Volg jy in die Verlosser se voetspore?
EEN van die beste komplimente wat jy iemand kan maak, is om hom na te volg. Kinders volg dikwels hulle ouers na. Tienderjariges skoei hulle miskien op die lees van gewilde vermaaklikheidskunstenaars, volwassenes op die lees van gesiene leiers in die sake- en politieke wereld. Maar hoeveel probeer om die grootste leier in die mensegeskiedenis—Jesus Christus—na te volg?
’n Onlangse opname deur die Gallup-organisasie het die volgende getoon: “Agt uit 10 Amerikaners het gesê dat hulle minstens ’n poging aanwend om die voorbeeld van Jesus te volg.” Slegs “twaalf persent het gesê dat hulle dit na die beste van hulle vermoë doen”.
Maar wat maak Jesus navolgenswaardiger as ander invloedryke manne? Eerstens, Jesus Christus “het waarskynlik ’n groter invloed as enigiemand anders op die mensdom gehad”, aldus The World Book Encyclopedia. Maar anders as ander invloedryke manne het Christus nie leërs gelei om mense tot bekering te dwing nie. Hy het nie soos welbekende evangeliste vandag op duur propaganda staatgemaak nie. Hy het ook geen politieke party gesteun nie. Sy invloed het gespruit uit die blote krag van sy boodskap en die manier waarop hy dit oorgedra het.—Mattheüs 7:28, 29; Johannes 7:46.
Jesus het mense beweeg om dramatiese veranderinge in hulle lewens aan te bring, geestelik en sedelik. Watter ander invloedryke man het so ’n goeie invloed op so baie gehad? En watter ander menseleier kan as “heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars” beskryf word? (Hebreërs 7:26). Jesus se voorbeeld is derhalwe ’n volmaakte voorbeeld—anders as dié van enige ander man wat ooit die aarde bewandel het!
‘Maar hoe kan ’n swak en onvolmaakte mens so ’n voorbeeld volg?’ redeneer party. Geskiedskrywer H. G. Wells sê in sy boek The Outline of History dat mense van die begin af daarteen geskop het om Christus te volg. “Want om [Christus] ernstig op te neem”, sê Wells, “het beteken om ’n eienaardige en onrusbarende lewe te betree, om gewoontes op te gee, om instinkte en impulse te beheers, om ongelooflike geluk te probeer verkry.” Wells sluit af: “Is dit dan ’n wonder dat hierdie Galilese [Christus] tot vandag toe vir ons klein hartjies te veel is?”
Maar is dit werklik so? Dit sou weliswaar onmoontlik wees om Christus volmaak te volg. Die apostel Petrus het nietemin gesê dat Christus ‘vir ons ’n voorbeeld nagelaat het sodat ons sy voetstappe noukeurig kan navolg’ (1 Petrus 2:21, vgl. NW). Let op dat hy nie gesê het “volmaak” nie, maar “noukeurig”. Watter soort voorbeeld het Jesus dan vir ons nagelaat? Hoe kan ons dit volg?