Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 10/15 bl. 5-7
  • ’n Verandering van heerskappy—binnekort!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Verandering van heerskappy—binnekort!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Nog ’n koning
  • “Die groot vors” aanvaar die bewind
  • ’n Aardwye paradys​—binnekort!
  • Migael die groot vors staan op
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • ’n Verandering in wêreldheerskappy
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Jehovah verseker Daniël van ’n wonderlike beloning
    Gee ag op Daniël se profesie!
  • Glanspunte uit die boek Daniël
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 10/15 bl. 5-7

’n Verandering van heerskappy​—binnekort!

DIE meeste mense het ’n saak van die allergrootste belang uit die oog verloor. Dit is naamlik: In hulle stryd om wêreldoorheersing het die wedywerende nasies in gebreke gebly om te erken dat daar ’n groter gesag en mag as hulle s’n is. Hulle veronagsaam die feit dat “die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil” (Daniël 4:25). Wie is hierdie een wat deur die almagtige God gekies word as Koning oor die hele aarde? Wanneer verkry hy beheer oor die wêreld?

Nog ’n koning

Voor Daniël oor ‘die koning van die Noorde en die koning van die Suide’ geprofeteer het, het hy die volgende profetiese gesig oor God se uitverkore koning gehad: “Met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ’n mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae [Jehovah God] . . . En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ’n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.”​—Daniël 7:13, 14.

Daardie gesig het vervolgens die opeenvolgende wêreldregerings as diere voorgestel. En die wyse waarop “die een mens heers oor die ander tot sy ongeluk”, getuig voorwaar van dierlike wreedheid (Prediker 8:9). Die mens regeer ook onder die dierlike beheer van opstandige geesvorste, met Satan self aan die spits. (Daniël 7:17; 10:13; vergelyk Openbaring 12:9; 13:2-4.) In teenstelling daarmee ontvang “Een . . . soos die Seun van ’n mens” koninklike gesag van Jehovah God. Hierdie regeerder wat deur God aangestel word, besit eienskappe wat pas by ’n regeerder van mense wat oorspronklik “na die beeld van God” gemaak is (Genesis 1:27). Maar wie is hy?

Jesus het die benaming “Seun van die mens” op homself toegepas toe hy 1 900 jaar gelede op aarde was. Omdat hy toe ’n mens was, was hy letterlik “die Seun van ’n mens”, en hy het uitnemende eienskappe soos liefde, medelye en geregtigheid in die volmaakte graad geopenbaar. Hy het ook sy lewe gegee om mense vry te koop en aldus die rol vervul van die mensdom se naaste bloedverwant​—waarlik “die Seun van ’n mens”.​—Mattheüs 20:28; Hebreërs 2:11-17.

In ’n verdere toepassing van Daniël se profesie het Jesus gesê: “[Hulle sal] die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid.” Later het hy homself in ’n soortgelyke toneel uitgebeeld en gesê: “Wanneer die Seun van die mens in sy heerlikheid kom . . . , dan sal Hy op sy heerlike troon sit” (Mattheüs 24:30; 25:31). Vandag is Jesus nie ’n blote mens op aarde nie. Sedert sy dood en opstanding in 33 G.J. is hy ’n hemelse gees na die beeld van God. Anders as menseregeerders is hy die Koning “wat alleen onsterflikheid besit en ’n ontoeganklike lig bewoon, wat geen mens gesien het of kan sien nie” (1 Timotheüs 6:16). Sy Koninkryksheerskappy sal nie die dierlike eienskappe hê van die bose geeste wat hulle invloed op menseregerings laat geld het nie.

Jesus is dus die enigste Koning wat deur God as Sy Messias, of Christus, aangestel en gemagtig is om oor die hele aarde te regeer (Daniël 7:14). Dit beteken dat alle menseregerings, met inbegrip van “die koning van die Noorde” en “die koning van die Suide”, te gronde moet gaan en deur God se Koninkryk onder die bewind van Christus vervang moet word.​—Daniël 2:44; vergelyk Psalm 2:7, 8, 12.

“Die groot vors” aanvaar die bewind

Maar Jesus het nie in 33 G.J. oor die mensdom begin regeer nie. Hy moes ’n tyd lank wag. Eers daarna het Jehovah hom die mag gegee om ‘te midde van sy vyande te heers’ (Psalm 110:1, 2; Handelinge 2:32-36). Daniël het dit voorspel deur te sê: “In die tyd sal Migael, die groot vors . . . , optree; en dit sal ’n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ’n volk bestaan het tot op die tyd nie.”​—Daniël 12:1.

Hierdie profesie volg nadat Daniël getoon het dat die stryd tussen “die koning van die Noorde” en “die koning van die Suide” in hierdie “tyd van die einde” sy hoogtepunt sou bereik. In hierdie tyd sal een van daardie ‘konings’ “met groot woede uittrek om baie mense te verdelg” (Daniël 11:40, 44, 45). Dit sal dan wees dat Migael, ‘wat oor God se eie volk staan’, beslissend sal optree sodat hulle gered kan word.​—Vergelyk Daniël 11:2, 3, 7, 20, 21; 12:1.

Maar hoe is Jesus hierby betrokke? Onthou dat hy Daniël se profesie toegepas het op die tyd wanneer hy self Koning sou word. In hierdie verband het hy ook van ’n ongeëwenaarde “groot verdrukking” gepraat (Mattheüs 24:21, 29-31). Hy het klaarblyklik verwys na die “tyd van benoudheid” waarvan Daniël melding maak waar hy van Migael praat. (Vergelyk Mattheüs 24:15; Daniël 11:31.) Jesus het homself aldus geïdentifiseer as Migael wat sal optree, of opstaan, om te heers.

Jesus en Daniël het hierdie profesieë uitgespreek toe hulle gebeure beskryf het wat gedurende “die tyd van die einde” sou plaasvind. Hierdie gebeure is sedert 1914 opmerklik vervul. Jesus het toe in die hemel Koning geword, en hy heers sedertdien te midde van sy vyande.​—Mattheüs 24:3, 7-12.

’n Aardwye paradys​—binnekort!

Jy besef waarskynlik dat die nasies nie Christus se Koninkryk erken nie. Hulle verwerp die boodskap oor die oprigting daarvan en oefen steeds hulle eie heerskappy uit. Hulle beskou daardie boodskap as dwaasheid. Gevolglik het “niemand van die heersers van hierdie wêreld” God se wysheid in die keuse van Christus as Koning leer ken nie. Hulle is verblind deur ’n stelsel onder die beheer van Satan en sy opstandige geesvorste en is derhalwe vyande van die Messiaanse Koninkryk.​—1 Korinthiërs 2:8; vergelyk Lukas 4:5, 6; 2 Korinthiërs 4:4.

Soos Jesus voorspel het, word die getroue verkondigers van sy Koninkryk dus vervolg. Daar sal ’n selfs groter aanval op hulle gedoen word. (Mattheüs 24:9, 14; Daniël 11:44, 45; vergelyk Esegiël 38:14-16.) Jesus sal egter as “die Koning van die konings en die Here van die here” ten behoewe van sy volk in die stryd tree. Hierdie stryd sal op algehele oorwinning vir God se uitverkore Koning uitloop. Die aanvallers van sy volk sal ‘aan hulle einde kom, en daar sal vir hulle geen helper wees nie’. Alle ander ‘konings’ sal vernietig wees.​—Openbaring 11:15, 18; 19:11, 16, 19-21; Psalm 2:1-3, 6-9.

Die “tyd van die einde”, wat in 1914 begin het, is nou ver gevorder. Jesus het gesê dat die geslag wat die begin van daardie tyd gesien het ook die einde daarvan sal sien (Mattheüs 24:32-34). Ons nader dus nou vinnig daardie heuglike tyd wanneer Christus Jesus volle heerskappy oor die aarde sal oorneem en die ganse gehoorsame mensdom onder sy een regering sal verenig.

Ja, daar gaan binnekort ’n verandering van heerskappy wees. Maar wat sal dit vir jou beteken? Dit kan beteken dat jou toekoms saam met die hedendaagse menseregerings en hulle ondersteuners sal eindig. Of, en dit hang van jou handelwyse af, dit kan die ewige lewe en veiligheid in ’n aardse paradys beteken, ’n paradys wat deur God se Koninkryk onderhou en beheer sal word. Om dit te verwesenlik, moet jy Christus se heerskappy lojaal ondersteun saam met die miljoene getuies van Jehovah wêreldwyd.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel