Onthou jy?
Het jy die onlangse nommers van Die Wagtoring van praktiese waarde gevind? Kyk dan of jy die volgende kan onthou:
◻ Waarom kan daar gesê word dat die Bybel ’n boek vir die hele mensdom is?
Reg van die begin af bied die Bybel ’n wêreldbeskouing ten opsigte van die mensdom se toekoms (Genesis 1:28). Dit gaan alle rassevooroordeel, nasionalisme en ander verdelende kragte wat die mensdom teister, te bowe. Dit spreek tot mense van alle nasies en praat van die aarde as een groot tuiste vir die ganse mensdom (Handelinge 17:26).—15/4, bladsy 5.
◻ Wat het Jesus bedoel toe hy gesê het: “As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees”? (Mattheüs 6:22).
Die woord “reg” kom van ’n Griekse woord wat basies koersvastheid of doelgerigtheid beteken. Deur God se wil ons lewensdoelwit te maak, sal ons probeer om die glorieryke goeie nuus van die Koninkryk in elke aspek van ons lewe te weerspieël.—1/5, bladsye 12, 13.
◻ Wat word bedoel wanneer daar gesê word dat Jehovah alvermoënd en alwetend is?
Jehovah het aan Abraham gesê: “Ek is God, die Almagtige” (Genesis 17:1). Omdat Jehovah almagtig—alvermoënd—is, kan hy sy mag gebruik om enige struikelblok in die weg van die vervulling van sy beloftes en voornemens te bowe te kom. Jehovah is ook alwys, alwetend. Hy kan dus voorsien wat hy graag wil voorsien. Hierdie twee eienskappe maak dit vir Jehovah onmoontlik om te faal (Jesaja 14:24).—15/5, bladsy 4.
◻ Hoe kan ons nederigheid toon wanneer ons hardop namens ander bid?
Ons kan nederigheid toon deur ons stemtoon—deur nooit bombasties of teatraal te klink nie. Ons moet nooit eis dat Jehovah sekere dinge doen nie. Ons moet Jehovah eerder vra of versoek in ooreenstemming met sy wil, en ons woorde moet altyd eerbiedig en waardig wees, met erkenning van ons eie nietigheid (Mattheüs 6:5; Jesaja 66:2).—15/5, bladsy 21, 22.
◻ Hoe kan ’n Christen tydens vervolging ’n positiewe gesindheid behou?
Hy moet nooit oor negatiewe dinge tob nie. Hy moet eerder peins oor wat ander getroue knegte van Jehovah tydens beproewinge gedoen het. Hulle het volkome geloof en vertroue in Jehovah gehad en vertrou op sy vermoë om hulle op te wek en te beloon (Openbaring 2:10). Die vervolgde Christen kan eweneens vandag sy hoop op Jehovah se regverdige nuwe stelsel duidelik in gedagte hou. (Vergelyk Hebreërs 12:2.)—1/6, bladsy 30.
◻ Oor watter een belangrike saak was Hus, Wycliffe en Luther dit eens?
Hulle was dit almal eens dat God se Woord eerste moes kom, ongeag die menings van mense. Die eerste Christene het hierdie selfde verligte beskouing gehuldig, want hulle is deur Jesus Christus self geleer (Handelinge 5:29; Johannes 17:17).—15/6, bladsy 31.
◻ Is ’n swart velkleur die gevolg van ’n goddelike vloek wat oor Kanaän en sy nakomelinge uitgespreek is?
Nee. Die swart ras stam nie van Kanaän af nie, maar van Kus en moontlik Put. Geen vloek is oor hierdie twee kleinseuns van Noag uitgespreek nie (Genesis 9:24, 25; 10:1, 6).—1/7, bladsy 4.
◻ Wat het Jesus bedoel toe hy gesê het dat ’n mens jou eie gesinslede en selfs jouself moet haat? (Lukas 14:26).
Jesus het bedoel dat die verhouding met jou gesin soos haat kan lyk in vergelyking met jou liefde vir God en toewyding aan Christus. (Vergelyk Mattheüs 12:46-50.)—1/7, bladsy 27.
◻ In watter opsig was Jesus ‘Here van die sabbat’, soos Mattheüs 12:8 dit stel?
Jesus het verwys na sy vreedsame Koninkryksbewind van duisend jaar. Die groot Sabbatsheerskappy van Christus sal ’n tyd van rus van alle lyding en verdrukking wees.—15/7, bladsy 9.
◻ Waarom is dit onverstandig vir ’n kind om sy eie doelwitte in die lewe te stel?
Kinders se ondervinding is te beperk vir hulle om hulle eie doelwitte in die lewe te stel. As ouers hulle nie help om sulke doelwitte te stel nie, sal iemand anders—miskien kinders by die skool of die skoolvoorligter. Christenouers kan hulle kinders help om doelwitte te stel wat ooreenstem met hulle waardering vir geestelike dinge.—1/8, bladsy 28.