Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 1/1 bl. 10-15
  • Dae soos “die dae van Noag”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Dae soos “die dae van Noag”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Noag se geloof te midde van verdorwenheid
  • Moderniste, pas op!
  • “Haat die kwaad”
  • Slaan ag op verdere ‘waarskuwende voorbeelde’
  • Bou om bewaar te word
  • Dit is dringender as ooit tevore dat ons waaksaam bly
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Waarom God aan Noag guns betoon het—Waarom dit vir ons van belang moet wees
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Veroordeel jy die wêreld deur jou geloof?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Verlossing is naby vir mense van godvrugtige toegewydheid!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 1/1 bl. 10-15

Dae soos “die dae van Noag”

“Die aarde was vol geweld . . . dit was verdorwe, want alle vlees het sy wandel op die aarde verderwe.”​—GENESIS 6:11, 12.

1, 2. (a) Met watter soorte geweld het Jehovah se Getuies vandag te kampe? (b) In watter omstandighede is God se volk deur die opstandingshoop vertroos?

GEWELD! Net soos in Noag se dag het geweld vandag ’n welbekende woord geword. Selfs diegene wat met die ware God wandel, soos Noag gedoen het, is nie immuun teen geweld nie. Dit is kragtig onder die wêreld se aandag gebring toe ’n Koninkryksaal van Jehovah se Getuies in Sydney, Australië, op 21 Julie verlede jaar deur ’n bom in puin gelê is tydens ’n openbare Bybeltoespraak oor getrouheid aan God en die gesin. Een Getuie is gedood. Meer as 40 is in die hospitaal opgeneem. Laasgenoemdes het almal herstel, hoewel sommige groot littekens as gevolg van hierdie kriminele gruweldaad dra. ’n Polisiespeurder het gesê: “Daar was 110 mense in die gebou, en dit is eenvoudig ’n wonderwerk dat ons nie 110 lyke het nie.”

2 In ander dele van die aarde​—soos Noord-Ierland, Libanon en El Salvador—​verkondig Jehovah se Getuies die “evangelie” in ’n milieu van ononderbroke geweld. ’n Paar is gedood, sommige terwyl hulle aan die bediening deelgeneem het. In baie lande het “lotgeval”, soos ongelukke en aardbewings, ook kosbare lewens geëis, en by sulke geleenthede is Jehovah se volk deur die opstandingshoop vertroos.​—Prediker 9:11; 1 Thessalonicense 4:13, 14.

3. (a) Wat kan met sommige van Jehovah se knegte gebeur, soos blyk uit onlangse gebeure en Lukas 21:16? (b) Watter versekering het ons van God se beskerming gedurende die “groot verdrukking”?

3 Altesaam 23 Getuies en metgeselle was onder die 5 000 wat onlangs in Mexiko deur ’n rampspoedige aardbewing gedood is. In Porto Rico het sewe ander onder die 500 getel wat hulle lewe in oorstromings en grondstortings verloor het. Beteken dit dat Jehovah party van sy knegte nie beskerm het nie? Glad nie. Ons is nie immuun teen ongelukke en rampe nie. En wat vervolging betref, het Jesus sy dissipels gewaarsku: “Hulle sal van julle doodmaak.” Honderde van ons broers is deur die gewelddadige Nazi Hitler om die lewe gebring. Jehovah sal hulle almal in die opstanding onthou. Maar wanneer die voorspelde “groot verdrukking” die aarde tref, sal Jehovah toon dat hy diegene kan red wat sy naam aanroep, net soos hy in die dae van Noag gedoen het.​—Lukas 21:16-19; Mattheüs 24:14, 21, 22, 37-39; Jesaja 26:20, 21; Joël 2:32; Romeine 10:13.

4. Hoe vergelyk hedendaagse toestande met dié wat in Genesis 6:11, 12 beskryf word?

4 Sedert 1914 woed geweld oor die hele aarde. ’n Honderdmiljoen mense is in die oorloë en slagtings van hierdie eeu gedood. Die mensdom word geteister deur skakings in die lug en ter see, bomaanvalle deur terroriste, massamoorde en rassehaat en word bedreig deur die vermeerdering van kernwapens. Dit is voorwaar “swaar tye” met “benoudheid van nasies in hulle radeloosheid” (2 Timotheüs 3:1-5, 13; Lukas 21:25). Jehovah se volk leef egter vandag te midde van ’n plaag wat ’n veel groter gevaar as geweld inhou, hoewel dit dikwels met geweld verbind word. Dit dateer meer as 4 300 jaar terug na Noag se dag. Wat is dit?

Noag se geloof te midde van verdorwenheid

5, 6. (a) Hoe het Satan te werk gegaan om die mensdom te besoedel? (b) In watter opsigte was Noag en sy gesin opvallend geen deel van daardie wêreld nie?

5 Sedert die opstand in Eden is Satan die Duiwel daarop uit om “die hele wêreld [te] verlei” (Openbaring 12:9). Jehovah het die man en die vrou beveel om hulle Godgegewe geslagsvermoëns eerbaar binne die huweliksreëling te gebruik om die aarde met hulle soort te “vul” (Genesis 1:28; Hebreërs 13:4). Maar die Duiwel het hom daarop toegelê om die mensdom met onnatuurlike seks te besoedel. Hoe? Geesseuns van God het hulle by Satan aangesluit in sy opstand. Hulle het “duiwels” of demone geword, met Satan as hulle “owerste” (Lukas 11:15). En wat het die demone gedoen? Hulle het aarde toe gekom, menseliggame aangeneem en met die aantreklike dogters van die mense saamgeleef. Die gevolg was skokkend!

6 ’n Bastergeslag is voortgebring, vleeslike reuse wat half duiwel, half mens was. Hulle was die Nefilim, moorddadige “Kappers” van die mensdom, soos die verslag toon: “Die aarde was verdorwe voor die aangesig van God, en die aarde was vol geweld. Toe sien God die aarde aan, en​—dit was verdorwe, want alle vlees het sy wandel op die aarde verderwe.” Geweld en seksuele verdorwendheid was so algemeen dat daar slegs van Noag gesê kon word: “Noag was ’n regverdige, opregte man onder sy tydgenote. Noag het met God gewandel.” Uit die hele mensdom het net sy vrou, sy seuns en hulle vrouens geloof en godvrugtige vrees getoon. Noag se geslagslyn is blykbaar nie deur die seksuele verdorwenheid van sy dag besoedel nie.​—Genesis 6:4, 9-12, voetnoot in NW-naslaanbybel.

7. Hoe oordeel Jehovah die slegtes en die regverdiges, soos getoon in Noag se dag? (Vergelyk Mattheüs 25:40, 45, 46.)

7 Jehovah het daardie gewelddadige, seksbehepte, demonistiese wêreld uitgewis. Deur middel van die groot Sondvloed het hy alles wat sleg was, weggespoel. Die baster-Nefilim en verdorwe mense is weggevee, terwyl die demonistiese, voormalige seuns van God na die geesteryk ontsnap het​—om daar op God se oordeel te wag. Maar daar was oorlewendes! Noag en sy gesin is gespaar. En waarom? Vanweë hulle geloof, wat gesteun is deur werke​—hulle het die ark gebou en geregtigheid aan daardie veroordeelde wêreld verkondig.​—2 Petrus 2: 4, 5.

Moderniste, pas op!

8. In watter opsigte het Noag se dag ons dag afgeskadu?

8 Noag se dag het ons dag afgebeeld. Hoe weet ons dit? Wel, Jesus het ’n soortgelyke tyd van geweld, wetteloosheid en liefdeloosheid voorspel as deel van “die teken” dat ons op die drempel staan van ’n “groot verdrukking . . . soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie”. Hy het ook gesê: “Van die dag en die uur weet niemand nie, . . . net my Vader alleen.” Toe het hy bygevoeg: “Net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het, en dit nie verstaan het [“hulle het geen ag daarop geslaan”, NW] voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.”​—Mattheüs 24:3-21, 36-39.

9. Hoe vermy ons die lot van diegene wat ‘geen ag geslaan het nie’?

9 Ja, “hulle het geen ag daarop geslaan . . . nie”. Maar jy hoef nie soos hulle te wees nie. Jy kan ontvlug wanneer die Here Jesus uit die hemel geopenbaar word om God se wraak uit te oefen deur “die wat God nie ken nie en . . . die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie” vir ewig te vernietig (2 Thessalonicense 1:7, 8). Jy hoef nie soos wêreldse mense te wees wie se vernaamste belang in die lewe selfbehaging, die najaging van ’n invloedryke loopbaan of materiële rykdom, met geen gedagte aan God is nie. Waarlik, “hulle god is die buik”.​—Filippense 3:19.

“Haat die kwaad”

10, 11. (a) Watter euwels moet vermy word om God se goedkeuring te verkry? (b) Watter wapenrusting moet ons aantrek, en waarom?

10 In hierdie laaste dae is seks die spil van so baie mense se lewe, hetsy met of sonder die voordeel van die huwelik. En vir baie getroudes het egskeiding of ontbinding van die huwelik ’n norm geword. Baie in die Christendom veronagsaam Jesus se dissipels se duidelike waarskuwings en gee hulle oor aan homoseksualiteit. Sommige van hulle ontvang reeds “die noodwendige vergelding” in die vorm van VIGS en ander seksueel oordraagbare siektes. Maar selfs sulke persone kan die hoop op redding koester. Onthou, Jesus het met lof gepraat van hoere wat hulle lewe hervorm en in hom geglo het, in teenstelling met die trotse, onberouvolle godsdiensleiers van sy dag.​—Romeine 1:26, 27; 2 Petrus 2:9, 10; Judas 6, 7; Mattheüs 21:31, 32.

11 Enige lede van Jehovah se volk wat besmet is met, of in die versoeking kom om hulle skuldig te maak aan, onsedelike gebruike moet wakker skrik en die volle wapenrusting aantrek wat God voorsien! (Efesiërs 6:11-18). Hierdie dae is waarlik “net soos die dae van Noag was”. Daardie “brullende leeu”, die Duiwel, en sy verdorwe demone werk dag en nag ononderbroke om God se knegte af te sonder en te verstrik. Ons moet daardie vyande teëstaan, standvastig in die geloof.​—1 Petrus 5:8, 9.

12. Waarom is dit belangrik om die raad van Psalm 97:10 te volg?

12 Dit is skokkend, maar selfs sommige wat aansien in Jehovah se organisasie geniet het, het voor onsedelike gebruike soos homoseksualiteit, vroueruilery en kindermolestering geswig. Ons moet ook daarop let dat 36 638 individue gedurende die afgelope jaar uit die Christengemeente gesit moes word, die meeste van hulle weens onsedelikheid. Jehovah se organisasie moet rein gehou word! (1 Korinthiërs 5:9-13). Dit is ’n tyd vir gemeentelike ouere manne, bedieningsknegte en inderdaad al ons broers en susters om enige omstandighede wat tot onsedelikheid kan lei, te vermy. Lojaliteit aan Jehovah se standaarde sal beloon word, soos Psalm 97:10 sê: “o Liefhebbers van die HERE, haat die kwaad! Hy bewaar die siele van sy gunsgenote, Hy red hulle uit die hand van die goddelose.”

13. Watter goeie raad word deur die apostels Paulus en Petrus gegee?

13 “Gruwelikes” sal op die laatste tydens die “groot verdrukking” verwyder word. Dit moet vir ons ’n saak van erns wees om wêreldlike verdorwenheid te haat, ja, te verafsku, en te vermy! Ons moet “vlug vir die hoerery”! (Openbaring 21:8; 1 Korinthiërs 6:9, 10, 18). Nadat die apostel Petrus gewaarsku het teen afvalliges wat twyfel wek en oor die werklikheid van “die dag van die Here”, vermaan hy ons tot “heilige wandel en godsvrug”. Hy voeg by: “Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon. Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede.” Hoe verblydend sal dit dan tog nie wees om die “nuwe aarde” te bereik, waar God “alles nuut” en rein sal maak nie!​—2 Petrus 3:3-7, 10-14; Openbaring 21:1, 4, 5.

Slaan ag op verdere ‘waarskuwende voorbeelde’

14. Waarom was die reiniging deur middel van die Vloed slegs tydelik?

14 Nadat die groot Sondvloed die aarde van alle demoniese en menslike vuilheid gereinig het, het Jehovah die opdrag wat oorspronklik aan Adam gegee is, herhaal deur aan Noag en sy seuns te sê: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde” (Genesis 9:1). Hy het dit op sinnebeeldige wyse gedoen, daar 70 “geslagte”​—’n figuurlik volmaakte getal—​in Genesis hoofstuk 10 aangegee word. Maar die mensdom het nog steeds gely weens die gevolge van die sonde wat van Adam geërf is. En dit was klaarblyklik demoniese invloed wat mense weer in seksuele verdorwenheid laat wegsink het.

15. Wat leer ons uit God se oordeel teen Sodom?

15 Mettertyd het Jehovah se “vriend”, Abraham, en Abraham se neef Lot na die omgewing van Kanaän verhuis. Lot het verkies om in die Jordaanstreek te gaan woon wat “soos die tuin van die HERE” was. Maar het dit geestelik so daar uitgesien? Glad nie! Die stad Sodom, waar Lot gaan woon het, en naburige Gomorra was verstok in homoseksualiteit. Nie eens tien regverdige manne kon daar gevind word nie. Daarom het daardie stede “die straf van die ewige vuur” van Jehovah ontvang. Daardie verdorwe stede sal nooit weer herstel word nie! Jesus het God se oordeel oor Sodom, asook die gebeure “in die dae van Noag”, aangehaal toe hy ons dit op die hart gedruk het om te waak!​—Genesis 13:10; 18:32; Judas 7; Lukas 17:26-30.

16. Watter demonbedrywigheid vereis dat ons hard moet stry vir die geloof?

16 Moenie ’n fout begaan nie! Satan en sy demone is nog steeds besig om amok te maak! Hoewel daardie verdorwe geeste aan figuurlike “kettings van duisternis” oorgegee is en verhinder word om vleeslike liggame aan te neem, is hulle daarop uit om mense, en in die besonder Jehovah se knegte, te verlei (2 Petrus 2:4-6). Dit was ongetwyfeld die demone wat Kanaän beïnvloed het om sy onsedelike daad teenoor sy grootvader Noag te pleeg (Genesis 9:22-25). Dit was sekerlik hulle wat die perversiteite uitgedink het wat “die werke van die land Kanaän” geword het, sodat dit eindelik sy inwoners uitgespuug het (Levitikus 18:3-25). Die demone bevorder eweneens die onnatuurlike seksgebruike wat soveel gemeenskappe vandag teister. In ons stryd vir die geloof moet ons ons verset teen enige aanvalle deur daardie gevalle engele wat mense aandryf om ‘onsedelik te wees en aan onnatuurlike seksuele drange toe te gee’.​—Judas 3, 6, 7, Die Lewende Bybel.

Bou om bewaar te word

17. Hoe kan ons net soos Noag en sy gesin toon dat ons geen deel van die wêreld is nie?

17 Hoe kan ons, met die oog op die erns van ons tye, die weg van verlossing vind? Wel, hoe het Noag en sy gesin behoue gebly? “Deur die geloof het Noag . . . die wêreld veroordeel” (Hebreërs 11:7). Jehovah se Getuies is vandag eweneens “geen deel” van die goddelose wêreld nie. Ons het daarbenewens ons geloof getoon deur ons lewe aan Jehovah toe te wy en in water gedoop te word om dissipels van Jesus Christus te word.​—Johannes 17:14, 16, NW; Mattheüs 28:19.

18. Wat word afgebeeld deur die bou van die ark?

18 Ons doen boonop mee aan Jehovah se werk vir hierdie dag, ’n geestelike bouwerk onder leiding van die Grotere Noag, Jesus Christus. Die ark, ’n plek van veiligheid en behoud, stel die geestelike paradys voor wat Jehovah sedert 1919 onder sy aanbidders bou. Dit is die toestand van ’n herstelde, vreedsame verhouding met God. Dit is Sy reëling vir die bewaring van die Grotere Noag se teenbeeldige gesin deur die “groot verdrukking”.​—Mattheüs 24:21; 1 Korinthiërs 3:9, 11; 2 Korinthiërs 12:3, 4; Openbaring 7:13, 14.

19. Wat is deur Noag, die lede van sy gesin en hulle werk afgeskadu?

19 “Noag het genade gevind in die oë van die HERE.” Watter goeie afbeelding is hy tog van Jesus Christus, wat nederig hier op aarde met God gewandel het en niks uit homself gedoen het nie! (Genesis 6:8; Mattheüs 17:1, 5;Johannes 8:28). Albei was predikers van geregtigheid​—’n goeie voorbeeld vir alle getuies van Jehovah. En ons kan daarvan seker wees dat Noag se vrou, wat die gesalfdes afbeeld wat vandag op die aarde oorbly, ’n model van onderdanigheid was (2 Petrus 2:5; Lukas 4:14-19; Efesiërs 5:21-24). Wanneer ons dink watter geweldige taak dit was om die ark van bewaring te bou, kan ons ons voorstel hoe bly die bejaarde Noag moes gewees het om drie energieke seuns en hulle vrouens as sy assistente te hê! Hulle beeld gepas die hedendaagse “groot menigte” af wat gedurende die finale aftelling tot die teenbeeldige Vloed die grootste deel van die geestelike bouwerk doen.​—Openbaring 7:9, 15.

20, 21. (a) Watter rooskleurige vooruitsigte het Jehovah se aanbidders vir die gereinigde aarde? (b) Watter vreugde kan selfs nou gesmaak word?

20 Wanneer hierdie aarde gereinig is, gereed om in ’n letterlike paradys omgeskep te word, sal diegene wat deur Noag se seuns en skoondogters afgebeeld is dalk ’n ruk lank in geregtigheid kinders kan voortbring. Dan sal die opstandingswonderwerk die taak om die aarde met mense te vul, voltooi. Almal wat die voorreg aanvaar om Jesus se “ander skape” te word, sal tot volmaaktheid herstel word, en wanneer hulle die finale toets oorleef nadat Christus die Koninkryk aan sy Vader teruggegee het, sal hulle regverdig verklaar word vir die ewige lewe.​—Johannes 5:28, 29; 10:16; 1 Korinthiërs 15:24-26; Psalm 37:29; Openbaring 20:7, 8.

21 Watter vreugde wag daar tog op Jehovah se getroue aanbidders! Maar groot vreugde kan selfs nou gesmaak word deur heelhartige deelname aan die bou van die hedendaagse ark vir oorlewing. Hoe vorder daardie werk? Ons volgende studie sal die antwoord verstrek.

HOE SAL JY ANTWOORD?

◻ Hoe moet gebeure voor die Vloed vir ons as waarskuwing dien?

◻ Watter lesse moet ons uit Mattheüs 24:37-39 leer?

◻ Waarom is dit so belangrik om ‘die kwaad te haat’?

◻ Hoe kan ons help om die teenbeeldige ark te bou?

[Venster op bladsy 11]

SOOS ‘NOAG SE DAG’

“Slegs 40 persent van godsdiensdosente aan universiteite . . . glo dat dit onsedelik is vir ’n ongetroude man en vrou om geslagsomgang te hê.”​—Saturday Oklahoman & Times, 29 Desember 1984

[Venster op bladsy 12]

Tel Bybelbeginsels?

’n Anglikaanse priester het geluister na ’n begrafnisdiens wat deur een van Jehovah se Getuies waargeneem is. Op uitnodiging van die priester het twee bedienaars van die Wagtoringgenootskap daarna ’n bespreking met verskeie geestelikes in Brooklyn Heights, in die stad New York, bygewoon.

Die kwessie van homoseksualiteit het ter sprake gekom. Die Getuies het duidelik getoon dat die Bybel dit verbied, en dat die Getuies persone uitsit wat onsedelikheid beoefen. (Romeine 1:24-27; 1 Korinthiërs 6:9, 10; Judas 7). Die Getuies het die geestelikes gevra hoe hulle die saak beskou, en die volgende antwoorde gekry:

’n Predikant van die Kongregasionalistiese Kerk: “Ek dink ons het die ekskommunikasiereël êrens in ons kerk se verordeninge​—maar slaan my dood, ek kan nie onthou of ons al ooit daardie wet toegepas het nie!”

Die Anglikaanse priester: “As ons daardie wet toepas, sal ons geen gemeentelede [oor] hê nie.”

’n Katolieke monseigneur: “As ons daardie wet toepas, sal ons geen priesters [oor] hê nie.”

Hoewel hierdie geestelikes die saak dalk effens oordryf, is Jehovah se Getuies bly oor hulle ferme standpunt om die gemeente rein te hou. Hulle is “geen deel van die wêreld” nie.​—Johannes 15:19, NW.

[Venster op bladsy 13]

SOOS ‘NOAG SE DAG’

“’n Openbare skool van die stad New York vir homoseksuele hoërskoolleerlinge is in Manhattan geopen.” Die onderwyser het gesê: “Ons wil ’n milieu hê waar homoseksuele en lesbiese kinders nie aan onvolwasse tieners blootgestel word nie.”​—The New York Times, 6 Junie 1985

[Venster op bladsy 14]

SOOS ‘NOAG SE DAG’

“Lede van die Riverside-Kerk het gister ’n . . . beleid goedgekeur wat homoseksuele verhoudings as deel van die begrip van Christelike gesinslewe aanvaar.”​—New York Post, 3 Junie 1985

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel