“Migael, die grootvors”—Wie is hy?
DIE geesskepsel Migael word nie dikwels in die Bybel gemeld nie, maar wanneer hy wel gemeld word, is dit altyd in dramatiese konteks. In Daniël sien ons hoe hy teen bose engele veg ten behoewe van God se volk. In Judas voer hy ’n woordestryd met Satan oor die liggaam van Moses. En in die boek Openbaring werp hy Satan en sy demone op die aarde neer. Migael is klaarblyklik ’n sleutelfiguur in die hemel. Gevolglik is dit net reg om te wonder: Wie is Migael?
Jehovah se Getuies leer al baie jare lank dat Migael ’n hemelse naam vir die eniggebore Seun van God is, wat Jesus genoem is toe hy op die aarde was. Die meeste ander gelowe beskou Migael egter as een van etlike aartsengele, asof daar meer as een aartsengel is. Is die leer van Jehovah se Getuies, in die lig hiervan, juis? Wat sê die Bybel omtrent Migael?
“Julle vors”
Ons word in die boek van Daniël voorgestel aan die een wat Migael genoem word. Daar verwys ’n engel van God na hom met hierdie woorde: “Maar die vors van die koninkryk van die Perse het een-en-twintig dae lank teenoor my gestaan, en kyk, Migael, een van die vernaamste vorste, het gekom om my te help . . . Ek moet dan nou teruggaan om te veg met die vors van die Perse; en as ek heengegaan het, kyk, dan kom die vors van Griekeland. Nogtans sal ek jou te kenne gee wat geskrywe is in die boek van die waarheid; en daar is nie een wat hom saam met my dapper gedra teen hulle nie, behalwe julle vors Migael.”—Daniël 10:13, 20, 21.
Hier kry ons ’n boeiende kykie in die geesteryk. Ons sien dat geesskepsele—goeies en slegtes—baie betrokke is by wêreldsake. Daar was ’n “vors van die koninkryk van die Perse”, ’n geesskepsel, wat die bedrywighede van God se engel teëgestaan het. Na Persië sou daar ’n “vors van Griekeland” wees wat die belange van daardie wêreldmoondheid sou bevorder. Migael was een van die “vernaamste vorste” onder hierdie geesskepsele. Watter nasie het hy gelei en beskerm? Dit was ongetwyfeld Daniël se volk, die Jode.
Die naam “Migael” beteken “Wie is soos God?”, wat toon dat hierdie vernaamste vors Jehovah se soewereiniteit verdedig. Aangesien Migael ook ’n kampvegter vir God se volk is, het ons rede om te glo dat hy die naamlose engel is wat God honderde jare tevore voor die Israeliete uitgestuur het: “Kyk, Ek stuur ’n Engel voor jou uit om jou op die pad te bewaar en om jou na die plek te bring wat Ek gereedgemaak het. Neem jou in ag vir Hom en luister na sy stem; wees nie wederstrewig teen Hom nie; want Hy sal julle oortreding nie vergewe nie, want my Naam is in Hom.”—Exodus 23:20, 21.
Dit is logies om die gevolgtrekking te maak dat dit die engel was wat soveel belangrike boodskappe aan God se volk gebring het (Handelinge 7:30, 35; Rigters 2:1-3). God het hom volmag gegee om in Sy naam op te tree, net soos konings in vervloë tye hulle seëlringe aan betroubare onderdane toevertrou het en hulle sodoende volmag gegee het om namens hulle op te tree.—Exodus 3:2, 3; 4:10.
Is daar enigiets wat ons rede gee om te glo dat Migael en Jesus Christus dieselfde persoon is? Wel, Jesus word “die Woord” genoem (Johannes 1:1). Hy is God se woordvoerder. Dit is duidelik dat God hierdie spesiale engeleboodskapper as sy hoofwoordvoerder gebruik het wanneer hy met die Israeliete wou kommunikeer.
Migael ‘staan op’
Migael was “julle vors”. Maar hy sou bykomende gesag ontvang. Ons sien hom vervolgens in die laaste hoofstuk van die boek Daniël: “En in dié tyd sal Migael, die groot vors wat oor die kinders van jou volk staan, optree [“opstaan”, NW]; en dit sal ’n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ’n volk bestaan het tot op dié tyd nie.”—Daniël 12:1.
Daniël het pas in hoofstuk 11 die opeenvolging van wêreldmoondhede beskryf, van sy eie tyd af tot in die toekoms. Hy het die val van Persië en die opkoms van Griekeland akkuraat beskryf. Toe het die verdeling van die Griekse Ryk gevolg. Twee van die politieke entiteite wat daardeur ontstaan het—die koning van die Noorde en die koning van die Suide—sou meeding om oppermag en beheer van God se volk. Wanneer daardie mededinging ’n hoogtepunt bereik, sal Migael “opstaan”. Wat beteken dit?
Wel, in ander dele van dieselfde profesie beteken die term “opstaan” dat die persoon gesag aanvaar om as koning te regeer (Daniël 11:3, 4, 7, 20, 21, vgl. NW). Wanneer Migael gevolglik “opstaan”, begin hy ook om as ’n koning te regeer. Beskou die implikasies hiervan.
Voordat Daniël gesterf het, is die laaste Joodse koning, Sedekia, onttroon. In die daaropvolgende eeue sou daar geen Joodse koning wees nie. Daniël se profesie het getoon dat God se volk weer eendag ’n koning sou hê—Migael.
Esegiel, Daniël se tydgenoot, het die koms voorspel van die een “wat daarop reg het” om weer as koning van God se volk te regeer (Esegiel 21:25-27). Die “Hy” was nie die Levitiese Makkabeërs wat tydens ’n kort tydperk van onafhanklikheid ’n mate van gesag uitgeoefen het nie. Omdat hulle nie afstammelinge van koning Dawid was nie, het hulle geen “reg” gehad om konings te wees nie. Dit was eerder Jesus Christus wat deur God gesalf is om as koning in ’n hemelse koninkryk te regeer (Lukas 1:31-33; 22:29, 30; Psalm 110:1). Hy was die enigste een wat met die doel gesalf is. Dit is dus net logies om te sê dat Jesus en Migael dieselfde persoon is.
Daniël hoofstuk 7 bevat nog ’n profesie oor die opeenvolging van wêreldmoondhede wat met Daniël hoofstuk 11 verband hou. Wanneer daardie profesie egter ’n hoogtepunt bereik, lees ons dat daar aan ‘Een soos die Seun van ’n mens’ “heerskappy en eer en koningskap” gegee is (Daniël 7:13, 14). Hierdie een “soos die Seun van ’n mens” word algemeen as Jesus herken (Mattheüs 10:23; 26:64; Openbaring 14:14). Wanneer een profesie ’n hoogtepunt bereik, is dit Jesus wat ’n koning word. In die ander in Daniël is dit Migael wat ’n koning word. Aangesien albei profesieë oor dieselfde tydperk en dieselfde voorval handel, is dit net redelik om aan te neem dat hulle ook oor dieselfde persoon handel.
Die aartsengel
Ons lees vervolgens van Migael in die Christelike Griekse Skrifte. Die boek Judas deel ons mee: “Maar toe Migael, die aartsengel, met die duiwel in woordestryd was oor die liggaam van Moses, het hy geen oordeel van lastering durf uitspreek nie, maar het gesê: Die Here bestraf jou!” (Judas 9). Hierdie voorval toon hoe na Migael aan God se eertydse volk was. Dit staaf derhalwe die argument dat hy die engel was wat voor die Israeliete uitgegaan het om hulle te beskerm.
Uit Judas leer ons dat Migael die amp van aartsengel beklee het. Hy was trouens die aartsengel, aangesien geen ander aartsengel in die Bybel gemeld word nie en die Bybel “aartsengel” nie in die meervoud gebruik nie. “Aartsengel” beteken “Hoof van die engele” (Thayer’s Greek-English Lexicon of the New Testament). Onder God se geesdienaars is daar slegs twee name wat geassosieer word met gesag oor engele: Migael en Jesus Christus (Mattheüs 16:27; 25:31; 2 Thessalonicense 1:7). Dit dui ook aan dat Jesus en Migael dieselfde is.
Die naam van Jesus word interessant genoeg in een van Paulus se briewe aan die woord “aartsengel” gekoppel. Die apostel skryf: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God” (1 Thessalonicense 4:16, NW). Die verband plaas hierdie gebeurtenis gedurende “die teenwoordigheid van die Here” toe Jesus as koning begin regeer het.—1 Thessalonicense 4:15, NW; Mattheüs 24:3; Openbaring 11:15-18.
Dit is Jehovah se wil en reëling dat Jesus die dode opwek (Johannes 6:38-40). Dit is die geluid van God se basuin wat die dode tot die lewe herroep, net soos God opdrag gegee het dat basuine in vervloë tye gebruik moes word om sy volk byeen te roep (Numeri 10:1-10). Jesus gee “’n geroep” dat die dode moet opstaan, net soos hy by een geleentheid gedoen het terwyl hy op aarde was (Johannes 11:43). Maar nou roep hy nie met ’n mansstem soos destyds nie, maar met die krag van “die stem van ’n aartsengel” (enpho·ne’arkh·ag·ge’lou). Dit is slegs ’n aartsengel wat met die stem van ’n aartsengel kan roep! En aan niemand anders behalwe Jesus is die mag gegee om die dode op te wek nie. Hierdie kragtige profesie gee gevolglik nog meer rede om Jesus as die aartsengel Migael te identifiseer.
Oorlog in die hemel
Die naam Migael verskyn vir die laaste keer in die Bybelboek Openbaring. Daar lees ons: “En daar het oorlog in die hemel gekom: Migael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; en hulle kon nie oorwin nie” (Openbaring 12:7, 8). Hier sien ons Migael in aksie as God se aartsengel. Saam met “sy engele” verslaan hy Satan en werp hom op die aarde neer.
Dit is die begin van die “min tyd” voordat Satan se goddelose stelsel heeltemal vernietig word. Nadat Babilon die Grote deur die nasies vernietig is, sal die nasies self deur Jesus en sy engelemagte vernietig word (Openbaring 12:12; 17:16, 17; 19:11-16). Eindelik word Satan vir duisend jaar vasgebind waarna hy heeltemal vernietig word in “die poel van vuur” (Openbaring 20:1, 2, 10). Hierdie langbeloofde, finale ‘vermorseling van Satan se kop’ word ook deur Jesus saam met sy verrese, geestelike broers gedoen.—Genesis 3:15; Galasiërs 3:16; Romeine 16:20.
Aangesien daar voorspel is dat Jesus die een sou wees wat Satan se kop sou vermorsel, en aangesien hy al hierdie ander oordele voltrek, is dit net logies om af te lei dat hy die hemelse leërskare sou lei toe Satan uit die hemel gewerp is. Die seëvierende Migael waarna daar in Openbaring 12 verwys word, moet gevolglik Jesus wees wat deur Jehovah beveel is om ‘te midde van sy vyande te heers’.—Psalm 110:1, 2; Handelinge 2:34, 35.
Wanneer ons die naam Migael in plaas van Jesus in Openbaring hoofstuk 12 aantref, word ons aandag gevestig op die profesie wat vroeër in Daniël hoofstuk 12 bespreek word. In Daniël lees ons dat Migael opstaan (Daniël 12:1, vgl. NW). In Openbaring hoofstuk 12 tree Migael op soos ’n seëvierende monarg wat Satan op die aarde neerwerp. Die gevolg: “Wee die bewoners van die aarde en die see.”—Openbaring 12:12.
Is Jesus ’n engel?
Party maak daarteen kapsie dat Jesus identifiseer word as die engel van Jehovah wat in die Hebreeuse Skrifte gemeld word. So ’n identifikasie skep natuurlik vir Trinitariërs ’n probleem, aangesien dit afdoende bewys lewer dat hy nie aan Jehovah God gelyk is nie. Maar selfs party wat nie die Drie-eenheidsleer aanvaar nie, meen dat dit afbreek aan Jesus se waardigheid doen om hom as ’n engel te identifiseer.
Hou egter in gedagte dat die grondbetekenis van “engel” (Hebreeus, mal·’akh’; Grieks, ag’gel·los) “boodskapper” is. Jesus is, as die “Woord” (Grieks, lo’gos), by uitstek God se boodskapper. Hou ook in gedagte dat Jesus, selfs voordat hy aarde toe gekom het, as die aartsengel, en as “die Eersgeborene van die hele skepping”, die hoogste posisie onder die engele beklee het.—Kolossense 1:15.
Die apostel Paulus het weliswaar aan die Hebreërs geskryf: “Terwyl Hy [Jesus] soveel uitnemender geword het as die engele namate Hy ’n voortrefliker naam geërf het as hulle” (Hebreërs 1:4; Filippense 2:9, 10). Dit beskryf egter sy posisie nadat hy hier op die aarde was. Hy was steeds die aartsengel en “die begin van die skepping van God” (Openbaring 3:14). Maar hy het beter as die engele geword. Die “voortrefliker naam” is duidelik iets wat hy nie besit het voordat hy aarde toe gekom het nie. (Hierdie tekste weerlê die Trinitariese opvatting dat die Seun in alle opsigte aan die Vader gelyk is en nog altyd was.)
Ons kan gevolglik net een afleiding maak uit die feit dat Migael die aartsengel, die hoof van die engele is, uit die feit dat hy opstaan om as Koning te regeer, en uit die feit dat hy die leiding neem om Satan uit die hemel neer te werp ten tye van die geboorte van God se Koninkryk: “Migael, die groot vors” is niemand anders as Jesus Christus self nie.—Daniel 12:1.
[Lokteks op bladsye 29, 30]
Migael is die aartsengel wat ’n koning geword het . . .
. . . Hy het ook opgetree om Satan uit die hemel te werp