Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 3/15 bl. 10-15
  • Werk saam met die Organiseerder van die ganse heelal

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Werk saam met die Organiseerder van die ganse heelal
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vroeë beskouings van organisasie
  • Die Jerusalem in slawerny
  • Die vry Jerusalem
  • Werk saam met die Groot Organiseerder
  • God se verbond met sy “vriend” strek miljoene reeds tot voordeel
    Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”
  • Die onvrugbare vrou is bly
    Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom II
  • “’n Simboliese drama” wat vir ons betekenisvol is
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 3/15 bl. 10-15

Werk saam met die Organiseerder van die ganse heelal

„Want ons is medewerkers van God; die akker van God, die gebou van God is julle.”​—1 KORINTHIËRS 3:9.

1. Watter uitdrukking wat meer as 62 jaar gelede gebruik is, het die hoorders opgewonde gemaak, en watter uitwerking het dit op ywerige Bybelstudente van daardie tyd gehad?

„GOD SE ORGANISASIE.” ’n Lid van die Wagtoringgenootskap se redaksie het daardie uitdrukking meer as 62 jaar gelede gedurende die daaglikse Bybelbespreking aan die Betheltafel gebruik. Hoe opgewonde het dit die gesin by die hoofkwartier in Brooklyn, New York, tog gemaak! Daardie unieke uitdrukking, „God se organisasie”, het die toekomstige denke, spraak en geskrifte van daardie Bybelstudente gerig. Dit het hulle geestelike beskouing ten opsigte van die hele skepping verbreed en hulle gesindheid teenoor die wonderlike Organiseerder van die heelal, Jehovah God, grootliks beïnvloed.

2. Hoe kan die woord „organisasie” gedefinieer word, soos aangedui deur die Griekse oorsprong daarvan?

2 Vandag klink dit miskien vreemd, aangesien die woord „organisasie” algemeen gebruik word deur Jehovah se Getuies, wat hulle voorreg om saam met die Organiseerder van die heelal te werk hoog op prys stel (1 Korinthiërs 3:5-9). Die woord „organisasie” kom van die Griekse term orʹga·non. Dit dui onder meer op ’n instrument of werktuig waarmee werk verrig word. Dit verskyn ’n aantal kere in die Septuaginta en word gebruik om na ’n musiekinstrument, soos Dawid se harp, te verwys. Die grondwoord is er’gon, ’n selfstandige naamwoord wat „werk” beteken. ’n Organisasie is dus ’n bestel wat in werking gestel word om iets gedaan te kry of op die beste manier moontlik te bewerkstellig en so min tyd en energie moontlik te bestee.

Vroeë beskouings van organisasie

3. Wat het hierdie tydskrif se nommer vir Maart 1883 oor „ons organisasie” gesê?

3 Die Bybelstudente het egter jare gelede gesukkel om die woord „organisasie” toe te pas. Die Watch Tower se nommer vir Maart 1883 het byvoorbeeld gesê:

„Maar hoewel dit vir die natuurlike mens onmoontlik is om ons organisasie te sien omdat hy nie die dinge van die Gees van God kan verstaan nie, vertrou ons dat jy kan sien dat die ware Kerk op uiters doeltreffende wyse georganiseer is en in die allerbeste werkende orde is. . . . Ons het grenslose geloof in ons Kaptein; en hierdie volmaakte organisasie, wat vir die wêreld onsigbaar is, gaan voort tot gewisse en heerlike oorwinning.”

4. Watter beskouing van organisering is in die nommer van 1 Desember 1894 van hierdie tydskrif bespreek?

4 Maar die Watch Tower se nommer van 1 Desember 1894 het gesê:

„Maar aangesien daardie werk om die kerk van die nuwe Evangeliedispensasie te organiseer nie deel was van die oeswerk van die ou Joodse dispensasie nie, is die huidige oeswerk of insameling van die Evangeliedispensasie ook afgeskeie van en anders as die werk van die nuwe Millenniumdispensasie wat nou ophande is. . . . Dit is duidelik dat die oprigting van ’n sigbare organisasie van sodanige ingesameldes sou indruis teen die gees van die goddelike plan; en as dit gedoen word, sou dit skynbaar dui op ’n begeerte van die kerk om hom te skik na die tans gewilde idee van organisasie of konfederasie. (Kyk Jes. 8:12.) Die werk is nou nie die van organisasie nie, maar van skeiding, net soos dit in die Joodse oes was (Matt. 10:34-36) . . .

„Hoewel ons ’n sigbare organisasie van die ingesameldes dus nie as ’n deel van die Here se plan in die oeswerk sien, asof ons verwag om as ’n organisasie nog lank hier te wees nie, sien ons dit wel as sy wil dat diegene wat die Here liefhet dikwels met mekaar oor hulle gemeenskaplike verwagtinge en vreugdes, of beproewinge en verwarring, moet praat en dat hulle die kosbaarhede in sy Woord moet bespreek.”

5. Wat het die boek The New Creation oor organisasie gesê?

5 Die Christengemeente is destyds dus nie as ’n organisasie beskou nie. Maar hulle het dit goedgedink om die gemeente, of ekklesia, in orde te bring. Die titel van Studie V van die boek The New Creation, wat in 1904 uitgegee is, was byvoorbeeld „Die organisasie van die Nuwe Skepping” en begin deur te sê: „Aangesien die Nuwe Skepping eers met die Eerste Opstanding volmaak of volledig sal wees, sal die organisasie daarvan dan eers volkome wees. Die tempelbeeld lig dit toe: as lewende stene word ons nou geroep of genooi tot plekke in die glorieryke tempel.”

6. Hoe het die boek Thy Kingdom Come die „moeder” van lede van die „nuwe skepping” geïdentifiseer?

6 Dit is interessant dat die boek Thy Kingdom Come, wat in 1891 gepubliseer is, aangaande daardie gesalfdes van die „nuwe skepping” gesê het: „Wat Jesaja 54:1-8 betref, die apostel Paulus het die lig van bomenslike wysheid daarop gewerp en het dit toegepas op geestelike Sion, ons moeder of verbond, wat deur Sara afgebeeld is. Die natuurlike saad van Abraham is verwerp as erfgenaam van die belofte, en die ware saad, Christus (afgebeeld deur Isak en Rebekka), is as die enigste saad van die belofte ontvang.​—Galasiërs 4:22, 24, 26-31.”

7, 8. Wie is die „moeder” van die Christengemeente se man, en wat sê Jesaja 54:1-8 in verband hiermee?

7 Hierdie verklaring het niks te doen gehad met die Sionistiese Wêreldorganisasie wat in 1897 deur Theodor Herzl gestig is nie. Daardie organisasie het verband gehou met die Jerusalem hieronder, hier op aarde, nie die „Jerusalem daarbo”, die „moeder” van die Christengemeente nie (Galasiërs 4:26). Die boek Thy Kingdom Come het nie die feit dat God, wat deur Abraham afgebeeld is, die man van die „moeder” van die Christengemeente is verder ontwikkel nie. Jehovah is nie getroud met die Abrahamiese verbond of die nuwe verbond nie, maar met die „Jerusalem daarbo”, wat afgebeeld is deur Isak se moeder Sara. Soos sy moet die „Jerusalem daarbo” as ’n „moeder” lewend wees en persoonlikheid hê.

8 Wie is die „Jerusalem daarbo” dan? Om uit te vind, moet ons eers na Jesaja 54:1-8 (NAV) kyk, wat ten dele lui:

„Jubel, onvrugbare vrou, jy wat geen kinders in die wêreld gebring het nie, jubel en juig, jy wat geen geboortepyne geken het nie, want jy, verstote vrou, gaan nou meer kinders hê as een wat getroud is, sê die Here. . . . Hy wat jou gemaak het, is jou man, sy Naam is [Jehovah] die Almagtige. Die Heilige van Israel is jou Verlosser; Hy word die God van die hele wêreld genoem. Jy is ’n verstote en bitter bedroefde vrou, maar die Here roep jou terug, want hoe kan ’n man sy eie vrou vergeet? sê jou God. Net ’n oomblik het Ek jou verstoot, in my groot liefde vat Ek jou terug. In ’n opwelling van toorn wou Ek ’n kort tydjie niks met jou te doen hê nie, maar Ek ontferm My oor jou met ’n liefde wat nooit vergaan nie, sê die Here, jou Verlosser.”

9. (a) Wie of wat is in Jesaja 54:1-8 deur Jehovah vertroos? (b) Wie is volgens Galasiërs 4:25, 26 die figuurlike „vrou” wat in die antitipe aangespreek is?

9 Daar het Jehovah in die eerste plek nie met ’n verbond gepraat nie. Hy het ’n nasie aangespreek, sy uitverkore volk wat in die Mosaïese Wetsverbond met hom was. Uit God se standpunt het daardie nasie ’n saamgestelde „vrou” uitgemaak wat soos ’n eggenote vir hom was. Volgens die apostel Paulus se brief aan die Galasiërs was daardie figuurlike „vrou” ’n afskaduwing, maar hy sê nie dat sy ’n verbond, of ’n ooreenkoms, is nie. ’n Verbond kan nie vertroos word nie. Paulus toon eerder dat die antitipiese „vrou”, soos ’n „moeder”, iets lewends is, net soos die „man”, Jehovah, ’n Persoon met intelligensie en die vermoë om te vertroos lewend is. Die apostel het van vroue in antieke geskiedenis gesê: „Want Hagar [die slavin wat vir haar meesteres Sara ingestaan het deur Ismael vir Abraham te baar] staan vir die berg Sinai in Arabië en kom ooreen met die teenswoordige Jerusalem [toe Paulus op aarde was] en is met haar kinders saam in slawerny [aan die Mosaïese Wetsverbond]. Maar Jerusalem daarbo is vry; en dit is die moeder van ons almal.”​—Galasiërs 4:25, 26.

Die Jerusalem in slawerny

10, 11. (a) Watter betekenisvolle verwikkeling ten opsigte van die Israeliete het by die berg Sinai plaasgevind? (b) Wat het in 33 G.J. met die Wetsverbond gebeur?

10 Hagar beeld nie die Mosaïese Wetsverbond af nie. Daardie verbond met sy Tien Gebooie word ook nie deur die berg Sinai, waarmee Hagar ooreenkom, afgebeeld nie. God het natuurlik nie ’n verbond met die berg Sinai gesluit nie. Maar Jehovah het daar die Israeliete, wat hy uit Egiptiese slawerny bevry het, in ’n verbondsverhouding met hom gebring, en hy het hulle as ’n vry nasie behandel. Dit het plaasgevind eeue nadat Jehovah ’n eensydige verbond met Abraham gesluit het en hom ’n manlike saad beloof het.

11 Toe Moses, die middelaar van die Wetsverbond, van die berg Sinai afgekom het, het sy gesig so ’n helder, bomenslike glans gehad dat hy dit moes bedek sodat die Israeliete na hom kon kyk (2 Korinthiërs 3:12-16). Maar op die berg Sinai was Moses nie in regstreekse aanraking met Jehovah nie, want dit was deur middel van ’n engel dat God die verbond met die Israeliete gesluit het (Handelinge 7:37, 38; Hebreërs 2:2). So het die nasie Israel aan die Wetsverbond onderworpe geword. Daardie verbond is egter eeue later uit die weg geruim toe dit in 33 G.J. aan Jesus se folterpaal genael is.​—Kolossense 2:13, 14.

12. (a) Wie se „moeder” was aardse Jerusalem? (b) Aan wie was aardse Jerusalem 19 eeue gelede diensbaar, en waarom het sy nooit vry geword nie?

12 Paulus het geskryf dat die berg Sinai met die aardse Jerusalem van sy dag ooreengekom het. Jerusalem was natuurlik nie ’n verbond nie; dit was ’n geliefde stad met Joodse inwoners. As die hoofstad het dit die nasie verteenwoordig en was dit die simboliese „moeder” van „kinders”, dit wil sê, van al die lede van die Joodse, of Israelitiese, nasie (Mattheüs 23:37). Die tempel van Jehovah, die God met wie die Israeliete in ’n verbondsverhouding was, was in Jerusalem. Maar die Joodse volk het destyds nie hulle eie onafhanklike koninkryk gehad wat deur ’n afstammeling van koning Dawid geregeer is nie. Hulle was gevolglik nie vry nie, maar in diensbaarheid aan heidense politieke owerhede. Belangriker nog, hulle was in godsdienstige slawerny. Slegs die beloofde Messias, Jesus Christus, kon hulle daarvan, sowel as van slawerny aan die sonde, bevry. Maar daardie Jerusalem het Jesus nie as Messias en Koning aanvaar nie en is nooit bevry nie. Dit is eerder in 70 G.J. met rampspoedige gevolge vir haar „kinders” deur die Romeine vernietig.

Die vry Jerusalem

13. Wat het Paulus oor die vry Jerusalem gesê, en in vryheid waarvan moet haar „kinders” vasstaan?

13 Paulus het aardse Jerusalem wat in slawerny was, vergelyk met die „Jerusalem daarbo” wat „vry” is. Hy het uit Jesaja 54:1-8 aangehaal en geskryf:

„Maar Jerusalem daarbo is vry; en dit is die moeder van ons almal. Want daar is geskrywe: Verbly jou, onvrugbare wat nie baar nie; breek uit en roep, jy wat geen barensnood het nie, want die kinders van die eensame is meer as van haar wat ’n man het. Maar ons, broeders, is soos Isak, kinders van die belofte; maar soos destyds hy wat na die vlees gebore is, hom wat na die Gees was, vervolg het, so is dit nou ook. Maar wat sê die Skrif? Werp die slavin en haar seun uit, want nooit mag die seun van die slavin saam met die seun van die vrye erwe nie. Daarom, broeders, ons is nie kinders van die slavin nie, maar van die vrye. Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie.”​—Galasiërs 4:26-5:1.

14. Waarom was Isak se geboorte „na die Gees”?

14 Die Christene in Galasië is dus aangespreek as ,kinders van God kragtens die belofte’ (Galasiërs 4:28, NAV). As afskaduwing hiervan is Isak vir die honderdjarige Abraham en sy negentigjarige vrou Sara ter vervulling van Jehovah se belofte aan daardie getroue aartsvader gebore. Ja, Isak se geboorte was wonderdadig, geensins „na die vlees” nie (Genesis 18:11-15). Dit moes dus „na die Gees” gewees het. Ja, die gees van die Grotere Abraham, Jehovah God, was beslis nodig om die voortplantingsvermoëns van die vry vrou Sara, sowel as dié van Abraham, te vernuwe (Romeine 4:19). Dit is opmerkenswaardig dat die „belofte” self nie oud was toe Isak in 1918 v.G.J. gebore is nie, want hy is gebore slegs 25 jaar nadat Abraham die beloofde land Kanaän in 1943 v.G.J.​—toe die „belofte” van krag geword het—​binnegegaan het.

15. Hoe lank was die „Jerusalem daarbo” kinderloos, en wanneer het haar nakomelinge talryk begin word?

15 Die „Jerusalem daarbo” was baie langer as Sara ,eensaam’, ofte wel kinderloos. Die „Jerusalem daarbo” was in werklikheid in daardie toestand van 1943 v.G.J. af, toe die belofte aan Abraham van krag geword het, tot Jesus in 29 G.J. gedoop is. Jesus is toe deur die gees van die Grotere Abraham, Jehovah, verwek en is met Sy gees gesalf om die Christus of Gesalfde, die Messias, te wees. Maar die „Jerusalem daarbo” sou meer as een geestelike kind hê. Op Pinkster 33 G.J., na Jesus se opstanding en hemelvaart, is sowat 120 van sy getroue dissipels dus deur die gees van die Grotere Abraham verwek. Hulle is toe met daardie gees gesalf om die geestelike broers van die Grotere Isak, Jesus Christus, te word. Later daardie dag is nog nagenoeg 3 000 Jode as Jesus se dissipels gedoop en met die heilige gees gesalf (Handelinge 2:1-42). Die „Jerusalem daarbo” het derhalwe op daardie dag die „moeder” van talle kinders geword.

16. Wie is die „Jerusalem daarbo”?

16 Die apostel Paulus toon dat die vrou wat in Jesaja 54:1-8 aangespreek word die „Jerusalem daarbo” is. Jehovah God is haar „man” sowel as haar Voortreflike Maker. Figuurlik gesproke is sy sy „vrou” of gemalin-organisasie in die hemel. Soos ’n man maak Hy haar vrugbaar sodat sy die ware „saad” wat in Abraham se dag beloof is, kan voortbring.​—Galasiërs 3:16, 26-29.

17. Hoe het die „Jerusalem daarbo” die „moeder” van die vernaamste „saad” van die Grotere Abraham geword?

17 Om die vernaamste „saad” van die Grotere Abraham te word, het die eniggebore Seun van God uit Jehovah se hemelse gemalin-organisasie gekom. Sy het dus soos ’n „moeder” vir God se Seun geword. Jesus Christus was nie die figuurlike seun van die aardse Jerusalem van sy dag nie, want daardie stad was toe saam met haar „kinders” in slawerny, en Jesus was nooit in slawerny nie (Galasiërs 4:25). Aardse Jerusalem was die „moeder” van daardie natuurlike Jode wat Jesus Christus nie net as die beloofde „saad” van die aartsvader Abraham nie, maar ook van die Grotere Abraham, Jehovah God, verwerp het.​—Mattheüs 23:37-39.

Werk saam met die Groot Organiseerder

18. Waarom was aardse Jerusalem ’n middelpunt van aandag in koning Salomo se dag?

18 Jesus Christus, wat God se hemelse organisasie as sy „moeder” gehad het, was groter en wyser as koning Salomo, die beroemde seun van Dawid en heerser in eertydse, aardse Jerusalem. Salomo se roem en wysheid het ongetwyfeld die aandag van die nie-Israelitiese nasies getrek, soos gesien kan word in Jesus se woorde: „Die koningin van die Suide sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want sy het gekom van die eindes van die aarde af om die wysheid van Salomo te hoor, en​—meer as Salomo is hier!” (Mattheüs 12:42; Lukas 11:31). Salomo het daardie uitsonderlike wysheid deels geopenbaar in die manier waarop hy sy regeringsake gereël het. Die wyse manier waarop hy alles georganiseer het, was ’n bron van wonder.

19. Wat omtrent koning Salomo se bewind het die koningin van Skeba verstom?

19 Ons lees gevolglik in 1 Konings 10:4, 5: „Toe die koningin van Skeba dan al die wysheid van Salomo sien en die huis wat hy gebou het, en die voedsel van sy tafel en hoe sy dienaars sit en sy bediendes staan, en hulle klere, en sy dranke en sy trap waarmee hy opklim in die huis van die HERE, was daar in haar geen gees meer nie.” (AB; Rotherham; Young; Revised Standard; Septuagint. Kyk ook 2 Kronieke 9:4.) Die koningin van Skeba het rede gehad om beïndruk te wees met die reëling van Salomo se personeel. En deur dinge goed gereël en in goeie orde te hê, was hy in harmonie met die God van Orde.​—1 Korinthiërs 14:33.

20. (a) Wat het Jehovah vir Salomo in antwoord op sy gebed gegee? (b) Wat doen Jesus, wat „meer as Salomo is”, en wat doen sy volgelinge?

20 In antwoord op Salomo se nederige gebed het Jehovah hom „’n wyse en verstandige hart” gegee (1 Konings 3:5-14). Die Groot Organiseerder van die ganse heelal het Salomo die vermoë gegee om dinge ter wille van goeie orde en doeltreffendheid te organiseer. Die koning van Jehovah se verbondsvolk was dus verplig om saam met die goddelike Organiseerder van alles wat in die hemel en op die aarde geskep is te werk. In sy wysheid doen die verheerlikte Jesus Christus, wat „meer as Salomo” is, dit ook. Daarom moet sy getroue volgelinge op aarde dit ook doen, en hulle doen dit.

Wat sê jy?

◻ Hoe sou jy die woord „organisasie” definieer?

◻ Wie se „moeder” was aardse Jerusalem, en van watter diensbaarheid is sy nooit bevry nie?

◻ Wie is die „Jerusalem daarbo”, en wie is haar „kinders”?

◻ Hoe het Salomo sy Godgegewe wysheid gebruik, en wat doen die Grotere Salomo en Sy volgelinge?

[Prent op bladsy 12]

Hoe was aardse Jerusalem in slawerny?

[Prent op bladsy 14]

Die koningin van Skeba was verstom toe sy Salomo besoek het. Hy het saam met die Organiseerder van die heelal gewerk. Werk jy ook saam met Jehovah God?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel