Is die God van die “Ou Testament” ’n God van liefde?
“DIE God van die Ou Testament, naamlik die Jahwe van Judaïsme, is ’n god van vervloeking, ’n god van toorn, ’n god van jaloesie, en ek kan nie na aan hom voel nie.” So sê Youji Inoue, ’n Japannese Katolieke priester, in ’n artikel met die titel “Japannese en die Christelike godsdiens” in een van Japan se vernaamste koerante, die Asahi Shimbun. Maar, sê hy voorts, hierdie God het uiteindelik “ontluik en verander in die God van die Nuwe Testament, dit wil sê, die God wat Jesus verkondig het”.
Geestelike Inoue is weliswaar nie die enigste persoon met so ’n beskouing nie. Maar stem jy saam met hom? Dink jy ook dat die God van die “Ou Testament”, of die Hebreeuse Skrifte, ’n hardvogtige en wraaksugtige God is in vergelyking met die God van die “Nuwe Testament”, of die Christelike Griekse Skrifte?
Mense se persoonlikhede kan verander. Die Bybel spoor diegene wat God liefhet byvoorbeeld aan om hulle “met die nuwe mens [te] beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid” (Efesiërs 4:24). Deur die Bybel te bestudeer en toe te pas wat hulle geleer het, het talle wat voorheen jaloesie, woede, ensovoorts gekoester het groot veranderinge aangebring sodat hulle nou die vrugte van God se gees—“liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing”—in hulle daaglikse lewe openbaar.—Galasiërs 5:22.
Maar kan dieselfde van die Skepper, Jehovah God, gesê word? Het hy van ‘’n god van toorn ontluik en verander in’ die Christelike God van liefde, soos party hom sou noem?
Jehovah—altyd ’n God van liefde
“God is liefde”, het die apostel Johannes geskryf (1 Johannes 4:8). Daarmee het hy ’n ewige waarheid gestel: Die Skepper, Jehovah, was, is en sal altyd ’n God van onveranderlike liefde wees. En die Bybelverslag bevestig deurgaans daardie stelling.
Toe Jehovah die aarde geskep het, het hy dit liefdevol ’n ideale tuiste vir die mensdom gemaak (Jesaja 45:18). Later, toe hy die eerste man en vrou, Adam en Eva, geskape het, het hy hulle “na sy beeld” geskape, dit wil sê, hy het hulle met goddelike eienskappe soos liefde, geregtigheid, wysheid en mag begaaf. Hy het ook vir hulle die vooruitsig gegee om kinders te hê, die hele aarde in ’n paradys om te skep en vir ewig daarin te woon (Genesis 1:27, 28). Was dit alles nie ’n bewys van ’n God van liefde nie?
Toe die eerste mensepaar geswig het voor die versoeking waarin Satan hulle deur middel van die slang gelei het, het hulle nie net ewige seëninge vir hulleself verloor nie, maar ook vir hulle ongebore nakomelinge. Op hierdie kritieke stadium het Jehovah die eerste profesie wat in die Bybel opgeteken is, uitgespreek, naamlik dat ’n beloofde ‘saad van die vrou’ die kop van die slang sou vermorsel (Genesis 3:15). Was hierdie belofte van hoop en bevryding nie nog ’n uitsonderlike blyk van God se liefde nie?
Sowat 2 000 jaar later het Jehovah sy getroue kneg Abraham beloof: “In jou nageslag [“saad”, NW] sal al die nasies van die aarde geseën word”, en so het hy geopenbaar dat die ‘saad van die vrou’ deur Abraham se geslagslyn sou kom (Genesis 22:18). Hierdie belofte het die hoop op bevryding verstewig en getoon dat Jehovah se liefde vir die mensdom nie met verloop van tyd gekwyn het nie. Hy het ’n geseënde toekoms vir die mensdom in gedagte gehad toe hy hierdie belofte gemaak het. Hy is beslis ’n God van liefde!
God se liefde vir Israel
Jehovah God het ook die Israeliete in 1513 v.G.J. van slawerny in Egipte bevry en deur Moses die Wetsverbond met hulle gesluit. In die tweede van die Tien Gebooie het Jehovah gesê: “Want Ek, die HERE jou God, is ’n jaloerse God [“’n God wat uitsluitlike toewyding eis”, NW] wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat; en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou.”—Exodus 20:5, 6.
As die Soewerein en eggenoot-eienaar het Jehovah die reg gehad om uitsluitlike toewyding van sy verbondsvolk, Israel, te eis (Jesaja 54:5, NW; Jeremia 3:14, NW). Was dit nie redelik dat Jehovah sy volk, uit sy liefde vir hulle, moes dissiplineer en sy misnoeë en afkeuring van hulle eiesinnige weg moes uitspreek toe hulle ontrou geword en hulle keer op keer tot valse gode gewend het nie?
Jehovah het by talle geleenthede diepe besorgdheid vir sy volk getoon en ’n beroep op hulle gedoen om hulle tot hom te bekeer (Jesaja 55:7). Hoewel hy hulle vir hulle sondes gestraf het en eindelik toegelaat het dat hulle volksbestaan vernietig word en dat hulle as gevangenes na ’n vreemde land geneem word, het hy hulle later na hulle tuisland teruggebring. Wat toon dit alles omtrent Jehovah? Is hy ’n jaloerse, haatdraende en wraaksugtige God? Nee! Dit toon eerder dat hy ’n “barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou” is.—Exodus 34:6; Nehemia 9:17; Joël 2:13; Nahum 1:2, 3.
Liefde wat hy deur sy Seun getoon het
Deur die eeue heen het Jehovah God nadere besonderhede oor die ‘saad van die vrou’ en ‘Abraham se saad’ voorsien, en deur Sy profete het Hy die koms van die Messias voorspel. Toe die bestemde tyd aanbreek, het God sy liefde op ’n ongeëwenaarde wyse getoon—deur sy eniggebore Seun na die aarde te stuur om die losprysoffer te voorsien.
Die apostel Johannes het van hierdie wonderlike voorsiening geskryf: “So lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie [vernietig mag word] nie, maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16, vgl. NW). Omdat God se liefde deur sy Seun, Jesus Christus, so ruim is, het party verkeerdelik aangeneem dat Hy nie dieselfde God kon wees as die een wat volgens die Hebreeuse Skrifte strafgerigte voltrek nie.
Maar is die God wat deur Jesus verkondig is so anders as die God wat in die Hebreeuse Skrifte beskryf word? Of is dit dat mense verkies om net te sien wat hulle wil sien? Toon daardie bekende teks, Johannes 3:16, nie duidelik dat as ’n mens nie in die Seun “glo” nie hy “vernietig” sal word nie? Daarbenewens het Johannes bygevoeg: “Hy wat die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die toorn van God bly op hom” (Johannes 3:36). As dit geensins afbreuk doen aan die omvang van God se liefde nie, waarom sou sy uiting van misnoeë teenoor die ontroue Israeliete en ander in die Hebreeuse Skrifte hom dan enigsins minder ’n God van liefde maak?
God se liefdevolle voorneme met jou
Deur sy profeet Maleagi het God gesê: “Ek, die HERE, het nie verander nie” (Maleagi 3:6). Hy het nie net as die God van liefde onveranderd gebly nie, maar sy liefdevolle voorneme met die mensdom en die aarde het ook nie verander nie. Soos Jehovah die vooruitsig op die ewige lewe in ’n aardse paradys voor Adam en Eva gestel het, wil hierdie God van liefde hê dat jy onder diegene moet wees wat vir ewig in geluk in daardie paradys sal lewe (Lukas 23:43; 2 Petrus 3:13; Openbaring 21:4). Maar wat is nodig? Jesus het gesê: “Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het” (Johannes 17:3). Jehovah se Getuies sal jou graag help om van Jehovah, die God van onveranderlike liefde, te leer.