Watter loopbaan sal jy kies?
IS JY jonk en op skool? In daardie geval is jy waarskynlik geseën met die voordele wat met jeug gepaard gaan—goeie gesondheid en hope energie. Jou lewe strek voor jou uit soos ’n onbereisde pad. Hoe sal jy daardie lewe gebruik in die jare vorentoe?
As jy aan jou toekoms dink, flits daar ongetwyfeld vrae deur jou kop. Moet ek universiteit toe gaan en ’n loopbaan as dokter, prokureur of wetenskaplike navolg? Word ek gelok deur die droom van finansiële sukses en erkenning deur opgang te maak in die sakewêreld? Sal ek beroemdheid verwerf in die kunste deur toneelspel of skilderwerk? Of moet ek, as jong persoon wat aan Jehovah God toegewy is, die voltydse bediening as my lewensloopbaan kies en sodoende ‘dink aan my Skepper in die dae van my jonkheid’?—Prediker 12:1.
Koerante en tydskrifartikels stel dikwels die lewe van beroemdes as opwindend en kleurryk voor, maar wat weet jy van die lewe van ’n voltydse bedienaar af? Is dit eentonig of vervelend? Of is dit werklik interessant en opwindend? Die ondervindinge van sommige wat al baie jare lank in die voltydse bediening staan, kan jou help om die regte besluit te neem.
Waarom hulle die voltydse bediening gekies het
Terwyl die oorlog in Viëtnam gewoed het, het Harry aan die Universiteit van Hawaii gestudeer om ’n geskiedenisonderwyser te word. Hy het ook die Bybel saam met Jehovah se Getuies bestudeer. Soos baie van sy klasmaats het hy betrokke geraak by die gewilde studenteradikalisme van daardie tyd. Hy het dwelmmiddels begin gebruik en veral van LSD gehou. Een oggend het hy in sy woonstel wakker geword en die plek in ’n geweldige warboel aangetref—gebreekte drankbottels, sigaretstompies en mans en vroue het oral rondgelê. Harry kon net vaagweg iets onthou van ’n argument met die polisie oor ’n visenteerbrief en daaropvolgende dreigemente van die woonsteleienaar om hom uit te skop. Dit was toe dat hy besluit het om òf sy studie van die Bybel te staak òf sy lewe in orde te kry. Hy was verstandig genoeg om laasgenoemde te kies.
Hoe meer Bybelkennis Harry verkry het, hoe minder aantreklik het die doel van universiteitsgeleerdheid en ’n onderwysloopbaan vir hom geword. Hy het die universiteit verlaat, ’n deeltydse werk gekry, is gedoop en het gou aan die vereistes voldoen om ’n pionier—’n voltydse prediker—te word. So het Harry met ’n nuwe loopbaan begin, een vol uitdagings en heilsame, interessante ondervindinge.
Uit die geledere van spesiale pioniers is Harry en sy vrou as sendelinge na die pragtige “rotseilande” van Belau in die Westelike Suidsee gestuur, waar hulle vandag nog dien. Hoe sien die lewe van ’n sendeling op hierdie eilande daar uit?
Getuieniswerk per boot
Op die eilande van Mikronesië word die getuieniswerk merendeels per boot en te voet gedoen. Harry en sy vrou, Rene, onthou nog die eerste keer toe hulle per boot op ’n afgeleë eiland getuig het. “Ons het tuisgegaan in ’n huis wat myle van die see af geleë was aan die oewer van ’n lang rivier wat gekronkel het deur wortelboomruigtes en ’n oerwoud so dig dat die takke ’n blaredak bo ons koppe gevorm het”, vertel hy. “Van ons huisbasis af het ons op die rivier gevaar en stilgehou om vir oewerbewoners te preek. Een aand net voor donker het ons van die velddiens teruggekeer en was ons haastig om rivier op te vaar om by die huis te kom vir die nag. Meteens het Rene gegil. Ek het omgedraai, net betyds om water te sien opspat en ’n lang reptielstert in die water te sien ingly. Dit was ’n soutwaterkrokodil—die grootste soort ter wêreld. Gelukkig het ons veilig by die huis gekom. Hoewel dit tyd was om in die rivier te gaan bad, het ons, na die glimp van daardie reusekrokodil, dit veiliger geag om ’n tou aan die emmer vas te maak en die badwater na ons boot op te trek.”
Omdat baie dorpe en huise nie deur landvoertuie of per boot bereik kan word nie, bestee sendelinge ure te voet op pragtige kokosomrande woudpaadjies om by die vriendelike, nederige mense te kom. Harry vertel: “Ons vind altyd ore wat ontvanklik is vir die waarheid. Hierdie afgesonderde mense toon dikwels hulle gasvryheid op daadwerklike wyse. Hulle klim ’n kokospalm, pluk ’n vars kokosneut, sny die bokant met ’n kapmes af en bied vir jou ’n drankie uit die oorspronklike ‘verpakking’ aan. Dit is baie verkwikkend, smaaklik en voedsaam.”
In watter mate is die predikingswerk van die sendelinge in Belau beloon? Daar is nou ’n gemeente van 42 ware Christene. Verlede jaar was daar elke maand gemiddeld 10 in die voltydse bediening, en 193 het die herdenking van Christus se dood in 1985 bygewoon.
Hoe voel Harry nou, na 17 jaar in die voltydse diens, oor sy besluit om sy lewe geheel en al aan Jehovah se diens te wy? “As ek nie 17 jaar gelede God se waarheid gevind het nie, sou ek my tyd en lewe op wêreldlike strewes verkwis het”, sê hy. “Ek sou nooit die gemoedsrus en sekuriteit gevind het wat ek gedurende my jare as ’n pionier en sendeling ondervind het nie, eers jare lank as ongetroude persoon en later saam met Rene, met wie ek die afgelope agt jaar van sendingdiens gedeel het.”
Die voltydse diens word aanbeveel
Milton het ’n hoërskool in Hawaii bygewoon. Ander het hom aangemoedig om ’n belowende loopbaan met finansiële sekuriteit te volg, maar die voorbeeld van sy suster en twee ouer broers, wat reeds in die voltydse pionierdiens was, het hom aangemoedig om ook die voltydse bediening te oorweeg. Daarbenewens het hy ’n toespraak gehoor oor die seëninge van die voltydse diens en hoe Jehovah in ons stoflike behoeftes sal voorsien as ons op hom vertrou en hom eerste in ons lewe stel. Milton vertel: “Dit het my aangevuur om die voltydse bediening as my loopbaan te kies. Daarom het ek my laat doop en die voltydse diens betree nog voor ek klaargemaak het met die hoërskool.”
Toe Milton ’n pionier geword het, was daar minder as tien pioniers in die gemeente. Wat het hy daaraan gedoen? “Ek het jong broers genooi om saam met my in die velddiens te werk”, sê hy. “Die gevolg was dat baie van hulle later by my aangesluit het in die voltydse diens.”
“My swaer was ’n ouere man en ’n pionier”, vertel Milton verder. “Ons was in dieselfde gemeente en het saamgewerk om ander aan te moedig om pioniers te word. Ons het besluit dat ek die tieners sou aanmoedig en hy die huisvrouens. Na etlike maande was daar 25 voltydse bedienaars in die gemeente. Toe die kringopsiener gekom het, het hy tien van hulle genooi om vir spesiale pionierdiens aansoek te doen en na nabygeleë gemeentes te trek. Toe het ons die doelwit bespreek om nog tien te help om pioniers te word om die tien te vervang wat weggestuur is. Voor die volgende besoek van die kringopsiener het nog 15 tot die voltydse diens toegetree. Ons het nou 30 pioniers gehad. Weer het die kringopsiener tien van hulle gevra om na ander gemeentes te verhuis. En weer het ons plaasvervangers begin soek. Voor die kringopsiener se volgende besoek het nog 20 om pionierdiens aansoek gedoen!”
Die aansteeklike pioniergees het die jongmense begeester. Teen die tyd dat hulle in die hoërskool was, het feitlik almal vir hulle die voltydse diens ten doel gestel. Een suster het op die ouderdom van 13 jaar besluit om ’n pionier te word. Sy het gesê: “Dit het gelyk na die natuurlike ding om te doen.” Sy en die ander kinders in die gemeente het nooit ernstig aan iets anders gedink nie. Groepgetuieniswerk is ná skool gereël, en uiteindelik het 60 leerlinge van drie skole hierdie reëling saam met die pioniers ondersteun. Gedurende die somermaande was dit uiters bemoedigend om tot 130 vir groepgetuieniswerk te sien vergader!
Pionierdiens lei tot groter voorregte
“In 1974”, vertel Milton, “is ek genooi om sendingwerk te gaan doen in ’n toewysing [6 400 kilometer] van die huis af—die eilande van Belau in Mikronesië.” Een uitdaging waaraan ’n mens nie sommer gou gewoond geraak het nie, was om lang ente deur tropiese woude te loop en in bote te reis.
Nadat hulle een warm, bedompige dag ure lank op stowwerige paadjies geloop het, onthou Milton, “was ons poot-uit toe ons by die huis van ’n belangstellende gesin gekom het. Die moeder het haar seun na die rivier gestuur. Hy het teruggekom met ’n yslike, rivierverkoelde waatlemoen vir ons. Ons het meer as die helfte daarvan opgeëet, en hoe verfrissend was dit tog nie!”
Na ’n jaar in sy sendingtoewysing het Milton drie doelwitte gestel wat hy graag in Belau verwesenlik wou sien, naamlik dat die plaaslike broers uiteindelik die gemeentelike verantwoordelikhede kon oorneem, dat die jongmense die voltydse diens betree en dat die gemeente sy eie Koninkryksaal bou. Hy sê nou: “Na tien jaar hier is my gebede verhoor en al drie doelwitte verwesenlik.”
Meen Milton dat hy veertien jaar gelede die regte keuse gedoen het toe hy die voltydse diens as sy loopbaan betree het? “Een ding wat ek uit al my jare in die voltydse diens geleer het, is dit: As ons gewillig is, sal Jehovah ons op die regte tyd gebruik. Ons moet nooit tou opgooi nie, maar aanhou om ons gewillig in sy diens aan te bied. Jy sal nooit spyt wees as jy dit jou loopbaan maak om Jehovah as ’n voltydse bedienaar te dien nie.”
Hoe sal jy jou lewe gebruik?
Jongmense, hoe sal julle julle toekoms gebruik? Vir julleself of geheel en al vir Jehovah? (Romeine 14:8). Oorweeg biddend die doelwit van voltydse diens nou terwyl jy nog jonk is. Volg Jesus na deur die res van jou lewe “volgens die wil van God” te leef (1 Petrus 4:2). Dit sal jou beskerm teen die skadelike ambisies, loopbane en omgang van hierdie wêreld. Ontleed jou omstandighede en stel ’n vaste datum as jou doelwit vir toetrede tot die voltydse diens. Doen dan stappe om dit te verwesenlik. Bid tot Jehovah om jou te help om dit te bereik.—Efesiërs 6:18.
Die keuse van pionierdiens as loopbaan kan vir jou talle wonderlike diensvoorregte meebring, voorregte wat jou verwagtinge ver sal oortref. Jou lewe sal gevul word met geluk, sekuriteit en liefde. Dit sal opwindend, interessant en bevredigend wees. Bowenal, dit sal ’n lewe wees wat Jehovah behaag.—Spreuke 27:11.