Nuwe sendelinge streef ware sukses na
SONDAG, 8 September 1985, was ’n geskiedkundige dag vir die 4 351 wat in die pragtige Byeenkomssaal van Jehovah se Getuies in die stad Jersey vergader het om die gradeplegtigheid van die 79ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead by te woon.
Dit was ’n geskiedkundige dag omdat dit die eerste keer was dat die Byeenkomssaal na sy amptelike toewyding gebruik is. Dit was ook die eerste keer sedert 1970 dat feitlik die hele Amerikaanse Bethelgesin onder een dak saamgekom het. Hierdie gesin, wat werkers by Brooklyn en die Genootskap se plase insluit, tel meer as 3 500. Met die voltooiing van die Byeenkomssaal in die stad Jersey is daar uiteindelik ’n fasiliteit waar hulle almal bymekaar kan kom.
Die dag was veral geskiedkundig vir die 24 jong knegte van Jehovah uit tien lande wat die 79ste klas uitgemaak het. Hulle het die vorige vyf maande aan ’n kursus van intensiewe Bybelstudie en sendingvoorbereiding bestee. Nou het hulle, volgens Albert Schroeder, voorsitter vir die dag, opgehou om Gileadstudente te wees en Gileadgegradueerdes geword.
In die gerieflike Byeenkomssaal met lugreëling en al het hierdie 24 nuwe sendelinge ’n afskeid gehad wat hulle lank sal onthou. Die voorsitter het hulle daaraan herinner dat hulle talle feite by Gilead geleer het. Maar Gilead het die klem op iets belangrikers gelê: geestelikheid. Die voorsitter het toe ’n aantal sprekers aan die woord gestel om afskeidsgedagtes met die gegradueerdes te deel.
Carey Barber, ’n lid van die Bestuursliggaam, het oor die soeke na geluk gepraat. Hy het die gegradueerdes daaraan herinner dat Salomo gevind het dat die genietinge van hierdie wêreld nie geluk verskaf nie (Prediker 2:1-11, 17). Jesus het gevolglik die klem gelê op die belangrikheid van geestelike dinge in die soeke na geluk (Mattheüs 5:3, NW). Die gegradueerdes moet derhalwe Jesus se raad volg. Dan kan hulle steeds suksesvol wees, al moet hulle as sendelinge sekere fisiese geriewe prysgee.
Die volgende spreker, John Booth, ook van die Bestuursliggaam, het die gehoor daaraan herinner dat die ouer sendeling Paulus die jonger sendeling Timotheüs aangespoor het om steeds vooruitgang te maak in Christelike gedrag, persoonlike studie en gebed (1 Timotheüs 2:1, 8; 4:12-16). Die nuwe sendelinge sal soortgelyke vooruitgang moet maak as hulle suksesvol wil wees. Vervolgens het die sekretaris-penningmeester van die Genootskap, Lyman Swingle, gemeld dat hy sendelinge in Brasilië onlangs gevra het watter raad hulle nuwe sendelinge sou gee ten einde hulle te help om suksesvol te wees. “Sê vir hulle”, is hy aangespoor, “dat wanneer hulle in hulle toewysings aankom hulle moet aanhou om die Bybel te lees en Bybelnavorsing te doen.”
David Olson, van die Diensafdelingkomitee, het die ondervinding vertel van ’n man wat toesig gehou het oor ’n deel van die projek wat daartoe gelei het dat ’n man eindelik op die maan geplaas is. Later het hierdie selfde man ’n bestaan gemaak deur parkeerterreine te vee. Hy het gemeen dat hy meer sukses in sy tweede loopbaan behaal. Waarom? Omdat sy nuwe werk hom tyd gegee het om Jehovah te dien en na sy gesin om te sien. Waarlik, diegene wat vreugde in Jehovah, sy wet en sy diens vind, vind ware sukses.—Psalm 1:1-3.
Ulysses Glass, Gileadregistrateur, het die gegradueerdes se erns en eerbied geloof. Hy het die belangstelling wat hulle in hulle studies getoon het en hulle sterk begeerte om sake ten volle te begryp, opgemerk. Sulke dinge, het hy gesê, sou hulle in hulle toewysings help. Gileadinstrukteur Jack Redford het bygevoeg dat die eerste jaar in hulle toewysings ’n uitdaging sou wees. Maar as hulle suksesvol wil wees, moet hulle ten nouste met ander sendelinge saamwerk, geduldig wees en geestelike vreugde aankweek.—Prediker 7:8, 9.
Die laaste spreker, die Wagtoringgenootskap se President, Frederick Franz, het sy toespraak ingelei met die woorde: “Dit was die moeite werd om 92 jaar te lewe om by ’n geleentheid soos hierdie teenwoordig te wees!” Toe het hy die gegradueerdes vertel hoe Gilead begin het en hulle aangespoor om getrou in hulle toewysings te bly.
Na die toesprake het die studente hulle diplomas ontvang en was daar ’n verposing vir verversings. Toe het hulle onder leiding van Dean Songer van die Fabriekskomitee kommentaar gelewer oor die jongste Wagtoring-studie. En hulle het almal vermaak met ’n program van ondervindinge, musiek en enkele parodieë oor hulle vreugde om by Gilead te kon wees en hulle vasbeslotenheid om “die belangriker dinge” na te streef (Filippense 1:10, NW). Ten slotte het die gegradueerdes die tydige drama Soek God se geregtigheid vir oorlewing aangebied.
En so het die geskiedkundige dag ten einde geloop. Dit was ’n dag wat die studente lank sal onthou terwyl hulle die raad toepas wat hulle gehoor het en ware sukses in hulle sendingtoewysings nastreef.