Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 6/15 bl. 29-31
  • Hy was aan God meer gehoorsaam as aan die mense

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hy was aan God meer gehoorsaam as aan die mense
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die oorsprong van Hus se Bybellering
  • Getuienis voor die Konsilie van Konstanz
  • Wat Hus bereik het
  • Hoe die Bybel ons bereik het deel twee
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Die Hervorming—’n Nuwe wending in die soektog
    Die mensdom se soeke na God
  • The Bible—A Book of Fact and Prophecy
    Ons Koninkryksbediening—2009
  • Keur God godsdienskonsilies goed?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 6/15 bl. 29-31

Hy was aan God meer gehoorsaam as aan die mense

“Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.”

NAGENOEG 2 000 jaar gelede het hierdie moedige woorde deur die Sanhedrinsaal in Jerusalem weerklink. ’n Groep eerste-eeuse Christene is deur die Joodse hoëpriester ondervra. Hulle is in die tempel in hegtenis geneem terwyl hulle ’n menigte mense onderrig het. Jehovah se engel het hulle beveel om daarheen te gaan en God se Woord te verkondig. Die priesters het hulle verbied om dit te doen. Wie sou jy in so ’n situasie gehoorsaam? Die Christene het nie getwyfel nie. Hulle sou aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.​—Handelinge 5:17-32.

In die talle eeue wat sedertdien verloop het, het ander hulle moedige voorbeeld gevolg wanneer godsdiensleiers, soos daardie eerste-eeuse Joodse priesters, geweier het om self die waarheid te hoor en probeer voorkom het dat ander dit hoor (Mattheüs 23:13). Aan die begin van die 15de eeu het Johannes Hus (1371-1415) hom op daardie selfde woorde beroep toe hy beveel is om nie in sy geboorteland Boheme (’n deel van die hedendaagse Tsjeggo-Slowakye) te preek nie. Hy het die oppergesag van God en Sy Woord erken op ’n tydstip toe die pous en die kerk deur feitlik almal as die oppergesag beskou is. Wat het daartoe gelei dat hy hierdie standpunt ingeneem het?

Die oorsprong van Hus se Bybellering

Johannes Hus is deur sy plattelandse weduweemoeder grootgemaak; dit was dus ’n stryd om verder te leer. Hy moes dikwels in kerke sing om ’n bestaan te maak. Hoewel hy nie briljant was nie, het hy daarin geslaag om geleerdheid aan die Universiteit van Praag te verkry en het hy uiteindelik die rektor van die universiteit geword.

Op daardie tydstip was daar in die universiteit groot onenigheid tussen die Duitsers en die Tsjegge. Hus het ’n kampvegter vir die Tsjeggiese saak geword, en sy invloed het toegeneem namate hy ’n kragtiger prediker geword het. Daar was geruime tyd al onrus en besprekings oor talle misbruike rakende die Rooms-Katolieke Kerk, en dit is vererger deur die verspreiding van die geskrifte van die Engelse hervormer John Wycliffe. Die Boheemse beweging het nie ontstaan weens gebeure in Engeland nie; dit was eerder ’n gelyktydige ontwikkeling. Die geskrifte van Wycliffe, veral die werk On Truth of Holy Scripture, wat Johannes Hus in 1407 in die hande gekry het, het hom geboei.

Hy is egter teengestaan deur aartsbiskop Zbynek van Praag, wat aanstoot aan Hus se prediking geneem het en talle van Wycliffe se geskrifte in 1410 in die openbaar verbrand het. Zbynek het hierna ’n verbod geplaas op enige prediking behalwe in erkende kerke, wat die Betlehem-kapel uitgesluit het waar Hus gepresideer het. Hus het geweier om die aartsbiskop se verbod te gehoorsaam en gesê dat hy “in dinge wat nodig is vir redding aan God meer gehoorsaam moet wees as aan die mense”. Hy het ’n beroep op die pous gedoen, waarna die aartsbiskop hom geëkskommuniseer het. Maar Hus het nie toegegee nie, aangesien hy gevind het dat sy groter begrip sy gewete verskerp en sensitiewer gemaak het vir die leringe van die Bybel. Hy het onomwonde gesê: “Die mens kan lieg, maar God lieg nie”, ter herhaling van die apostel Paulus se woorde aan die Romeine (Romeine 3:4). Koning Wenceslas het Hus se hervormingsbeweging verdedig, en Zbynek het uiteindelik uit die land gevlug en kort daarna gesterf.

Teenstand teen Hus het weer eens ontstaan toe hy ’n kruistog teen die koning van Napels veroordeel, die verkoop van aflate daarvoor blootgelê en sodoende die priesters se inkomste in die wiele gery het. Deur ’n geldelike betaling kon ’n persoon deur middel van die aflate van tydelike straf kwytgeskeld word. Om nie probleme oor die stad te bring nie, het Hus Praag verlaat vir ’n tydelike ballingskap in die platteland. Daar het hy, in 1413, die werk On Simony geskryf, waarin die geestelikes se liefde vir geld en die ondersteuning wat die sekulêre owerheid aan hulle gegee het, blootgelê is. Hus het weer eens sy gesag in God se Woord gevind en gesê: “Elke getroue Christen moet niks glo wat in stryd met die Heilige Skrif is nie.”

Hus het ook ’n verhandeling met die titel De Ecclesia (Oor die Kerk) geskryf. Daarin het hy ’n aantal stellinge uiteengesit, waarvan een gelui het: “Dat Petrus nooit die hoof van die Kerk was, en is nie.” Hy het gevind dat die sleutelverse van Mattheüs 16:15-18 Jesus Christus duidelik bevestig as die fondament en hoof van die kerk, wat die hele liggaam van geroepe gelowiges was. Die wet van Christus soos gevind in God se Woord is dus die hoogste en nie die van die pous nie. Die pousdom het eerder sy oorsprong in die mag van keiserlike Rome gehad.

Getuienis voor die Konsilie van Konstanz

Die Katolieke Kerk kon Hus se onthullings nie langer duld nie en het hom ontbied om sy beskouings voor die Konsilie van Konstanz, wat van 1414 tot 1418 naby Konstanz-meer gehou is, te verantwoord.a Die koning se broer, keiser Sigismund, het hom deur bedrog oorreed om dit by te woon deur die belofte van ’n vrygeleide, wat gou vals geblyk het. Kort na sy aankoms is hy in hegtenis geneem, maar hy het voortgegaan om die gesag van sowel die pous as die konsilie te weerstaan.

Toe die konsilie Hus beveel om sy idees en leringe terug te trek, het hy geantwoord dat hy dit met graagte sou doen mits hy, in ooreenstemming met 2 Timotheüs 3:14-16, deur die Skrif verkeerd bewys word. Hus het gemeen dat sy gewete hom altyd sou pla indien hy ’n terugtrekking in dubbelsinnige taal sou doen. Hy het gesê: “Dit was nog altyd my wens dat ’n beter leerstelling vir my uit die Skrif bewys word, en dan sal ek alte bereid wees om te verander.” Ondanks sy uitdaging dat die geringste lid van die konsilie hom sy dwaling uit God se Woord self bewys, is hy as ’n hardnekkige ketter veroordeel en teruggestuur tronk toe sonder dat enigiets uit die Bybel bespreek is.

Op 6 Julie 1415 is Hus formeel in die katedraal van Konstanz veroordeel. Hy is nie toegelaat om te antwoord toe die klagte teen hom gelees is nie. Toe is sy priesterskap in die openbaar aan hom ontneem, en sy geskrifte is in die begraafplaas verbrand. Hy is na ’n veld in die voorstede geneem en daar op die brandstapel verbrand. Sy as is bymekaargemaak en in die Ryn-rivier gestrooi om te voorkom dat enigiemand relieke van hierdie martelaar hou. Vanweë die noue verbintenis met John Wycliffe het die konsilie ook daardie hervormer​—wat reeds dood was—​veroordeel en beveel dat sy liggaam opgegrawe en verbrand word en sy as in die Swift-rivier in Engeland gestrooi word. Later het Hus se vernaamste volgeling, Jerome van Praag, ook op die brandstapel gesterf.

Wat Hus bereik het

In daardie eeu was Hus een van die eerstes wat dit gewaag het om die gesag van die pous sowel as van die konsilie teen te staan en eerder die oppergesag van die Skrif te aanvaar. Hy het dus die beweging vir die regte van die individu, vir vryheid van gewete en spraak aan die gang gesit.

Meer as honderd jaar later is Martin Luther in Duitsland daarvan beskuldig dat hy die dwalinge van Wycliffe en Hus verlewendig. Luther het beslis dieselfde basiese beskouing as Hus gehad toe hy gesê het: “Tensy ek deur die Skrif en logika oortuig word​—ek aanvaar nie die gesag van pouse en konsilies nie, want hulle weerspreek mekaar—​word my gewete deur die Woord van God bepaal.” Dit is miskien waarom hy gesê het: “Ons almal is onwetend Hussiete.”

Hus, Wycliffe en Luther het werklik talle van die leringe van die vroeë Christene verlewendig. Hulle het daardie weg natuurlik nie enduit bewandel nie, want dit was nie in daardie dae maklik om die duisternis van eeue te verdryf nie. Hulle almal was dit egter eens oor een belangrike saak: God se Woord moes eerste kom, ongeag die menings van mense. Die eerste Christene het hierdie selfde verligte beskouing gehuldig, want hulle is deur die Meester, Jesus Christus, self geleer.​—Johannes 17: 17; 18:37.

Christene moet vandag dieselfde standpunt inneem. Ons het talle voordele in vergelyking met daardie vroeë eeue. Eerstens, die Bybel is vryelik beskikbaar in die meeste tale. Tweedens, in hierdie laaste dae lei die heilige gees ontvanklike persone tot ’n groter begrip van die Bybel. Het jy hierdie begrip aanvaar? Dan sal jy nie huiwer om die beginsel te volg wat Johannes Hus enduit gehandhaaf het nie. Vandag lewe meer mense as ooit in die geskiedenis volgens daardie woorde van die apostels: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.”​—Handelinge 5:29.

[Voetnote]

a ’n Konsilie is ’n vergadering van biskoppe en ander leiers van die Katolieke Kerk waar leerstellings, tugmaatreëls en ander sake bespreek en beslis word. ’n Aantal sodanige konsilies in die verlede word deur die Rooms-Katolieke Kerk erken.

[Prent op bladsy 29]

Johannes Hus

[Prent op bladsy 31]

Tsjeggiese Bybels, soos die 1579-uitgawe hierbo, is vandag gesog onder versamelaars. Johannes Hus het op die brandstapel gesterf omdat hy die Bybel se woorde hoër as die woord van die mens geag het

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel