Die Bybel—Is dit bloot die woord van die mens?
WILLIAM TYNDALE het sy lewe opgeoffer in sy strewe om dit aan almal beskikbaar te stel. Martin Luther het groot moeite gedoen om dit in Duits te vertaal. Vir Johannes Calvyn se volgelinge was dit “die maatstaf en kanon van alle waarheid”. Ja, eens op ’n tyd het min mense die feit bevraagteken of die Bybel die Woord van God is. Dit was ook ’n leerstelling van die Rooms-Katolieke Kerk.
Maar dinge is vandag anders. Die Bybel, die grootste suksesboek in die geskiedenis, word deur min mense gelees en deur nog minder gevolg. Skrywer James Barr het die gevoelens van talle uitgedruk: “My verslag oor die totstandkoming van die Bybelse tradisie is ’n verslag oor ’n menslike werk. Dit is die mens se verklaring van sy opvattinge . . . Die regte benaming vir die Bybel sou wees die Woord van Israel, die Woord van party vername vroeë Christene.”—The Bible in the Modern World, deur James Barr.
Waarom die verandering? Is die Bybel die Woord van God of die woord van sommige mense? Maak dit selfs saak in hierdie sekulêre 20ste eeu?
Maak dit saak?
Om die laaste vraag eerste te beantwoord, ja, dit maak saak. Waarom?
Wel, die Bybel word beskryf as ‘’n lamp vir ons voet en ’n lig vir ons pad’ (Psalm 119:105). Vandag het ons waarlik so ’n lig nodig. Ons pragtige planeet word verderf. Miljoene der miljoene mense ly honger. Min gaan die toekoms met vertroue tegemoet, en die voortbestaan van die mensdom word bedreig. Die Bybel bied aan om ons deur hierdie verraderlike tye na ’n veilige en gelukkige toekoms te lei. As dit waarlik God se Woord is, is dit presies wat ons nodig het.
Waarom twyfel mense dan daaraan? ’n Antwoord op hierdie vraag sal ons help om te bepaal of hierdie boek waarlik die Woord van God is al dan nie.
Wat het van geloof geword?
Gedurende die 17de en 18de eeu het daardie feitlik universele geloof in die Bybel aan ’n veranderende klimaat van denke ten prooi geval. Daar het ’n gees van skeptisisme en sekularisasie in Europa ontstaan. Regeringstelsels, die ekonomie, die natuur, godsdiens—alles is bevraagteken. En die Bybel het nie vrygespring nie.
In die 17de eeu het ’n voormalige Katoliek, Pierre Bayle, openlik twyfel oor die boek uitgespreek deur die Bybel se geskiedkundige egtheid en chronologie te bevraagteken.Ander het sy denkwyse gevolg, en in die 19de eeu het skeptisisme tot volle bloei gekom in die skool van hoër kritiek. Hoër kritici hou vol dat die Bybel nie is wat dit voorgee om te wees nie. Volgens hulle het Moses nie die Pentateug geskryf nie. Dit is eerder baie later in die Joodse geskiedenis saamgestel uit ’n aantal bronne wat eeue na Moses se tyd geskryf is. Enige profesie wat vervul is, moes na die vervulling geskryf gewees het. Jesaja is gevolglik oor ’n tydperk van honderde jare deur ’n aantal mense geskryf. En Daniël is omstreeks 165 v.G.J. geskryf.
Die uitwerking van hoër kritiek kan gesien word in die geval van Duitse Bybelgeleerde David Friedrich Strauss: “Is ons nog Christene? Nee, het Strauss gesê, ten minste nie die van ons wat die Hoër Kritiek aanvaar het nie, want ons kan nie meer die Bybel as die Woord van God aanvaar nie.”—Religion and the Rise of Scepticism, deur Franklin L. Baumer.
Die nuwe sekulêre eeu het ook nuwe uitvindinge in die wetenskap meegebring. Party het die Bybel ondersteun, maar ander het oënskynlik daarmee gebots. Talle is gevolglik onder die indruk gebring dat die Bybel ouderwets is. Hierdie gevoel is teen die middel van die 19de eeu versterk toe die evolusieteorie gewild geword het—’n teorie wat die Genesisverslag van die skepping heeltemal weerspreek. Die grootste deel van die wetenskaplike gemeenskap asook die hoër kritici het hierdie teorie gretig aangegryp. Vandag word dit deur talle geestelikes aanvaar en as ’n feit in skole geleer.
Beteken dit alles dat die wetenskap die Bybel op die een of ander manier onwaar bewys het? Of het hoër kritiek getoon dat die Bybel nie die Woord van God is nie?