeneem en miljoene mense ’n ellendige bestaan voer. Tog probeer die oorgrote meerderheid met al hulle mag om dit wat die Bybel ’n groot “vyand” noem—die dood—af te weer.—1 Korinthiërs 15:26.
Die lewenselikser
Eeue lank het manne genaamd alchemiste hard probeer om die lewenselikser te ontdek. Dit was ’n geheimsinnige stof wat dan glo sou verseker dat ’n mens vir ewig lewe. Baie het lank oor hierdie elikser gedroom en daarna gesoek. Maar die alchemiste het klaarblyklik nie geslaag nie.
Onlangs het beter higiëne, die mediese wetenskap en ander faktore egter die gemiddelde lewensduur aansienlik laat toeneem. Een verslag sê: “Vir die mensdom as geheel het die gemiddelde lewensduur meer as verdubbel, van 30 jaar in 1900 tot meer as 60 vandag.” Sommige meen dus dat hedendaagse wetenskaplikes die sleutel of sleutels tot ’n langer—selfs ewige—lewe kan ontdek. Dink jy so?
Wat ook al mense se hoop in daardie verband is, ’n feit wat duisende jare gelede gekonstateer is, is nog steeds waar:
“Die dae van ons jare—daarin is sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig jaar; en die uitnemendste daarvan is moeite en verdriet; want gou gaan dit verby en ons vlieg daarheen.”—Psalm 90:10
Soos jy ongetwyfeld opgemerk het, lewe slegs ’n klein minderheid langer as 80 jaar.
Talle bejaardes berus egter nie in ’n naderende dood nie, maar stel intens in die lewe belang. Trouens, namate hulle ouer word, neem die dinge waarin hulle belangstel toe. Hulle verkry baie kennis en ondervinding en doen mee aan baie bedrywighede. Skielik kom daar dan ’n einde daaraan. Vir normale, redelik gesonde mense is die dood ongewens, onnatuurlik. Een honderdjarige het gesê: “Ek wil nie sterf nie, want ek het die lewe lief.”
Die Bybel sê dat diere “voortgebring word om gevang en doodgemaak te word”. Maar van die mensdom sê dit: “God . . . het selfs die ewigheid in hulle verstande geplaas” (2 Petrus 2:12, NAV; Prediker 3:10, 11, Byington). Met ander woorde, diere is nie gemaak om vir ewig te lewe nie, maar die mens wel. Die eerste mensepaar is nie geskep om dood te gaan nie, maar om vir ewig te lewe—mits hulle aan God gehoorsaam was.—Vergelyk Genesis 2:15-17.
Jou brein lewer bewys hiervan. Die mensebrein het ’n ontsaglike kapasiteit vir kennis; in ons huidige leeftyd word slegs ’n klein deeltjie daarvan gebruik.
Bewys al hierdie dinge nie dat die huidige lewenskringloop strydig is met God se voorneme en dat die ewige lewe nie net ’n droom is nie? Wat ’n aangrypende gedagte! Bestaan daar dan ’n ware lewenselikser? Kan jy vir ewig lewe?