Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 5/15 bl. 13-18
  • Die beste vriendskap hou stand in ’n onvriendelike wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die beste vriendskap hou stand in ’n onvriendelike wêreld
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Toelating tot die beste vriendskap
  • ’n „Nuwe naam” van die beste vriend
  • Kweek die beste vriendskap in die ganse heelal
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • “Ek noem julle vriende”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
  • “Julle is my vriende”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Jehovah—Jou kennis of jou vriend?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 5/15 bl. 13-18

Die beste vriendskap hou stand in ’n onvriendelike wêreld

„Gebruik die oneerlike mammon om vir julle vriende te maak sodat wanneer die geld nie meer kan help nie, hulle julle in die ewige wonings sal ontvang.”​—LUKAS 16:9, NAV.

1. Waarom was Spreuke 14:20 nie op Jesus Christus van toespassing toe hy op aarde was nie?

„DIE arme word selfs deur sy naaste gehaat, maar die vriende van die ryke is talryk” (Spreuke 14:20). Hierdie spreuk van koning Salomo van Israel was nie van toepassing op die grootste man wat ooit op aarde was nie, Jesus Christus, die een wat groter as Salomo was. Jesus het nie Israeliete deur middel van materiële rykdom gelok om sy vertroulike metgeselle te wees nie; hy het ook nie aardse skatte as die grondslag van ware, duursame vriendskap beskou nie.

2. Met wie het Jesus sy dissipels aangeraai om vriende te maak, en waarom?

2 Jesus het weliswaar by een geleentheid gesê: „Gebruik die oneerlike mammon om vir julle vriende te maak sodat wanneer die geld nie meer kan help nie, hulle julle in die ewige wonings sal ontvang” (Lukas 16:9, NAV). Maar die „vriende” wat Jesus in gedagte gehad het, was Jehovah God, die Bron van alle besittings wat die moeite werd is, en hy self as die Seun van sy onmeetlik ryk Vader. As ons vandag daardie raad toepas, word ons toegelaat tot die beste vriendskap wat op aarde geniet kan word, dié van Jehovah God deur middel van sy selfopofferende Seun, Jesus Christus.

3. In watter „wonings” kan hierdie hemelse Vriende ons in bring?

3 Weens hulle onsterflike lewe kan hierdie hemelse Persone ons hegte Vriende bly en ons in „ewige wonings” inbring. Dit is die geval hetsy hierdie „ewige wonings” bo in die hemel saam met al die heilige engele of hier onder op aarde in die herstelde Paradys is.​—Lukas 23:43.

Toelating tot die beste vriendskap

4. (a) Watter Bybelvoorbeeld toon of God se vriendskap gekoop kan word? (b) Op watter regte manier kan ons ons besittings gebruik?

4 Die vriendskap van die allerhoogste God en van sy eniggebore Seun, Jesus Christus, kan nie met geld gekoop word nie. Hierdie feit is beklemtoon in die geval van Ananias en Saffira in die eerste-eeuse Christengemeente. Ons kan, sonder om soos hulle roem en aansien te soek, ons aardse besittings gebruik op ’n wyse wat Jehovah God en Jesus Christus se goedkeuring wegdra (Handelinge 5:1-11). Dit is wat Jesus Christus bedoel het met die woorde: „Gebruik die oneerlike mammon om vir julle vriende te maak sodat wanneer die geld nie meer kan help nie, hulle julle in die ewige wonings sal ontvang.”​—Lukas 16:9, NAV.

5. Watter weg het Saggeüs ingeslaan, en met watter gevolg?

5 Toe Jesus daardie woorde gespreek het, het hy nie die guns van die tollenaars van die Romeinse Ryk en ander sondaars probeer wen nie. Hy het nie daarin belanggestel om vir homself rykdom op aarde te versamel nie, want hy het sy dissipels aangeraai om vir hulle skatte in die hemel bymekaar te maak. Saggeüs, ’n Joodse tollenaar vir die Romeinse regering, het besluit om gehoor te gee aan hierdie raad van die Messias Jesus en het sy besluit bekend gemaak. Hierdie optrede ter ondersteuning van Koninkryksbelange het die befaamde gas van Saggeüs beweeg om te sê: „Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom, aangesien hierdie man ook ’n seun van Abraham is. Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was” (Lukas 19:1-10). „Wat verlore was”, het die tollenaar Saggeüs self ingesluit.

6. Waartoe is Saggeüs toegelaat, maar wie se verkeerde handelwyse is vir ons ’n waarskuwing?

6 Saggeüs is toegelaat tot die beste vriendskap in die ganse heelal, die van die God en Vader van die spesiale gas wat hy toe onthaal het. Die Bybel sê nie of Saggeüs Jesus na Sy opstanding uit die dood gesien het en of hy een van die nagenoeg 120 dissipels was wat op die belangrike Pinksterdag van 33 G.J. in ’n bovertrek in Jerusalem byeengekom het nie. Maar Saggeüs moes ongetwyfeld onder die 5 000 geesverwekte, gesalfde dissipels gewees het waarvan ons kort daarna lees (Handelinge, hoofstukke 2 en 4; 1 Korinthiërs 15:1-6). Hoe anders was dit tog met Ananias en Saffira gesteld! Daardie twee mense wat aan die gemeente in Jerusalem verbonde was, het hulle aansien onder die dissipels probeer verhoog deur leuens te vertel oor die bedrag wat hulle geskenk het. Die straf wat hulle ontvang het vir hulle oneerlikheid het hulle die beste vriendskap gekos en is ’n waarskuwing vir alle Christene vandag.​—Handelinge 4:24–5:11.

7. Watter rariteit geniet Jehovah se Getuies ondanks die onvriendelikheid van hierdie wêreld?

7 Ondanks die onvriendelikheid van hierdie 20ste-eeuse wêreld geniet Jehovah se Getuies steeds die beste vriendskap wat daar is. Maar waarom sou hulle hierdie rariteit geniet terwyl die meer as duisend verskillende godsdiensstelsels dit nie geniet nie? Die getuienis toon dat dit is omdat die getuies van Jehovah iets gedoen het wat die godsdiensbeoefenaars van die Christendom nie gedoen het nie. Die Getuies het byvoorbeeld die valse godsdiensstelsels verlaat, want hulle besef dat hierdie stelsels die wêreldryk van valse godsdiens, wat in die Bybel Babilon die Grote genoem word, uitmaak. Die feit dat iemand ’n valse godsdiens verlaat, beteken natuurlik nie noodwendig dat hy nou in Jehovah se organisasie is nie, want so iemand kan by ’n ander godsdiensstelsel van die wêreldryk van valse godsdiens aansluit.

8. Aan wie word die bevel om uit Babilon die Grote uit te gaan vandag regstreeks gerig?

8 Ons moet daarop let dat die goddelike opdrag om uit Babilon die Grote uit te gaan, aan „my volk” gerig is (Openbaring 18:4). Volgens die Hebreeuse Skrifte stem hierdie goddelike oproep ooreen met ’n bevel wat God aan die Israelitiese ballinge in die land Babilon gegee het (Jesaja 52:11). Die aanduiding „my volk” is dus regstreeks van toepassing op die oorblyfsel van die geesverwekte, gesalfde dissipels van Jesus Christus wat nog op aarde is. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog van 1914-1918 het Babilon die Grote hierdie gesalfdes gevange geneem deur middel van die politieke, militêre en geregtelike elemente van hierdie wêreld in ’n poging om hierdie geestelike oorblyfsel buite aksie te stel. Figuurlik gesproke het die oorblyfsel in ’n gevange toestand gekom en hulle bewegingsvryheid in Jehovah se diens verloor.

9. Watter stappe moes Jehovah se Getuies doen om uit Babilon die Grote uit te gaan?

9 In Openbaring hoofstuk 17 word Babilon die Grote voorgestel as ’n hoer wat op ’n dier met sewe koppe en tien horings ry. Daardie simboliese dier wat in die afgrond afdaal en weer uitkom, verteenwoordig die hedendaagse organisasie vir wêreldvrede, naamlik die Verenigde Volke, die opvolger van die Volkebond wat met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in die afgrond neergedaal het. Wat het Jehovah se volk, wat hy aanspreek as „my volk”, dus gedoen toe hulle sy oproep gehoorsaam het om uit Babilon die Grote uit te gaan? Hulle het nie alleen die oorheersing en mag van daardie wêreldryk van valse godsdiens afgeskud nie, maar ook die oorheersing van haar politieke metgeselle, die politieke elemente wat nou in die VV beliggaam is.

10. Met watter internasionale organisasie het Jehovah se Getuies vandag niks te doen nie, en waarom nie?

10 Die gesalfde oorblyfsel het streng neutraal gebly ten opsigte van die politieke en militêre aangeleenthede van hierdie stelsel (Johannes 15:19). Hulle het onverdeeld standpunt ingeneem vir die Koninkryk van God deur Jesus Christus, wat aan die einde van die Heidense Tye in 1914 in die hemel opgerig is. Die Volkebond is met miskenning van die Koninkryk ná die einde van die Eerste Wêreldoorlog in 1918 opgerig en deur Babilon die Grote goedgekeur. Hierdie internasionale, mensgemaakte organisasie is derhalwe ’n verfoeilike gruwel vir Jehovah God en ook vir die getroue oorblyfsel van geestelike Israeliete op aarde. Hulle vertrou op Jehovah se Koninkryk self en nie op ’n sogenaamde aardse plaasvervanger daarvoor nie (Mattheüs 24:15, 16). En dieselfde geld vir die hedendaagse „groot menigte”, wat afgebeeld is deur die „tempelbediendes” en „die kinders van die dienaars van Salomo”.​—Openbaring 7:9-17; Esra 2:43-58.

11. (a) Waarom is dit verkeerd vir Jesus se dissipels om vriende van hierdie wêreld te wees? (b) Watter gesindheid het hierdie wêreld teenoor Jehovah se Getuies, maar wat geniet hulle steeds?

11 Toe Jesus voor die Romeinse goewerneur Pontius Pilatus tereggestaan het, het hy gesê: „My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie” (Johannes 18:36). Dit sou dus heeltemal verkeerd wees vir Jesus se „dienaars”, of dissipels, om vriende van hierdie wêreld te wees. Vroeër het Jesus vir sy eerste „dienaars”, die 11 getroue apostels, gesê dat hulle „nie van die wêreld” is waarvan Satan die Duiwel „die owerste” is nie. (Johannes 14:30; 15:19; vergelyk 2 Korinthiërs 4:4.) Dit is waarom die wêreld hulle gehaat en onvriendelik behandel het. Jesus se dissipels van hierdie 20ste eeu bevind hulle eweneens in ’n onvriendelike wêreld. Desnieteenstaande geniet hulle steeds die beste vriendskap in die ganse heelal, die van die God van die komende, regverdige wêreld, met sy „nuwe hemele en ’n nuwe aarde”.​—2 Petrus 3:13.

12. Aan wie se kant moet ’n persoon hom skaar wanneer hy uit Babilon die Grote uitgaan en haar wêreldlike minnaars die rug toekeer, en wat is daarby betrokke?

12 Wanneer iemand uit Babilon die Grote uitgaan en haar wêreldlike minnaars, die Handel, Politiek en Militarisme, die rug toekeer, kan daar net een ander plek wees om heen te gaan. Hy moet hom skaar aan die kant van die universele organisasie van die een lewende en ware God, Jehovah. Daar is geen tussengrond nie. Dit beteken dat ’n mens die onvriendelikheid van hierdie wêreld moet verduur, ’n faktor wat dit baie moeilik maak om Babilon die Grote en die wêreld waarvan dit ’n belangrike deel is, te verlaat.

’n „Nuwe naam” van die beste vriend

13. Wat is Jesus se dissipels in die eerste eeu G. J. deur goddelike bestiering genoem?

13 Weens ons gekoesterde vriendskap met God is ons bly om Jehovah se Getuies genoem te word. Christus se dissipels van die eerste eeu het weliswaar nie die naam „Jehovah se Getuies” aangeneem nie. Maar beskou asseblief hulle verhouding met die allerbeste Vriend. Handelinge 11:26 berig: „Die dissipels is in Antiochië [Sirië] vir die eerste keer Christene genoem.” Die New World Translation of the Holy Scriptures sê dat hulle „deur goddelike bestiering Christene genoem” is. Die Griekse woord wat hier vertaal word met ,deur goddelike bestiering genoem’, dui op meer as bloot lukrake naamgewing. Die beste Vriend in die heelal het daardie naam „Christene” goedgekeur.

14. Wat kan van die benaming „Christendom” gesê word, en watter vrae verdien ons aandag?

14 Uit die woord „Christen” het die naam Christendom ontstaan, wat gebruik word om die hele ryk van naamchristene met al sy baie godsdienssektes en -denominasies aan te dui. Die titel „Christendom” is dus nie „deur goddelike bestiering” gegee nie, hetsy deur die apostels of volgens die wil van God. Daarom is die situasie vandag totaal anders as in die eerste eeu. Net ware Christene kan die beste vriendskap in hierdie onvriendelike wêreld geniet. Vandag is die groot vraag dus: Wie is die egte, ware Christene wat volgens die geïnspireerde Skrif lewe? Nog ’n belangrike vraag is: Is Jehovah se Getuies ware Christene wat Jehovah God en Jesus Christus as hulle Vriende het? In hierdie geval staan die selfgekose naam van God, Jehovah, op die spel.

15. In die lig van watter omstandighede het die tyd aangebreek dat Jehovah vir homself ’n naam maak, en watter rol speel die ,volk vir sy naam’ nou in hierdie verband?

15 Hoe kan die Christendom, met sy baie godsdienste, vriendskap met Jehovah geniet? Die Christendom het die naam van Jesus Christus op die voorgrond gestoot, byna met uitsluiting van die hemelse Vader se naam, Jehovah. Maar in ooreenstemming met Bybelprofesieë het die tyd aangebreek vir Jehovah om vir homself ’n naam te maak. Daarom moet sy naam na vore kom. In hierdie verband sou hy sy getroue getuies gebruik, sy uitverkore volk, diegene wat sy vriendskap geniet. By ’n spesiale eerste-eeuse vergadering wat deur die apostels en ander vooraanstaande volgelinge van Jesus Christus gehou is, het die dissipel Jakobus gesê: „Simeon het vertel hoe God in die begin uitgesien het om ’n volk uit die heidene vir sy Naam aan te neem.”​—Handelinge 15:14.

16, 17. Wat het in die Christendom se Bybelvertalings met God se naam gebeur, maar wat kan in hierdie verband van die New World Translation gesê word?

16 Ons sou verwag dat ,’n volk vir God se naam’ sy vriende sou wees en die goddelike naam sou hooghou. Maar wat het in die Christendom gebeur? In sy gewilde Bybelvertalings is Jehovah se naam deur ’n titel oorskadu. Trouens, sy naam kom net vier keer voor in die gewildste Engelse vertaling van ons tyd! (Exodus 6:3; Psalm 83:18; Jesaja 12:2; 26:4, King James Version). Selfs in Joodse vertalings van die Hebreeuse Skrifte word God se naam met „die Here” weergegee. Sulke pogings om Jehovah se naam te onderdruk, is nie die werk van sy vriende nie.

17 In die jaar 1950 het die New World Translation of the Holy Scriptures egter op die godsdienstoneel begin verskyn, en dit bevat die goddelike naam op elke plek waar dit in die oorspronklike Hebreeuse Bybelteks voorkom. Die New World Translation het ook die goddelike naam tot sy regmatige plek herstel in die hoofteks van die Christelike Griekse Skrifte, die sogenaamde Nuwe Testament​—ja, 237 keer. Dit is die werk van Jehovah se vriende.

18. Watter stap het God se volk in 1931 in die gees van Jesaja 62:2 gedoen, en watter verantwoordelikheid het hulle nagekom?

18 Vir Jehovah se vriende is die woorde van Jesaja 62:2 van belang. Hierdie vers, gerig tot die sigbare organisasie van God se toegewyde, gedoopte, geesverwekte dissipels van die Messias, lui: „En die nasies sal jou geregtigheid sien en al die konings jou heerlikheid; en jy sal met ’n nuwe naam genoem word wat die mond van [Jehovah] sal noem.” Daardie „naam” dui op die geseënde toestand waarin hierdie hedendaagse, gesalfde dissipels versamel is. Daarbenewens moet die oorblywende lede van God se sigbare organisasie tereg sy naam dra indien hulle ,’n volk vir sy naam’ wil wees. Hierdie feit is mettertyd besef. In die gees van Jesaja 62:2 het God se geesverwekte organisasie derhalwe in 1931 by ’n byeenkoms in Columbus, Ohio, met blydskap die naam „Jehovah se getuies” aanvaar. Al die gemeentes van Jehovah se toegewyde volk het daardie voorbeeld gevolg en die naam aangeneem. En daardie naam het gebly, in weerwil van teenvoorspellings deur die wêreld. In Openbaring 3:14 het die verheerlikte Jesus Christus homself „die getroue en waaragtige Getuie” genoem. Van daardie heuglike jaar 1931 af het die gemeentes van sy dissipels op aarde tereg en deur goddelike bestiering daardie naam aanvaar. Sedertdien het hulle probeer om hulle verantwoordelikheid na te kom om daardie naam in ere te hou en dit bekend te maak. Gevolglik is Jehovah se naam​—die weergalose naam van hulle beste Vriend—​deur die ganse aarde heen op die voorgrond gebring. En Jehovah het onmiskenbaar getoon dat sy vriendskap met sy getuies selfs tot nou toe voortgeduur het.

19. (a) Waarom vrees Jehovah se toegewyde getuies nie die onvriendelikheid van hierdie wêreld nie, en met watter voorreg sal handhawers van onkreukbaarheid by Armageddon beloon word? (b) Waarvoor gaan al ons dank en lof aan Jehovah?

19 Aangesien Jehovah God vir ons as sy toegewyde getuies is, wie kan werklik met welslae teen ons wees? (Romeine 8:31-34). Daarom vrees ons nie die onvriendelikheid van hierdie vyandige wêreld nie. En daarom gaan ons voort as ambassadeurs of as gesante van die Messiaanse Koninkryk wat ’n beroep op sagmoedige mense doen om hulle deur die koninklike Hoëpriester, Jesus Christus, met Jehovah God te versoen (2 Korinthiërs 5:20). Hoewel dit die wrewel van hierdie wêreld teen die gesalfde oorblyfsel en hulle metgeselle, die „groot menigte”, laat toeneem, hou die beste vriendskap in die ganse heelal, dié van Jehovah God, lojaal stand (Openbaring 7:9). Dit sal nooit verbreek word teenoor ons as handhawers van onkreukbaarheid teenoor hom nie. Trouens, daardie vriendskap sal binnekort tydens daardie oorlog der oorloë, „die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” by Armageddon, gedemonstreer word soos nooit tevore nie (Openbaring 16:14, 16). Daar, van aangesig tot aangesig met Satan die Duiwel en sy horde demone en sy hele sigbare, aardse organisasie, sal Jehovah Sy universele soewereiniteit regverdig deur Sy grootste oorwinning van alle tye. Ons, teenoor wie Jehovah se goeie vriendskap tot nou toe standgehou het, sal die voorreg hê om behoue te bly en die eer hê om ooggetuies te wees van sy skitterende triomf deur middel van die seëvierende Koning, Jesus Christus (Psalm 110:1, 2; Jesaja 66:23, 24). Aan Jehovah God gaan al ons hartgrondige dank en lof vir sy standhoudende vriendskap!​—Psalm 136: 1-26.

Hoe sou jy antwoord?

◻ Met wie het Jesus sy dissipels aangespoor om vriende te maak, en in watter „wonings” kan hulle gevolglik ingebring word?

◻ Watter gesindheid het die wêreld teenoor Jehovah se Getuies, maar watter vriendskap geniet hulle steeds?

◻ Watter verantwoordelikheid ten opsigte van God se naam word deur die ,volk vir sy naam’ nagekom?

◻ Waarom vrees Jehovah se toegewyde getuies nie die onvriendelikheid van hierdie wêreld nie?

[Prent op bladsy 15]

Saggeüs is tot die beste vriendskap in die ganse heelal toegelaat. Is dit met jou die geval?

[Prent op bladsy 18]

Uit blydskap dat God hulle beste Vriend is, het Jehovah se Getuies in 1931 besluit om onder sy weergalose naam bekend te staan

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel