Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 10/1 bl. 26-28
  • “Leer my goedheid”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Leer my goedheid”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Goedheid en regverdigheid
  • Jehovah se voorbeeld van goedheid
  • Volg Jehovah se goedheid na
  • Seëninge wanneer goedheid geleer word
  • Die verbasende omvang van God se goedheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • “Hoe groot is sy goedheid tog!”
    Kom nader aan Jehovah
  • Die oorvloedige goedheid van Jehovah
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Jehovah—Die voortreflikste voorbeeld van goedheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 10/1 bl. 26-28

“Leer my goedheid”

SLEGS twee persone het gehelp toe die bejaarde vrou skielik op die stampvol moltrein ineengestort het. Vir die ander passasiers, wat ongeduldig was weens spitsuurvertragings, was haar verknorsing net nog ’n ongerief. ‘Kan iemand nie daardie vrou uit die pad sleep nie?’ het een verergde pendelaar geskreeu. Die sterwende vrou en die twee reisigers wat desperaat probeer het om haar by te bring, was vir hulle medepassasiers blote hindernisse. Hulle is dus “herhaaldelik vertrap”.

Sulke tonele is al in baie dele van die wêreld aanskou. Hulle bevestig op dramatiese wyse die Bybel se voorspelling dat mense “in die laaste dae . . . sonder liefde vir die goeie” sal wees. Maar Christene wil Jehovah behaag. Hulle moet hulle ‘afkeer’ van individue wat nie goedheid besit nie (2 Timotheüs 3:1-5). Maar dit is nie genoeg om net op ons omgang te let nie. Goedheid moet noukeurig aangekweek word as ’n vrug van God se gees (Galasiërs 5:22). Maar hoe? En wat is goedheid?

Goedheid en regverdigheid

Goedheid is morele uitnemendheid en deug, die hoedanigheid of toestand om goed te wees. Maar dit is nie net ’n passiewe toestand nie. Toe die apostel Paulus die losprysvoorsiening bespreek het, het hy gesê: “Nouliks sal iemand vir ’n regverdige sterwe​—vir ’n goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe—​maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was” (Romeine 5:7, 8). Hier word goedheid skynbaar met regverdigheid vergelyk. Maar is hulle teenoorgesteldes?

Nee. Paulus het blykbaar gedink aan die feit dat regverdigheid behels dat jy aan ’n norm voldoen. Trouens, regverdigheid is met oordeel geassosieer. (Vergelyk Openbaring 19:11, NAV.) Die “regverdige” man is wetsgehoorsaam. Hy voldoen aan ’n standaard, doen sy deeltjie, maar doen verder moontlik baie min. Hy wen dus respek maar nie noodwendig harte nie. Min sou beweeg word om vir hom te sterf. Maar die “goeie” man kom nie net verpligtinge na of vermy oortreding nie. Sy goedheid beweeg hom om hom ten behoewe van ander in te span, om vir hulle dinge te doen.

Diegene wat hulle inspan om goeie dinge vir ander te doen, is werklik hulle naaste. Jesus se gelykenis oor die behulpsame Samaritaan lig hierdie punt toe. Die Samaritaan het “innig jammer gevoel” vir ’n Jood wat aangerand en beroof is en het sy wonde verbind. Hierdie weldoener “het hom toe op sy eie pakdier gehelp en hom na ’n herberg geneem en vir hom gesorg” (Lukas 10:29-37). Is dit dan ’n wonder dat party hierdie illustrasie die gelykenis van die goeie Samaritaan noem?​—Vergelyk Mattheüs 12:35; 20:10-15; Lukas 6:9, 33-36.

Goedheid is nie passief nie, maar is dinamies en daadwerklik. Ontvangers van die “goeie” persoon se vriendelikheid, vrygewigheid en selfopoffering kan selfs beweeg word om vir hom te sterf! Dit is derhalwe met goeie rede dat die psalmis gebid het: “Leer my goedheid” (Psalm 119: 66, NW). Maar hoe doen Jehovah dit?

Jehovah se voorbeeld van goedheid

Jehovah leer ons goedheid deur sy voorbeeld. Hy is die verpersoonliking van goedheid. Toe Moses gevra het om God se heerlikheid te sien, het Hy gesê: “Ek sal al my [goedheid] by jou laat verbygaan en voor jou die Naam van [Jehovah] uitroep.” Hoe het dit plaasgevind? Kort daarna het Jehovah “by hom verbygegaan, [en] . . . geroep: HERE, HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en [waarheid]; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie.”​—Exodus 33:18, 19, vgl. NW; 34:6, 7, vgl. NW.

Jehovah se goedheid is op daardie tydstip op verskillende maniere beklemtoon. Sy genade en waarheidsliefde was opvallend. Omdat Jehovah die mensdom se onvolmaakte toestand ken, is hy bedagsaam en geduldig teenoor diegene wat werklik wil doen wat reg is. Maar hy vergoelik nie verdorwenheid nie. Ons kan beslis daarby baat vind om te peins oor die voorbeeld wat Jehovah stel.

Jehovah het ook deur sy skepping goedheid geopenbaar. Trouens, hy kon sy skeppingswerk as “goed” beskou (Genesis 1:12, 18, 25, 31; Romeine 1:20). God het nie net die volstrekte minimum voorsien toe hy hierdie planeet toegerus het om lewe te onderhou nie.

Die stromende reën is ’n goeie voorbeeld hiervan (Jesaja 55:10). Met merkwaardige wetenskaplike juistheid het Elihu gesê Jehovah “trek waterdruppels af; hulle sif neer by sy mistige weer as reën wat die wolke laat neerstroom, laat afdrup op baie mense. . . . Hy [gee] voedsel in oorvloed” (Job 36:27-31). ’n Geraamde 500 000 biljoen liter water is by hierdie daaglikse kringloop betrokke, en die son “trek” die grootste deel van hierdie water uit die oseane.

Volgens ’n berig in The New York Times “het navorsers wat die dinamika van Suid-Amerika se tropiese woud bestudeer wetenskaplike bewys voorgelê wat vir die eerste keer akkuraat toon dat ’n woud tot 75 persent van die vog wat dit absorbeer aan die atmosfeer kan teruggee”. Die berig het verder getoon dat “genoeg van die water wat ’n woud absorbeer weer in die lug vrygestel kan word om nuwe reënwolke te vorm”. En reën is natuurlik een van die noodsaaklike faktore by voedselproduksie. Jehovah het inderdaad doeltreffend en oorvloedig voorsiening gemaak vir lewe op die aarde. Watter goedheid het hy tog geopenbaar deur al hierdie voorsienings selfs aan ondankbare mense beskikbaar te stel.​—Mattheüs 5:44, 45.

Maar ’n selfs treffender voorbeeld van Jehovah se goedheid is die manier waarop hy te werk gegaan het om sy oorspronklike voorneme vir die mensdom te vervul (Genesis 1:28; 3:15; Romeine 5:12). Sy goedheid het hom beweeg om ’n losprysvoorsiening vir die sondige mensdom te maak deur “sy eniggebore Seun [te gee] sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16; Romeine 3:23, 24). God se goedheid teenoor die opregtes sal binnekort deur sy Koninkryk geopenbaar word wanneer dit ’n einde aan hierdie goddelose stelsel maak (Daniël 2:44; Mattheüs 6:9, 10; 2 Petrus 3:9, 10). En hoe sal die goedheid van God tog duidelik wees wanneer hierdie aarde ’n paradys onder Koninkryksheerskappy word!​—Lukas 23:43; 2 Petrus 3:13; Openbaring 21:1-5.

Volg Jehovah se goedheid na

Gereelde studie van die Bybel herinner ons voortdurend aan Jehovah se volmaakte voorbeeld van goedheid. Dit behoort ons dan te beweeg om sy voorbeeld te volg. Talle noodsaaklike werksaamhede soos kook, skoonmaak, inkopies en huishoudelike herstelwerk kan weliswaar inbreuk maak op ’n gereelde studie van die Skrif. Maar ons moet die voorkeur gee aan geestelike dinge. Jesus Christus het dit getoon toe hy by Maria en Martha besoek afgelê het. Terwyl Martha haar met huishoudelike pligte besig gehou het, het Maria aan Jesus se voete gesit en “na sy woord geluister”. Toe Martha wou hê dat Maria haar met die takies help, het Jesus gesê: “Martha, Martha, jy is besorg en verontrus oor baie dinge; maar een ding is nodig; en Maria het die goeie deel uitgekies wat van haar nie weggeneem sal word nie.” Jy kan ook die goeie kies deur die voorkeur te gee aan geestelike dinge soos persoonlike en gesinstudie.​—Lukas 10:38-42.

Jehovah leer ons ook goedheid deur die Christengemeente. Daar gaan ons om met mense wat “vol van goedheid” is (Romeine 15:14). Baie ondervindinge lig dit toe. Een getuie van Jehovah (reeds ’n moeder van twee kinders) onthou hoe verstom sy was toe sy uitgevind het dat sy ’n drieling in die wêreld gebring het! ‘Hoe sal ons ooit by Christenvergaderinge kom?’ het sy gewonder. ‘Hoe gaan ons hierdie hospitaalrekening betaal? Hoe gaan ons dit bekostig om vyf kinders te voed en te klee?’

Hierdie vrou het egter weldra bewys ontvang dat haar Christenbroers en -susters “vol van goedheid” is. “Toe ek by die huis aankom”, het sy gesê, “het ek gevind dat verskeie van my Christensusters ons woonstel skoongemaak het. Die susters het ook gereël om maaltye te bring en het die huiswerk gedoen totdat ek sterk genoeg was.” Baie van die broers het materieel bygedra, en een het selfs ’n anonieme bydrae van R2 000 gestuur! Gedurende die winter het hierdie gesin se rekening vir verwarming egter hoog geloop. Stel jou dus voor hoe bekommerd hierdie vrou was toe sy ’n telefoonoproep van die brandstofmaatskappy ontvang het. Maar tot haar verligting het sy gehoor dat ’n Christensuster die rekening betaal het! ’n Kennisgewing wat aan hierdie sukkelende gesin gestuur is dat die diens gestaak sou word, is per abuis aan hierdie ander Getuie gestuur, en goedheid het haar beweeg om hulle te help.

Sulke goedheid raak nie net die hart nie, maar dit is ook aansteeklik. “Ek is liefde en vriendelikheid geleer” deur die Getuies, het ’n voormalige vrouslaner vir sy eggenote gesê nadat sy haar eerste vergadering bygewoon het. “Dit is waarom ek jou nie meer slaan nie.”

Seëninge wanneer goedheid geleer word

Ons ontvang selfs nou seëninge as ons goedheid leer en liefhet. Ons omgang met ons broers en selfs met wêreldse mense word derhalwe aangenamer (Spreuke 11:10; 1 Petrus 3:13). Die belangrikste is dat wanneer ons ly omdat ons “goed doen” “dit aangenaam is vir God” (1 Petrus 2:20, NW). Trouens, as ons geloof beoefen en goedheid toon, kan dit daartoe lei dat ons gedurende die “groot verdrukking” bewaar word, en dit sal ons toegang tot die Nuwe Orde verseker.​—Hebreërs 10:36-39; Mattheüs 24:21.

Laat Jehovah jou dus goedheid leer. Die beloninge? Daar sal ‘heerlikheid en eer en vrede wees vir elkeen wat goed doen’!​—Romeine 2:6-11.

[Prent op bladsy 27]

Die oorvloedige voorraad water om lewe te onderhou getuig van Jehovah se goedheid

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel