Vrae van lesers
▪ Waarom moes die seun van Dawid en Batseba sterf nadat hulle gesondig het, aangesien Deuteronomium 24:16 en Esegiël 18:20 sê dat ’n seun nie vir sy vader se sonde moet sterf nie?
Dawid en Batseba was albei getroud toe hulle egbreuk gepleeg en sy swanger geword het. Hulle egbreuk was ’n ernstige sonde wat onder God se wet met die dood strafbaar was (2 Samuel 11:1-5; Deuteronomium 5:18; 22:22). As God toegelaat het dat mense wat onder die Wet was oor hulle reggespreek het, sou die seun wat in haar moederskoot ontwikkel het saam met sy moeder gesterf het. Maar Jehovah het besluit om hulle geval anders te hanteer, iets wat “die Regter van die ganse aarde” sekerlik die reg gehad het om te doen.—Genesis 18:25.
Toe Dawid met sy skuld gekonfronteer is, het hy erken: “Ek het gesondig teen die HERE!” Toe het God se woordvoerder vir Dawid gesê: “So het die HERE dan ook u sonde vergewe: u sal nie sterf nie” (2 Samuel 12:13). Dawid is begenadig vanweë die Koninkryksverbond. En aangesien God die hart kan sien, moes hy die egtheid van Dawid se berou waargeneem het en besluit het dat daar grond was om Dawid en Batseba te begenadig. Maar hulle sou nie al die gevolge van hulle sonde ontkom nie. Hulle is meegedeel: “Maar omdat u die vyande van die HERE deur hierdie saak aanleiding gegee het om grootliks te laster, sal die kind wat vir u gebore is, ook sekerlik sterwe.”—2 Samuel 12:14.
God het hulle kind, waarop hulle nie geregtig was nie, “getref” sodat hy siek geword en gesterf het. Vandag kan ’n mens maklik die kind se dood beklemtoon en dink dat dit ’n fel oordeel was. Maar dit is goed om in gedagte te hou dat as die egbreuk deur menseregters wat onder die Wet was, ondersoek en bewys is, al drie (Dawid, Batseba en die seun in haar moederskoot) hulle lewens sou verloor het. In daardie lig gesien, was dit genadig van God om twee van hulle te spaar. Bowendien beskik ons nie nou, na soveel eeue, oor al die feite nie, soos inligting oor die gesondheid van die baba onmiddellik na geboorte. Ons kan nietemin God se hantering van die saak aanvaar met die volste vertroue dat hy onpartydig, wys en regverdig opgetree het. Selfs Dawid het later erken: “Die weg van God is volmaak.”—2 Samuel 22:31; vergelyk Job 34:12; Jesaja 55:11.
Dit klop met Dawid se reaksie nadat hy God se oordeel gehoor het. Terwyl die kind siek was, het Dawid geween en gevas. Maar toe die kind sterf, het Dawid besef dat die saak afgehandel is (2 Samuel 12:22, 23). Dawid het God se oordeel vertrou en Batseba (nou sy wettige vrou) getroos en haar verseker dat hulle huwelik sou voortduur. Later is Salomo vir hulle gebore, en hy het Dawid se opvolger geword.
God se hantering van daardie saak hoef nie as ’n weerspreking van Deuteronomium 24:16 of Esegiël 18:20 beskou te word nie.
As deel van die Wet het God beveel: “Die vaders mag nie vir die kinders, en die kinders mag nie vir die vaders gedood word nie; elkeen moet vir sy eie sonde gedood word” (Deuteronomium 24:16). Daardie riglyne was bedoel vir Israelitiese regters by die hantering van regsake. Die regters kon nie die hart sien nie. Hulle moes met elke man handel volgens sy eie gedrag soos deur die feite gestaaf.
Esegiël 18:20 toon eweneens: “Die seun sal nie die ongeregtigheid van die vader help dra nie, en die vader sal nie die ongeregtigheid van die seun help dra nie; die geregtigheid van die regverdige sal op hom wees, en die goddeloosheid van die goddelose sal op hom wees.” Dit het veral op volwassenes betrekking gehad. Die verband praat van ’n seun wat sy vader se goddeloosheid aanskou het maar nie daaraan wou meedoen nie; die seun het eerder Jehovah se insettinge en gebooie gehou. So ’n seun sou gespaar word wanneer sy vader gesterf het.—Esegiël 18:14-17.
Dit is egter ’n onteenseglike feit dat kinders kan ly weens die optrede van hulle ouers. Ouers wat verkwistend of dwaas is, kan die hele gesin in armoede dompel. Of dink aan die gevolge vir kinders wanneer ’n ouer weens kriminele optrede in die tronk opgesluit word. Selfs rampe wat God met reg oor Israel gebring het weens hulle goddeloosheid, het die kinders van daardie tyd geraak (Deuteronomium 28:15, 20-32; Esegiël 8:6-18; 9:5-10). Daarenteen het God sy volk aangespoor: “Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag, deur die HERE jou God lief te hê, na sy stem te luister en Hom aan te hang; want dit is jou lewe en die lengte van jou dae.”—Deuteronomium 30:19, 20.
Die ondervinding van Dawid en Batseba moet ouers dus deeglik laat besef dat hulle gedrag ’n diepgaande uitwerking op hulle kinders kan hê. As ouers ‘God se naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan’ tot seën van die hele gesin.—Maleagi 4:2.