Jy kan ’n oorlewende wees!
DIE kwessie van oorlewing is vandag voor in die gedagtes van mense wêreldwyd. Hoewel die Bybel toon dat wat die mens in die gesig staar veel skrikwekkender is as die dinge wat sekere wetenskaplikes voorspel, toon dit ook dat daar betroubare vooruitsigte op oorlewing is. Dit was derhalwe uiters gepas dat die Wagtoringgenootskap ’n boek met die titel Oorlewing tot in ’n nuwe aarde, wat alom versprei sal word, op die eerste dag van ’n onlangse reeks wêreldwye byeenkomste van Jehovah se Getuies uitgereik het. Wat bevat dit?
Die boek bevat ’n realistiese bespreking van die probleme waarmee ons in die tagtigerjare te kampe het. Daar is belangrike faktore wat mense in die algemeen buite rekening laat, en gevolglik sien talle geen uitweg uit die verergerende wêreldkrisis nie. Hierdie belangrike faktore word in die eerste hoofstuk „Wat gaan van die planeet Aarde word?” sterk na vore gebring. Party mense hoop van harte dat die verkiesing van nuwe amptenare of massabetogings of selfs gewelddadige revolusies vir hulle verligting sal bring. Maar die feite toon dat hulle bloot een klomp probleme vir ’n ander klomp verruil. Die boek ontleed die onderliggende rede hiervoor en identifiseer die waarlik belangrike geskille wat ons toekoms sal bepaal.
Met God se Woord as gesag beantwoord hierdie nuwe boek die vraag: „Hoe lank sal die huidige stelsel voortbestaan?” En nadat dit toon dat mense wat tans lewe die vooruitsig het om hierdie wêreld se einde te oorleef, bied die boek ’n lewendige en gegronde voorstelling van „Die soort lewe wat op oorlewendes wag”. Dit is die soort vooruitsig wat by ’n liefhebber van geregtigheid die begeerte wek om onder die oorlewendes te wees. Die inligting in hierdie publikasie sal ongetwyfeld vir miljoene opregte mense ’n bron van kragtige bemoediging wees.
Aangrypende profetiese Bybeldramas
Met die bekendstelling van die boek Oorlewing tot in ’n nuwe aarde het die sprekers by die verskillende byeenkomste verduidelik dat dit besondere aandag skenk aan talle aangrypende profetiese Bybeldramas en ander profesieë in verband met diegene wat die komende „groot verdrukking” sal oorleef en vir ewig op ’n paradysaarde sal lewe (Mattheüs 24:21; Openbaring 7:14). Daardie Bybeldramas bevat werklike voorbeelde wat toon hoe Jehovah sal optree teenoor mense wat nou lewe. Hulle toon wat nodig is om sy guns te verkry. Maar in plaas daarvan om bloot vir ons te sê wat ons moet doen ten einde God se goedkeuring te verkry, laat hierdie verhale daardie goddelike vereistes vir ons lewe. Hulle raak ons hart en versterk ons begeerte om te doen wat reg is.
„Jona hoofstuk 3”, het die byeenkomssprekers verduidelik, „bevat byvoorbeeld ’n drama wat beklemtoon hoe noodsaaklik dringende optrede is as ons onheil wil vermy. Jehovah het Jona opdrag gegee om na Nineve te gaan, na ’n volk wat geensins bely het dat hulle die God van Abraham aanbid nie, om te verkondig dat hulle groot stad oor net 40 dae omvergewerp sou word. Hoe het hulle gereageer? In plaas daarvan om te spot, het ,die manne van Nineve God geglo’. Hulle het ’n vasdag uitgeroep en hulle met rougewaad beklee. Op aansporing van hulle koning het hulle ernstig tot God geroep en hulle van hulle verkeerde weg bekeer. Weens hulle opregte berou, het Jehovah hulle gespaar. Jesus het later getoon dat die gebeure wat deur Jona opgeteken is, nie net dooie geskiedenis is nie (Mattheüs 12:39-41). Is die profetiese betekenis daarvan ook op ons dag van toepassing?
„Is daar vandag mense wat soos daardie eertydse Nineviete is?” het die sprekers gevra. „Ja. Wanneer Jehovah se Getuies die goddelike waarskuwing bekend maak dat die goddelose wêreld binnekort vernietig gaan word, is baie wat daarop ag gee mense wat nooit tevore bely het dat hulle die God van die Bybel aanbid nie, mense wat, godsdienstig gesproke, nie die onderskeid tussen hulle regter- en hulle linkerhand geweet het nie [Jona 4:11]. Maar nou stel hulle geloof in Jehovah, toon hulle berou oor hulle vorige weë en word hulle ’n deel van die ,groot menigte’, met die vooruitsig om die ,groot verdrukking’ te oorlewe.”—Openbaring 7:9, 14.
Die boek bespreek altesaam 21 verskillende groepe of individue wat in die Bybel gemeld word en mense afgeskadu het wat nou lewe en die aardse ryk van God se Koninkryk sal beërwe sonder om te sterf. Dit behandel ook 26 ander profetiese beskrywings van hierdie begunstigde groep wat die heerlike vooruitsig van volmaakte menselewe het.
Fondament van die nuwe aarde
Diegene wat deur Jehovah God gespaar word wanneer die „groot verdrukking” kom, sal die fondament van die voorspelde nuwe aarde word, aangesien hulle die eerste lede van ’n nuwe gemeenskap sal wees, ’n gemeenskap wat die aanbidding van die ware God rondom die aarde sal uitbrei (2 Petrus 3:13). Hulle sal die vreugde smaak om die miljarde wat later uit die dood opgewek sal word te onderrig. Soos die byeenkomssprekers getoon het, is dit derhalwe belangrik dat die fondament van die nuwe aarde gesond moet wees.
Die voornemende lede van daardie nuwe aarde word nou in Jehovah se weë onderrig. Hulle word gehelp om deeglik te besef hoe die geskil oor universele soewereiniteit ons daaglikse lewe raak. Hulle leer hoe noodsaaklik dit is om ,op Jehovah te vertrou met hulle hele hart en nie op hulle eie insig te steun nie’ (Spreuke 3:5, 6). Hulle word geleenthede gegun om te toon dat hulle ywerige en lojale ondersteuners van God se Koninkryk is. Hulle doen ondervinding op as deel van ’n wêreldgemeenskap waarin mense uit alle nasies, tale en rasse in liefdevolle broederskap saamwerk. Is jy ’n aktiewe deel van daardie groep?
In plaas daarvan dat dit bloot oorlewing bespreek, help die nuwe boek wat by die onlangse reeks byeenkomste van Jehovah se Getuies beskikbaar gestel is die leser om sy eie lewe in die lig van die vereistes van God se Woord te ondersoek. Hetsy jy ’n nuwe student van die Bybel is of een wat dit al baie jare lank lees, jy sal daarby baat vind as jy die boek Oorlewing tot in ’n nuwe aarde jou gedagtes laat stimuleer. As jy dit nog nie gelees het nie, spoor ons jou aan om dit nou dit doen. Deel dit dan met ander sodat hulle ook die wonderlike vooruitsig wat dit bespreek hulle eie kan maak.