Daniël se profesie—Drome wat jou raak
“Weet jy, ek dink aan die aloue profete van die Ou Testament en die tekens wat Armageddon voorspel, en ek kan nie anders as om te wonder of—of ons die geslag is wat daardie dinge gaan sien gebeur nie. Ek weet nie of julle onlangs op enige van daardie profesieë gelet het nie, maar glo my, hulle beskryf beslis die tye waarin ons lewe.”—Amerikaanse President Ronald Reagan.
PRESIDENT Reagan is nie die enigste wat wonder of die tye waarin ons lewe die tye is wat in Bybelprofesieë voorspel is nie. Die ooreenkoms tussen hedendaagse wêreldtoestande en Skriftuurlike profesieë het miljoene ander ook opgeval. Hierdie profesieë voorspel egter nie net ’n ongeëwenaarde tyd van benoudheid nie, maar ’n regverdige nuwe stelsel wat onmiddellik daarop sal volg.
Hierdie artikel is die eerste van ’n reeks wat in vier opeenvolgende nommers van Die Wagtoring sal verskyn en wat bedoel is om jou vertroud te maak met so ’n eertydse profeet, wie se naam Daniël was. Jy weet moontlik van hom. Hy was ’n Jood van adellike geboorte. Toe hy nog ’n jong seun was, is Daniël na Babilon weggevoer waar hy aan die hof van Nebukadnesar, die tweede koning van die Neo-Babiloniese Ryk, opgevoed is. Dit was aan die einde van die sewende eeu v.G.J., en voor die vernietiging van Jerusalem. Daniël het tot met Babilon se val in 539 v.G.J. in gevangenskap gebly, waarna hy aan die hof van die vroeë Medo-Persiese heersers gedien het. Gedurende sy ballingskap het hy drome uitgelê en geïnspireerde gesigte gehad wat ons dag raak. Ja, jy en jou gesin is betrokke by wat Daniël voorspel het.
Profetiese drome en gesigte
Die drome en gesigte van die boek Daniël is in der waarheid korttermyn- en langtermynprofesieë. Dit is wêreldgeskiedenis wat vooruit geskryf is. Dit gee ’n toekomsblik van die magstryd tussen mense, dinastieë en politieke ryke van Daniël se tyd af en deur die geskiedenis heen tot “die tyd van die einde”.—Daniël 8:17, 19.
Die vervulling van die korttermynprofesieë moet by ons vertroue inboesem in die langtermynprofesieë wat tot op ons dag strek. Wat is party van hierdie korttermynprofesieë?
Een was ’n droom van ’n groot boom wat omgekap en “sewe tydperke”, of jaar, met ’n band gebind is voor dit toegelaat is om weer te groei (Daniël 4:10-17). In sy korttermynvervulling was hierdie profesie van toepassing op koning Nebukadnesar, wat die droom gehad het. Net ’n jaar later is hierdie heerser ‘omgekap’, blykbaar deur ’n geestesiekte. Hy het hom sewe jaar lank soos ’n dier van die veld gedra. Toe, “aan die einde van die dae” wat voorspel was, het Nebukadnesar sy verstand en sy troon teruggekry (Daniël 4:28-37, vgl. NW). Volgens The International Standard Bible Encyclopedia toon eertydse bronne dat Nebukadnesar wel teen die einde van sy bewind siek geword het. Maar hierdie droom het ook ’n langtermynvervulling gehad, soos ’n later artikel in hierdie reeks sal toon.
Nog ’n korttermynprofesie in die boek Daniël is voorsien deur die wonderdadige handskrif teen die muur van die banketsaal waar Nebukadnesar se kleinseun Belsasar en sy vorste feesgevier het (Daniël, hoofstuk 5). Hulle het die heilige voorwerpe wat uit Jehovah se tempel in Jerusalem geneem is, ontheilig. Onder inspirasie het Daniël daardie boodskap van goddelike oordeel uitgelê. En ter vervulling daarvan het Babilon “in dieselfde nag” geval en “is Belsasar, die koning van die Chaldeërs, gedood”, soos bevestig deur die Griekse geskiedskrywer Xenophon (Daniël 5:30). Maar vandag is die skrif aan die muur vir die huidige goddelose stelsel. Dit sal ook in ’n artikel in hierdie reeks verduidelik word.
Ontsluit in “die tyd van die einde”
In die slot van sy profetiese boek het Daniël hierdie boodskap opgeteken wat hy van ’n engel ontvang het: “En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die tyd van die einde toe; baie sal dit deursoek, en die [ware] kennis sal vermeerder.”—Daniël 12:4, vgl. NW.
Vandag het “die ware kennis” oor die vervulling van Bybelprofesie inderdaad vermeerder. Hierdie groter begrip het miljoene ywerige Bybelstudente daarvan oortuig dat ons werklik in “die tyd van die einde” lewe en dat God se Koninkryk van geregtigheid naby is (Daniël 2:44). Die Soncino Books of the Bible toon die toepaslikheid van die boek Daniël in hierdie opsig en sê: “Die uiteindelike oorwinning van geregtigheid, met die gevolglike oprigting van die Koninkryk van God, is die kerngedagte van Daniël.”
Hoop jy op “die uiteindelike oorwinning van geregtigheid”? Dan is die profetiese drome en gesigte van Daniël vir jou van lewensbelang. Die volgende artikel sal jou vertroud maak met party hiervan en sal bewyse aanvoer dat Daniël ’n geloofwaardige boek van profesieë is.