Vrae van lesers
▪ Hoekom het lede van al 12 stamme van Israel 70 jaar later uit Babilon teruggekeer aangesien dit die tweestammeryk van Juda was wat in 607 v.G.J. na Babilon weggevoer is?
Daar is skynbaar twee belangrike redes hiervoor. Ten eerste, toe die koninkryk van Israel verdeel is en 10 stamme hulle afgeskei het, het lede van al 12 stamme klaarblyklik in Juda se gebied gebly. Ten tweede, sommige uit al 10 stamme het waarskynlik voor 740 v.G.J. na Juda se gebied gevlug om van Israel se afgodery weg te kom.
Die verdeling van die verenigde koninkryk van Israel het plaasgevind omdat Salomo Jehovah mishaag het toe „sy hart afgewyk het van [Jehovah]”. God het vir hom gesê: „Ek [sal] verseker die koningskap van jou afskeur en dit aan jou dienaar gee . . . uit die hand van jou seun sal Ek dit afskeur . . . een stam sal Ek aan jou seun gee” (1 Konings 11:9-13). Salomo se seun Rehabeam, wat uit die stam van Juda was, het die stam van Benjamin gekry en dus die suidelike tweestammeryk gevorm.
Hoewel Rehabeam oor slegs twee stamme geregeer het, het hy steeds geregeer oor sommige van „die kinders van Israel [dit wil sê, lede van die noordelike 10 stamme] wat in die stede van Juda gewoon het”. (1 Konings 12:17; kyk ook 2 Kronieke 10:17). En toe koning Jerobeam van die noordelike koninkryk kalfaanbidding ingestel en sy eie priesters aangestel het, het die priesters van Jehovah en die Leviete wat in die gebied van daardie koninkryk gewoon het hulle by Rehabeam geskaar. Ons lees: „Die Leviete het hulle weiveld en hulle besitting verlaat en na Juda en Jerusalem getrek; want Jerobeam en sy seuns het hulle verwerp, sodat hulle geen priesters van [Jehovah] meer kon wees nie.” Toe het lede van „al die stamme van Israel” by die priesters en Leviete aangesluit en na Jerusalem gegaan (2 Kronieke 11:13-17). Verskeie lede van die 10 stamme het ook tydens die bewind van koning Asa oorgeloop.—2 Kronieke 15: 9, 10.
In 740 v.G.J., toe die Assiriërs die noordelike hoofstad Samaria verslaan het, het hulle hul beleid gevolg om bevolkings van verowerde gebiede te verskuif sodat die moontlikheid van opstande kleiner sou wees (1 Kronieke 5:6, 26). Die noordelike koninkryk van Israel het dus tot ’n einde gekom. Maar dit het nie die lede van die 10 stamme geraak wat teen daardie tyd in die suidelike koninkryk van Juda gewoon het nie. Hierdie mense was onder diegene wat na Babilon weggevoer is toe Juda in 607 v.G.J. geval het. En van hulle afstammelinge het ten tye van die herstel in 537 v.G.J. teruggekeer. Miskien het selfs afstammelinge van diegene wat in 740 v.G.J. deur die Assiriërs in ballingskap weggevoer is toe teruggekeer.
Dit is interessant dat Esegiël, in die boek wat na hom vernoem is, die „huis van Israel” baie meer as die „huis van Juda” noem, hoewel hy tydens sy gevangenskap in Babilon ’n profeet vir Juda was. Sy profesie het verder daarop gedui dat die twee ,huise’ herenig sou word. (Esegiël 37:19-28; kyk ook Jeremia 3:18; Hosea 1:11.) Daar word dus ná die Babiloniese gevangenskap met goeie rede geen onderskeid tussen die twee gemaak nie.
Die afskeuring van die 10 stamme in 740 v.G.J. het derhalwe nie tot die verlies van hulle identiteit gelei nie. Hulle was onder die ballinge wat in 537 v.G.J. teruggekeer het. En met betrekking tot die inwyding van die herboude tempel in Jerusalem het die priester Esra gesê: „Die kinders van Israel, die priesters en die Leviete en die ander, uit die ballingskap afkomstig, het die inwyding van hierdie huis van God met vreugde gevier. En hulle het geoffer . . . twaalf bokke as sondoffer vir die hele Israel volgens die getal van die stamme van Israel” (Esra 6: 16, 17). Jesaja het ook aangedui dat die terugkerende oorblyfsel lede van al die stamme van Israel ingesluit het, nie net Juda en Benjamin nie. Hy het geskryf: „Want al was jou volk, o Israel, soos die sand van die see, net ’n oorblyfsel van hulle sal terugkom” (Jesaja 10:22). Daar was dus lede van al die stamme van Israel onder diegene wat teruggekeer het.