Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 6/1 bl. 15-20
  • Wandel met vertroue in Jehovah se leiding

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wandel met vertroue in Jehovah se leiding
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarskuwings uit die verlede
  • Jehovah se leiding van ’n nuwe nasie
  • Waak teen wantroue
  • “Werp jou sorg op die HERE”
  • Volg Christus, die volmaakte Leier
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Christus lei sy gemeente
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Goeie leierskap—Waar kan ons dit vind?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Is Christus se leierskap vir jou ’n werklikheid?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 6/1 bl. 15-20

Wandel met vertroue in Jehovah se leiding

“Wees sterk en vol moed; wees nie bevrees en word nie verskrik vir hulle nie; want dit is die HERE jou God wat saam met jou trek; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie.”​—DEUTERONOMIUM 31:6.

1. Hoe het Jehovah getoon dat hy ’n weergalose leier van die Israeliete was?

JEHOVAH het getoon dat hy ’n weergalose leier is toe hy die Israeliete uit slawerny in Egipte gelei het. Hy het hulle nie alleen deur die woestyn gelei nie, maar het hulle ook van voedsel en water voorsien en aan hulle volmaakte onderrigting verskaf. Daarom kon die Leviete in Nehemia se dag van Jehovah God sê: “U [het] in u grote barmhartigheid hulle tog nie verlaat in die woestyn nie; die wolkkolom het nie bedags van hulle gewyk om hulle op die pad te lei nie, en die vuurkolom ook nie snags om vir hulle die pad te verlig waar hulle langs moes trek nie. En u goeie Gees het U gegee om hulle te onderrig, en u manna het U nie van hulle mond teruggehou nie en aan hulle water gegee vir hulle dors. En veertig jaar lank het U hulle onderhou in die woestyn; hulle het nie gebrek gehad nie; hulle klere het nie verslyt en hulle voete nie geswel nie.”​—Nehemia 9:19-21.

2. Waarom kon Moses die Israeliete aanspoor om “sterk en vol moed” te wees?

2 Deur die Israeliete met vaderlike goedheid te tugtig, het die Goddelike Onderrigter hulle geleer wat dit beteken om regverdig te wees. Alles wat hy gedoen het, was in hulle belang. Selfs wanneer hulle gemurmureer en in opstand gekom het, was hy lankmoedig en het hy hulle nie verlaat nie. Veral wanneer hulle deur oorweldigende vyandelike leërs bedreig is, het Jehovah bekwaam die leiding gegee en groot verwoesting onder die aanvallers aangerig. Moses het die waarheid gepraat toe hy die Israeliete met hierdie woorde bemoedig het: “Wees sterk en vol moed; wees nie bevrees en word nie verskrik vir hulle nie; want dit is die HERE jou God wat saam met jou trek; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie” (Deuteronomium 31:1, 6). God sou saam met hulle “trek” as hulle geloof gehad het. Wat ’n aansporing vir ons om met vertroue in Jehovah se leiding te wandel!

Waarskuwings uit die verlede

3. Hoe het die volk Israel kort na hulle bevryding uit Egiptiese slawerny ondankbaarheid en gebrek aan vertroue in Jehovah getoon?

3 Die ondervindinge van die Israeliete dien nietemin vir ons tot waarskuwing. Hoewel hulle nog net ’n kort rukkie van Egiptiese slawerny bevry was, het hulle herhaaldelik teen hulle onsigbare Leier gesondig. Terwyl Moses die Wet op die berg Sinai ontvang het, het hulle ondankbaarheid getoon vir alles wat God vir hulle gedoen het. Hulle het Aäron oorreed om ’n goue kalf te maak en dit aanbid tydens ’n viering wat deur Aäron ’n “fees tot eer van die HERE” genoem is (Exodus 32:1-6). Tien van die 12 verspieders wat gestuur is om Kanaän te verken, was ongelowig, terwyl net Josua en Kaleb die volk aangespoor het om die land in besit te neem. Maar Israel het nie met geloof in God opgetree nie, en daarom het God beveel dat alle manspersone “van twintig jaar oud en daarbo”, met uitsondering van die stam van Levi en getroue Kaleb en Josua, gedurende ’n tydperk van 40 jaar in die woestyn sou sterf (Numeri 13:1-14:38; Deuteronomium 1:19-40). Dit alles behoort vir ons ’n waarskuwing te wees teen soortgelyke ondankbaarheid en gebrek aan vertroue in Jehovah se leiding!

4. Waarom was die ramp wat Juda, Jerusalem en die tempel in 607 v.G.J. getref het geregverdig?

4 Hoewel die Israeliete 40 jaar in die woestyn rondgetrek het, het Jehovah hulle nie verlaat nie. Hy het aangehou om hulle oorloë te voer. Na die dood van Moses en Josua het God rigters verwek om sy volk van tirannieke vyande te verlos. Maar op daardie tydstip het die volk Israel gedoen wat reg was in hulle oë, en wettelose geweld, onsedelikheid en afgodediens het begin hoogty vier (Rigters 17:6-19:30). Later, toe hulle ’n mensekoning wou hê om soos die omliggende nasies te wees, het Jehovah hulle versoek toegestaan maar hulle teen die gevolge gewaarsku (1 Samuel 8:10-18). Selfs die koningskap van Dawid se huis het egter nie die volk tevrede gestel nie, en tien stamme het in die dae van Rehabeam in opstand gekom (1 Konings 11:26-12:19). In die verstande van die meeste het die gedagte dat God hulle lei al meer en meer vervaag. Die vernietiging van Jerusalem en die tempel sowel as die omverwerping van die koninkryk van Juda deur Babilon in 607 v.G.J. was welverdiende oordele oor ’n volk wat nie met vertroue in Jehovah se leiding gewandel het nie. Wat ’n waarskuwing vir ons!

Jehovah se leiding van ’n nuwe nasie

5. Wat het Jehovah in die persoon van Jesus voorsien, en wat sou Jesus doen?

5 Soos die eertydse Israeliete het Jehovah se latere knegte deur veranderde omstandighede heen gewandel, maar hy het hulle altyddeur gelei. Toe Jesus van Nasaret in 29 G.J. in water gedoop is, het God ’n Profeet en Leier groter as Moses voorsien. As die Messias sou hy mense uit hierdie bose wêreld lei wat in Satan se mag lê (Mattheüs 3:13-17; Daniël 9:25; Deuteronomium 18:18, 19; Handelinge 3:19-23; 1 Johannes 5:19). Maar watter mense? Immers die Jode en ander wat geloof sou stel in die Messias wat deur die groot hemelse Leier, Jehovah God, voorsien is!

6. (a) Waarom was Jesus se volgelinge in staat om te preek en na ’n groeiende organisasie om te sien? (b) Waarom het dit later gelyk of die lig van Bybelwaarheid uitgedoof is?

6 Jesus het sy volgelinge die wonderlike waarheid van God geleer en hulle die nodige onderrigting vir die bediening gegee (Lukas 10:1-16). Toe Christus sy bediening voltooi en homself as ’n offerande ten behoewe van die sondige mensdom aangebied het, het hy dus volgelinge agtergelaat wat opgelei was om met die predikingswerk voort te gaan en die groeiende organisasie van gelowiges te bestuur. Gedurende die apostoliese tydperk was daar hewige vervolging. Maar Jehovah was met sy volk, en wonderlike vermeerderinge in die getalle van die gelowiges het vir hulle ontberinge vergoed (Handelinge 5:41, 42; 8:4-8; 11:19-21). Na die dood van Jesus se apostels en hulle onmiddellike medewerkers het die voorgewende volgelinge van Christus onder die heerskappy van wrede en verwaande geestelikes en konings gekom (Handelinge 20:28-30). Aangesien hierdie toestand sowat 15 eeue lank voort geduur het, het dit gelyk of die lig van Bybelwaarheid uitgedoof is.

7. Wanneer en hoe het Jehovah weer sy leierskap laat geld, en wat het hy aan sy hedendaagse knegte bekend gemaak?

7 Maar toe kom daar ’n aankondiging, soos ‘’n stem wat in die woestyn roep’: ‘Die Koninkryk is naby!’ (Vergelyk Jesaja 40:3-5; Lukas 3:3-6; Mattheüs 10:7.) In die laaste deel van die 19de eeu het Jehovah weer sy leierskap laat geld en begin om sy ware aanbidders uit hierdie bose wêreld en uit Babiloniese godsdiensstelsels te roep (Openbaring 18:1-5). Deur middel van sy geskrewe Woord en die heilige gees het God aan sy hedendaagse knegte bekend gemaak dat die ononderbroke heerskappy van heidense nasies in 1914 sou eindig en dat die verheerlikte Jesus Christus, God se keuse as Koning oor die ganse mensdom, in daardie jaar sy hemelse troon sou bestyg.​—Lukas 21:24; kyk 1975 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bladsye 34-37.

8. (a) Wat is daarna georganiseer? (b) Wie het by Jesus se gesalfde volgelinge aangesluit, en hoe het die leiding van God en Christus duidelik geword?

8 ’n Nuwe nasie bestaande uit die oorblyfsel van geestelike Israel is daarna georganiseer, verder ingelig oor God se voornemens en deeglik opgelei vir die bediening. Later het ’n menigte gelowiges met aardse verwagtinge by hierdie gesalfde volgelinge van Christus aangesluit. Nou verkondig al hierdie getuies van Jehovah vreugdevol sy naam en Koninkryk tot aan die eindes van die aarde (Jesaja 66:7, 8; Galasiërs 6:16; Openbaring 7:4, 9, 10). Die leiding van Jehovah en sy koninklike Seun is baie duidelik te sien in die georganiseerde bedrywigheid van die Getuies, en blyk veral uit die reaksie van miljoene regskape persone wat getroue voorstanders van Koninkryksheerskappy geword het. Is jy ’n deel van hierdie vreugdevolle skare wat met vertroue in Jehovah se leiding wandel?​—Miga 4:1, 2,  5.

9. Watter wêreldwye gemeenskap het tot stand gekom, en met watter gesindheid teenoor God se leiding en teokratiese heerskappy?

9 Jesus se volgelinge sou uiteindelik sy getuies wees “tot aan die uiterste van die aarde” (Handelinge 1:6-8; Markus 13:10). Gevolglik verkondig Jehovah se Getuies nou die goeie nuus van die Koninkryk rondom die aarde, en almal “wat die regte gesindheid vir die ewige lewe besit”, neem die waarheid met vreugdevolle harte aan. Hulle word deel van ’n wêreldwye gemeenskap van geestelike broers en susters wat met blydskap God se leiding aanvaar en hulle aan teokratiese heerskappy onderwerp (Handelinge 13:48, NW; 1 Petrus 2:17). Het jy, net soos hulle, volkome vertroue dat Jehovah God en sy Koning-Seun, Jesus Christus, hierdie organisasie van Koninkryksverkondigers lei?

Waak teen wantroue

10. Watter waarskuwing behoort elke Christen te beweeg om homself noukeurig te ondersoek?

10 Kan ontvangers van al die seëninge wat uit Jehovah se leiding voortvloei in die strik beland dat hulle geloof en vertroue in hom verloor? Ja, want ons word gewaarsku: “Sorg daarvoor, broeders, dat daar nie miskien in een van julle ’n bose en ongelowige hart is deurdat hy van die lewende God afvallig word nie. Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie” (Hebreërs 3:12, 13). Elke Christen moet homself derhalwe noukeurig ondersoek.

11. (a) Hoe kan ’n persoon se gewete verhard word? (b) Wat het met sommige in die eerste eeu G.J. gebeur?

11 ’n Persoon se gewete kan so verhard word dat hy niks verkeerd sien met ’n handelwyse wat in stryd is met die gees van Christelikheid en wat ’n gebrek aan geloof en vertroue in Jehovah verraai nie. Sommige kan byvoorbeeld in die strik beland waar hulle materialistiese strewes en vleeslike genietinge gelykstel met of selfs belangriker ag as hulle diens aan God. Ander kan onsedelik word of neerhalend van verantwoordelike manne in die gemeente praat. In die eerste eeu G.J. het “goddelose mense” in die gemeente ingesluip en ‘die vlees besoedel en die heerskappy verag en die heerlike wesens (wat gemeentelike verantwoordelikheid dra) gelaster’ (Judas 4-8, 16). Daardie valse Christene het ware geloof in Jehovah en in sy leiding verloor. Mag dit nooit met ons gebeur nie!

12. (a) Watter feit word deur ’n onafhanklike en opstandige gees geïgnoreer? (b) Watter kontras was daar tussen Korag en Dawid?

12 Iets wat dikwels met ‘veragting van die heerskappy’ gepaard gaan, is ’n onafhanklike en opstandige gees wat die feit ignoreer dat Jehovah sy organisasie lei. Hierdie gees het tragiese gevolge gehad vir Korag en ander wat die Godgegewe gesag van Moses en Aäron betwis het (Numeri 16:1-35). Maar wat ’n kontras vind ons tog nie in Dawid nie! Dawid het geduldig op God gewag om onregte reg te stel en het geweier om sy bose vyand, koning Saul, om die lewe te bring, aangesien Saul “die gesalfde van die HERE” was (1 Samuel 24:2-7). Ja, Jehovah het Moses, Aäron, Saul, Dawid, Jesus Christus en ander aangestel. Net so word daar vandag in God se organisasie diensaanstellings gemaak in ooreenstemming met Skriftuurlike vereistes en onder leiding van Jehovah se heilige gees.​—1 Timotheüs 3:1-13; Titus 1:5-9; Handelinge 20:28.

13. (a) Waarom moet ons dankbaar wees vir Jehovah se leiding? (b) Soos wie moet ons wandel, en met watter gesindheid?

13 Aangesien dit nie ‘aan die mens toebehoort om sy voetstappe te rig nie’, moet ons dankbaar wees vir Jehovah se leiding (Jeremia 10:23). Abraham en sy toegewyde vrou Sara was aan God gehoorsaam en het in geloof opgetree. Boas en Rut het hulle aan goddelike reëlings onderwerp. Ja, en talle ander getroue manne en vroue het Jehovah se leiding met blydskap aanvaar (Hebreërs 11:4-38; Rut 3:1-4:17). Soos vroeëre knegte van God moet ons ’n onafhanklike gees vermy, vreugdevol met God se teokratiese organisasie saamwerk en met volkome vertroue in Jehovah se leiding wandel.

“Werp jou sorg op die HERE”

14. Wat kan ons help om teen ’n opstandige gees te waak?

14 Wat kan ons, as Jehovah se lojale getuies, help om teen ’n opstandige gees te waak? Wel, ons moet ten eerste erken dat dit verkeerd is om opstandig te wees en vermetel God se leiding te ignoreer (Nehemia 9:16, 28-31; Spreuke 11:2). Ons kan tot ons hemelse Vader bid soos Dawid, wat gesmeek het: “Hou u kneg ook terug van moedswillige sondes [“vermetele dade”, NW]; laat dit nie oor my heers nie. Dan sal ek onbestraflik wees en vry van groot oortreding” (Psalm 19:14). Dit sal ook goed wees om te onthou hoeveel liefde Jehovah aan ons betoon het. Dit behoort ons liefde vir hom te vergroot en ons te beweeg om te alle tye sy leiding te aanvaar.​—Johannes 3:16; Lukas 10:27.

15. Watter handelwyse word aanbeveel indien ’n broer dink dat hy nie as bedieningskneg of opsiener aangestel is nie omdat die ouere manne iets teen hom het?

15 Ons moet nooit vergeet dat God sy organisasie lei nie, al is dit soms moeilik om met vertroue in Jehovah se leiding te wandel. Ter toeligting: Gestel ’n broer dink dat hy nie as bedieningskneg of opsiener aangestel is nie omdat die ouere manne iets teen hom het. Pleks van te reageer op ’n manier wat die vrede van die gemeente kan verstoor, moet hy onthou dat Jehovah die teokratiese organisasie lei. Dit sal die broer beweeg om op ’n nederige, vreedsame manier om ’n verduideliking te vra (Hebreërs 12:14). Hoe verstandig sal dit dan van hom wees om enige swakhede wat onder sy aandag gebring word te erken en biddend te strewe om te verbeter! Daarna kan hy sake in God se hande laat, in ooreenstemming met die woorde: “Werp jou sorg op die HERE” (Psalm 55:23). Met verloop van tyd en wanneer ons geestelik bekwaam is, sal Jehovah ons beslis oorgenoeg werk in sy diens gee.​—Vergelyk 1 Korinthiërs 15:58.

16. Wat moet ons nie doen nie, al het iemand in die gemeente ons werklik ’n onreg aangedoen, en waarom nie?

16 Miskien het ’n broer of suster ons werklik ’n onreg aangedoen. Maar sou dit ons grondige rede gee om ons aan die gemeente te onttrek? Sou dit ons die reg gee om ons heilige diens aan Jehovah te staak? Nee, want so ’n weg sou neerkom op ontrouheid aan God en ondankbaarheid vir sy leiding. Dit sou ook aandui dat ons nie ons lojale medegelowiges aardwyd liefhet nie (Mattheüs 22:36-40; 1 Johannes 4: 7, 8). Bowendien sal ons Satan rede gee om God te smaad as ons ons onkreukbaarheid teenoor Jehovah prysgee​—en dit wil ons beslis nie doen nie!​—Spreuke 27:11.

17. (a) Wat behoort ons te help om vertroue te behou in Jehovah se leiding van sy organisasie? (b) Wat sal die ondervinding wees van diegene wat aanhou om met vertroue in Jehovah se leiding te wandel?

17 Laat ons dan ‘Jehovah loof en geeneen van die weldade vergeet van Hom wat ons kroon met goedertierenheid en barmhartighede nie’ (Psalm 103:2-4). As ons altyd ons liefdevolle God onthou en in harmonie met sy Woord optree, sal ons sterk vertroue in sy onfeilbare leiding behou (Spreuke 22:19). Iemand wat Jehovah en sy organisasie verlaat, die leiding van “die getroue en verstandige dienskneg” in die wind slaan en bloot op sy eie Skriflesing en -vertolking vertrou, is soos ’n alleenstaande boom in ’n dor land. Die persoon wie se vertroue in ons Groot Leier, Jehovah, is, sal daarenteen wees “soos ’n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in ’n jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte [tot eer van God] te dra nie” (Mattheüs 24:45-47; Jeremia 17:8). Dit kan jou geseënde ondervinding wees as jy onwrikbaar aanhou om met vertroue in Jehovah se leiding te wandel.

Kan jy antwoord?

◻ In watter opsigte het Jehovah getoon dat hy ’n weergalose leier van die Israeliete was?

◻ Watter waarskuwings bied eertydse Israel met betrekking tot God se leierskap?

◻ Wie word vandag deur Jehovah gelei?

◻ Wat kan ons help om nie vertroue in Jehovah se leiding te verloor nie?

◻ Watter beskouing moet ons van Jehovah se leiding hê, al doen iemand in die gemeente ons ’n onreg aan?

[Prent op bladsy 17]

In 607 v.G.J. het ’n ramp diegene getref wat nie met vertroue in Jehovah se leiding gewandel het nie. Hoe verstandig om ag te slaan op die waarskuwing!

[Prent op bladsy 19]

Abraham, Sara, Dawid, Jesus en ander het met vertroue in Jehovah se leiding gewandel. Is dit hoe jy wandel?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel