Is jou godsdiens werklik vir God welgevallig?
“GOD is nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede” (1 Korinthiërs 14:33). Hieruit volg dit tog sekerlik dat nie al die baie godsdienste met hulle teenstrydige leerstellings God se goedkeuring kan wegdra nie. Daar kan net een godsdiens wees wat aan sy vereistes vir ware aanbidding voldoen. Hoe kan ons daardie een godsdiens vind wat waarlik vir God welgevallig is?
Baie dink ongetwyfeld dat so ’n soekery ’n onbegonne taak is, soos om ’n naald in ’n hooimied te soek. Dit sou ’n gedugte taak wees om dit uit te sif! Maar daar is ’n makliker metode—met behulp van ’n kragtige magneet. Dit sou die staalnaald aantrek en dit van die hooi skei. Die Bybel kan eweneens as ’n magneet gebruik word om waarheid van dwaling te skei. Maar hoe doen die Bybel dit? Deur uit te spel watter aanbidding vir God aanneemlik is.
Die apostel Paulus het geskryf: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Timotheüs 3:16, 17). Juiste kennis van die Bybel is noodsaaklik as ons nie ons godsdiens wil verwater tot bloot wat vir ons gerieflik of behaaglik is nie.
Jesus Christus, die Seun van God, het bowendien gesê: “God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid” (Johannes 4:24). Hoe kan ons “in gees en waarheid aanbid”? Deur die betroubare riglyne te volg wat God deur inspirasie in sy Woord, die Bybel, voorsien het.
Ware aanbidders toon liefde
Watter verwagting wek God se Woord by ons wat ware aanbidding betref? Ons het ’n onmiddellike leidraad in drie woorde: “God is liefde” (1 Johannes 4:16). Aanbidding wat vir God welgevallig is, moet dus op opregte liefde gegrond wees.
Wat beteken dit in die praktyk? Godsdiens wat vir God welgevallig is, kan nie haatdraendheid teenoor ander inskerp of toelaat nie. Die Bybel se eenvoudige gebod is: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Mattheüs 22:39). Dit beteken afgeskeidenheid van hierdie wêreld se haat, vooroordeel en botsings. Dit beteken dat ’n mens nie meer leer om oorlog te voer nie en dat jy vrede najaag.—Jesaja 2:2-4.
Ons kan die punt so toelig: Kan ons ons voorstel dat ’n “Franse” apostel Paulus sou uitgaan om ’n “Duitse” apostel Petrus te skiet net omdat hulle onderskeie nasies teen mekaar oorlog verklaar het? Tog was die meeste godsdienste gedurende die Tweede Wêreldoorlog so diep betrokke by hulle nasie se oorlogspoging dat hulle selfs kapelane vir die leërs verskaf het! Terselfdertyd het “Christelike” geestelikes aan albei kante tot dieselfde God gebid om die oorwinning. Maar is God verdeeld? Kan hy betrek word by wat professor Albert Einstein die “kindersiekte” nasionalisme, “die masels van die mensdom”, genoem het? Natuurlik nie! Dit is waarom aanbidders wat werklik vir God welgevallig is neutraal moet bly en opregte liefde moet toon (Johannes 13:34, 35; 17:16). Hulle ‘voer nie hulle stryd volgens die vlees nie’.—Vergelyk 2 Korinthiërs 10:3, 4.
Ware aanbidding verhef God se naam
Die apostel Paulus het gewys op nog ’n kenmerk van godsdiens wat vir God welgevallig is toe hy gesê het dat hoewel daar baie gode en here is, daar vir ware aanbidders net “een God, die Vader”, is (1 Korinthiërs 8:5, 6). Dit spreek dus vanself dat diegene wat God behaag sy naam sal ken en gebruik.
In die oorspronklike tale gebruik die Bybel die naam van God meer as 7 000 keer. Psalm 83:19 sê byvoorbeeld, met inagneming van die grondtaal: “Sodat hulle kan weet dat U, wie se Naam [Jehovah] is, alleen die Allerhoogste is oor die hele aarde.” Waarom aanbid die aanhangers van so baie godsdienste dan ’n naamlose God? En waarom laat hulle sy naam uit hulle Bybelvertalings weg? Dit is beslis nie die manier om God te behaag nie, want Jesus het gebid: “Laat u Naam geheilig word.”—Mattheüs 6:9.
Die godsdiens wat vir God welgevallig is
Is daar enige wêreldwye godsdiensgroep wat aan hierdie twee basiese vereistes van ware aanbidding voldoen? Is daar enige godsdiens wat werklik die liefde toon wat deur Christus verkondig is? En verheerlik daardie selfde aanbidders waarlik God en eer hulle sy naam in hierdie twintigste eeu?
Dit is ’n goed gestaafde feit dat Jehovah se Getuies neutraal bly ten opsigte van die oorloë van die nasies. Om hierdie rede het hulle in konsentrasiekampe en tronke gely. Hulle het nie hulle Bybelse beginsels prysgegee nie, maar verkies om soos die vroeë Christene die martelaarsweg in te slaan. Hierdie standpunt spruit uit hulle liefde vir God en hulle medemens. Sulke liefde is een kenmerk van ware aanbidding wat God behaag.
Baie het kennis geneem van die goeie voorbeeld wat Jehovah se Getuies in hierdie opsig stel. ’n Paar jaar gelede het ’n Suid-Amerikaanse koerantuitgewer byvoorbeeld opgemerk dat die Getuies “om gewetensredes weier om in die leër te dien”. Hy het vervolg: ‘Selfs as kinders weet Jehovah se Getuies dat hulle weens hulle neutraliteit ’n lang tronkvonnis sal moet uitdien wanneer hulle die ouderdom van 18 bereik. Hulle aanvaar die straf as deel van hulle godsdiens. Hulle is saggeaard en vreedsaam.’
Wat van ’n ander vereiste van aanbidding wat vir God welgevallig is? Ja, wie eer die goddelike naam, Jehovah? Dit lê voor die hand dat net Jehovah se Getuies dit wêreldwyd doen deur sowel hulle prediking as hulle gedrag.—Romeine 10:13-15.
Ons moedig jou aan om beter bekend te raak met Jehovah se Getuies. Die bygaande tabel meld sommige van hulle oortuigings, tesame met die Skriftuurlike gronde daarvoor. Onderwerp die Getuies se aanbiddingswyse aan hierdie eenvoudige toets: Voldoen dit aan God se standaarde van waarheid soos in die Bybel opgeteken? Bring dit die vredevolle vrug liefde voort wat deel moet uitmaak van ware aanbidding? Eer dit God se naam? As jy vind dat dit aan al hierdie vereistes voldoen, sal jy die godsdiens gevind het wat werklik vir God welgevallig is.
[Venster op bladsy 6]
DIE OORTUIGINGS VAN JEHOVAH SE GETUIES
OORTUIGING BYBELSE GRONDSLAG
God se naam is Jehovah Exodus 6:3, King James Version, Psalm 83:18, KJ
Die Bybel is God se Woord Johannes 17:17; 2 Timotheüs 3:16, 17
Jesus Christus is God se Seun Mattheüs 3:16, 17; Johannes 14:28
Die mens het nie geëvolueer nie, maar is geskep Genesis 1:27; 2:7
Mensedood is die gevolg van Adam se sonde Romeine 5:12
Die siel hou op bestaan by die dood Prediker 9:5, 10: Esegiël 18:4
Die hel is die mensdom se gemeenskaplike graf Openbaring 20:13, KJ
Die hoop van die dode is die opstanding Johannes 5:28, 29; 11:25; Handelinge 24:15
Christus se aardse lewe was die losprys vir gehoorsame mense Mattheüs 20:28; 1 Petrus 2:24; 1 Johannes 2:1, 2
Gebede moet net tot Jehovah gerig word, deur Christus Mattheüs 6:9; Johannes 14:6,13, 14
Die Bybel se sedewette moet gehoorsaam word 1 Korinthiërs 6:9, 10
Beelde mag nie in aanbidding gebruik word nie Exodus 20:4-6; 1 Korinthiërs 10:14
Spiritisme moet vermy word Deuteronomium 18:10-12; Galasiërs 5:19-21
Bloed mag nie in die liggaam ingeneem word nie Genesis 9:3, 4; Handelinge 15:28, 29
’n Christen moet afgeskeie van die wêreld bly Johannes 15:19; 17:16; Jakobus 1:27; 4:4
Christene moet getuig, “evangelie” verkondig Jesaja 43:10-12; Mattheüs 24:14; 28:19, 20
Doop deur totale onderdompeling simboliseer toewyding aan God Markus 1:9, 10; Johannes 3:23; Handelinge 19:4, 5
Godsdienstige titels is onvanpas Job 32:21, 22; Mattheüs 23:8-12
Ons is nou in “die tyd van die einde” Daniël 12:4; Mattheüs 24:3-14; 2 Timotheüs 3:1-5
Christus is in die gees teenwoordig Mattheüs 24:3, Rotherham: Johannes 14:19; 1 Petrus 3:18, Ro
Satan is die onsigbare owerste van die wêreld Johannes 12:31; 1 Johannes 5:19
God gaan hierdie bose stelsel vernietig Daniël 2:44; Openbaring 16:14, 16; 18:1-8
Die Koninkryk onder Christus sal in geregtigheid oor die aarde regeer Jesaja 9:5, 6; Daniël 7:13, 14; Mattheüs 6:10
Die “klein kuddetjie” sal saam met Christus in die hemel regeer Lukas 12:32; Openbaring 14:1-4; 20:4
Ander mense wat God se goedkeuring wegdra, sal die ewige lewe op ’n paradysaarde ontvang Lukas 23:43, Ro; Johannes 3:16
[Prente op bladsy 5]
Hoe sal jy ’n naald in ’n hooimied vind?
Hoe sal jy die ware godsdiens vind?