Koninkryksverkondigers berig
Mense beklee hulle met die nuwe persoonlikheid
DIE Bybel beveel: „Lê die ou persoonlikheid met sy gebruike af en beklee julle met die nuwe persoonlikheid wat deur middel van juiste kennis vernuwe word na die beeld van die Een wat dit geskape het” (Kolossense 3:9, 10, NW). Baie van diegene wat vandag Jehovah se Getuies is, was eens ’n deel van Satan se oneerlike wêreld. Toe hulle juiste kennis verkry het van wat God van Christene vereis, het hulle verander en hulle met die nuwe persoonlikheid beklee. Die volgende ondervindinge lig toe hoe sulke veranderinge aangebring kan word.
◻ ’n Verstokte dief in Spanje met kleptomaniese neigings het begin om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te bestudeer. Sy huis was vol gesteelde goedere. Namate hy meer juiste kennis van Bybelbeginsels verkry het, het sy gewete begin om hom te kwel en het hy besluit om die dinge wat hy gesteel het aan die eienaars terug te besorg.
Hy het sy voormalige werkgewer genader en bely dat hy ’n nuwe wasmasjien by hom gesteel het. Hierdie man, wat beïndruk was deur die redes vir sy nuwe gesindheid, het hom toegelaat om die prys van die wasmasjien (R480) te betaal, en hy het gesê dat hy nie die polisie sou verwittig nie.
Toe het hy na die dorp se burgemeester gegaan en bely dat hy twee duur gloeilampe in die stad gebreek het en aangebied om daarvoor te betaal. Omdat die burgemeester gesien het dat hierdie man hom met „die nuwe persoonlikheid” beklee het danksy ’n studie van die Bybel, het hy hom vergewe en wou hy geen betaling aanvaar nie.
Die man het ook ander in sy buurt besoek en gesteelde goedere teruggegee, en hulle het almal hulle verbasing uitgespreek oor die groot verandering in sy gesindheid as gevolg van die toepassing van Bybelbeginsels.
Maar hy het nie geweet wie die eienaars is van baie artikels wat nog in sy besit was nie. Nadat hy tot Jehovah gebid het, het hy dus na die polisiehoofkwartier gegaan en ses stereofoniese radio-kassetspelers oorhandig wat hy uit geparkeerde motors verwyder het. Die polisie was verbaas omdat hy nie op hulle strafregister was nie. Hulle het hom ’n boete laat betaal en ’n kort tronkvonnis laat uitdien.
Nou het hy ’n rein gewete voor Jehovah. In ooreenstemming met Efesiërs 4:28, „Laat die een wat steel, nie meer steel nie”, en omdat hy besef dat diewe „die koninkryk van God nie sal beërwe nie”, het hy opgehou om te steel en het hy hom met „die nuwe persoonlikheid” beklee.—1 Korinthiërs 6:9, 10.
◻ Die eerlikheid van diegene met Christelike persoonlikhede word dikwels deur buitestaanders raakgesien, soos toegelig deur ’n ondervinding in Italië. Een van Jehovah se Getuies het ’n verskriklike motorongeluk aanskou. Sy het na een van die motors gegaan om te sien of sy hulp kon verleen. Toe sy ’n man sien wat ernstig beseer was en gebloei het, het sy met hom gepraat en Jehovah se naam gebruik. Die man het sy kop opgelig en gevra of sy een van Jehovah se Getuies is. Toe sy bevestigend antwoord, het hy gesê: „Juffrou, ek voel baie sleg. Ek het ’n tas in die motor met miljoene [lire] kontant daarin. Neem dit asseblief huis toe. Ek weet dat dit veilig sal wees. Anders sal al hierdie geld verdwyn. Wanneer ek gesond is, kan jy die geld vir my teruggee!” Die Getuie het die geld geneem en dit vir hom teruggegee nadat hy herstel het. Hy was baie dankbaar.
Jehovah seën diegene wat ,die ou persoonlikheid aflê’ en hulle „met die nuwe persoonlikheid” beklee.—Efesiërs 4:22-24, NW.
„Laat die een wat steel, nie meer steel nie; maar laat hom liewer arbei deur met sy hande te werk wat goed is, sodat hy iets kan hê om mee te deel aan die een wat gebrek het.”—Efesiërs 4:28