Vrae van lesers
■ Hebreërs 3:1-6 praat, van Moses, Jesus en Jehovah God in verband met ’n “huis”. Watter “huis” word hier bedoel?
Die apostel Paulus het basies hier van God se volk, sy vergadering of gemeente, as ’n “huis” gepraat.
Hebreërs 3:1-6 lui: “Daarom, heilige broeders, deelgenote van die hemelse roeping, let op die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis, Christus Jesus, wat getrou was aan Hom wat Hom aangestel het, net soos Moses ook in sy hele huis. Want Hy is meer heerlikheid waardig geag as Moses, namate hy wat die huis gebou het, meer eer het as die huis; want elke huis word deur iemand gebou, maar Hy wat alle dinge gebou het, is God. En Moses was wel getrou in sy hele huis as ’n dienaar, om te getuig van wat nog gespreek sou word, maar Christus as Seun oor sy huis. En ons is sy huis as ons net die vrymoedigheid en die roem van die hoop tot die einde toe onwrikbaar vashou.”
Paulus het vroeër gesê dat Jesus, as God se Seun, ’n voortrefliker naam as die engele geërf het. Die apostel Paulus het ook daarop gewys dat, indien aandag geskenk moes word aan die woord van die Wet wat God deur middel van engele aan Moses oorgedra het, dit des te meer sou geld vir die woord wat deur die Seun gespreek is (Hebreërs 1:1-4; 2:1-4). Daarna, in Hebreërs hoofstuk 3, het Paulus aangehou om die voortreflikheid van Jesus te beklemtoon.
Onthou ook dat nadat Mirjam en Aäron gekla het oor Moses se belangrike rol in Israel, God gesê het dat sy kneg Moses ‘in my hele huis getrou is’ (Numeri 12:7). Aangesien Aäron as hoëpriester toegang tot die tabernakel (selfs die Allerheiligste) gehad het, moes God hier verwys het na die nasie, of vergadering, van Israel as Sy “huis” waarin Moses Sy kneg was. ln Hebreërs 3:2 het Paulus klaarblyklik hierop gesinspeel. Hy het gesê dat Jesus aan God getrou was, net soos Moses ook getrou was “in sy hele huis”. Maar toe het Paulus geskryf dat Jesus “meer heerlikheid waardig geag [is] as Moses”. Waarom?
Paulus het geredeneer dat “hy wat die huis gebou het, meer eer het as die huis”. Enige man wat al ’n letterlike huis gebou het, sal hiermee saamstem. Paulus het dus gesê dat Jesus, die seun van God, meer heerlikheid as Moses waardig was omdat Jesus ’n huis gebou het, terwyl Moses dit nie gedoen het nie. Paulus het natuurlik erken dat die uiteindelike eer vir alle dinge aan God verskuldig is—Hebreërs 3:3, 4.
Paulus het die redenasie verder gevoer en gesê dat Moses getrou was “in sy hele huis as ’n dienaar” (Hebreërs 3:5). Ja, Moses was self in of ’n deel van die vergadering, of “huis”, van Israel. Maar wat van die een wat later sou kom, die Messiaanse profeet wat deur Moses afgeskadu en voorspel is? (Deuteronomium 18:18, 19; Johannes 1:21, 25; Handelinge 3:22, 23). Daardie profeet sou meer as ’n getroue dienaar in die huis van Israel wees. Paulus het geskryf dat Christus ’n “Seun oor sy [Jehovah God se] huis” was. Die huis van Israel? Nee, Paulus het iets groters in gedagte gehad.
Waar Moses in ’n “huis” gedien het ooreenkomstig die Wetsverbond, het Jehovah ’n beter reëling onder “’n nuwe verbond” in die vooruitsig gestel (Hebreërs 8:7-13; Jeremia 31:31-34). Die nuwe verbond is met die huis, of nasie, van geestelike Israel gesluit (Galasiërs 6:16). Daarom het Paulus gesê: “Ons is sy huis as ons net die vrymoedigheid . . . onwrikbaar vashou.”—Hebreërs 3:6; vergelyk 1 Timotheüs 3:15; 1 Petrus 2:5; Mattheüs 16:18.
Die “huis” waarin Moses gedien het, was die vleeslike vergadering van Israel, maar die “huis” wat deur Jesus gebou is en waaroor hy aangestel is, is die gemeente van geestelike Israeliete wat hulle “hoop tot die einde toe onwrikbaar vashou”.—Hebreërs 3:6.