Jesus se lewe en bediening
Johannes word minder, Jesus word meer
NA DIE Paasfees in die lente van 30 G.J. verlaat Jesus en sy dissipels Jerusalem. Hulle keer egter nie terug na hulle huise in Galilea nie, maar gaan in Judea in, waar hulle mense doop. Johannes die Doper doen al ongeveer ’n jaar lank dieselfde werk, en hy het nog steeds dissipels by hom.
Eintlik doop Jesus nie self mense nie, maar sy dissipels doen die doopwerk onder sy leiding. Hulle doop het dieselfde betekenis as dié van Johannes, want dit is ’n simbool van ’n Jood se berou oor sy sondes teen God se Wetsverbond. Maar na sy opstanding beveel Jesus sy dissipels om mense om ’n ander rede te doop. Die Christelike doop is ’n simbool van ’n mens se toewyding aan Jehovah God om hom te dien.
Op hierdie vroeë tydstip in Jesus se bediening is hy en Johannes, hoewel hulle afsonderlik werk, albei besig om berouvolle persone te onderrig en te doop. Maar Johannes se dissipels raak jaloers en gaan kla by hom oor Jesus: “Rabbi, . . . Hy doop, en almal gaan na Hom toe.”
Johannes is nie jaloers nie, maar verbly hom in Jesus se sukses en wil hê dat sy dissipels ook bly moet wees. Hy herinner hulle: “Julle is self my getuies dat ek gesê het: Ek is nie die Christus nie; maar dat ek voor Hom uitgestuur is.” Dan gebruik hy ’n pragtige illustrasie: “Hy wat die bruid het, is die bruidegom; maar die vriend van die bruidegom wat na hom staan en luister, verbly hom baie oor die stem van die bruidegom. So is dan hierdie blydskap van my volkome.”
Johannes, as die vriend van die Bruidegom, was sowat ses maande tevore bly toe hy sy dissipels aan Jesus voorgestel het. Sekeres onder hulle het toekomstige lede van Christus se hemelse bruid van geesgesalfde Christene geword. Johannes wil hê dat sy huidige dissipels ook vir Jesus moet volg, omdat dit sy doel is om die weg te berei vir Christus se suksesvolle bediening. Soos Johannes verduidelik: “Hy moet meer word, maar ek minder.”
Johannes word kort hierna deur koning Herodes gevangene geneem. Herodes het Herodias, die vrou van sy broer Filippus, tot vrou geneem, en toe Johannes sy dade in die openbaar veroordeel, laat Herodes hom in die gevangenis gooi. Toe Jesus hoor dat Johannes in die gevangenis is, verlaat hy en sy dissipels Judea en gaan hulle na Galilea. Johannes 3:22-4:3; Handelinge 19:4; Mattheüs 28:19; 2 Korinthiërs 11:2; Markus 1:14; 6:17-20.
♦ Wat is die betekenis van die doop wat onder Jesus se leiding voor sy opstanding uitgevoer is? En na sy opstanding?
♦ Hoe toon Johannes dat sy dissipels se klagte ongegrond is?
♦ Waarom word Johannes in die gevangenis gegooi?