Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 10/15 bl. 10-15
  • Pas op vir julle teëstander, die Duiwel!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Pas op vir julle teëstander, die Duiwel!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Satan se beweegredes en doelstellings
  • Bedrog in verband met sy bestaan
  • Valse godsdiens, een van Satan se middele
  • Satan se beroep op trots
  • Die verlokking van materialistiese hebsug
  • Satan aas op menslike swakhede
  • Bly staande!
  • Wees waaksaam​—⁠Satan wil jou verslind!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
  • Wie is Satan? Bestaan hy werklik?
    Ontwaak!—2007
  • Bly staande teen Satan se liste
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Heersers in die geesteryk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 10/15 bl. 10-15

Pas op vir julle teëstander, die Duiwel!

“Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind.”—1 PETRUS 5:8.

1. Watter Teëstander het Jehovah se Getuies, maar hoe kan ons hom uitoorlê?

IS JY ’n onvoorwaardelik toegewyde getuie van Jehovah God? Indien wel, het jy ’n geslepe teëstander, ’n diaboliese vyand. Maar ten spyte van alles wat hy kan doen, kan daardie slinkse vyand uitoorlê word. Jy kan getrou bly aan die allerhoogste God, Jehovah. Dit ly geen twyfel dat jy kan help om jou hemelse Vader se onvergelyklike naam te regverdig nie. Ja, jy kan Jehovah se hart verbly sodat hy die Groot Smader kan antwoord gee. En jy kan boonop die prys van die ewige lewe in ’n paradys van geluk verkry.—Spreuke 27:11; Lukas 23:43, NW; Openbaring 2:7.

2. Wat het die apostel Petrus omtrent ons groot teëstander gesê?

2 As jy aan God getrou wil bly, moet jy op jou hoede wees vir jou groot teëstander. Die apostel Petrus het aangaande hom geskryf: “Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.” Maar jy kan jou teen hierdie vyand verweer, want die apostel sê voorts: “Bly standvastig in die geloof en staan hom teë . . . God wat alle genade gee . . . , sal julle, nadat julle ’n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak” (1 Petrus 5:8-10, NAV). Daardie woorde is veral vir gesalfde volgelinge van Jesus Christus vertroostend. Maar hulle het ook waarlik betekenis vir Jehovah se knegte wat daarna uitsien om vir ewig in ’n aardse paradys te lewe.

3. (a) Wie staan gereed om ons te help? (b) Watter vyande gebruik Satan om sy bose planne te verwesenlik?

3 Ons het hulp nodig om op ons hoede te wees vir ons Teëstander, en ons moet ook sy taktiek ken. Jehovah God, Jesus Christus, die heilige engele en die Christengemeente is gereed en gewillig om ons almal te help om ons onkreukbaarheid te handhaaf. Aan die ander kant het ons ons onvolmaakte vlees, hierdie goddelose stelsel en Satan die Duiwel self om mee rekening te hou. Hy word deur kwaadwilligheid aangedryf en is altyd gereed om die hulp van ons ander twee vyande in te roep om sy bose planne te verwesenlik.—Johannes 15:19; 1 Korinthiërs 9:27.

4. (a) By watter vier benamings is Satan bekend? (b) Waarom verdien Satan die titels “Duiwel”, “slang” en “draak”?

4 Selfs die benamings wat die Skrif vir ons Teëstander gebruik, help ons om sy metodes en planne beter te verstaan. Hy word Satan, Duiwel, slang en draak genoem (Openbaring 12:4, 9, 10). Sy naam Satan beteken “Versetpleger” of “Teëstander” (Job 1:6; 2:1). “Duiwel” beteken “Lasteraar”, “Aanklaer” of “Kwaadspreker”. Satan word ook die “slang” genoem omdat hy ’n slang gebruik het om Eva in die tuin van Eden te bedrieg (Genesis 3:1-7). En hy word die “draak” genoem weens sy geneigdheid om te verslind.

Satan se beweegredes en doelstellings

5. Watter standpunt het Satan ten opsigte van Jehovah ingeneem?

5 Satan die Duiwel, wat oorspronklik een van God se hemelse seuns was, het begin om Jehovah teë te staan en te laster. Satan se doel was om die mensdom van God afvallig te maak sodat hulle Satan se selfsugtige planne sou bevorder. Die Duiwel se handelwyse toon duidelik dat hy die waaragtigheid van God, sowel as die mensdom se afhanklikheid van Jehovah en die feit dat hulle op Hom aangewese is vir voortgesette lewe en geluk, in twyfel getrek het. Deur sy optrede het Satan God se reg om te regeer en sy manier van regeer bevraagteken. Jehovah is gebonde aan die beginsel van regverdige heerskappy en van skepsele wat hom gewillig dien uit liefde vir hom en vir geregtigheid. Satan het andersyds die standpunt ingeneem dat selfsugtige voor

deel die begeerlikste motief is. Met ander woorde, hy voer aan dat alle intelligente skepsele so selfsugtig soos hy is en behoort te wees.—Job, hoofstukke 1 en 2.

6. Wat openbaar Satan se handelwyse in verband met sy beweegredes?

6 Die feit dat Satan so ’n weg ingeslaan het, toon dat hy toegelaat het dat onbehoorlike ambisie ’n verterende obsessie en beweegrede word. Dit blyk ook uit die apostel Paulus se waarskuwing teen die aanstelling van ’n pasbekeerde man tot die amp van opsiener “sodat hy nie verwaand word en in dieselfde oordeel as die duiwel val nie” (1 Timotheüs 3:6). Ja, dit het inderdaad kolossale eiewaan van Satan verraai om met die Almagtige, die Allerhoogste, die Universele Soewerein en Koning van die ewigheid, Jehovah God, kragte te meet (Genesis 17:1; 2 Samuel 7:28, NW; Psalm 83:19; 1 Timotheüs 1:17, NW). Dat selfverhoging die Duiwel se oorheersende obsessie is, dat hy die aanbidding beny het wat intelligente skepsele aan Jehovah God gee, blyk uit die feit dat hy vir Jesus Christus “al die koninkryke van die wêreld” aangebied het mits Jesus hom aanbid.—Mattheüs 4:8, 9.

7. Waarom het God nie die opstandelinge Satan, Adam en Eva dadelik tereggestel nie?

7 Jehovah God kon natuurlik vir Satan en die eerste mensepaar tereggestel het onmiddellik nadat hulle gesondig het. Maar weens die geskille wat Satan geopper het, en uit barmhartigheid teenoor Adam se ongebore nakomelinge, het God toegelaat dat die Duiwel bly lewe sodat hy kon probeer om sy verwaande uitdagings te bewys. Jehovah het terselfdertyd daardeur aan die mense wat dit wou hê die geleentheid gegee om hulleself te regeer sonder inagneming van God en sy regverdige beginsels.

Bedrog in verband met sy bestaan

8. Hoe het Satan die mensdom selfs ten opsigte van sy bestaan bedrieg?

8 Satan maak van baie en uiteenlopende metodes gebruik om sy doelstellings as Teëstander van Jehovah God te bevorder en, indien moontlik, alle mense van die regmatige aanbidding van hulle Skepper afvallig te maak. Een van hierdie metodes is om mense te laat glo dat hy nie eens bestaan nie! So word hulle maklik sy slagoffers. Gevolglik is dit vandag in baie godsdienskringe in die mode om te glo dat daar nie ’n persoon soos Satan die Duiwel bestaan nie. ’n Opname wat deur die Sentrum vir Beleidsnavorsing in die stad New York gedoen is, toon byvoorbeeld dat meer as die helfte van alle Amerikaners in 1974 nie volkome oortuig was van die bestaan van ’n persoonlike Duiwel nie. Selfs talle geestelikes glo nie aan die bestaan van die Duiwel as persoon nie.

9, 10. Hoe bevestig die Skrif die feit dat die Duiwel ’n persoon is?

9 Maar die Skrif laat by ons geen twyfel dat daar ’n persoonlike Duiwel is nie. Dit toon dat ’n persoon deur die slang gepraat en die eerste vrou, Eva, bedrieg en verlei het. Die boek Job verskaf verdere bewys dat Satan ’n persoon is, want dit sê vir ons dat hy met Jehovah God gepraat en die onkreukbaarheid van God se kneg Job in twyfel getrek het. Daarbenewens berig die Evangelieskrywers Mattheüs, Markus en Lukas dat Jesus Christus deur die Duiwel versoek is. Dit blyk duidelik dat hierdie versoekings van ’n bron buite Jesus moes gekom het, nie alleen uit wat ons van Jesus se volmaakte persoonlikheid weet nie, maar ook uit die aard van Satan se derde versoeking. Hoe kon Jesus neerval en ’n bose beginsel of idee aanbid? Dit is ook betekenisvol dat Jesus herhaaldelik van Satan as ’n persoon en as “die owerste van hierdie wêreld” gepraat het.—Johannes 12:31; 14:30; 16:11; 8:44; Mattheüs 4:1-10; 12:26; Lukas 10:18.

10 Jesus se apostels het ook die Duiwel as ’n persoon geïdentifiseer. Paulus het gesê dat ware Christene nie onbekend is met Satan se “planne” nie, en die apostel het hulle gewaarsku teen “die liste van die duiwel” (2 Korinthiërs 2:11; Efesiërs 6:11). Soos reeds gemeld, het Petrus sy medegelowiges aangespoor om op hulle hoede te wees vir hulle Teëstander, die Duiwel. En die apostel Johannes het getuig dat “die hele wêreld in die mag van die Bose lê” en dat ‘die duiwel sommige van julle (Christene) in die gevangenis gaan werp’.—1 Johannes 5:19; Openbaring 2:10; 1 Petrus 5:8.

Valse godsdiens, een van Satan se middele

11. Wat het Satan gedoen met die mens se instink om te aanbid?

11 Satan se oogmerk om mense te verblind, behels sy gebruik van valse godsdiens (2 Korinthiërs 4:4). God het die mens geskape met die behoefte om deur middel van aanbidding met sy Skepper in voeling te bly. Satan het hierdie instink gedeflekteer deur selfsug aan te moedig en onkunde ten opsigte van suiwer godsdiens te bevorder. Hy “verander hom in ’n engel van die lig” om sy doel te bereik (2 Korinthiërs 11:14). As gevolg van hierdie bedrog beoefen mense duisende soorte valse godsdiens.

12. Hoe moet ons valse godsdiens en godsdiensvermenging beskou?

12 Alle valse godsdiens is in werklikheid ’n produk van Satan, want Paulus het gesê: “Die dinge wat die nasies offer, offer hulle aan demone, en nie aan God nie.” Jesus het gesê: “Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi.” Boonop het Christus geen plek gelaat vir godsdiensvermenging nie, maar gesê: “Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”—1 Korinthiërs 10:20, NW; Mattheüs 12:30; Johannes 14:6.

13. Hoe het Satan die mens se nuuskierigheid in verband met die okkulte uitgebuit?

13 Satan buit die mens se nuuskierigheid in verband met die okkulte en die toestand van die dode uit. Deur totaal onskriftuurlike gebruike soos om met die dode te praat, of spiritisme, waarsêery, sterrewiggelary en swartkuns, het hy ontelbare mense verstrik. Trouens, al hoe meer mense stel vandag in sulke dinge belang. Dit het sulke uiterstes bereik dat sommige mense nou al die Duiwel self aanbid.—Exodus 22:18; Levitikus 19:26; 20:6; Deuteronomium 18:10-12.

Satan se beroep op trots

14, 15. (a) Watter middel het Satan gebruik om Eva en Kain na sy pype te laat dans? (b) Watter verdere voorbeelde gee die Bybel in hierdie verband?

14 Satan het voor trots geswig. Daarom het hy by Eva ’n trotse, selfsugtige begeerte gewek om soos die allerhoogste God te wees, en so het hy daarin geslaag om ons eerste ouers van die aanbidding van Jehovah God afvallig te maak. Satan het ongetwyfeld ’n soortgelyke benadering met Kain gebruik. Toe hy opmerk hoe ergerlik Kain was omdat sy broer Abel goddelike goedkeuring geniet het, kon die Duiwel daardie ergernis tot moorddadige afguns aanblaas.—Genesis 4:3-8; 1 Johannes 3:11, 12.

15 Deur die geskiedenis van die mensdom heen het Satan trotsaards as sy instrumente gebruik—manne soos Nimrod, die Farao van Egipte in Moses se dag en Assiriese koning Sanherib (Genesis 10:8-12; Exodus 5:2; Jesaja 36:7-10, 16-20). Satan hou vandag menigtes in sy greep deur trots: trots op grond van ras, nasionaliteit, geleerdheid, sosiale status, ensovoorts. Dit alles bevorder die Duiwel se oogmerk deur mense te beïnvloed om God se boodskap in die wind te slaan.

Die verlokking van materialistiese hebsug

16. Watter welslae het Satan behaal deur van materialistiese hebsug gebruik te maak?

16 Nog ’n middel wat Satan gebruik om mense te verstrik, is materialisme, hebsug, geldgierigheid, geldtrots. Hy het die geestelikes van Jesus se dag daarmee gevang, want hulle was geldgierig (Lukas 16:14). Deur die verlokking van materialistiese hebsug “het Satan [Ananias] verstout om die heilige gees te bedrieg” (Handelinge 5:1-11, NW). En die Duiwel het ongetwyfeld liefde vir materiële dinge en wêreldse plesier gebruik om Demas en ander Christene van Jehovah se diens af te rokkel.—2 Timotheüs 4:10.

17. Watter besonder berugte voorbeeld het ons van iemand wat deur Satan se strik van hebsug gevang is?

17 ’n Besonder berugte voorbeeld van Satan se gebruik van hebsug om mense te verstrik, is dié van Judas Iskariot. Hy het nie alleen ’n gierige dief geword nie, maar hebsug was selfs ’n faktor by Judas se verraad teen sy Heer. Sy hebsugtige neigings blyk uit sy beswaar teen Maria se gebruik van duur olie om Jesus se voete te salf (Johannes 12:4-6; Mattheüs 26:14-16). Hoe versigtig moet ons tog wees dat Satan ons nie met die verlokking van materiële hebsug vang nie!

Satan aas op menslike swakhede

18. (a) Watter voorsiening het God gemaak sodat die mens genot uit die lewe kan put? (b) Hoe het Satan hierdie voorsienings tot die mens se nadeel aangewend?

18 Onder die baie swakhede wat deur Satan uitgebuit word, is die drang na verbode sinsgenot. Jehovah God wil hê dat ons baie dinge moet geniet, en wanneer ons hierdie dinge binne die perke van sy wil geniet, kan dit groot voordeel en geluk tot gevolg hê. Maar Satan versoek mense om hierdie dinge eerste in hulle lewe te stel en hulle op onsedelike wyse daaraan oor te gee sodat hulle God se wet oortree. Op hierdie manier het Satan 24 000 Israeliete voor Baäl-Peor laat swig (Numeri 25:1-9). Vandag het die wêreld waansinnig geword in sy najaging van sinsgenot. Tydskrifte, koerante, rolprente en televisieprogramme word al hoe meer eksplisiet in ’n poging om wellustige drange te bevredig. As Christene wat deur God se gees gelei word, moet ons egter sulke versoekings verwerp.—1 Korinthiërs 14:20.

19. (a) Vir watter strik van Satan is jong Christene besonder vatbaar? (b) Waarvoor moet jong Christene op hulle hoede wees?

19 Nog ’n metode van Satan het te doen met die drang na opwinding. Jong Christene is besonder vatbaar vir hierdie strik. Hulle wy dikwels al hulle aandag aan verskillende sportsoorte, hetsy as toeskouers of deelnemers. Maar dit kan daartoe lei dat hulle “meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God” word (2 Timotheüs 3:4). Ander jongmense bevredig hulle drang na opwinding deur middel van musiek en liedere wat onsedelikheid en geweld aanblaas. Hier moet groot versigtigheid aan die dag gelê word, want sulke dinge kan jong Christene weglei van die pad van onkreukbaarheid en reinheid.—Psalm 16:11; 2 Petrus 2:20-22.

20. Hoe gebruik Satan vrees?

20 Satan gebruik ook mensevrees as ’n strik. Dit is natuurlik om terug te deins van bespotting en om lyding te probeer vermy. As gevolg van hierdie vrees het heelparty ontrou geword wanneer daar druk op hulle uitgeoefen is (Spreuke 29:25; Hebreërs 2:14, 15). Met God se hulp sal ons nooit toelaat dat dit met ons gebeur nie.

21. Waarom hoef ons nie deur ontmoediging oorweldig te word nie?

21 ’n Ander taktiek van Satan is om God se knegte te probeer ontmoedig sodat hulle tou opgooi. Die Duiwel het beslis probeer om dit met Job te doen, sodat hy gewens het dat hy dood was of nooit gebore is nie. Satan het dit ook met Moses probeer (Job 3:1-13; 14:13; Numeri 11:10-15). Nie een van hierdie getroue manne is deur ontmoediging oorweldig nie. Hulle het hulle eerder aan die wil van God onderwerp. Net soos hulle hoef ons nie deur omstandighede oorweldig te word nie, want Jehovah kan ons onderskraag en sal nooit toelaat dat die regverdige wankel nie.—Psalm 55:23.

Bly staande!

22, 23. Wat moet ons doen as ons staande wil bly teen die “liste” van Satan en nie sy planne wil bevorder nie?

22 Satan het daarin geslaag om die oorgrote meerderheid van die mensdom van Jehovah God te vervreem. Maar wat moet ons doen? As moedige getuies van Jehovah moet ons staande bly “teen die liste van die duiwel”, teen sy planne, sy streke en sy taktiek (Efesiërs 6:11). Sodoende kan ons bewys wat ’n verdorwe, verwaande leuenaar hy werklik is.

23 Ons kan egter nie in ons eie krag teen Satan staande bly nie, want hy het groter mag, breër kennis en veel meer ervaring as ons. As ons teen hom staande wil bly, moet ons dus ten volle gebruik maak van al die hulpmiddele wat Jehovah God aan sy volk gegee het. Dan sal ons daardie slinkse vyand uitoorlê!

Kan jy onthou?

◻ Watter vyande gebruik Satan om sy bose planne te verwesenlik?

◻ Watter standpunt neem Satan ten opsigte van Jehovah in?

◻ Hoe toon die Bybel dat Satan ’n persoon is?

◻ Wat is sommige van die middele wat die Duiwel gebruik om ons te verstrik, en hoe kan ons hulle vermy?

[Prent op bladsy 13]

Jehovah se Getuies swig nie voor mensevrees nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel