Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 6/1 bl. 4-7
  • Het jy die sleutel gevind?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Het jy die sleutel gevind?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • As ons God werklik liefhet
  • Beweeg om ander te vertel
  • Liefde vir mede-Christene
  • Jy moet die God liefhê wat jou liefhet
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Word opgebou deur liefde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Wat is die sleutel tot ware Christelikheid?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • “Hou aan om liefde te betoon”
    Kom nader aan Jehovah
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 6/1 bl. 4-7

Het jy die sleutel gevind?

WAAROM is liefde so belangrik vir Christene? Vanweë die soort God wat hulle aanbid. Die apostel Johannes het hom met hierdie woorde beskryf: “God is liefde” (1 Johannes 4:8). Net soos baie ouers hoop dat hulle kinders hulle voetspore sal volg, wil Jehovah God hê dat Christene soos hy moet probeer wees. Die apostel Paulus het dus gemaan: “Wees dan navolgers van God soos geliefde kinders; en wandel in liefde.”​—Efesiërs 5:1, 2.

Liefde hou ook die ander Christelike eienskappe in ewewig. In Jesus se dag was die Jode​—veral hulle leiers—​ywerige studente van die Bybel. Maar kyk wat het Jesus vir hulle gesê: “Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het . . . Maar Ek ken julle, dat julle die liefde van God in julle nie het nie” (Johannes 5:39, 42; Lukas 11:42). As hulle liefde sowel as kennis gehad het, sou hulle Jesus as die Messias erken het. Soos sake verloop het, het die meeste van hulle die geleentheid verbeur om onder die eerste lede van die Christengemeente te wees.

Dink ook aan die Rooms-Katolieke veroweraars wat hulle godsdiens na die Nuwe Wêreld geneem het. Hulle moes sterk geloof en vurige ywer gehad het om te kon doen wat hulle gedoen het. Maar dit was beslis nie deur liefde versag nie. Anders sou hulle nie die inboorlinge van die Amerikaanse vastelande beroof, gemartel, verkrag en doodgemaak het nie.

Liefde is dus die belangrikste Christelike eienskap. Teenoor wie behoort ons hierdie liefde te betoon? Jesus sê vir ons: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”​—Mattheüs 22:37-39.

Om die waarheid te sê, ’n Christen se liefde strek selfs verder. Jesus het ook gesê: “Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen” (Mattheüs 5:44, 45, NAV). Met ander woorde, ’n Christen se liefde sluit feitlik almal in! Maar wat beteken dit in die werklikheid?

As ons God werklik liefhet

Eerstens, as ons God werklik wil liefhê, moet ons hom beter leer ken. God self het dit moontlik gemaak deur die Bybel te voorsien, wat in werklikheid ’n brief van hom aan ons is. Wanneer ons ’n brief van ’n geliefde ontvang, lees die meeste van ons dit onmiddellik, ongeag hoe besig ons is. Moet dit enigsins anders wees wat die lees van die Bybel betref? Natuurlik nie. Daar is vandag weliswaar baie dinge in die lewe wat mense se aandag aflei, en dit lyk asof die meeste mense liewer televisie kyk as om ernstige stof te lees. Maar ware Christene laat nie toe dat dit hulle keer om God se Woord te lees nie. Hulle is derhalwe soos die psalmis wat geskryf het: “Ek kom u verordeninge [wat vandag in die Bybel gevind word] na, ek het hulle baie lief.”​—Psalm 119:167, NAV.

In die Bybel sê God vir ons hoe hy wil hê ons moet handel. Net soos ouers gedragstandaarde vir hulle kinders stel, het Jehovah standaarde gestel wat hy verwag ons moet handhaaf​—standaarde wat nie verhandelbaar is nie. Die Bybel sê byvoorbeeld vir ons: “Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie” (1 Korinthiërs 6:9, 10). Dit is nogal ’n lys! Maar enigiemand wat God werklik liefhet, sal bly wees om daarvan kennis te neem. Waarom? Soos die apostel Johannes getoon het: “Dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar.”​—1 Johannes 5:3.

Ongelukkig word baie van die gebruike wat in die Bybel veroordeel word vandag aanvaar, selfs onder “Christene”. ’n Verslag wat in Kanada deur ’n Protestantse denominasie uitgereik is, het aanbeveel dat homoseksuele vir ordening as predikante oorweeg word, het beweer dat buite-egtelike geslagsomgang onder sekere omstandighede aanvaarbaar kan wees en het aan die hand gedoen dat huwelikstrou nie owerspel hoef uit te sluit nie. Die opstellers van daardie verslag wou ongetwyfeld verdraagsaam en liefdevol voorkom. Maar het hulle liefde betoon, hetsy teenoor God of teenoor diegene wat deur hulle tot sulke onsedelike weë aangespoor is? Nouliks, aangesien Paulus gesê het dat persone wat sulke dinge beoefen nie God se Koninkryk sal beërwe nie. Hoeveel liefdevoller is dit tog om God se standaarde onbevrees te handhaaf en swakkes te help om dit ook te doen pleks van hulle sentimenteel aan te spoor om ’n makliker weg te volg wat uiteindelik tot rampspoed sal lei!

Beweeg om ander te vertel

Wanneer ons die Bybel lees, leer ons ook van die wonderlike dinge wat God vir die mensdom voorhet. Ons leer dat ‘God die wêreld so liefgehad het, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê’ (Johannes 3:16). Ons leer ook van God se voorneme om goddeloosheid van die aarde af weg te neem en ’n vreedsame paradys deur middel van sy Koninkryk onder hierdie selfde Jesus te bewerkstellig (Mattheüs 6:9, 10; Openbaring 21:3, 4). Soos die Bybel belowe: “Nog ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie . . . Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede.”​—Psalm 37:10, 11.

Die Bybel se boodskap is inderdaad presies wat die mensdom nodig het. Dit is waarom dit so jammer is om te lees van hoe die aandag van die Christendom se sendelinge in so ’n mate afgelei word deur die armoede en ongeregtigheid wat hulle in armer lande waarneem dat hulle by die politiek en selfs by revolusies betrokke raak. Revolusies sal nie daardie lande se probleme oplos nie. Het daardie sendelinge God werklik lief? Sou hulle dan nie geloof in sy beloftes toon en hulle kuddes na sy Koninkryk rig nie? Herders wat hulle kuddes werklik liefhet, sou hulle tog seker toon hoe gehoorsaamheid aan God se wet hulle selfs nou kan help in plaas van hulle te betrek by politieke planne wat slegs op frustrasie kan uitloop.

Om die waarheid te sê, die Bybel se boodskap is so wonderlik dat ’n liefdevolle persoon dit onmoontlik vir homself kan hou. Dit is waarom liefde ware Christene beweeg om hulle kennis met ander te deel. In die Christendom word die werk om met ander oor die Bybel te praat gewoonlik aan ’n klein, besoldigde, professionele klas​—die geestelikes—​oorgelaat. Dit het slegte gevolge gehad. Soos ’n Lutheraanse pastor in die tydskrif Christianity Today erken het: “Die Kerk is vandag swak omdat geestelike leiers versuim het om ’n liggaam gelowiges op te lei om dieselfde werk as hulle te doen. Of omdat gelowiges versuim het om so ’n bediening te erken en te aanvaar.”

Ware Christene ‘erken en aanvaar so ’n bediening’. Hulle neem hierdie woorde van die apostel Paulus ernstig op: “Laat ons die [openbare] belydenis van die hoop onwankelbaar vashou, want Hy wat dit beloof het, is getrou” (Hebreërs 10:23, vgl. NW). Hulle dryfveer? Dieselfde dryfveer wat ’n groep eerste-eeuse Christene, wat hartlik deur die apostel Paulus geprys is, beweeg het: “Die laastes verkondig die Christus uit liefde.”​—Filippense 1:16, NW.

Liefde vir mede-Christene

Ja, liefde is die sleutel tot ware Christelikheid daar dit elke aspek van ware Christene se lewens raak. Hulle word dus heeltemal anders as die mense om hulle. Waarom? Die apostel Johannes het die volgende van die wêreld gesê: “Die hele wêreld [lê] in die mag van die Bose” (1 Johannes 5:19). Die Bose is Satan die Duiwel, en die wêreld weerspieël sy waardes in baie van hulle bedrywighede. Satan se invloed blyk uit die oneerlikheid, onsedelikheid, ongeregtigheid, rassespanning en ekonomiese onregverdigheid wat vandag hoogty vier. ’n Christen, wat ’n liefdevolle God aanbid en hom navolg deur liefde aan te kweek, moet anders wees!

Dit is nie maklik om dit op jou eie te doen nie. Die Bybel spoor ons gevolglik aan om diegene te soek wat dieselfde waardering vir liefde het. Christene kan mekaar derhalwe help. Dit is waarom die apostel Paulus hierdie bemoedigende woorde geskryf het: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim . . . nie, maar laat ons mekaar vermaan.”​—Hebreërs 10:23-25.

As jy wil ag slaan op daardie aansporing sal Jehovah se Getuies jou graag voorstel aan ’n groep mense wat hard probeer om goddelike liefde in hulle lewens te openbaar. Daar is ongetwyfeld so ’n groep in jou omgewing, en God se gees is op hulle, want dit is per slot van rekening die bron van ware, Christelike liefde. “Die vrug van die Gees is liefde” (Galasiërs 5:22). As jy met hulle assosieer, sal dit jou help om gehoor te gee aan die apostel Petrus se aansporing: “Julle moet . . . die broederskap liefhê.”​—1 Petrus 2:17.

Hoe tragies sou dit tog wees as jy jouself onder diegene sou bevind wat, nadat hulle hard probeer het om God te dien, die fatale woorde van Jesus hoor: “Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Mattheüs 7:23). As ons liefde, die sleutel tot ware Christelikheid, aankweek, sal dit nie met ons gebeur nie. Liefde sal ons beweeg om die Bybel te lees, volgens die standaarde daarvan te lewe, ander Christene te soek om mee te assosieer en met ander te praat oor die goeie dinge wat die Bybel bevat. Ja, liefde sal ons beweeg om te doen wat God wil hê ons moet doen. En, soos Jesus gesê het, dit is “hy wat die wil doen van [sy] Vader wat in die hemele is” wat God se beloftes deelagtig sal word. Die apostel Johannes het bygevoeg: “Hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”​—Mattheüs 7:21; 1 Johannes 2:17.

Ja, kweek liefde aan. Laat dit jou beweeg om God se wil te doen. So sal jy bewys dat jy ’n ware Christen is, want Jesus het gesê: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35). En jy sal die ewige beloninge geniet wat God vir diegene beloof het wat hom liefhet.

[Prent op bladsy 7]

Kweek liefde aan

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel