Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 7/15 bl. 10-14
  • “Laat niemand julle van jul prys beroof nie”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Laat niemand julle van jul prys beroof nie”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘Beroof van die prys’​—Hoe?
  • Die persoonlikheid van die valse leraars
  • Steeds ’n gevaar?
  • Hou styf vas aan die prys
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2017
  • Hou jou oë op die prys
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Bybelboek nommer 51—Kolossense
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Behou geloof in God en Christus
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 7/15 bl. 10-14

“Laat niemand julle van jul prys beroof nie”

“Laat niemand julle van jul prys beroof nie, al sou hy behae hê in [skyn]nederigheid . . . en sonder oorsaak opgeblase wees deur sy vleeslike gesindheid.”​—KOLOSSENSE 2:18.

1, 2. Hoe het talle die ewige belange van hulle medemens benadeel, en kan jy ander voorbeelde hiervan uit die Bybel aanhaal?

DIE eerste mensesondares, Eva, is deur ’n listige, bomenslike geesskepsel na haar dood gelei. Die tweede sondaar, Adam, is deur sy vrou​—’n blote mens—​oorgehaal.​—1 Timotheüs 2:14; Genesis 3:17.

2 Eva was die eerste van baie individue wie se aansporings die ewige belange van hulle medemens sou benadeel het indien daarop ag geslaan is. Luister hoe weerklink hulle woorde dwarsdeur die Bybel! Potifar se vrou aan Josef: “Kom slaap by my” (Genesis 39:7, NAV). Job se vrou: “Vervloek God en sterf!” (Job 2:9, NAV). Die Israeliete aan Aäron: “Kom, maak vir ons gode wat voor ons uit trek” (Exodus 32:1). Petrus vir Jesus Christus: “Wees goed vir uself, Here, dit sal U nooit oorkom nie!”​—Mattheüs 16:22, NW.

3. Watter waarskuwing het Paulus in Kolossense 2:18 gegee, en watter vrae ontstaan gevolglik?

3 Sulke aansporings het dikwels tot die ondergang van een van Jehovah se knegte gelei. Hoewel Christene ’n “worstelstryd . . . teen die bose geeste” voer, is dit dus dikwels ander mense wat die onmiddellike gevaar inhou (Efesiërs 6:12). Die apostel Paulus het derhalwe gewaarsku: “Laat niemand julle van jul prys beroof nie” (Kolossense 2:18). Wat is hierdie prys? En waarom het party van Jehovah se knegte dit verloor deur te swig voor die invloed van onvolmaakte mense? Kom ons ondersoek, in antwoord hierop, die omstandighede in Kolosse wat Paulus hierdie waarskuwing laat rig het.

4, 5. (a) Watter godsdiensinvloede was daar in Kolosse? (b) Wat was gnostisisme, en watter gevaarlike gevolge kon dit gehad het?

4 Kolosse was ’n smeltkroes van godsdienste. Die Frigiërs was ’n emosionele volk wat behep was met spiritisme en afgodiese bygelowigheid. Dan was daar die stad se Joodse bevolking wat nog in Judaïsme verstrik was. Kolosse was naby ’n vername handelsroete en dit het ook ’n bestendige stroom besoekers ten gevolge gehad. Hierdie vreemdelinge het waarskynlik daarvan gehou om in hulle ledige tyd iets nuuts te vertel of daarna te luister. (Vergelyk Handelinge 17:21.) Dit het tot die ontstaan van nuwe filosofieë gelei, waaronder gnostisisme geleidelik ontvou het. Vakkundige R. E. 0. White sê: “Gnostisisme was ’n denkgees wat net so wyd verspreid was soos die evolusieteorie vandag is. Dit het waarskynlik in die eerste eeu of vroeër op die voorgrond gekom en in die tweede eeu sy hoogtepunt bereik. Dit het filosofiese bespiegeling, bygelowigheid, semi-towerritusse en soms ’n fanatiese en selfs onwelvoeglike kultus gekombineer.”

5 In so ’n klimaat het godsdiens in Kolosse oënskynlik ’n soort voortgesette eksperiment geword​—’n mengelmoes van Judaïsme, Griekse filosofie en heidense mistiek. Sou die Christelike godsdiens ook in dieselfde smeltkroes gewerp word?

‘Beroof van die prys’​—Hoe?

6. (a) Hoe sou Paulus se woorde die invloed van heidense filosofieë en Judaisme teengewerk het? (b) Waarom was dit vir Christene nodig om ‘op te pas’?

6 Paulus se kragtige brief aan die Kolossense sou die invloed teengewerk het van enigiemand wat Judaïsme en heidense filosofie met die Christelike godsdiens wou vermeng. Hy het herhaaldelik die aandag op Christus gevestig. Paulus het geskryf: “In wie [Christus, nie ’n Judaïseerder of heidense filosoof nie] al die skatte van wysheid en kennis verborge is.” Die Kolossense is aangespoor: “Wandel so in Hom [Christus], gewortel en opgebou in Hom en bevestig in die geloof.” Anders word hulle dalk mislei. Paulus het dus gewaarsku: “Pas op dat niemand julle as ’n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van die mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie.”​—Kolossense 2:3, 6-8.

7. (a) Waarom sou die leringe van heidense filosowe en Judaïseerders by sommige Christene byval gevind het? (b) Waarom was hulle leringe “nietige misleiding”?

7 Miskien het party van Jesus Christus se nuwe volgelinge die indrukwekkendheid van die mistiek of die stimulering van filosofie gemis. Sekere Joodse Christene het dalk nog ’n teer plekkie vir die uitgediende tradisies van Judaïsme gehad. Die leringe van heidense filosowe en Judaïseerders sou derhalwe in sekere mate by sulke individue byval vind. Maar hoe oortuigend of welsprekend hierdie valse leraars ook al geklink het, hulle kon niks anders as “nietige misleiding” aanbied nie. In plaas van die rein woord van God te verklaar, kon hulle slegs “die eerste beginsels van die wêreld” napraat​—nuttelose filosofieë, leringe en opvattinge. Dit sou rampspoedig vir ’n Christen wees om daardie verkeerde idees aan te neem. Paulus het gevolglik gesê: “Laat niemand julle van jul prys beroof nie.”​—Kolossense 2:18.

8. (a) Wat was “die prys”, en watter tekste staaf jou antwoord? (b) Hoe kon gesalfde Christene beroof word van “die prys”?

8 “Die prys” was onsterflikheid in die hemel. Dit is vergelyk met die beloning wat die wenner van ’n uitputtende wedloop ontvang (1 Korinthiërs 9:24-27; Filippense 3:14; 2 Timotheüs 4:7, 8; Openbaring 2:7). Slegs Jehovah God deur Jesus Christus kan iemand vir die wedloop van die lewe diskwalifiseer (Johannes 5:22, 23). Maar as ’n valse leraar ’n Christen onder sy invloed gekry het, kon dit daartoe gelei het dat hy van die prys beroof word. Die misleide kon so ver van die waarheid afdwaal dat hy kon versuim om die wedloop te voltooi!

Die persoonlikheid van die valse leraars

9. Watter vier dinge het die valse leraars onder die Kolossense gekenmerk?

9 Was daar dan ’n manier waarop ’n persoon wat daarop uit was om ’n Christen van die prys te beroof, geïdentifiseer kon word? Ja, want Paulus het die karaktertrekke van die valse leraars in Kolosse beskryf. So ’n man (1) “skep behae in skynnederigheid en ’n vorm van aanbidding van die engele”; (2) “‘tree in’ in die dinge wat hy gesien het”; (3) is “sonder juiste rede opgeblase deur sy vleeslike gesindheid”; (4) ‘hou nie vas aan die hoof’, Jesus Christus, nie.​—Kolossense 2:18, 19, NW.

10. Hoe het die valse leraars ‘behae geskep in skynnederigheid’ ?

10 Wat ’n slim set! Die valse leraar het Jesus se veroordeling van grootdoenerige vas geïgnoreer en ’n innemende skynnederigheid geopenbaar (Mattheüs 6:16). Die valse leraar het inderdaad daarin ‘behae geskep’ om ’n vertoon van vas en ander vorms van godsdienstige selfverloëning te maak (Kolossense 2:20-23). Sy droewe gesig is sorgvuldig beplan om ’n valse vroomheid te weerspieël. Die valse leraar het inderdaad ‘sy regverdigheid voor mense beoefen om deur hulle gesien te word’ (Mattheüs 6:1, vgl. NW). Maar dit was alles bedrog, ‘skynnederigheid’. The Expositor’s Bible stel dit soos volg: “’n Man wat weet dat hy nederig is, en selfvoldaan is daaromtrent terwyl hy uit die hoek van sy neergeslane oë na enige spieël kyk waarin hy hom kan sien, is glad nie nederig nie.”​—Ons kursiveer.

11. (a) Wat was die aanbidding van die engele? (b) Watter getuienis is daar dat die aanbidding van die engele in Kolosse voortgeduur het?

11 Hierdie skynnederigheid het nietemin oënskynlike geloofwaardigheid verleen aan ’n andersins onsinnige gebruik​—die “aanbidding van die engele”. Paulus verduidelik nie presies hoe hierdie aanbidding beoefen is nie. Die getuienis toon egter dat dit ’n vorm van valse aanbidding was wat eeue lank in die omgewing van Kolosse voortgeduur het. ’n Vierde-eeuse raad in nabygeleë Laodicea het dit nodig geag om te verklaar: “Christene behoort nie die Kerk van God te verlaat en . . . die name van engele aan te roep nie. . . . Laat enigiemand wat derhalwe hierdie private afgodediens beoefen, vervloek wees.” Vyfde-eeuse teoloog en geleerde Theodoret toon egter dat “hierdie verdorwenheid”, naamlik die aanbidding van die engele, steeds in sy dag bestaan het. Die Katolieke Kerk spoor tot vandag toe “die getroues aan om die engele lief te hê, te respekteer en aan te roep”, en staan “Misse en Offisies ter ere van beskermengele” voor.​—New Catholic Encyclopedia, Deel I, bladsy 515.

12. Hoe kon die valse leraars gedink het dat die aanbidding van die engele aanvaarbaar was?

12 Die valse leraar het dalk ’n soortgelyke redenasie as Katolieke teoloë gebruik en gesê: ‘Wat ’n wonderlike voorreg het die engele tog! Is die Mosaïese Wet nie deur hulle oorgedra nie? Is hulle nie naby God in die hemel nie? Ons moet tog sekerlik hierdie magtiges die eer gee wat hulle toekom! Sou dit nie toon dat ons waarlik nederig is nie? God is immers so verhewe en ons as mense is so nietig! Die engele kan dus dien as middelaars tussen ons en God.’

13. (a) Is die aanbidding van die engele aanvaarbaar? (b) Hoe het die valse leraar ‘ingetree in’ die dinge wat hy gesien het?

13 Aanbidding van die engele in enige vorm is egter verkeerd (1 Timotheüs 2:5; Openbaring 19:10; 22:8, 9). Maar die valse onderrigter sou probeer om hierdie beswaar te omseil deur ‘“in te tree in” die dinge wat hy gesien het’. Volgens The Vocabulary of the Greek Testament is hierdie uitdrukking gebruik “in die misteriegodsdienste om die klimaks van die inisiasie aan te dui, wanneer die ingewyde die ingang betree van die nuwe lewe wat hy nou met die god gaan deel”. Deur heidense bewoording te gebruik, bespot Paulus die manier waarop die valse leraar roem dat hy spesiale insig het​—miskien selfs beweer dat hy bonatuurlike visioene gehad het.

14. Hoe was die valse leraars ‘opgeblase deur ’n vleeslike gesindheid’?

14 Hoewel die valse leraar beweer dat hy geestelik is, was hy werklik sonder oorsaak opgeblase deur sy vleeslike gesindheid. Die sondige vlees het sy lewensbeskouing en beweegredes besmet. Omdat hy met trots en vermetelheid “opgeblase” was, was sy verstand op “die bose werke” gerig (Kolossense 1:21). Die ergste van alles was dat hy nie vasgehou het aan die hoof, Christus, nie, want hy het meer waarde geheg aan die bespiegelinge van wêreldlinge as aan die leringe van Jesus.

Steeds ’n gevaar?

15. (a) Watter gesindhede is daar vandag onder sommige Christene? (b) Waar kom sulke gesindhede vandaan, en hoe vergelyk dit met die Bybel se raad?

15 Die prys van die ewige lewe​—hetsy in die hemel of op ’n paradysaarde—​word steeds aan Jehovah se knegte voorgehou. Die Gnostici en die Judaïseerders is weliswaar lankal nie meer daar nie. Maar daar is individue wat nou kan verhinder dat ’n Christen hierdie prys verkry. Hulle doen dit miskien nie opsetlik nie. Maar omdat hulle toegelaat het dat hierdie stelsel se “wysbegeerte en nietige misleiding” hulle beïnvloed, sê hulle dalk:

‘Ek probeer eerlik wees, maar dit is moeilik wanneer jy ’n onderneming bestuur. Dit is ’n meedoënlose wêreld en soms moet jy eenvoudig ’n kompromis aangaan.’ (Vergelyk hierdie beskouing met Spreuke 11:1; Hebreërs 13:18.)

‘Jy bedoel jy wil nog steeds net ’n huisvrou wees? Tye het verander! Kry ’n werk en doen iets met jou lewe!’ (Vergelyk Spreuke 31:10-31.)

‘Ek weet my werk maak grootliks inbreuk op vergaderinge en die veldbediening. Maar ons lewensstyl is hoog. En wat is verkeerd met ’n paar mooi dinge?’ (Vergelyk hierdie redenasie met Lukas 21:34, 35; 1 Timotheüs 6:6-8.)

‘Ek raak so moeg om die ouere manne altyd oor velddiens te hoor praat! Ek werk die hele week en verdien om oor die naweek te ontspan.’ (Vergelyk Lukas 13:24; Markus 12:30.)

‘Die pionierdiens is nie vir almal nie. Buitendien het jy in vandag se ekonomiese toestande ’n universiteitsgraad nodig om ’n bestaan te maak.’ (Vergelyk dit met Mattheüs 6:33; 1 Korinthiërs 1:19, 20; 1 Timotheüs 6: 9-11.)

Materialistiese en vleeslike redenering is ’n onafskeidelike deel van “die eerste beginsels van die wêreld”​—die fundamentele leringe en opvattinge van wêreldlinge! As ons daarvoor swig, kan dit onherstelbare geestelike skade aanrig.

16. Hoe kan party vandag skynheilige regters word?

16 Nog iets wat gevaar inhou, is selfaangestelde regters en leraars. Soos diegene in Kolosse maak hulle geskille van persoonlike kwessies. Hulle word dikwels deur “skynnederigheid” gekenmerk (Kolossense 2:16-18, vgl. NW). Hulle fariseëragtige gesindheid verraai ’n verkeerde beweegrede​—’n begeerte om hulle bo ander te verhoog. Hulle is dikwels “alte regverdig” en oorskry graag die dinge wat die ‘getroue dienskneg’ gesê of gepubliseer het. Hulle kan dus geskille veroorsaak oor dinge soos ontspanning, gesondheidsorg, modes en persoonsversorging, of die gebruik van sterk drank (Prediker 7:16; Mattheüs 24:45-47). Die aandag word sodoende van geestelike sake afgelei en op vleeslike begeertes gevestig.​—Vergelyk 1 Timotheüs 6:3-5.

17, 18. (a) Hoe dring party aan op hulle persoonlike beskouings, en waarom is dit gevaarlik? (b) Wat gaan ons volgende les bespreek?

17 Vandag is daar, selfs sommige wat aandring op hulle persoonlike beskouings van die Skrif, of wat beweer dat hulle spesiale insig het. Een vrou wat slegs ’n jaar lank gedoop was, het beweer dat sy een van die gesalfdes was en gemeen dat dit meer gewig aan haar menings verleen. Sy het derhalwe ’n sterk begeerte uitgespreek om in ’n amptelike hoedanigheid “ander te onderrig en te bemoedig”. (Maar kyk 1 Timotheüs 2:12.) Aangesien Jehovah “hoogmoed en trotsheid” haat, moet Christene ’n beskeie beskouing van hulle eie menings huldig (Spreuke 8:13). Hulle vermy die strik om sonder oorsaak opgeblase te wees deur hulle vleeslike gesindheid (Kolossense 2:18). Enigiemand wat hulle persoonlike idees bevorder en die raad van Christus se aangestelde ‘getroue dienskneg’ in ’n slegte lig stel, hou nie vas aan die hoof nie. Jehovah se lojale getuies moet dus beslis waak teen die goddelose invloed wat hulle van die prys van die lewe kan beroof.

18 Satan gebruik steeds mense om ander mense te verhinder om die lewe te verkry. Op watter ander maniere benut die Duiwel hierdie strategie? En hoe kan ’n getuie van Jehovah onversetlik vashou aan die prys?

Onthou jy?

□ Watter godsdiensinvloede het Christene in eertydse Kolosse bedreig?

□ Wat was die kenmerke van diegene wat Christene van “die prys” wou beroof?

□ Hoe toon party Christene vandag dat hulle deur “die eerste beginsels van die wêreld” beinvloed is?

□ Hoe kan valse leraars Christene ’n verkeerde weg laat inslaan?

[Prent op bladsy 12]

Die ‘aanbidding van die engele’ het die Christengemeente in Kolosse bedreig. Soortgelyke afgodediens bestaan vandag nog onder naamchristene

[Prent op bladsy 14]

Pas op vir diegene wat jou met die denke van die wêreld probeer beïnvloed!

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel