Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 3/15 bl. 25-27
  • Ouers, beskerm julle kinders

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ouers, beskerm julle kinders
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die jeug onder druk
  • Jy kan hulle help
  • ’n Voorbeeldige gesin
  • Wat jy kan doen
  • ’n Lonende taak
  • Voed jou kind van kleins af op
    Die geheim van gesinsgeluk
  • Ouers—Lei julle kinders op met liefde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Volg Jehovah na wanneer julle julle kinders oplei
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Hoe om ’n geestelike sterk gesin te bou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 3/15 bl. 25-27

Ouers, beskerm julle kinders

WAT sal jy doen as jou seun vir jou kom sê dat sy skoolmaats druk op hom uitoefen om dwelms te gebruik? Of hoe sal jy reageer as jou dogter jou kom vertel dat die seuns by die skool haar lastig val?

Jy sal beslis nie gras onder jou voete laat groei voor jy iets aan die saak doen nie, nie waar nie? Jy sal jou van die feite probeer vergewis en kyk wat jy kan doen om jou kind te beskerm. Dit is hoe jy as ouer behoort te reageer, meen jy. Maar in werklikheid gebeur dit nie altyd so nie. Teen die tyd dat ouers van sulke dinge hoor, is dit gewoonlik reeds te laat. Alte dikwels is die enigste reaksie: „Hoe kon so iets met my seun (of my dogter) gebeur het?”

Die jeug onder druk

Besef jy, as jy ’n ouer is, watter druk jou kinders moet verduur? Weet jy waarvoor hulle elke dag te staan kom? Die apostel Petrus het gewaarsku: „Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en soek wie hy kan verslind” (1 Petrus 5:8). Hoewel Satan daarop uit is om die hele mensdom, jonk en oud, te oorwin en te verslaaf, spreek dit vanself dat hy ’n groter bedreiging vir onervare jongmense inhou. Dit plaas hulle onder kwaai druk.

Beskou net ’n paar voorbeelde. Onder die opskrif „Misdade deur minderjariges nou 52% van totaal” berig Japan se Mainichi Daily News dat, onder jeugmisdadigers, veertienjariges bo-aan die lys staan”. In die Verenigde State is 3,3 miljoen in die ouderdomsgroep 14 tot 17 probleemdrinkers, terwyl een uit elke ses tienderjariges gereeld dwelms gebruik en bykans ’n halfmiljoen kinders elke jaar vir ongehude tienermoeders gebore word. Ongeag waar jy woon, jou kinders is nie immuun teen die golf jeugmisdadigheid, geweld en onsedelikheid wat vandag oor die aarde spoel nie.

Jy kan hulle help

Dit alles beklemtoon die feit dat vandag se jeug in ’n sware stryd gewikkel is. Of hulle dit besef of nie, hulle het die hulp van ryp, ervare mense nodig as hulle wil oorwin. Is jy as ouer in staat om jou kinders van sulke hulp te voorsien? En is jy bereid om die nodige moeite te doen om hulle te help?

Baie is al gesê en geskryf oor hulp aan kinders; daar is geen gebrek aan advies oor die onderwerp nie. Trouens, die probleem is eerder om te besluit watter van die talle strydige opinies jy gaan volg. Een deskundige sê byvoorbeeld dat kinders slae moet kry. ’n Ander is heeltemal daarteen gekant. Of een kenner waarsku miskien dat jy nie jou kind vir sy prestasies moet beloon nie, anders sal jy hom bederf. Maar ’n ander sê dat lof en beloninge noodsaaklik is as jy nie wil hê dat jou kind onseker moet voel nie. Dit is geen wonder nie dat ons, soos ’n personeellid van die Hospitaal vir Siek Kinders in Toronto, Kanada, dit gestel het, „’n geslag ouers [het] wat amper bang is om ouers te wees”.

In die lig van die ernstige toestand en die baie mislukkings wonder jy miskien of dit werklik moontlik is om vandag kinders groot te maak sodat hulle ryp, gebalanseerde en, bowenal, godvrugtige persone is. Voor jy jou oorgee aan die beskouing dat dit onmoontlik is, kan jy gerus die apostel Paulus se woorde in herinnering roep: „Vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here” (Efesiërs 6:4). God sou tog sekerlik nie hierdie verantwoordelikheid aan ouers opgedra het as dit ’n onbegonne taak was nie.

’n Voorbeeldige gesin

Noag en sy gesin het in ’n tyd gelewe wat baie soos ons s’n was. Volgens die Bybelverslag het Jehovah destyds gesien „dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was . . .Toe sien God die aarde aan en​—dit was verdorwe, want alle vlees het sy wandel op die aarde verderwe.”​—Genesis 6:5, 12.

Hoe sou jy gevoel het as jy jou kinders in daardie omstandighede moes grootmaak? Wanneer ons Genesis 5:32 met Genesis 7:6 vergelyk, sien ons dat al Noag se seuns binne ’n tydperk van honderd jaar voor die Vloed gebore is. En tog was toestande 120 jaar voor die Vloed al so erg dat Jehovah God gesê het: „My Gees sal nie vir ewig in die mens heers nie, omdat hy ook vlees is; maar sy dae sal wees honderd-en-twintig jaar.”​—Genesis 6:3.

In weerwil van hierdie ongunstige toestande het Noag en sy vrou hulle drie seuns met welslae grootgemaak sodat hulle godvresende jongmanne geword het. Omdat hulle gehoorsaam met hulle ouers saamgewerk het, het hulle behoue gebly toe die Vloed daardie goddelose geslag verdelg het.

Wat was die sleutel tot Noag se sukses? Die apostel Paulus het in Hebreërs 11:7 onder inspirasie gesê: „Deur die geloof het Noag, toe hy ’n goddelike waarskuwing ontvang het aangaande wat nog nie gesien was nie, met eerbiedige vrees die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin.” Trouens, Genesis 6:22 deel ons mee: „Noag het dit gedoen. Net soos God hom beveel het, so het hy gedoen.”

Noag se getrouheid en ywer voor Jehovah het ongetwyfeld op sy seuns se verstande ingeprent hoe belangrik dit was dat hulle dieselfde eienskappe in hulle lewens openbaar. Gedurende die arkbouery het hy waarskynlik baie ure saam met hulle gewerk en met hulle gepraat. Hulle het dinge saam gedoen. En as ’n „prediker van geregtigheid” moes Noag sy eie gesin in Jehovah se wette en vereistes onderrig het. Gevolglik het Noag se gesin die einde van daardie eertydse „wêreld van goddelose mense” oorleef.​—2 Petrus 2:5.

Wat jy kan doen

Dit behoort dus baie duidelik te wees dat die voorbeeld wat ouers stel ’n belangrike rol speel by die suksesvolle onderrigting en opvoeding van kinders. Toe ’n koerantrubriekskrywer gevra is om die grootste struikelblok te noem wat ouers by die opvoeding van hulle kinders te bowe moet kom, het hy eenvoudig gesê: „Hulleself.” Ouers wie se woorde en dade nie ooreenstem nie, werk teen hulle eie belange, en dié van hulle kinders. (Vergelyk Romeine 2:21-23.) In hierdie verband is konsekwentheid noodsaaklik. Ouers moet hulleself dus afvra: Wat glo ek is die belangrikste dinge in die lewe? Wat is my persoonlike doelwitte?

In Deuteronomium 6:7 word ouers beveel: „Jy moet dit [die woorde van Jehovah] jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.” Dit beteken kommunikasie. Maar kommunikasie beteken meer as net praat. ’n Sewentienjarige seun vertel dat hy twee maal met sy moeder probeer praat het oor die dwelmprobleem wat hy by die skool ondervind het. „My moeder het vir my gesê om weg te bly van [die smouse] af”, het hy gesê. Het dit gehelp? Klaarblyklik nie, want die seun het nog steeds onder druk gevoel en het nie geweet hoe om die probleem op te los nie.

Wanneer kinders voor probleme te staan kom wat vir hulle te groot is, wend hulle hulle gewoonlik eers tot hulle ouers vir oplossings, en dit is ’n goeie ding. Maar daardie vertroue kan maklik vernietig word as ouers nie begrip toon vir hulle situasie nie. Selfs as daar nie onmiddellik ’n oplossing is nie, bly die kommunikasieweë oop wanneer begrip getoon word.

Tugtiging is nog ’n vereiste by die opvoeding van kinders. ’n Bybelspreuk sê: „Die roede en die bestraffing gee wysheid; maar ’n seun wat aan homself oorgelaat word, steek sy moeder in die skande.”​—Spreuke 29:15

’n Tyd gelede het die polisie in Houston, Texas, ’n pamflet met die titel „12 reëls vir die grootmaak van onregeerbare kinders” versprei. Die ironiese styl is miskien humoristies, maar byna elkeen van die „reëls” het te doen met tug, of die afwesigheid daarvan. Hier is ’n paar voorbeelde:

◻ „Begin van kleins af om die kind alles te gee wat hy wil hê. Dan sal hy grootword met die idee dat die wêreld hom ’n bestaan verskuldig is.”

◻ „Lag vir hom wanneer hy lelike woorde aanleer. Dit sal hom laat dink hy’s oulik.  . . .”

◻ „Moet hom nooit geestelike opvoeding gee nie. Wag tot hy 21 is en laat hom dan ,self besluit’.”

◻ „Moet nooit die woord ,verkeerd’ gebruik nie. Dit kan hom ’n skuldgevoel gee.

Christenouers stel tereg daarin belang om hulle kinders „in die tug en vermaning van die Here” op te voed (Efesiërs 6:4). Dit gebeur nie sonder inspanning nie​—sommer baie inspanning. Maar geen tyd en inspanning is te veel gevra wanneer dit vir jou en jou kinders die lewe kan beteken nie.​—Deuteronomium 6:2.

’n Lonende taak

„Kyk, seuns is ’n erfdeel van die HERE; die vrug van die moederskoot is ’n beloning”, sê die psalmis (Psalm 127:3). Ten spyte van die verloop van tyd en die verandering in maatskaplike gebruike is daardie woorde vandag nog waar. Lewende bewys hiervan is die derduisende kinders in die Christenorganisasie van Jehovah se Getuies wat grootgeword het en nou verantwoordelike, eerbare en vindingryke jongmense is. Hulle strek hulleself, hulle ouers en bowenal hulle Skepper, Jehovah God, tot eer.

Jy kan eendag die beloning van sulke bevredigende resultate geniet indien jy nou stappe doen om jou kinders op te voed, te onderrig en te beskerm.

[Prent op bladsy 26]

Konsekwente leiding, goeie kommunikasie en liefdevolle tugtiging is noodsaaklike vereistes by die grootmaak van kinders

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel